Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Preke

Hoe sien ek my naaste reg?

Hoe kyk ek reg na mense en hanteer elkeen menswaardig? 

Jesus

Seer, trauma, teleurstelling, pyn, verdriet is meestal deur mense se toedoen.  Sommige mense dink: Die lewe is perfek totdat ek met mense te doen het. Ander dink: Die lewe is perfek juis as gevolg van die spesiale mense in my lewe. Die punt is: ‘n groot deel van ons geluk of pyn het met mense verhoudinge te doen.  Hoe ons mense sien, en hoe mense ons sien bepaal hoe ons mekaar gaan hanteer. Agterdog, negatiwiteit, onsekerheid, minderwaardigheid, bitterheid is van die donker filters waardeur ons mense evalueer.  

Uit Mat 6:21-22 het ons geleer dat ons eintlik met ons hart kyk. Ons hart bepaal die filter waarmee ons kyk.  As jy aanstoot geneem het teenoor iemand, sien jy hom of haar in ‘n negatiewe lig, en verwag die ergste. As jou hart liefdevol is teenoor iemand, is jy genadig en geduldig met daardie persoon. (1 Cor 13:4) Daarom moet mens altyd eers bepaal waarvan is jou hart vol voor jy self bedien. Voel jy verontreg, kwaad en teleurgestel oor wat mense doen of nie doen nie? Dit besoedel die water wat uit jou voortkom.   

Ons het verder geleer dat jou gedrag teenoor ‘n persoon bepaal word deur hoe jy daardie persoon na waarde ag.  Jy sal nie laat wees vir afspraak van iemand van belang nie. Jy sal nie direk teenoor iemand wat jy respekteer, sleg behandel, afpraat, ‘n afbrekende woord spreek, en vloek nie. 

Selftrots en selfwaarde is bepalend van hoe jy mense behandel. Mense wat geen trots of selfwaarde het nie, gee nie om wat hulle voor enigiemand sê nie.  

Die meeste mense wil nie verneder word voor mense nie. Sommige mense gee glad nie om wat mense dink nie, en floreer op die negatiewe publisiteit. Ander mense voel dit vinnig aan as jy hulle nie reg na waarde ag nie: Nie luister en aandag gee nie; nie vir hulle tyd het nie; hulle onderbreek; hulle doodpraat. Hulle verneder voor hulle maats.  Hulle voel aan dat jy hulle nie liefhet nie, en nie na waarde ag nie.  

Verder leer die skrif: 

Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?

Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, Ek laat die mens kry wat hy verdien,

wat hom toekom vir wat hy doen. (Jer 17:9) Wat impliseer dat ons meermale nie onsself of enige mens in die regte lig sien nie.  As ons hart ons dan so bedrieg oor hoe ons onsself sien, is ons opinie en waardebepaling van mense heel dikwels dan ook nie reg nie.  Daarom wil die Here ons harte wen, sodat Hy ons kan genees, en ons dan vanuit Sy heerlike lig mense reg van waarde kan sien.  

Ons het verlede week geleer dat ons Self-waarde in Christus is, nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. (Gal 2:20) Ons selfwaarde is gegrondves op die genadewerk wat Hy in ons oprig. (Philemon 1:6) 

Jesus die perfekte mens – Hoe het Hy na mense gekyk?

Jesus is die praktiese nugter idealis: Terwyl die paasfees in Jerusalem aan die gang was, het baie mense die wonderwerke gesien wat Jesus gedoen het en geglo dat Hy die Redder is. 24Maar Hy het hulle nie vertrou nie, want Hy het hulle almal geken. 25Dit was nie nodig dat iemand Hom iets van mense sou vertel nie want Hy het mense deur en deur geken. (John 2:23–25) Jesus is nugter oor mense se wispelturigheid, selfsug, en sondigheid. 

Tog gee Hy Homself in liefdesdiens: Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak. (Matt. 14: 14) 

Jesus is duidelik ingestel om mense se harte te weeg. Dit is asof Hy gedurig deur mense se uiterlike kyk, na wat in die hart aangaan. Jesus het altyd eerste na mense se harte gekyk.  Hy was glad nie ingestel op kleredrag, status, posisie, ras, geslag, of beroep nie. 

Jesus behandel almal dieselfde:  Hy behandel vrouens met dieselfde respek en gelykheid as die mans. Die Samaritaanse vrou by die put (Joh. 4); die vrou wat aan bloedvloeiing gely het (Matt. 9:18-22, 32-33); die Griekse vrou wat van Siro-Fenisië afkomstig was (Mark. 7:24-30). Die plek en rol van die vrou word herstel: Maria salf Sy voete (Joh. 12:1-8); ʼn vrou salf Jesus se voete (Matt. 26:6-13; Mark. 14:3).  Geen onderskeid tussen die werkgewer en werknemer nie: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ’n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ’n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.” (Joh. 13:16). Selfs toe partyskappe voor Hom gebring word, maak Hy die veld oop: “Die wat nie teen ons is nie is vir ons.” (Mark. 9:38-40).  Die NT-kerk bestaan uit Jode en nie-Jode, Grieke en Barbariërs, vry en slaaf; ryk en arm. Die boodskap van Paulus is baie duidelik: daar is nie meer verdeeldheid en skeiding van ras in Christus nie (Gal. 3:27; Ef. 2:15). 

Ons behandel die binne en buite mense dieselfde: “En wie is my naaste?” (Luk 10:29) Die storie van die Barmhartige Samaritaan wat liefde bewys het aan ‘n Jood. (Luk 10:30-37) 

Jesus is ingestel op mense se harte 

Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. (Mat 5:28) 

En toe Jesus merk wat hulle gedagtes was, sê Hy: Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte? (Mat 9:4) 

want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. (Mat 6:21) 

Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. (Mat 12:34) 

Die afleiding wat ons hieroor kan maak is: Jesus maak dit duidelik dat alhoewel elke mens na Sy beeld geskape is, en na waarde geag behoort te word, mense wat Sy beeld uitleef van meer waarde is.  Ons kry as te ware ons ware waarde terug wanneer ons, in gehoorsaamheid aan Sy wil lewe.  Indien ons alle mense bloot van gelyke waarde ag, sonder dat hulle na die beeld van God lewe lei tot Humanisme en mensgerigte selfverheerliking. Ons verloor ons waarde deur sonde en ongehoorsaamheid, maar Hy maak van ons elkeen Sy meesterstuk, soos wat Christus in ons gestalte vind.  

Jesus waarsku van ‘n komende oordeel

Nie alle mense gaan die koninkryk van God sien, of binne nie. Wat is jou lewe dan werd, as jy nie die ewigheid saam met God gaan spandeer nie. Mense leef asof daar nie ‘n oordeel is nie. Mense leef asof goeie werke hulle gaan red. Hulle harte is roekeloos, en in vyandskap teenoor God. 

Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand.” (Mat 3:12) 

en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur. (Mat 5:22)

Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. (Mat 7:13) 

“Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.” (Mat 12:36-37)

Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ” (Mat 13:30)  

‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ “Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.” (Mat 22:13-14) 

Die gelykenis van die maagde, talente, en die skape en bokke eindig in oordeel. (Matt. 25:11-13; En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ ”

Matt. 25:30; En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”Matt. 25:46).  

Net Jesus kan ons harte genees, en ons help om weer reg te sien! Met Jesus wat in jou hart regeer begin jy regkyk. Sy liefde vul jou hart, en skielik sien jy die wêreld in heeltemal ‘n ander lig.  Jy sien mense met ander oë! 

Gebed was en reinig jou filters

‘n wonderlike wyse hoe ons bedrieërs, en valse Christene in ons midde kan onderskei, is om hulle te vra om te bid. Mens kan gou hoor of die persoon ‘n intieme verhouding met die Here het of nie. Is daar krag in hulle gebed, bid hulle geloof. Ons is so geneig om oor mense te praat en mense te bespreek.  ‘n praktiese manier hoe ons kan leer om soos Jesus na mense te kyk, is deur vir hulle in te tree.  Jesus bid vir Sy moordenaars: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk. 23:34). 

Jesus leer ons om vir ons vyande lief te wees, en te bid vir die wat ons misbruik: en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. (Mat 5:44-45) 

Bid en bely julle sondes eerlik teenoor mekaar sodat julle gesond kan wees.  Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. (Jam 5:16) 

Sien mekaar in die Gees: 

Ken mekaar na die Gees: Jesus sien Nataniël (Joh. 1:47); Ananias profeteer wat Paulus gaan ly (Hand. 9:10-15). 

Goddelike verbintenisse (Petrus en Kornelius, Hand. 10; Ananias en Paulus, Hand. 9:10-12; Filippus en die hofdienaar van Ethiopië, Hand. 8:26).