Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Sermons

Geniet die seisoen van jou lewe voluit

Die seisoen van my lewe

Hoe lyk en ruik lente in my lewe? Is dit ‘n lieflike geur wat versprei en aangenaam is, of dra ek die reuk van die dood, en orals waar ek kom, versprei ek hierdie doodsreuk, stadig, bietjie vir bietjie. Lente is dikwels vir my een van die mooiste seisoene, in ons omgewing kan jy die lemoenbloeisels ruik, die belofte dat daar na die winter, die koue en reën weer vrug sal wees, weer lewe sal wees, op soveel verskillende vlakke. Daar is die belofte van dae wat langer sal wees, klere wat vroliker en ligter sal wees, en in die verte die somer wat wink, en natuurlik Desember vakansie.

Ons is dikwels vasgevang in ‘n seisoen, en is so besig om uit te sien en te verlang na ons gunsteling seisoen dat ons nie die oomblik, die nou van hierdie tyd, hierdie oomblik en hierdie seisoen kan geniet nie!

Seisoene hou nie vir ewig nie, ons sou dalk nooit die lente seisoen met soveel oorgawe ontvang het as dit nie ook vir ‘n winter seisoen in ons lewe was nie. ‘n Seisoen van snoei en diep groei. Mag ons in elke seisoen ‘n toekomsverwagting hê, een van Ewige lewe, een waarin ons oë op Jesus Christus hou, op dit wat ewig is.

“Dis egter nie al nie – ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” Rom‬ ‭5:3-5‬ ‭NLV‬‬

Jesus se woorde is dikwels ‘n vermaning en heenwys na dié oomblik, dit wat ons NOU het. Nou is die tyd van redding, as jy vandag My stem hoor … op hierdie dag! Ons lees in Petrus dat die Here nie opgevang is in tyd soos ons nie. Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.” 2 Pet‬ ‭3:8‬ ‭NLV‬‬

Die geskenk van ‘n dag (die nou), is baie kosbaar! Ons het immers almal ‘n spesiale dag, daar is ons geboorte dag, ons huweliks dag, ons kinders wat op ‘n mooi dag gebore word. Dalk ook ekstra spesiale dae, oomblikke wat jy vir ewig sal onthou. ‘n Heerlike reis, ‘n vakansie, ‘n spesiale kuier, daar is immers soveel spesiale oomblikke en dae!

Maar daar is ook dae wat jy wil vergeet! ‘n Dag waarop jy slegte nuus ontvang het, ‘n dag wat jy van ‘n geliefde se ontrouheid bewus geword het, ‘n dag waarop ‘n geliefde sterf! ‘n Dag om te vergeet … ‘n dag wat jou aan seer en sterflikheid herinner. En dan tog … in die middel van hierdie sleg, is die Een wat onveranderlik is, wat deur die eeue elke dag dieselfde is. Wat by ons is, ook in ons uur, ons dag van seer! “Gelukkig is die treurendes, want God sal self hulle trane afvee.” Matt‬ ‭5:4‬ ‭NLV‬‬

Wanneer die ritme van my lewe die ritme van genade insluit, kan ek hierdie oomblik, die nou omhels! Wanneer ek die geskenk van ‘n dag ontvang, is elke dag uniek, is daar iets moois in elke dag, ook in die moeiliker dae. Dan verander die seisoene van die jaar na die seisoen van my lewe! Mag ons die fyn betowerende klanke hoor van ‘n nuwe seisoen, die seisoen van lewe, Ewige lewe.

Ek het hierdie gedig geskryf in ‘n seisoen waarin ek oorweldig was, ‘n seisoen waarin ek Sy genade intens beleef het! Mag jy die seisoen van jou lewe omhels met die wete, jy is nooit alleen nie.

❤Om te kan sien in elke Seisoen

Ek sal die beste van myself gee
In elke seisoen van my lewe
Ek het dit beloof, lank lank gelede
Aan My Hemelse Vader,
my man, my geliefdes en Sy kerk
Ek wil so graag vir jul my
mooiste gee
Maar ek skiet so dikwels
ver tekort
Selfs met my beste intensies
Faal ek soms my aftik-lysies
Ek’s bly vir liefde,
soms in oormaat
Soms voel dit net-net genoeg
In elke dag, elke seisoen
Is daar ‘n oormaat te doen
Ek’s nou klaar gewroeg
Om die merk te mis maak
mens moeg
En mompel fluister saggies
in my slaap
Here, dit was my beste!
Ek sal die beste van myself gee
in elke seisoen van my lewe
Ek is ‘n vrou van geloof
Soos U woord beloof
Met ge-opende oë
Is my liggaam en kop nie
meer geboeë
Ek wil nie blindings trek
oor my oë
U wil heers, ook in my donkerte
‘n suiwer oog laat U lig instroom
Ons oë is ‘n lamp vir ons liggaam
Vir U liggaam …

En een van die kosbare verse in die Bybel : om vol vreugde te leef.

Alles wat die Here vir my doen, maak my vol vreugde. Hy is die grootste geskenk wat ek nog ooit gekry het. U sorg vir my, Here. U het die mooiste dinge in die lewe vir my gegee. Ek kan nie uitgepraat raak oor al die wonderlike dinge nie. Dit maak my baie gelukkig. Ek bly in ’n mooi land. Ek sal die Here prys. Ek wil sy Naam grootmaak omdat Hy my hand vat en my op die regte pad lei. Selfs as ek slaap, weet ek Hy is by my. Daar is nie ’n oomblik van die dag dat ek nie aan die Here dink nie. Hy is die belangrikste in my lewe. Hy is altyd by my. Ps 16:5-8)