Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Preke

Die gekruisigde lewe


Die kerk bestaan al amper 2000 jaar en nog steeds kon sy nie die een opdrag wat aan haar opgedra is uitvoer nie.  Sekerlik is derduisende pogings al aangewend om die groot opdrag te vervul naamlik “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Mat 28:19). Die probleem is nie dat ons nog nooit probeer het nie, maar dat ons pogings nie end uit volhou is nie.  Verskeie manne en vroue van God het in hulle leeftyd magtige dade verrig in die naam van Christus.  Maar die kerk kon as geheel nog nie die hele wêreld transformeer met die evangelie nie, en waar daar nuwe grond gewen word verloor ons die grond wat al gewen is.

Hiervan is die kerk in Europa ‘n krenkende bewys.  Die eertydse lande wat duisende sendelinge die wêreld ingestuur het is vandag self ‘n sendingveld.  Aan die een kant bou ons nuwe kerke en word ons grondgebied daagliks vergroot, maar aan die ander kant sien ons katedrale wat toeriste aantreklikhede word. Al hoe meer kerkgeboue word omskep in dekorhuise of moet plek maak vir een of ander entrepreneur se vindingryke planne.   Sommige sal argumenteer dat dit nie noodwendig sleg is nie, die Here woon immers nie in geboue met hande gebou nie.  Die feit is egter dat leë kerkgeboue maar een indikator is van ‘n gemeenskap wat kerklos en op die einde godloos word.  Tog is spiritualiteit belangrik vir die sogenaamde kerklose, die probleem is egter dat hulle spiritualiteit nie meer deur die God van die Bybel en op Bybelse manier bevredig word nie.  Die laaste skrif in die boek rigters is tans ‘n raak beskrywing vir die geestelike dilemma van die mensdom. “Elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.”

Die Christendom is teologies so verdeel en gefragmenteer dat mens soms wonder of ons regtig almal aan dieselfde kant van die speelveld staan.  Indien ons teologies verdeel is dan is ons nog meer verdeel wanneer dit kom by die interpretasie en uitvoering van sekere skrifgedeeltes!

Iemand het een keer gesê dat Christene die enigste weermag in die wêreld is wat teen homself opgestel is.  Daar is meer mense in die naam van Godsdiens vermoor en doodgemaak as deur enige ander oorsaak wat te sprake mag wees.  Die probleem is nie net binne opponerende geloofsgroepe nie, maar telkens hoor mens van nog ‘n gemeente wat skeur of verdeel.  So is daar tans nog verskeie kerke wat binne dieselfde teologiese raamwerk en godsbegrip staan wat nie ‘n weg kan vind om te kan versoen en een struktuur te word nie.

In ‘n sekere sin kan mens amper sê dat sekere korporatiewe besighede meer suksesvol is as die kerk om die hele mensdom te infiltreer met hulle produk, in ‘n baie korter tydperk.  Neem maar voorbeelde soos, Coca-Cola of Microsoft.

My betoog is egter nie in die rigting van ‘n meer korporatiewe bemarkingstrategie nie.  Die geskiedenis is vandag ‘n skreiende bewys van die mislukking van één kerk struktuur wat die wêreld wou oorneem.

Ons kerk probleem – Ons Sukkel om self te kruisig

Nee my betoog is juis in die teenoorgestelde rigting.  Toe Jesus die kriteria neerlê van hoe mens Hom moet volg was Sy antwoord eenvoudig.  “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.”  (Mat 16:24-25)

Dit blyk dat wanneer ons probeer om groot dinge vir die Here te doen, Hy dit wel toelaat, maar dit hou gewoonlik nie lank nie.  Hoeveel pogings van die mens is werklik geïnspireer deur die Here?  Die Woord is duidelik dat as die Here dit begin het sal dit volhoubaar wees.  Wat die huidige geval betref, my raad aan julle is: laat staan hierdie mense en laat hulle los, want as wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Moenie dat dit dalk later blyk dat julle selfs teen God gestry het nie!” Die Raad het na hom geluister. (Handelinge 5:38-39)

Skrywers wat hulle lewe toegelê het om hierdie waarheid uit te leef en toe te pas in alles wat hulle gedoen het se boeke word na honderde jare nog gelees en gewaardeer.  Voorbeelde soos Thomas a Kempis, Jeanne Guyon, Broeder Lawrence is maar net ‘n paar voorbeelde.  Hedendaagse voorbeelde sal moontlik Moeder Teresa wees.  Wat nie net oor die neerlegging van self gepreek het nie, maar ook ‘n voorbeeld was.  Hierdie werke is gevul met voorbeelde van die eie-ek wat in soveel aspekte van ons lewens nog springlewendig is en Christus selde deur ons lewens sigbaar word.

Selfverloëning is ‘n skaars kommoditeit in die kerk vandag, kompetisie, magspel, twis en tweedrag is eerder aan die orde van die dag.  Die godloënaar Nietzsche het by geleentheid gesê, mense praat oor hulle geloof, maar leef volgens hulle drifte.  Die koerante is volop van kerkleiers wat veral op hierdie gebied oortree.

Paulus se oproep in hierdie verband is vandag meer as ooit ‘n duidelike oproep en kreet na waarheid.

“maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin.  Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.  Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.  Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.   Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” (Phil 2:2-11)

Indien ons, ons geestelike volwassenheid vergelyk met om-soos-Jesus-te-wees dan skiet die Kerk ver te kort en is ons nog babas.

Selfverloëning is blykbaar nie ‘n gewilde tema nie, en trek duidelik nie sulke groot gehore nie, anders sou ons dalk meer daaroor gepreek het.  Selfverloëning is immers nie ‘n vreeslike groot nuwe openbaring nie, ons bid tog gereeld ons vroom gebede met woorde soos: “ek moet minder word en U meer” en “laat U wil geskied” In ieder geval plaas die skrif die fokus eerste op God wat eers meer moet word en dan ek minder.  (John 3:30)

Die probleem is dat self in baie opsigte nog op die troon is in so baie Christene se lewe, en hulle nie eers daarvan bewus is nie.  Die reuk wat dan afgegee word is die reuk van die dood en nie die ewige aroma van lewe nie.

Ons sterf elke dag.

Selfverloëning is egter ‘n diepe geheimenis wat nie met die intellek uitgewerk kan word nie, en wanneer mens daaroor praat glip dit uit jou hande nog voordat jy dit presies kan neerpen.  Dis seker om hierdie rede dat die woord selfsterf nooit as ‘n selfstandige naamwoord in die Bybel gevind kan word nie, eerder as verskillende werkwoorde.

So ‘n voorbeeld vind ons in Rom 6:11-13 “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.  Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.”

“Reken jouself dan dood” Die woord reken in die Griekse taal is ‘Logisomai’ waar ons woord logies afgelei word.  “Logisomai” beteken om iets uit te werk, ‘n berekening te doen en tot ‘n logiese gevolgtrekking te kom.  Verder is die werkwoord in die Aoristiese tyd geskrywe, wat beteken dat die handeling iewers in die verlede begin het, jy nog steeds besig is om dit te doen en nog besig gaan wees om die daad te doen tot iewers op ‘n punt in die toekoms.  Hierdie inligting werp heelwat lig op die handeling van selfverloëning.  EK dink daaroor na, en kom tot die logiese gevolgtrekking dat ek alreeds my lewe vir die Here gegee het, en dat ek dit nog steeds nou moet doen, en ek sal dit nog ‘n hele paar keer doen totdat ek in die hiernamaals met Hom verenig is.

Dit lyn dan op met Paulus se vermaning aan die broeders: “dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”  (Rom 12:1) Dieselfde woord, maar nou as selfstandige naamwoord ‘Logikos’ word hier vertaal met ‘redelike’ godsdiens.

Die leer oor selfverloëning is niks nuut nie, maar selfs hierdie leer het al verskeie ekstreme interpretasies deurleef.  So is daar geleer dat die liggaam boos is, en dat die liggaam kasty moet word en van alle genot en plesier ontneem moet word, sodat ons dan sodoende meer aanneemlik voor God kan lewe.

‘n paar jaar gelede in my eie soeke na waarheid oor hierdie saak, het die heilige Gees op ‘n dag iets aan my geopenbaar wat my perspektief radikaal verander het.  “jy kan nie jouself probeer doodmaak nie, dit word selfmoord genoem.” Enige selfverloëning wat uit self gebore is, is doodgebore en lei nie na die lewe nie.  Inteendeel dit lei heel dikwels net na trots en veroordeling van ander wat nog nie so baie soos jy gesterf het nie.  Self word juis op hierdie wyse verheerlik.  Hoe lank jy gevas het, hoe baie en hoe lank jy gebid het word indikators van geestelikheid met ‘n skreiende wanklank.

Ons kan nie onsself doodmaak nie.

Ons kan nie onsself doodmaak nie, ons kan net toegee, ingee, oorgee, wanneer Hy besig is om ons dood te maak.  Wanneer Hy vir jou vra om die beker te drink en jy deur bloedsweet uiteindelik by die plek kom waar jy uitroep “nie meer my wil nie Here maar laat U wil geskied”, op daardie tydstip word jy gekruisig en dood verklaar.  Hierin lê ‘n diep geheimenis in opgesluit, “Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.” (Mat 16:25)

Ons pogings om onsself te verander is ook futiel.  Dit móét immers so wees, want as ons onsself kon verander of verbeter hoekom sou ons Jesus dan nodig hê.

Dit is juis wat ons onderskei van enige ander religie.  Ons is die enigste godsdiens wat glo dat jy niks kan doen om nader aan God te kom, of Hom te behaag nie.  Daarvoor het Hy sy Seun gegee wat al die voorskrifte nagekom het in ons plek sodat ons deur Sy werke geregverdig kan word. “Aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.”  (Rom 4:5)

Wanneer Paulus die sondige toestand van die mens in Rom 7 bespreek en dit so mooi uitdruk naamlik “die goed wat ek wil doen dit doen ek nie, die verkeerd wat ek haat dit doen ek” kom hy op die einde van die hoofstuk tot ‘n desperate en magtelose uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Rom 7:24. Wanneer ek tot die einde van my pogings, probeer en werke gekom het is ek gereed om ‘n wonderwerk van opstanding te beleef.

“En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie-rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig” (Luke 18:11-13) Die tollenaar se gebed word aanvaar maar nie die Fariseër sin, wat probeer reg doen het.  Die tollenaar se diepe sondebesef en onvermoë om homself te verander laat hom na God uitroep vir genade!  Die fariseër regverdig homself deur al die goeie goed wat hy doen, sekerlik was hy opreg dankbaar dat hy nie soos die slegte mense is nie, sonder om te besef dit is God se genade en nie sy goeie werke wat hom ‘n beter mens gemaak het nie.

So moes Paulus tevrede wees met die woorde “my genade is vir jou genoeg…” en die doring in sy vlees. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk. (2 Cor 12:9-10)

So sê Jakobus ook dat ons gebede nie beantwoord sal word as gevolg van ons selfsugtige begeertes nie.  (Jam 4:2-3) Wanneer self nog lewendig is, met private agendas en motiewe, staan ons spiritueel voor ‘n toe deur.  Dit maak tog sin, die Bybel sê duidelik dat geen lewende vlees sal sien en bly lewe nie.  Maar deur Jesus Christus het ons nou vrymoedigheid om met God te praat sonder vrees. (Heb 10:19)

Net Jesus kan die DORING van self verwyder.

Die kerk is in die besigheid van lewensverandering.  Dis uiteindelik wat elke kerk en prediker homself ten doel behoort te stel, om te sien dat lewens positief verander en gelyk word aan die beeld van Jesus Christus (Rom 8:29)

Deur die eeue is verskeie prosesse ook voorgestel en geprobeer.

Sommige glo in die wet.  Daar word deur die oplê van hewige reëls en regulasies ‘n vrees by die mens geïndoktrineer vir die konsekwensies as jy ‘n reël sou breek. Die leiers word voorgehou as baie heilig en verhewe bo die res, asof hulle deur die hou van hulle wette ‘n hoër of dieper spiritualiteit bereik het.  Hierdie voorgangers word vereer en slaafs nagevolg selfs na hulle dood.

Ander geestelikes probeer deur verskeie tegnieke en aktiwiteite die emosies van mense opwek tot by die punt waar hulle gevoelservaring beleef.  Klem word gelê, op gevoel en emosies.

Ander kerke glo weer dat jou denke die sleutel is tot alles wat jy doen.  ‘n Mens is immers wat hy of sy dink.  Bybelskole, kursusse, boeke, en lang ingewikkelde preke stimuleer die intellek en poog om mense se denke te vernuwe met die Woord.

Ander kerke glo weer dat die mens se wil die sleutel is tot sy bestaan. “Jy moet net ‘n wilsbesluit neem ou boet!”  Die lewe is omtrent keuses, en jy moet verantwoordelikheid vat vir jou besluite.

Elkeen van hierdie beginsels bevat ‘n sterk element van waarheid, en gevolglik is daar ook ‘n mate van sukses by elkeen te bespeur.  Nie een van hierdie fokusareas is verkeerd nie en kan uit die skrif gefundeer word, die probleem is net dat nie een van hierdie aspekte en waarhede sal ooit volkome suksesvol wees indien die mens die inisieerder is nie.

Al is daar waarheid in elkeen, sal byvoorbeeld ‘n wilsbesluit nooit die tydtoets kan deurstaan indien die besluit uit jou voortgekom het nie.  As ek bloot ‘n besluit sou kon neem en koers verander hoekom het ek die Here nodig?  Maar wanneer ek juis in my ellende en swakheid na Hom toe kom, en my swak wil voor hom lê, werk Hy dit in my om ‘n besluit te kan neem en my koers te verander, maar nie omdat ek soseer gewil het nie, maar hy het in my gewil.  (Phil 2:19)

Selfs die onderhouding van die wet, behoort nie uit myself te kom nie, maar omdat Hy my lei en my leer om sekere dinge te vermy en sekere dinge nie meer te doen nie.  Hy het immers die wet nou in ons harte geskryf.

So kan ons elke aspek van kerkwees bespreek, lofprysing en aanbidding, prediking, evangelisasie, intersessie en gebed en nog vele meer.  Alles wat uit self gebore is lei tot die dood, maar dit wat uit Christus en die Gees gebore is bring lewe!

Ek het op ‘n dag ‘n preek voorberei oor die wapens van die Gees.  Dis was nie ‘n nuwe boodskap nie, en ek sou wapens bespreek soos jou getuienis, die bloed, die naam van Jesus, die Woord ens.  Die oggend toe ek wakker word se die Heilige Gees vir my; “Jy het die mees belangrikste wapen gemis.” Ek het hierdie sin op ‘n stuk papier neergeskryf en die Here gevra om my te leer wat hierdie wapen is waarna Hy verwys.  Na ‘n rukkie het die antwoord tot my gekom; “Selfverloëning is ons magtigste wapen teen die aanslae van die vyand.”  Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde,  (1 Pet 4:1) Jy kan nie met iets baklei wat alreeds dood is nie.  Iemand wat dood is kan nie te nagekom voel nie, of gekrenk in hulle self wees nie.  Iemand wat dood is gee nie om dat hulle goed gevat word en misbruik word nie.  Iemand wat dood is het nie drome en begeertes en ambisies nie.

Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. (Col 3:3-4)  In hierdie vers word “julle HET gesterwe” weer in die aoristus geskrywe.  Dit wil sê, dat ons lewe op ‘n tydstip aan hom gegee is, en deur sy opstandingskrag het Hy ons ‘n nuwe skepsel in Hom gemaak (2 Cor 5:17) Hierdie proses duur egter elke dag voort soos wat ons met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is. (2 Cor 3:18) Deurdat ons saam met Christus gekruisig is, is ons lewe nou ook verberg in Hom, en kan die vyand ons niks aandoen nie. (Gal 2:20)

Ons wil vervleg met syne

Die somtotaal van ons nuwe lewe is dat ons nou nie meer lewe nie, en alleenlik voortbestaan wanneer ons in gehoorsaamheid Sy opdragte uitvoer.  Ons lewe is bloot ‘n refleksie en reaksie op Sy liefde, Sy genade en Sy plan met ons lewe.

Die grootste wonder van alles is; dat Hy nie ons wil, wil beheer nie, nee Hy wil dat ons wil met Sy Wil vervleg moet wees.  Daar behoort geen konflik en onderskeid tussen ons wil en Sy wil te wees nie.  Wanneer ons alles verloor het, en opgegee het, nadat ons alle beheer oorgeteken het en laat vaar het, gee Hy ons nuwe gesag en outoriteit in Hom.  Dan eers word ons waarlik vry om die lewe te geniet in die oorvloed wat Hy vir ons beplan het, wanneer ons heeltemal tevrede en vergenoegd in hom geraak het.  Ons is nie meer bevrees nie; dood, gevaar en krisisse het hul angel verloor, ons kan tog niks verloor as ons nooit eienaarskap in die eerste plek gehad het nie.  Iemand wat dood is, besit niks, begeer niks, smag na niks.

Hierdie is weereens ‘n groot misterie, maar ware lewe en diepe vrede lê alleenlik in ons totale oorgawe aan Hom opgesluit.  Wanneer alle werke tot stilstand kom, alle pogings om te ontsnap verniet is, en jy as persoon net oorgee, kom Hy deur Sy genade en lig ons op.  Selfs ons geloof kan soms ‘n struikelblok word, want ek moet mos glo, ek moet nou dit en dat, nee dis liefde tot op die been oopgevlek en ontbloot vir suiwerheid wat die toets deurstaan.  Petrus se; “Here u weet dat ek u liefhet” Petrus se lewe is ‘n treffende voorbeeld van hoe sy verhouding met die Here verdiep het tot op die punt waar hy nie meer kon bewys, beïndruk, of propageer nie. “Here u ken my hart, u weet dat ek u liefhet”

Selfverloëning lê sentraal tot die kerk se sukses om die wêreld te kersten en dissipels van alle nasies te maak.  Jy kan net iemand dissipel in dit wat jy is.  Jesus het sy dissipels geleer om hulle lewens vir die skape af te lê.  Wat hulle letterlik soos Hy vervul het.  Hoeveel predikers het hierdie mentaliteit?  Hoeveel van waarmee ons besig is, is nie maar bloot gebore uit ambisie, selfverheffing en kompetisie met ander nie.  Probeer ons nie maar ons eie minderwaardigheid en innerlike armoede wegsteek met uiterlike suksesse en voorgee nie?

Hoekom loof en aanbid ons die Here? Doen ons dit om gesien te word, of probeer ons daardeur in God se goeie boekies kom om Sy oordeel te vermy?  Vrees ons mense, en is ons sensitief vir hulle behoeftes en voor en afkeure terwyl ons die Here heeltemal uit die gesig verloor.  Op wie is ons gefokus, waaraan dink ons die heeldag?  Is ons selfs in ons pogings tot heiligmaking nie maar net op ‘n verwronge manier besig met self nie?

In mense verhoudinge, hoeveel keer laat ons, ons wil geld en manipuleer ons situasies tot ons eie gewin?  Baie keer kleur ons ‘n situasie net so in, dat ons ‘n bietjie beter lyk en die ander persoon slegter…  Of ons probeer so bietjie aandag op onsself vestig, oor presies hoe swaar ons kry, en hoe baie ons al gegee het en opgeoffer het.

“EK het dit nou tot hiertoe gehad! Dit sal ek tog nooit doen nie!” “Die Here moet tog nooit vir my vra om na daardie plek toe te gaan nie!” is voorbeelde van die eie-ek wat nog te veel heers.

Daar word vertel van ‘n sekere pastoor uit Indië wat Amerika besoek het.  Hy is deur kerkleiers hartlik verwelkom en vir ‘n tydperk na verskillende kerke en bediening regoor Amerika geneem.  Aan die einde van sy besoek is hy in die publiek gevra om kommentaar te lewer oor wat hy waargeneem het tydens sy besoeke aan kerke in dié land.  Op tipies Indiese manier het hy opgestaan die gehoor stip aangekyk en gesê: “dis interessant om te sien hoe ver die kerk in Amerika gekom het, sonder God!

Ek dink nie hy is weer uitgenooi nie, maar die kerk in Afrika lyk nie veel beter nie, lande waar die meerderheid landsburgers Christene is, is daar nog steeds opspraakwekkende wetteloosheid, armoede en korrupsie aan die orde van die dag.  Soveel predikers gebruik die evangelie om hulleself te verryk en groter invloed en mag oor mense te hê.

Sekerlik is dit nie orals die geval nie en veralgemeen en oordryf ek die punt, maar dat daar werklik hand in eie boesem gesteek moet word is verseker.

ons sterf wanneer ons gehoorsaam raak

Noem dit herlewing of reformasie, maar elke groot beweging van God het begin by ‘n persoon of ‘n handvol persone wat God begin aangryp het omdat hulle niks meer uit hulleself kon doen nie.  Die sisteme van mense en die strukture van die mens het dit wat God wil doen gekortwiek.  So is die geskiedenis vol van pioniers en hervormers wat net een ding wou doen en dit is om God te gehoorsaam en sodoende ‘n nuwe beweging begin het.

Christus was vir ons hierin die perfekte voorbeeld.  Hy het nooit Sy bediening self geïnisieer nie.  Maria Sy moeder moes die diensknegte aansê om te doen wat Hy hulle sou sê.  (John 2:1-12) Hy self het ook die volle tyd volbring in diens van Sy aardse ouers tot die ouderdom van 30, waarna hy toe eers Sy bediening begin het.  Verder sê Jesus telkens:

Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. (John 5:19)

Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het. (John 5:30)

Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. (John 6:38)

En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek. (John 8:28)

Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. (John 12:49)

Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. (John 14:10)

As Hy dan wat die Seun van God is, niks uit Homself gedoen het nie, hoeveel te meer moet ons nie onsself aan Hom onderwerp nie?  Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. (John 15:5)

Soveel keer hoor mens preke oor wie ons in Christus is.  Dit is reg en ons moet verstaan wie ons in Christus is, maar ons moet ook verstaan dan ons alleenlik in Christus kan wees indien self dood is!  Selfverloëning word nie nou nie nog ’n werk wat ons byvoeg by Christus nie.  Nee ons sterf in die geloof! Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. (Gal 2:20)

Ek gee bloot oor en Hy doen die res.

Ek probeer nie myself kasty nie.  EK GEE OOR!

Kom ek verduidelik aan die hand van ons stryd met sonde:  Hoe meer ek probeer om nie te sondig nie, hoe meer wil ek sondig.  Wanneer ek my sonde bely en wegdraai van my sonde en in desperaatheid na Hom kyk om My ellendige mens te verlos, en dan in die geloof Sy redding en verlossing vir myself toe-eien gebeur daar iewers iets bonatuurlik.  Wanneer en hoe weet ons nie, maar skielik sonder dat jy probeer of dit agterkom, werk Hy in jou en skenk Hy jou Sy genade om nie meer in daardie area te sondig nie.

Dis wat ons noem om nou in Sy opstandingskrag te lewe!  Of om te lewe volgens die vermoë van Sy genade.  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo  (John 1:12) Hy het ons die mag gegee om nou reg te lewe volgens Sy wil.  Ons sien hierdie oorgang duidelik in Rom 7 en 8.  In Romeine 7 verduidelik Paulus dat ons uitgelewer is aan die wet van die Sondige Natuur.  Dan kom die mees belangrikste keerpunt.  Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? (Rom 7:24) Totdat mens nog planne het en hierna streef en dat probeer doen, is jy nog vasgepen in jou sonde.  Ons almal moet kom tot by die punt van die misterieuse dood van self, waar alle werke gestaak word.  ‘n Plek waar ons dood in die arms van ons verlosser en Here lê in die geloof dat Hy ons sal opwek.  Dan alleen kan ons oorgaan na hoofstuk 8 waar daar nie meer veroordeling teen ons is nie, alleenlik in Christus!  Hier wet van die sondige natuur kan met die wet van swaartekrag vergelyk word.  Ons kan probeer om hierdie wet te breek maar alleen totdat ons krag op is, of ons petrol op is.  Dan kom alles wat bo in die lug was vinnig af grond toe.  Maar in Rom 8:2 praat Paulus van ‘n ander tipe wet; die wet van die Gees.  Hierdie wet kan vergelyk word met helium.  Helium maak dit vir ons moontlik om sonder enige moeite of inspanning te kan sweef en op te styg vanaf die aarde.  Dis waarom Paulus in Gal 5:16 sê: “MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.”

Hoe wandel mens in die Gees?  Deur jou besig te hou met die dinge van die Gees.  (Rom 8:5) Watse dinge van die Gees?  Dit wat Hy ons beveel en sê om te doen.  Die dinge waarvoor ons geloof ontvang het deurdat Hy met ons daaroor gepraat het, en Homself duidelik aan ons geopenbaar het.  Dit beteken ons het geleer om te wag op Hom… en alleenlik dit te doen wat Hy sê.  Dit is die gesproke (rhema) Woord van God wat ons roep tot die nuwe dinge en lewe in die Gees.

Hierdie leiding van die Gees sal altyd in die teenoorgestelde rigting wees as wat self sou wou gedoen het.  HY sal ons lei om eerder weg te gee, te vergewe, te dien, om die wat dit nie verdien nie onvoorwaardelik lief te hê, in kort om in die teenoorgestelde gees op te tree.  Dit is die wese van om in die Koninkryk van God te lewe.  (Mat 5:27-48) In hierdie gedeelte gee Jesus duidelik voorskrifte en opdragte wat vir die natuurlike en vleeslike mens baie moeilik is om uit te voer.  Wees lief vir jou vyande!  Wees ‘n seën en doen iets wat tot seën sal wees van die wat jou vloek.  Doen goed aan die wat jou haat!  En bid vir die wat jou misbruik en probeer om jou te vervolg.  Eina vlees!

Gandhi het maar ‘n paar van hierdie beginsels toegepas en Indië bevry van Britse Kolonialisme.  Dit is die grootste geestelike wapen in die arsenaal van elke gelowige, as ons dit maar net wil besef.  Ons wil egter soveel keer te midde van konflik onsself regverdig, of verdedig en hoe meer ons dit probeer doen hoe meer beland ons in onguns en in die moeilikheid.  Die sekulêre wêreldbeskouing is dan juis geskoei op selfhandhawing, selfondersoek, selfsugtigheid, selfbeeld, selfvoldaanheid, selfgedrewendheid, selfbeheptheid, selfpromosie, selfagting en ‘n reeks selfhelp boeke en kursusse.

Onthou ‘self’ soek altyd kort paaie, en het gewoonlik ‘n persoonlike agenda en motief.  Self versteur die Godsbeeld waartoe elke mens geskape is.  (Rom 8:29) Self is die gif in ons DNA wat maak dat ons dwars teen God se plan en in vyandskap met Hom lewe.  Self vernietig die plan van God in ons lewe.  Dank God Hy maak ons nie in een dag dood nie!  Hierdie kruisiging proses is ‘n daaglikse proses van leer om te sterf tot die wet van die vlees en die dood en deur die geloof op te staan in die wet van die Gees. Paulus is ons voorbeeld.  Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here. (1 Cor 15:31) Ek sterf elke dag soos wat die wil van God aan my geopenbaar word deur die Woord en soos wat ek daardeur gekonfronteer word om nie net ‘n hoorder te wees nie maar ’n dader.   So leer ek elke dag ’n nuwe bedryfstelsel aan van die Gees en word ek daagliks vernuwe tot ‘n hele nuwe uitkyk op die lewe.

die heerlikheid van opstanding is groter as die pyn

Hoe meer ek gesterf het, hoe vryer word ek van vrese, drange en begeertes.  Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. (Gal 5:24)  Dis interessant dat wanneer Paulus hierdie lyste van sonde opnoem hy nooit ’n aanspraak op ons wil maak nie, maar ons net bloot daaraan herinner dat ons veronderstel is om dood te wees tot sonde.

Dis die uitsluitlike doel van alle bediening in die kerk, om ’n gekruisigde lewe te leef!

Die resultaat van ’n gekruisigde lewe, is ’n lewe van oorwinning.  ’n Lewe waar ‘ék’ nie meer heeldag probeer om voor te gee nie.  Pretensieloos, vry van inhibisies, nie meer selfbewus en in self gekeer nie.  Verdediging meganismes raak onnodig.  Ek kan myself wees en die lewe uitbundig geniet soos ‘n kind.  Stilte en vrede diep in jou binnekant.  Vergenoegdheid.  ‘n Plek van waarheid en lig, duidelikheid eerlikheid en integriteit.  ‘n insig en wysheid omdat jy die lewe vanuit ‘n heeltemal ander perspektief sien.  ‘n Innerlike vreugde en ewige standvastige welgeluksaligheid.  Jy is nie meer gedrewe om iets te probeer bewys nie.  Jou lewe is ‘n lewe van dankbaarheid en liefde.  Nie net dankbaar omdat iets gebeur het nie, maar deurentyd dankbaar en vol.

Die gekruisigde lewe is waarlik DIE LEWE.  Dis na jou dood dat Hy jou opwek om saam met Hom te sit in hemelse plekke.  (Ephe 2:6) dat jy tot alles in staat is (Phil 4:13) meer as ‘n oorwinnaar is (Rom 8:37) vry is van veroordeling (Rom 8:1) aanvaarbaar gemaak is onder die gelowiges (Eph 1:6)

Daar kan net sprake wees van opstanding uit die dode nadat jy eers dood is.  Terwyl en dinge nog as my eiendom sien, my bediening, my gawe en talent is Ek nog lewendig.  Iemand wat dood is besit niks meer nie en het alle eienaarskap verbeur.  Ons is nou inwoners en burgers van ‘n hemelse realiteit en koninkryk.  Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus (Phil 3:20)

Ons soek nie ’n beloning en vergoeding vir die dinge wat ons doen hier op aarde nie, want ons sien met geestelike oë die heerlike beloning wat vir ons wag in die hiernamaals.  Ons doen nie meer dinge om gesien te word nie, nog minder om erkenning te probeer kry van menslike instansies.  Want ons erkenning lê opgesluit in die feit dat ons met die Here kan praat soos met ’n vriend en dat Hy homself gereeld aan ons openbaar.  After these things the word of the Lord came to Abram in a vision, saying, “Do not be afraid, Abram. I am your shield, your exceedingly great reward.” (Genesis 15:1) Die Here self is ons beloning!

Praktiese Maniere van oorgawe

Hier is ‘n paar praktiese punte van selfverloëning wat jy kan toepas elke dag.

  • Moenie talm en uitstel om met jou belangrikste dag aktiwiteite te begin nie.
  • Moenie kla oor die min tyd of die baie werk wat verrig moet word nie, koop eerder die tyd uit en maak dit klaar.
  • Doen alles sonder murmurering.
  • Moenie voorgee hoe swaar jy kry nie, doen alles met blydskap en oortuiging.
  • Moenie aandag trek op die groot en belangrike dinge waarmee jy besig is nie.
  • Wanneer jy iemand aanspreek doen dit gebaseer op eerstehandse getuienis en nie hoorsê nie.
  • Bly stil oor mense en hulle dinge en die foute wat jy sien, moenie stories oordra nie.
  • Soek nie die eer of dank van mense nie, doen dit alles vir die Here.
  • Moenie ongelukkig of gekrenk voel as jou advies nie gevra of gebruik word nie.
  • Moet nooit toelaat dat jy gunstig teenoor ‘n ander afgespeel word nie.
  • Moenie honger om altyd die geselskap te lei of die middelpunt te wees nie.
  • Soek nie die guns, simpatie of begrip van mense nie.
  • Dra eerder die blaam, as om dit oor te dra op ander.
  • Wanneer jy nie die krediet of eer kry wat jou toekom nie, moenie ontsteld wees nie, wees dankbaar!
  • Leer om vinnig te vergewe en vinnig jammer te sê.
  • Moenie gaan as jy nie gestuur is nie, en moenie help alvorens daar nie vir jou hulp gevra is nie.
  • Los die groot dinge wat jy vir die Here wil doen en laat toe dat Hy groot dinge deur jou doen.
  • Ons kan nie altyd kies hoe die Here ons wil gebruik nie, Hy gebruik ons nie altyd om wonderwerke te verrig nie.
  • Doen niks waarvoor jy nie geloof het nie.
  • Soek nie die eer van mense nie.
  • Moet nooit vergeet wie jou vooraf gegaan het en wie na jou gaan moet kom nie.
  • Jy het niks alleen bereik nie.
  • Ambisie kom nadat Hy jou die opdrag en mandaat gegee het. Om dan alles tot die beste van jou vermoë te doen en dit wat Hy jou gegee het om te doen klaar te maak.
  • Sukses lê opgesluit in die mate waarin jy dit wat Hy jou beveel het om te doen voleindig het.
  • Moet jou nie oor te hoë dinge bekommer of tob nie. Daar is genoeg krag vir elke dag.
  • Moenie eiewys wees nie en te veel dink van jou eie opinie nie.
  • Bly binne dit wat God jou toe geroep het.
  • Moenie ‘n opinie lewer oor dit waartoe God ‘n ander man geroep het nie.
  • Moet nooit jouself vergelyk met ‘n ander nie.
  • Bly meer stil.
  • Leer om te wag.
  • Bly altyd ingestel en gefokus op Sy bewegings, woord, impuls, emosie, handeling.
  • Die mense wat Jesus gekruisig het was die toe sogenaamde kerk. Aanvaar dit!  Christene gaan jou die meeste teleurstel en is werktuie in God se hand om jou dood te maak.
  • Onderwerp jou aan gesag.
  • ’n gebedslewe is ’n bewys dat jy werklik van God afhanklik is en niks uit jouself kan doen nie.
totale oorgawe en geloof

In Madame Guyon se werke gebruik sy dikwels die woord “abondonment” wat beteken; om ’n oorgawe te maak, sorgelose vryheid; ongedwongenheid, opgee, laat los, iets verlaat; oorgee; wegsmyt, afsien van, laat vaar, onopgeëiste goedere, agterlating.  Ek het dit vir ’n lank tyd nie verstaan hoekom sy spesifiek hierdie woord gebruik nie totdat ek hierdie verduideliking gehoor het.  Ons moet onsself verloën.  Waar elders in die Bybel word hierdie woord gebruik?  Wel Petrus het Jesus verloën.  Wat het hy spesifiek gedoen om Hom te verloën?  Hy het gesê ek ken Hom nie.  Hy het dit ontken dat Hy enigsins Jesus ken of dat daar ’n verbintenis tussen hulle is.  Hy het met ander woorde Jesus se bestaan ontken.  Hy weet nie wie Hy is nie.  As ons maar dieselfde met self kan doen!  Om te vergeet van self, sy bestaan te ontken.  Dis hoe ons vry word van sonde en die ou sondige natuur.  Ons is immers deur die geloof saam met Hom gekruisig en leef nie meer nie.  Ons is daarom immers gedoop as teken van ons afgestorwe lewe in Christus.  Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. (Col 3:3) Ons bestaan nie meer nie.  Het geen regte meer nie.  Het ons bestaansreg op dinge en mense opgegee om nou in Hom en deur Hom te bestaan.  “Want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons.”, (Acts 17:28) Wanneer ons sukkel met sonde is ons nog vasgevang in daardie sonde.  Maar wanneer ons dit bely en in die geloof ons nuwe karakter in Jesus Christus opneem en toe-eien vergeet ons van daardie sonde en dae later kom ons agter dat ons vry is en dat daardie sonde nie meer ’n houvas op ons het nie.

Die Here het eendag met my hard gepraat oor dat ek aanhou om ’n sekere sonde te bely sonder om daarvan afstand te doen en dit te oorwin.  Dis nie ons belydenis wat die verskil maak nie, maar ons geloof.  Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.  (1 John 5:4)  Ons moet werklik draai en ons nuwe identiteit in Christus opneem; vergeet van die sonde en die ou mens met sy drange.  Belydenis sonder geloof is futiel en betekenisloos.  Inteendeel ons bely eintlik maar net omdat ons bang is ons word uitgevang en nie omdat ons regtig dink aan wat ons sonde aan God doen nie.  Ons belydenis is selfgesentreerd en gebore in ons eie selfsug en eie-ek.  Maar ware berou wat God werk is om werklik tot by ’n waarheidsoomblik te kom waar ek die konsekwensies van dit waarmee ek besig is vir myself, vir ander en vir God besef.  In Kolossense 3 gebruik Paulus dikwels die terme om die ou mens en sondigheid uit te trek soos ou klere wat jy uitrek en weggooi.  En dan om die nuwe kleed in Christus aan te trek.  Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. (Col 3:12-14)

Die uiteindelike doel is nie om dood te bly nie, maar om op te staan in die nuwe identiteit van Christus Jesus ons Here.  Maar Hy wek ons op.  Hy inisieer opstanding!  Ons staan dikwels te vinnig weer self op.

Die antwoord is nie in ‘n mens nie

So dikwels hoor ons vandag die woorde; “die antwoord is binne jou!” “wees net jouself”.  Daar is geen sprake van jouself wees en dat die antwoord in jou is alvorens die voorhuid van jou hart nie besny is nie.  Die antwoord lê nie in ’n mens nie.  Ek weet, o Here, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie. (Jer 10:23) Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?  Ek, die Here, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.  (Jer 17:9-10) Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood. (Prov 14:12) Die Here moet eers die gif van eie-ek en self verwyder dan gee Hy ons wil terug aan ons.  Ons DNA moet eers verander.  Ons redding lê alleenlik in die feit dat Hy ons nuwe skepsels maak deur die krag van die kruis en opstanding.  (2 Cor 5:17)  Dan kan ons praat van jouself wees en dat die antwoord binne jou is; Christus binne jou.  aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.  (Col 1:27)

Luther en ander wat die 16de eeuse reformasie begin het, het nie net bloot idees op die tafel gesit nie, die reformasie van die 16de eeu het nie sy ontstaan gehad in die lesingkamer of op Wittenberg se deur nie.  Dit was eers nadat Luther ‘n persoonlike verdieping of ontmoetings ervaring met God gehad het dat hy die oortuiging gehad het om die 95 tesisse te skryf en teen Wittenberg se deur te gaan vasspyker.

Ware reformasie begin dus by Hom.  Hy is die een maatstaf vir ons lewe.  Ons is geskape tot hierdie doel en dit is om soos Hy te wees.  Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders (Rom 8:29) Hy is die presiese beeld en openbaring van God.  Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, (Heb 1:3)

Ons kan God nie sien nie, maar Sy Woord het vlees geword en onder ons kom woon om vir ons die pad aan te dui na God se hart.  Dit is dan ook die Vader se begeerte dat ons netso een sal wees met Hom as wat hulle Vader Seun en Heilige Gees een is. dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. (John 17:21) Ons moet uiteindelik ook so een wees met mekaar.  Dit beteken dat ons nie langer teen mekaar sal werk nie, maar een van gedagte, hart en optrede sal wees.  Soos die kerk in handelinge, word daar tekens verwys na die merkwaardige eenheid wat tussen die vroeër gelowiges geheers het.  Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die openbaarmaking van God deur Sy Gees aan individue regoor die wêreld, wat met God ‘n ontmoeting gehad het.  As dieselfde Gees dan in ons woon hoe kan daar dan verskille wees? En as ‘n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie (Mark 3:24)  ‘Self’ bring altyd verdeeldheid.  Maar aan die ander kant moet ons ook weet dat Christus ook verdeeldheid bring.  Tussen die natuurlike vlees mens en die Geestelike gekruisigde lewe.  (Gal 4:21-31)

jy kan nie kruisiging voorgee nie

Onlangs by ‘n predikante byeenkoms toe die vraag gevra word hoekom daar so min eenheid en samewerking tussen kerke is, het een pastoor die volgende geantwoord; “dis omdat daar so baie ongelowiges in kerke en in leierskap strukture van kerke sit.”  Iemand wat met God ‘n ontmoeting gehad het, vir wie die Here ‘n werklikheid geword het doen dinge net anders.  Ons vind dat gelowiges wat ‘n ware verhouding met die Here het en wie se geestelike oë geopen is, alreeds een is, en sommer gou aanklank met mekaar vind oor kerkgrense heen.  Dieselfde Gees woon dan in ons almal en ons behoort dus as ons van dieselfde gees deurdrenk is een van harte te wees.

Dit is belangrik om op hierdie punt uit te wys dat die grootste agent van verdeeldheid in die kerk die ‘natuurlike’ mens is.  Daarom het Jesus, Petrus bestraf dat hy die gedagtes van ‘n mens handhaaf en nie die van God nie.  (Mat 16:23) Hierdie vyandskap was nog altyd in die kerk, tussen die wat veg vir die regte van die mens en die wat self gekruisig het en in gehoorsaamheid van Sy Gees lewe.  “Want hulle wat hulle laat lei deur die Gees is kinders van God.” (Rom 8:14)  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. (Mat 7:21)

Ek het in my bediening oor die laaste 20 jaar al honderde kere gehoor hoe persone wat in die kerk groot geword het, gereeld kerk toe gegaan het, selfs op kerkrade gedien het vertel hoe die Here op ‘n spesifieke dag net ‘n werklikheid vir hulle persoonlik geword het.  Hoe is dit dan, dat daar mense in ons geledere is wat God nie ken nie.  Hulle het al van Hom gehoor hulle praat selfs van Hom, maar hulle het Hom nog nooit eerstehands beleef en ervaar nie.  Hierdie godsdienstige mens doen die regte goed, praat die regte goed maar is nie in Sy Gees gekonnekteer met God nie.  Dis wat Jesus vir Nikodemus wou verduidelik wie tog uit die aard van sy beroep, ‘n godvresende en toegewyde persoon was.  EN daar was ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ’n owerste van die Jode. (Joh 3:1) Tog sê Jesus duidelik “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” (Joh 3:5) Wat beteken dit om in water en gees gebore te wees? Kom ons laat die woord die woord verklaar.  nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees. (Titus 3:5) Water dui duidelik op wedergeboorte waarvan doop ‘n fisiese teken is en die vervulling of doop van die Heilige Gees. (Mat 3:11) Die meeste Bybel verklaarders maak ook die afleiding.  Wedergeboorte vind plaas deur die saad van die woord wat ontkiem en Sy lewe en karakter in ons openbaar. (1 Pet 1:23) Hierdie is nie noodwendig twee gebeurtenisse nie.  Maar verduidelik bloot die komponente van die proses van wedergeboorte.

Die punt is egter dat hierdie twee persone lynreg teenoor mekaar staan, en dat die een in vyandskap staan met die ander.  Paulus verduidelik dit mooi in (Gal 4:21-29) Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie? Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye. Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte. Dit is sinnebeelde, want dié vroue staan vir twee verbonde: een, van die berg Sinai afkomstig, wat vir die slawerny kinders baar – dit is Hagar; want Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem en is met haar kinders saam in slawerny. Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal. Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ’n man het. Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte. maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook. maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook.

Weereens in 1 Cor 2:1-16 gee Paulus ‘n lang verduidelik oor die onderskeid tussen die gees mens en die natuurlike mens.  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. (1 Cor 2:14)  Jesus maak dit tog mos ook duidelik dat ‘n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie en andersom.  Die boom se natuur bepaal die vrug.  So bepaal ons nuwe natuur in Christus die ware vrug in ons lewe.  Jy kan dit probeer naboots maar dit hou nie lank nie. Wanneer dit dus oor eenheid gaan, vind ek dat gelowiges oor die hele kerkspektrum nie ‘n probleem het met eenheid en eenwees nie indien ons vanuit hierdie selfde vertrekpunt kyk.

Sekularisme en sakralisme in die kerk het die kerk verarm na ‘n organisasie en struktuur op boeke, die siel van dié kerk is dood, die kandelaar is verwyder, alhoewel die geskiedenis boeke vol getuienisse is van ‘n eertydse passie en soeke na God, is baie kerke vasgevang deur die tradisie en oorlewering van mense.  Sakralisme beteken; Wanneer alle inwoners van ‘n land of streek saamgebind is deur ‘n  Godsdiens wat deur almal geaanvaar word en dit die kulturele aanvaarbare ding word om te doen.  Dis immers mos die kerk so groot opdrag, om die wêreld te kersten en te oortuig van die evangelie. Maar wanneer hierdie kersten proses gepaard gaan met bloot die nakom van reëls en formalisme sonder ware wedergeboorte beland die kerk in die moeilikheid!  Christus het aan ons ‘n hemelse koninkryk verkondig, waaraan elke mens kan behoort maar jy kan alleenlik deel word van hierdie koninkryk deur in Jesus te glo en Hy jou wederbaar.  (Joh3) Bogenoemde punt is ‘n geskil punt wat al menigte verdeeldheid en selfs oorloë as gevolg gehad het.

Die kerk het ‘n instituut en handewerk van ‘n mens geword.  “Ek sal My kerk bou en die hekke van die hel sal nie daarvoor stuit nie.” (Mat 16:18) In Jesaja 66 verklaar God dat Hy nie belangstel in die geboue wat ons vir Hom oprig nie, want Hy het dit self gemaak.  Maar Hy stel belang in die mens wat Hom vrees en met ootmoed dien.  Telkens word daar in die NT verwys na ons as die tempel van die Heilige Gees.

Die term katoliek wat “algemeen” beteken is in teenstelling met dié Woord.  Die Bybel praat van die uitverkore kerk, heilige priesterdom, gemeente van die eersgeborenes. Die idee dat iemand hom of haarself as lid van hierdie liggaam kan toe-eien sonder wedergeboorte is verregaande! Almal kan nie maar net aan die kerk behoort sonder dat die voorwaardes van die skrif nagekom is nie.  God is besig om vir Hom ’n volk te versamel, ’n geestelike Israel, ’n Ekklesia van mense wat uit die wêreld geroep is om Sy heilige priesterdom en bruid te wees.

Sonder geloof kan niemand God behaag nie. (Heb 11:6)  Telkens is by die kerk gevoeg die wat tot geloof gekom het.  Geloof egter wat se werke en vrug getuig van die openbaarmaking van Christus in jou lewe.  Baie mense in die kerk glo in God, en glo dat die Here hulle red en salig maak, maar hulle het nog nie die belofte in besit geneem nie.  Dis een ding om te glo en ‘n ander om op te tree in die geloof.  Geloof is ‘n aksie.

Ek kan elke dag my sonde bely, maar nie verander nie.  Ek moet dus glo, my geloof uitspreek soos die geloofshelde van Hebreërs 11 en in gehoorsaamheid dit doen wat ek glo.  Gehoorsaamheid is die werkwoord van my geloof.  Petrus het geglo hy sal ook op die water kan loop, toe hy vra en Jesus antwoord kom, moes hy volgens sy geloof opstaan en oor die rand van die skuit klim en op die water trap.  Soveel mense glo, maar het nog nooit oor die rand geklim nie!

Wanneer ek glo en die woord doen, word die woord vlees in my lewe.  Ons wil met teologiese redenasies onsself regverdig om nie te doen nie.  Ons soek eintlik na verskonings vir die geheime vrees in ons binnekant om te waag om Hom te gehoorsaam.  Om in gehoorsaamheid aan God se stem te lewe is nie maklik vir die vlees nie, Hy vra soms dat jy op de grond spoeg en modder met jou spoeg maak en dit op die oë van ‘n blinde man sit.  Dit mag beteken dat Hy jou vra om al jou besittings te verkoop en die opbrengs vir die armes te gee en Hom te volg.  Dit is waarom selfverloëning ‘n voorvereiste is om sy dissipel te word, anders gaan jy gedurig aanstoot neem oor dit wat hy van jou vra.

God het alreeds die opdragte gegee, hy het klaar beweeg, hy het alreeds die prys betaal en die belofte en gawes van redding vir ons beskikbaar gestel ons moet net opstaan en dit deur die geloof in besit neem.

Die leraars van die kerk moet deur die visier van die kruis begin dink en redeneer.  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.  (1 Cor 2:2) Soos die haarnaald in die teleskoop van ’n geweer moet ons leer om na alles deur die kruis te kyk.  Ons kan niks anders preek as Jesus as die gekruisigde en dat Hy opgestaan het as die eersteling van baie seuns.

Kom ons neem byvoorbeeld leiding en swaarkry in die kerk.  Paulus gee nie goedkoop sewe stappe hoe om in alles wat jy doen suksesvol te wees nie.  Hy was in elk geval nie so suksesvol volgens vandag se predikers wat net oorvloed en rykdom verkondig se standaarde nie.  Nee hy se: “NOU verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is”. (Col 1:24) Ons wil ons uit leiding en verdrukking red nie, maar ons daardeur neem sodat die vyand geen houvas op ons meer kan hê nie.  Die meeste van die tyd kos dit eers iemand om alles te verloor alvorens hulle die rykdom van die koninkryk ontdek.  Paulus sien sy leiding in perspektief van die liggaam, want hy het geleer dat sy lewe as ’n drankoffer uitgegiet is vir die kerk.  Elke lid in die liggaam bestaan vir die liggaam en tot diens van die liggaam.  Ons het geen bestaansreg sonder die Liggaam nie.  Gehoorsaamheid beteken nie dat jy altyd net lekker dinge sal beleef nie.  Gehoorsaamheid beteken nie noodwendig aardse sukses nie.   Daar is ’n verskil om swaar te kry omdat jy nie wou luister nie, en omdat jy ongehoorsaam was.  Dit is iets anders.  Maar God gebruik leiding om ons volwasse te maak en ons karakter te ontwikkel om die seën van Sy heerlikheid te kan dra.  Leiding gee jou diepte en bring ’n geestelike gewig in die Gees mee.  Jy word nie langer rondgeslinger deur omstandighede en die stories van mense nie.  Jy is geanker in jou gees.  Leiding bring outoriteit.  Geen ware outoriteit kom op enige ander manier nie.  Ook hierin was Jesus ons voorbeeld.  Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword (Heb 5:8-9) Dis in leiding waar God ons bevry van allerhande vrese.  Dit wat jy vrees sal jy kry en is nog jou God.  In leiding word ons met hierdie vrese gekonfronteer totdat ons na God uitroep en op Hom alleen vertrou.  So verloor dood, armoede, konflik en vervolging sy angel en word ons bevry van elke vashouplek wat satan hoegenaamd in ons kan hê.

Die Wêreld sien met reikhalsende verlange uit na die openbaarmaking van die volwasse seuns van God wat nie hulle koninkryke bou nie maar elkeen ’n bydrae lewe dat die koninkryk van God deur hulle gebou word.  ’n gekruisigde lewe is die produk van God wat oor die wêreld versprei moet word, in elke huis en werksplek.  Die kerk misverteenwoordig die Beeld van God terwyl self nog regeer.  Maar hoe meer ons kies om self neer te lê, hoe meer duideliker word Christus sigbaar in ons lewe.  Weereens ons kan nie onsself kruisig nie, maar ons kan oorgee!  Let go and let God!

LIEFDE maak ‘n weg

Jon Foreman sing ‘n liedjie: “education” https://music.apple.com/za/album/education/1545941558?i=1545941578

In hierdie liedjie vertel hy: “we loose yourself when you love someone”

Geen mens kon nog ooit voor ‘n lewende God se tasbare bekendmaking op sy voete bly staan nie! Wanneer Vader God in Christus Jesus deur die Heilige Gees ‘n werklikheid word, verdwyn self en ego soos mis voor die Son.  Wanneer ons die Here liefhet met ons hele hart, siel, krag en verstand verdwyn self. Wanneer ons besef hoe hoog, ver, wyd en diep Sy liefde strek – verdwyn self. Wanneer ek iemand werklik liefhet, en bemin – verdwyn self!

Mag almal die verwondering beleef om Jesus te ken en te volg! Jesus ons Here!