Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Sermons

Grondreëls vir konflik hantering. 

In arbitrasie en konflik oplossing moet jy die persoon wat te nagekom voel se ‘offense’ beter kan verwoord as hyself (haarself) dan voel hy/sy, hy/sy word gehoor. Dan werk ons na oplossings. Die hele kwessie en mikpunt van die gesprek is: om te hoor, begrip te toon, medelye te hê en dan te werk na oplossings.

Dink anders oor konflik en gee dit ʼn ander naam. Ons redeneer  i.p.v.  argumenteer. Ons bespreek  ʼn punt  i.p.v. ons stry.  Ons verskil  van mekaar, maar is nie kwaad vir mekaar nie.

Begin altyd eers met die beginsels/waardes/emosies waaroor albei wel in eenheid is.  Waaroor stem ons saam? Voordat ons gaan begin om oor iets te praat waaroor ons dalk van mekaar mag verskil.

Kies die regte tyd, die tyd wanneer beide partye ten volle by die gesprek is sonder onderbrekings.

Beplan konflik :  Die meeste konflik gebeur onverwags en onbepland en omdat niemand hierop voorbereid is gebruik ons gewoonlik verkeerde en negatiewe ammunisie teen mekaar. Maak ʼn afspraak en kom vooraf ooreen wat die punt van bespreking gaan wees.  So kry elkeen tyd om voor te berei.  Ons grootste vyand in konflik hantering is ons vrees vir konflik, en ons poging om dit te vermy.  Konflik wat nie gehanteer word nie, internaliseer en kom dan in gedrag en gesindhede te vore, wat nog meer negatief is tot die verhouding.  Praat dinge uit, en hoor mekaar!

Definieer die punt waaroor die bespreking gaan duidelik. Wie se probleem is dit?  Waar het die probleem begin? Wie raak die probleem? Sit selfs by ʼn tafel met  papier en pen. Die grootste uitdaging in konflik hantering is om by die punt te bly, wanneer ons dit regkry is dit baie makliker, en kan die partye gouer by ʼn vergelyk kom.

Visualiseer mekaar langs mekaar teenoor die probleem, m.a.w. werk vanaf eenheid, dis ons twee teenoor die probleem.  Konflik begin wanneer ons mekaar as die probleem begin sien. In sport geld die reël; “speel die bal nie die persoon nie” dieselfde reël is van wesentlike belang in konflik hantering met iemand in ʼn huweliksverhouding.

Aanvaar dat julle dalk nie die ander persoon gaan oortuig nie, en dus “agree to disagree”.  Dit is nie verkeerd om verskillende opinies oor ʼn sekere saak te hê nie.  Ons eenheid hang nie af van alles waaroor ons saamstem nie.  Solank ons grondwaardes ooreenstem.

Familiariteit is baie gevaarlik in ʼn intieme verhouding, want ons dink ons kan enigiets sê of doen, en dit móét aanvaar word, want ons is getroud.  Hou konflik professioneel en dink aan jou gedrag soos wat dit sal wees teenoor iemand wat jy werklik respekteer.  Jy sal byvoorbeeld nie sulke kru taal gebruik voor jou kerk leier of huiskerk leier nie. Behou te alle tye respek vir mekaar.

Lys moenies :

  1. Moenie van die punt afbeweeg en ʼn nuwe aanval loots nie.
  2. Moenie veralgemeen nie.
  3. Moenie die woorde “altyd of nooit” gebruik nie.
  4. Probeer so min as moontlik sinne begin met “jy” praat eerder van ons.
  5. Moenie emosioneel raak nie, indien wel, stop die gesprek beleefd en vra of julle met die gesprek op ʼn ander tyd kan voortgaan.Stem ooreen oor die tyd wanneer julle weer bymekaar gaan kom.  Moenie net uitstorm nie.  Enige emosie is sleg tot konstruktiewe konflik oplossing.  Woede, trane, stilstuipe en ontrekking is emosionele reaksies wat die gesprek ontspoor.  Wanneer ons byvoorbeeld kwaad raak, kan ons nie kognitief verder redeneer nie, want die bloed vloei na ons hande en ledemate.  Dit is wanneer ons dinge sê wat ons nooit bedoel het nie.
  6. Weerhou jouself van kinderagtige gedrag en manipulasie.Byvoorbeeld jou maat koggel, tart, dreig en vloermoer gooi.
  7. Moenie mekaar se swakhede kritiseer of gebruik om jou punt te regverdig nie. Wees versigtig wanneer julle mekaar se swakhede ontbloot tydens die gesprek.  Is dit werklik nodig? Vra eers jou maat se toestemming of hierdie spesifieke swakpunt nou bespreek kan word? Hou dit werklik verband met die probleem?
  8. Vra toestemming of ʼn sekere sensitiewe tema aangeraak kan word. Moenie net inbars en as te ware op heilige grond loop met disrespek nie.
  9. Moenie die kwessie probeer systap nie. Dink aan teenargumente wat belang het tot die punt onder bespreking, en moontlike oplossings.Vrae meer vrae om sodoende jou maat te probeer verstaan eerder as om nuwe probleemstellings uit te dink.
  10. Moenie aanneem dat jy weet wat jou maat dink en dit dan kommunikeer nie. Vra eerder is dit wat jy dink? Of verstaan ek jou reg?
  11. Moenie mekaar onderbreek nie. Oppas om bloot te reageer op ʼn sekere woord of sinsnede, omdat jy uit vorige gesprekke klaar ʼn negatiewe konnotasie het oor die spesifieke woord en weereens valse aannames maak nie.  Luister mekaar uit.
  12. Moet nooit kru of vuil taal gebruik nie, jou maat hoor die negatiewe woord en luister nie verder na jou redenasie nie.
  13. Probeer om nie jou stem te verhef nie, wanneer jou maat dit egter doen. Moet nie die stemtoon moraliseer nie. Sê eerder: “Ek hoor jy voel sterk oor hierdie punt, verstaan ek jou reg?” Harder stem toon is gewoonlik ʼn dringendheid en uitroep om gehoor te word en verstaan te word.  Die kragtigste woorde tydens konflik is: “Ek verstaan”
  14. Moenie ʼn aanval met ʼn aanval verdedig nie. Sê eerder: “Ek stem nie saam met jou stelling nie omdat…”
  15. Moet nooit jou argument vergeestelik en die Bybel teen jou maat gebruik nie. Sê eerder: Die Here het met my gepraat uit die woord om …” Moet ook god gebruik as geestelike manipulasie met woorde soos:  “Ek sal maar vanaand vir jou bid dat jy…” of “ek sal maar vir die huiskerk vra om vir jou in te tree nie.
  16. Moenie jou maat in ʼn argument met enigiemand vergelyk nie, “Jy is net soos jou…” of “ek wens jy was Sondag in die kerk dan sou jy gehoor het…” of “So en so se man”
  17. Moenie mekaar dreig met egskeiding, ek gaan my goed vat en loop nie. Dit breek die vloei van verder konstruktiewe kommunikasie, die ander party moet nou ook na die volgende vlak beweeg.

Moets :

  1. Onthou die koppie perspektief. Hou ʼn koppie tussen julle met die oor aan die kant. Vir die een persoon is die oor aan die regterkant vir die ander is die oor aan die linkerkant, wie is reg?  Onthou enige gebeurtenis het meer as een legitieme perspektief.  Hierdie beginsel geld selfs in die hof.
  2. Gaan gedurig tydens die redenasie terug na die punte waaroor julle wel eenstemmigheid het. Byvoorbeeld: Ons is beide lief vir mekaar en wil nie mekaar skade doen nie.
  3. Vrae eerder vrae as om te argumenteer. Die doel van konflik is nie om jou punt te regverdig of te verdedig nie, maar om mekaar te hoor.  Empatiese begrip vir jou maat bring groei in beide die partye.
  4. Balanseer die gesprek deur ook die positiewe eienskappe, karaktertrekke en pogings van jou maat te prys.
  5. Let op gesigsuitdrukkings, liggaamshouding, hand in die sy, vingerwys en visuele handeling wat dreigend, manipulerend van aard is. Onthou tot 70% van kommunikasie is nie-verbaal. Dink vanuit jou maat se perspektief en sien jouself soos hulle jou sien.
  6. Onthou as jy jou maat van ʼn sekere verkeerde gedrag probeer oortuig, dat hierdie oortuiging in jou maat se hart moet gebeur en nie omdat jy die beste argument gehad het nie, of die konflik gewen het nie.Die Bybel verklaar dat hierdie oortuiging lei, tot bekering en berou en die persoon verander. (2 Kor 7) Om iemand te oortuig met ʼn argument dat hy of sy verkeerd is bring nie noodwendig die hartsverandering nie.  Daarom moet sulke probleme biddend gehanteer word.  Jy moet konfronteer, maar vra deurentyd die Here vir die woorde wat hierdie goddelike berou sal aktiveer.  Dink byvoorbeeld aan hoe Natan Dawid gekonfronteer het met sy sonde.  Hy het ʼn storie vertel, wat oënskynlik glad nie op Dawid gerig was nie.  Direkte aanval lei in die meeste gevalle net tot ʼn terug aanval.
  7. Eindig die gesprek op ʼn positiewe noot. Daar is bewys dat paartjies wat dit regkry om konflik te ontlont en om te draai na ʼn positief, langer leef, en langer getroud bly uit die aard van die saak.  Wanneer konflik nie ordentlik uitgepraat is nie, en een party internaliseer die grief, verskyn die groef in gedrag en negatiewe gesindheid.
  8. Die beste manier om ʼn gesonde konflik te beëindig is waar beide partye die geleentheid gebied word om te erken en te bely.Meestal is dit al wat die ander party wil hoor, dat jy te minste erken dat jy verkeerd was of is.  Onwilligheid om foute te erken en vergifnis te vra en nie te eis nie, is tekens van trots en rebellie.  Konflik kan baie vinniger ontlont word deur bloot te erken en my maat se punt te hoor.
  9. In ʼn onlangse studie is bevind dat paartjies wat gedurig baklei en nooit dit afwissel met positiewe ervarings en momente nie, gaan baie vinniger in die skeihof eindig . Dit is dus baie belangrik om romantiese en lekker dinge saam te doen. Dit versterk die emosionele band en help baie om konflik beter te hanteer. Paartjies wat nie  ʼn sterk liefdesband beleef nie, en gebrekkige kommunikasie het, hanteer selfs die kleinste konflik situasies sleg.

 

Categories
Sermons

Hoe verloën ek myself elke dag?

Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word. Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.”
Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.” Mat 16:21-23
Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe?  Mat 16:24-26; Mark. 8:34 – 9:1; Luk. 9:23-27)

VOORBEELDE VAN SELFVERLOËNING

Ons almal weet dat ons, ons self moet verloën.  Die vraag is hoe? Ek sterf in myself:
wanneer ek iemand vergewe.  (Luk 17:1-4)
Wanneer ek my broer vermaan in liefde.  (Eph 4:15)
wanneer ek erken dat ek verkeerd is.  (Jam 5:16)
wanneer ek bereid is om korreksie te ontvang. (Heb 12:5-11)
wanneer ek opofferend van my tyd en geld gee. (2 cor 9:6-15)
wanneer ek iemand lief het wat dit nie verdien nie.  (Rom 5:8)
wanneer ek in die teenoorgestelde gees optree. (Mat 6:38-48)
wanneer ek nie skaam is vir my geloof nie.  (Rom 1:16)
wanneer ek die Here onmiddellik gehoorsaam.  (Isa 1:19)
wanneer ek die Here spontaan en ongeïnhibeerd aanbid. (Joh 12:1-8)
wanneer ek geduldig is met mense wat swakker is as ek. (Gal 6:1-5)
wanneer ek maklik en sag is, “willing to yield” (Jam 3:17)
die lysie gaan aan en aan.  Maar hierdie dien net as voorbeelde.  Dink aan te minste nog 5 voorbeelde van selfverloëning en skryf dit neer.
En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.  (Rom 12:1-2)

Hier is ‘n paar praktiese punte van selfverloëning wat jy kan toepas elke dag.

• Moenie talm en uitstel om met jou belangrikste dag aktiwiteite te begin nie.
• Moenie kla oor die min tyd of die baie werk wat verrig moet word nie, koop eerder die tyd uit en maak dit klaar.
• Doen alles sonder murmurering.
• Moenie voorgee hoe swaar jy kry nie, doen alles met blydskap en oortuiging.
• Moenie aandag trek op die groot en belangrike dinge waarmee jy besig is nie.
• Wanneer jy iemand aanspreek doen dit gebaseer op eerstehandse getuienis en nie hoorsê nie.
• Bly stil oor mense en hulle dinge en die foute wat jy sien, moenie stories oordra nie.
• Soek nie die eer of dank van mense nie, doen dit alles vir die Here.
• Moenie ongelukkig of gekrenk voel as jou advies nie gevra of gebruik word nie.
• Moet nooit toelaat dat jy gunstig teenoor ‘n ander afgespeel word nie.
• Moenie honger om altyd die geselskap te lei of die middelpunt te wees nie.
• Soek nie die guns, simpatie of begrip van mense nie.
• Dra eerder die blaam, as om dit oor te dra op ander.
• Wanneer jy nie die krediet of eer kry wat jou toekom nie, moenie ontsteld wees nie, wees dankbaar!
• Leer om vinnig te vergewe en vinnig jammer te sê.
• Moenie gaan as jy nie gestuur is nie, en moenie help alvorens daar nie vir jou hulp gevra is nie.
• Los die groot dinge wat jy vir die Here wil doen en laat toe dat Hy groot dinge deur jou doen.
• Ons kan nie altyd kies hoe die Here ons wil gebruik nie, Hy gebruik ons nie altyd om groot dade te verrig nie.
• Moenie iets doen waarvoor jy nie geloof het nie., dis sonde
• Soek nie die eer van mense nie.
• Moet nooit vergeet wie jou vooraf gegaan het en wie na jou gaan moet kom nie.
• Jy het niks alleen bereik nie.
• Ambisie kom nadat Hy jou die opdrag en mandaat gegee het.  Om dan alles tot die beste van jou vermoë te doen en dit wat Hy jou gegee het om te doen klaar te maak.
• Sukses lê opgesluit in die mate waarin jy dit wat Hy jou beveel het om te doen voleindig het.
• Moet jou nie oor te hoë dinge bekommer of tob nie.  Daar is genoeg krag vir elke dag.
• Moenie eiewys wees nie en te veel dink van jou eie opinie nie.
• Bly binne dit wat God jou toe geroep het.
• Moenie ‘n opinie lewer oor dit waartoe God ‘n ander man geroep het nie.
• Moet nooit jouself vergelyk met ‘n ander nie.
• Bly meer stil.
• Leer om te wag.
• Wag.
• Luister.
• Bly altyd ingestel en gefokus op Sy (Heilige Gees) se bewegings, woord, impuls, emosie, handeling.
• Die mense wat Jesus gekruisig het was die toe sogenaamde kerk.  Aanvaar dit!  Christene gaan jou die meeste teleurstel en is werktuie in God se hand om jou dood te maak.
• Onderwerp jou aan gesag.
• ’n gebedslewe is ’n bewys dat jy werklik van God afhanklik is en niks uit jouself kan doen nie.