Harvester

Hoekom Jesus?

Al ooit gewonder hoekom kinders van feitlik elke volk en taal op ’n stadium deur die hoekom-fase gaan? Sommige ouers probeer om elke vraag noukeurig te beantwoord, ander gee later op en gooi ’n dowe oor. Die kinders gee later ook op om vrae te vra, of vind die antwoorde op ander plekke en by ander bronne. 

In die begin is kinders se vrae irrasioneel en onwillekeurig, want hulle het nog geen filter nie. Hoekom eet spinnekoppe hulle babas? Maak Ninjas ook honde dood? Dan raak die vrae moeiliker: Waar kom babas vandaan? Hoekom gaan mense dood? Wat gebeur met mense as hulle doodgaan? Wie is God? Hoe lyk Hy? Waar kom God vandaan? Wie het God geskape? 

Hierdie hoekom- of waarom-vraag word later sentraal tot die mens se bestaan. Hoekom is ek hier? Wat moet ek doen? Wie is ek? Wat is die beste manier om die lewe te leef? Geloofsvrae raak egter radikaal moeiliker wanneer die lewe verkeerd loop: Hoekom het Pappa en Mamma geskei? Hoekom het my boetie/oom my verkrag? Hoekom behandel mense my so sleg? Hoekom bly alles verkeerd loop in my lewe? Hoekom wil niks uitwerk nie? Hoekom gebeur slegte goed met goeie mense? 

Die primêre leermeesters wat hierdie wesenlike vrae probeer beantwoord is die aanhangers van ’n bepaalde godsdiens of filosofie. Dit is hoe godsdienste deur die eeue bestaansreg verkry het: die sjamaan of toordokter weet die beste wat die gode verlang. In die kerk word die priester, predikant, pastoor, dominee, apostel en profeet die spesialis wat namens God praat. Hulle weet kwansuis almal die beste wat die god of gode verlang sodat ons geluk en vrede op aarde kan hê. Met die omvang van die internet wys wetenskaplike studies egter dat hierdie magiese spesialiste al hoe meer uitgedien raak, want mense kan nou vir hulleself uitwerk hoekom slegte dinge gebeur. Vandag is daar ’n uitgebreide lys van deskundiges, filosowe, sprekers en akademici oor elke denkbare studierigting wat verduidelik hoekom daar nog armoede, honger, misdaad, siekte en rampe wêreldwyd gebeur. Die oplossings is talryk, soms teenstrydig, maar selfs in ’n perfekte mens-geordende wêreld is ons soeke na meer. 

Hoekom toon die mees ontwikkelde lande in die wêreld, met die laagste misdaadsyfers, die hoogste syfers van die gebruik van antidepressante? Ysland, Kanada, Australië, Engeland, Portugal, Swede, België, Spanje en Denemarke.15 Dis verder interessant dat van hierdie lande ook onder die lande val met die hoogste aantal ateïste: Swede, België, Australië, Denemarke.16 

Die algemene soeke van die mensdom is na ’n beter lewe: vrede, innerlike geluk, betekenis, harmonie, vryheid, bonatuurlike krag, wysheid, dieper insig, euforiese blywende geluk, ewige 

lewe, ’n ego-lose bestaan sonder bekommernis.17 Elke godsdiens, dieet en farmaseutiese produk bemark hulle eie resep van hoe om hierdie “hemelse nirvana” te bereik. 

Die kern van die probleem is: Ons probeer hierdie vrede en geluk op ons eie manier verkry terwyl God vir ons ’n plan het om volhoubare, ware geluk en vrede te beleef. 

John Eldredge verduidelik hierdie proses pragtig in sy boek, “Desire, the journey we must take to find the life that God offers.” God is nie teen die feit dat ons begeertes het nie: “Mag Hy u gee wat u hart begeer en al u voornemens laat geluk.” (Ps. 20:4); “…wat my die goeie in oorvloed laat geniet.” (Ps. 103:5); “U maak u hand oop en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.” (Ps 145:16). Die moeilikheid kom omdat ons begeertes – wat nie eerste in Hom bevredig word nie – onsself en ander kan skade berokken. Ons begeertes is soms selfsugtig en om onsself te verheerlik. Dit het byvoorbeeld daartoe gelei dat Hitler en die Nazi-party hulle begeerte tot selfbeskikking ten koste van ander uitgevoer het. Dieselfde gebeur wanneer iemand sy of haar buite-egtelike romantiese liefdesbegeerte bou op die puinhoop van hulle familie en vriende se gebroke harte. 

Die lewe is ’n dramatiese, gevaarlike hindernisbaan. ’n Mens wat God nie ken nie, is genoodsaak om maniere te vind om die pyn uit te doof. Hierdie duisende vorms van selfmedikasie en die soeke na beter pynstillers is die ankerpunt van die mens se verslawings. “We’re all addicted to something that takes away the pain.” Die “medikasie” wat ons uiteindelik kies word ons afgod. 

Die Griekse Woord Vir Afgodsdienaars Is: 

5331. φαρμακεία pharmakeía; gen. pharmakeías, fem. noun from phármakon (n.f.), a drug, which in the Gr. writers is used both for a curative or medicinal drug, and as a poisonous one. Pharmakeía means the occult, sorcery, witchcraft, illicit pharmaceuticals, trance, magical incantation with drugs (Gal. 5:20; Rev. 9:21; 18:23; Ex. 7:22; Is. 47:9, 12). Syn.: mageía (G3095), magic. 

Ons kan dus aflei dat godsdiens, verslawings en afgodery almal van dieselfde familie is. Godsdiens is die bedryf van magiese rituele of towenary om die wêreld te probeer beheer tot my eie voordeel. Godsdiens is inderwaarheid die opium van die massas (Karl Marx). Mens kan dit egter ook anders stel: Elke keer wat ons probeer om aan die realiteit van hierdie wêreld te ontsnap deur een of ander “opium/pynstiller”, skep ons ’n afgod. 

Sommige sal wil redeneer dat daar goeie en slegte rituele/pynstillers is. Sekerlik is dit so: Jy kan nie ’n ongesonde leefstyl chemies regmaak nie. Daar is ook gesonde en ongesonde gewoontes: Sommige probeer die pyn stil maak deur hulle self te sny, ander mediteer of gaan oefen. Die probleem is dat selfs die goeie rituele, gewoontes en gebruike van korte duur is, en dus oor en oor en teen toenemend hoër dosisse gedoen moet word om dieselfde effek te verkry. Oefening is natuurlik heilsaam. Maar wat maak jy as jy vir ’n maand lank nie kan oefen nie? 

Maar hier kom ’n radikale stelling: Godsdiens en afgodery is dieselfde ding. Afgodery is die godsdiens wat ’n mens vir homself skep, met ’n afbeelding van ’n god waarvan hy hou, om vir hom te doen wat hy wil hê. In die volgende verse word afgodery baie wyd as die versameling van die mense se selfsugtige begeertes beskryf. 

“Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is – want gierigheid is afgodery – het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (Ef. 5:5). 

“Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodery is.” (Kol. 3:5). 

Godsdiens-definisie: Die geloof in die aanbidding van ’n bonatuurlike, beherende mag, ’n persoonlike god of gode. Die Engelse woord “religion” kom van die Franse en Latynse woord 

“religion: obligation, bond, reverence, to bind”. Die Grieke het nie ’n woord vir godsdiens nie: Hulle het bloot direk van jou aanbidding gepraat. Wie aanbid jy? Of volgens die OT: Wie “dien” jy? 

Die Voorstanders van Godsdiens wil wins maak uit die Mensdom se Soek na God. 

Verskillende ghoeroes, priesters, spiritiste en predikers predik hulle eie weergawe van hoe jy God gelukkig kan maak. Elkeen praat namens God om vir jou te verduidelik wat God wil hê. Elkeen probeer meer geestelik en outoritêr as die volgende een wees om sodoende die meeste volgelinge te vergader en daardeur inkomste vir hulleself te genereer. Dit is hoekom Jesus die geldwisselaars wat probeer munt slaan het uit die mense se moeite en las om offers te bring, met geweld uit die tempel gedryf het (Mark. 11:15-19; Luk. 19:45-48; Joh. 2:13-22). Daar is al hoe meer ware evangeliste wat geen offergawes opneem tydens openbare byeenkomste wat daarop fokus om mense dissipels van Jesus te maak nie. 

Godsdiens se einddoel is om ’n “hefboom” op God te kry sodat Hy my lewe beter kan maak. Soos die vrou wat bid dat die Here haar man verander sodat sy ’n beter lewe kan hê. Hoeveel van ons gebede is eintlik selfsugtig? (Jak. 4:2-3). 

Eintlik is mense op soek na lewe. Godsdiens is die manier waarop die mens probeer om die kompleksiteit van die lewe in ’n raamwerk te pas wat sin maak en wat die mens kan beheer. Godsdiens laat mens veilig voel. Jy kan die chaos en kompleksiteit van ons bestaan in ’n bepaalde raamwerk inpas. Soos Job se vriende hom probeer oortuig het van hulle god-raamwerk. Hulle raamwerk was: Dit gaan goed met die regverdiges en rampe volg die sondaars. Job weier om te erken hy het gesondig, maar hou vol dat hy blaamloos voor God staan (Job 1:1, 8; 2:3). 

Godsdiens is mensgemaak. Godsdiens probeer die mensdom beheer deur skuldgevoelens, stigmas en magiese rituele om rampe, ongeluk, siekte en pyn te voorkom of daaraan te ontsnap. Daarom is godsdiens mensgerig: Alles is daarop gerig om meer aanhangers te kry. Daarom moet ek mense te alle tye probeer tevrede stel. Ek moet probeer doen waarvan mense hou om nog meer mense te probeer trek. 

Is al die verskillende godsdienste bloot verskeie weë na dieselfde God? Sommige probeer die diversiteit en kompetisie tussen godsdienste beredeneer as bloot verskillende weë na God; almal is reg; daar is nie een eksklusiewe weg en metode nie. God is dus ’n veraf, nie-geïnteresseerde wese wie se aandag ons moet probeer kry. 

“Any god who forces you to earn his love is not worthy of your worship. Jesus did not tell us what we need to do to get to God, he was proclaiming what God is doing to get to us.” Ervin McManus 

Wie is God? Al die godsdienste het uiteindelik hulle eie weergawe van hoe God lyk, wie hy of sy is, waarvan hy hou en hoe om hom gelukkig te hou. Jahwe, Elohim, Allah, Hu, Baha, Mare d’Rabuta, Krishna.18 Die werklike kwessie is: Hoe sien jy God? Sien jy Hom van aangesig tot aangesig? Of sien jy ‘n afbeelding, refleksie, oorvertelling, tweede-handse weergawe van wie mense sê God is? Jesus het ook hierdie vraag vir Sy dissipels gevra: “Wie dink die mense is Ek, die Seun van die Mens?” en later “En wat van julle, wie sê julle is Ek?” 

Sommige sien God as die veelvoudige persoonlikheid steurnis God: Allah, Budah, Chrisna, is almal god. Sommige glo in die verkeerskonstabel god, wat daarop uit is om jou te vang oortree, en dan vir jou ‘n boete gaan gee. Ander sien God as die kosmiese verkoopshandelmasjien, waar jy net die regte gebede bid, en hy dan gee wat jy nodig het. Die wysbegeerte sien God as die onbetrokke horlosie-maker god, wat die aarde soos ‘n horlosie in delekate ratte aan die gang gesit het, maar nie betrokke is in ons persoonlike lewens nie. Die meeste mense hou van die drinker-vriend-by-die-kroeg god, hy luister altyd, stem altyd saam, en laat jou altyd beter voel God. Dan is daar mense wat God soos ‘n teddie-beer sien, hy is altyd daar vir jou, om jou te troos en te laat beter 

voel. Hy praat nooit terug nie, en hy is bekende staatmaker wat ek kies om te gebruik wanneer ek hom nodig het. Die mense wat god as spaarwiel sien is glad nie op God ingestel of gefokus totdat hulle hom nodig het as daar ‘n pap wiel is nie. Daar is natuurlik ook mense wat God sien as die bekende ou familielid, ons respekteer hom as hy kom kuier, bloot omdat hy familie is en omdat ons ouers hom ken. Sommige teoloë sien god as die poppespelmeester god, wat glo dat hy alles beheer. Ons verstaan nie hoekom hy die wreedheid van moord, rampe en pyn en leed toelaat nie, maar alles is uiteindelik sy wil. Dit is moeilik om die God lief te kry. Baie mense sien God as die pretbederwer god. Hy wil nie hê ons moet die lewe geniet nie, wanneer dit goed gaan is ons eintlik bang vir wanneer hy dit gaan kom bederf. 

Die probleem met al hierdie sienings, is die feit dat dit gebasseer is op ‘n mens se weergawe en siening van god. Toe Petrus sien wie God regtig is, word dit duidelik gemaak dat die openbaring nie uit ‘n mens kom nie! God het HOMSELF geopenbaar. 

WE CANNOT KNOW GOD UNLESS HE REVEALS HIMSELF TO US. MARTYN LLOYD-JONES. 

“Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie. Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie.” (Matt 16:17-18) 

Die menslike dilemma: Daar is ’n swaartekrag in die mens wat mens aftrek na die dierlike instinkte van bestaan. Tog is die mens in wese verskillend van diere: Ons is spelerig en hou van vertoon wat lei tot die kunste, ons hou van die wetenskap en verstaan van dinge, ons hou van orde en wetgewing en reëls, ons verorber nie net ons kos nie – ons dek tafels en skep atmosfeer wanneer ons eet, ons verkeer nie seksueel in die openbaar nie, ons hou daarvan om ’n skinderstorie oor te vertel. 

Hierdie aspekte van menswees dui daarop dat ons geestelike wesens is: Ons wil by die wêreld om ons ingeskakel wees. Ons hele menswees word bepaal deur die mense om ons. Ons dink almal ons is vrygewig totdat ons vir ’n saak moet gee. Ons dink almal ons is liefdevol totdat iemand ons liefde soek. Ons dink almal kan enigiets doen totdat ons ’n bepaalde taak moet verrig. Ons dink almal daar is niks fout met ons nie totdat iemand diep gekrenk is deur iets wat ons gesê of gedoen het. Dit is dus eers in verhouding met iemand dat ek myself raaksien vir wie ek regtig is. Ons besef eintlik eers hoe stukkend ons is wanneer ons raaksien hoe stukkend ons verhoudings om ons is. 

Is waarheid relatief? Ons almal soek na die waarheid en wanneer ons dit in iemand se prediking vind, en daardie persoon ons teleurstel omdat hulle nie werklik die waarheid leef nie, verlaat ons die waarheid wat hulle verkondig. Dit beteken dat elke prediker probeer om ’n beter greep op die waarheid te kry as die volgende een, want ons is elkeen al iewers deur een of ander leiersfiguur teleurgestel. Dit lei tot die argument dat daar geen absolute waarheid is nie. Elkeen se waarheid is relatief waar tot elkeen se siening en begrip. Waarheid is egter nie relatief nie. Waarheid is ‘n persoon – Jesus Christus! 

In ’n tyd soos hierdie is godsdiens uitgedien en gee dit valse hoop. Sommige mense probeer een na die ander vorm van godsdiens en dit sit soos ’n skoen wat te klein is. Jy kry later eelte en skaafmerke en kan nie meer ordentlik loop of beweeg nie. Godsdiens kamp jou in en beroof jou van jou vryheid. Godsdiens hou jou vas en doof alle kreatiewe inspirasie uit. Godsdiens is ’n vorm van “lockdown”! Dis soos ’n kameel wat in Kanada in ’n dieretuin in die koue aangehou word – heeltemal buite sy natuurlike habitat. 

Jesus het nie ’n godsdiens verkondig nie! Jesus is deur die godsdienste van sy tyd tot die dood veroordeel! Jesus en godsdiens is nie sinoniem nie. As jy moeg is vir godsdiens, probeer Jesus. 

Hoekom Jesus 

Jesus is radikaal anders! 

Jesus het al hierdie godsdienspleging omvergewerp deur nie namens God te praat nie. Hy is God wat vlees word, en self as God Homself aan ons openbaar! “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese.” (Heb. 1:3); “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun.” (Heb. 1:1). 

Jesus volg heeltemal ’n ander benadering! 

· Jesus verkondig nie ’n weg na God toe nie – Hy verkondig God se weg na ons toe! (Joh. 3:16). 

· Hy verkondig nie net wat ons moet doen om by God uit te kom nie, maar wat God gedoen het om by ons uit te kom (Matt. 5:24, 36). 

· Jesus verkondig nie ’n stel reëls en metodes nie: Hy verkondig ’n Persoon! (Joh. 6:28-29). Daarom het Jesus die godsdiens-voorskrif oor die Sabbat verontagsaam, want mense hou die Sabbat en het nie werklik vrede of rus nie. Hy is Sabbat! Wanneer jy die rus in Hom ontdek het, word elke dag ’n Sabbat. 

· Jesus laat ons fokus op God waar godsdiens ons laat fokus op self (Joh. 3:13). 

· Hy verkondig ’n waarheid wat Hy self tot die letter fisies demonstreer en self aan voldoen (Joh. 14:6). 

· Jesus verkondig ’n praktiese waarheid wat jou leer hoe om deur krisisse en pyn te leef en dit nie te probeer ontsnap nie. Salig is die mense wat swaarkry, treur, arm is en vervolg word! (Matt. 5:3-12). 

· Hy gee onmiddellike toegang tot die realiteit van die hemel en heerlikheid (blywende vrede en vreugde) waarna die mens soek. Vrede, versoening, genesing en bevryding is onmiddellik beskikbaar (Matt. 4:17). Godsdiens wil altyd die eindbestemming ver in die toekoms voorhou, maar Jesus gee die volheid van sy Heerlikheid reg in die begin. Die geringste is groter as Johannes die Doper! (Matt. 11:11). 

· Jesus bewerk die vermoë om goddelik te lewe in ons (2 Pet. 1:3-4). Dit is merkwaardig hoe gou Jesus Sy dissipels bemagtig het om ook wonderwerke te doen en duiwels uit te dryf. So wil Hy elke volgeling wat Hom volg bemagtig! 

· Godsdiens soek uiteindelik mense se geld om die godsdiens in stand te hou. Jesus verkondig dat God nie ons offers nodig het nie. “WEES dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ’n gawe en offer aan God tot ’n lieflike geur.” (Ef. 5:1-2). Jesus vermenigvuldig brood en vissies, help sy dissipels om ’n groot hoeveelheid vis te vang, ontdek muntstukke in ’n vis se bek. God gee! Uiteindelik gee ons en offer ons, ons lewe maar in reaksie op wat Hy eerste gegee het! 

Die bewys en uiteinde van Jesus se boodskap is nie ’n klomp volgelinge wat soos robotte sy metodes blindelings navolg nie, maar ’n bekragtiging van arm, gewone, eenvoudige, stukkende, sondige mense om goddelik te begin lewe. Jesus kon as Seun van God sy heerskappy met magsvertoon en majesteit kom demonstreer het, en Hy het inderdaad. Maar gans anders as wat ons mag en kragdadigheid verstaan. HY gebruik sy mag om mense te genees, te bevry van boosheid en sy volgelinge te bemagtig om dieselfde te doen. 

Alleenlik Jesus kan die hoekom-vraag beantwoord en vervul. So baie mense soek vervulling in geld, rykdom, spiere, liefde, mag en aansien om uiteindelik, wanneer hulle alles het wat hulle hart begeer, nog steeds leeg en onvervuld te voel. (Lees Prediker 2:1-26 vir Salomo se getuienis hieroor.) Die oomblik wanneer ek egter soos Jesus optree, voel ek ’n innerlike: Ja, dit is reg! Ek voel lewendig en vervuld! Hierdie Jesus-oomblikke is bevrydend en die hoogste hemel-ervaring! 

Jesus pas jou siel perfek. 

Al wat jy moet doen om Jesus te ontvang is: GLO! (Rom. 10:9-10; Joh. 6:28-29). 

Ken Jy Jesus!! 

Daar is verskeie belangrike “causes” waarvoor mense leef. Sommige wy hulle lewe daaraan om te veg vir die regte van minderheidsgroepe, of geweld teen vroue en kinders, of die bewaring van ons natuurlike hulpbronne, of die beskerming van een of ander dier wat besig is om uit te sterf. MAAR, die mees primêre “cause” waarvoor ons moet veg is: The cause of Christ. 

Om Christus te ken is die LEWE! 

“Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.” (Fil. 3:8). 

“… dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee…” (Ef. 1:17). 

Die woord “ken” in Efesiërs 1:17 is 1922. ἐπίγνωσις epígnōsis; gen. epignṓseōs, fem. noun from epiginṓskō (G1921), to recognize. It is more intens than gnṓsis (G1108), knowledge, because it expresses a more thorough participation in the acquiring of knowledge on the part of the learner. In the NT, it often refers to knowledge which very powerfully influences the form of religious life, a knowledge laying claim to personal involvement. (See Col. 1:9, 10; 2:2; 1 Tim. 2:4; 2 Tim. 2:25; 3:7; Titus 1:1; Heb. 10:26; 2 Pet. 1:2, 3). 

“… totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus…” (Ef. 4:13). 

Die pragtige lied van Kari Jobe som hierdie sentiment mooi op: 

The only thing I want in life is to be known for loving Christ to build His church 

To love His bride 

And make His name known far and wide 

For this cause I live 

For this cause I’d die 

I surrender all 

For the cause of Christ 

All I once held dear 

I will leave behind 

For my joy is this 

Oh the cause of Christ 

He is all my soul will prize 

Regardless of the joy or trial 

When agonizing questions rise 

In Jesus all my hope abides 19 

In ’n Wêreld van Onvoorspelbare Chaos Bly Jesus ’n Onwankelbare, Ewige, Vaste Realiteit 

Ons kan enige onderwerp onder die son bestudeer soos dit kom en gaan. Alles in hierdie lewe is tydelik. (2 Kor. 4:18) “Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” (1 Pet. 1:24–25). 

“wat in die Skrif staan, hou sy gesag tot in ewigheid.” (Joh. 10:35). 

“Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.” (Matt. 7:24). 

“Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur.” (Heb. 12:28-29). 

Daarom: Jesus is my godsdiens. Ek het my lewe toegewy om in gehoorsaamheid aan Hom te lewe. Hy is die fokus van my aanbidding! In Hom alleen word ek versadig en kom ek tot rus. Hy is my bron van sterkte en krag. Hy is my fokus, want dit is die kennis van Christus wat Hy gekies het om in ons te openbaar wat soos die ware noord op ’n kompas ons help om rigting te behou in die doolhof van die lewe. Christus se geregtigheid is my toegang en reg tot die Vader. Hoe meer ek Jesus verstaan en begryp, hoe beter begin ek myself verstaan. 20 

Die probleem met die Christendom, en hoekom selfs die Christendom die gevaar loop om maar net bloot nog ’n dooie godsdiens te word, is omdat nie alles waarmee ons besig is op Jesus gefokus is nie! Ons val maklik terug na die plek waar ons soos Moses ons vertroue in metodes stel, selfs metodes wat God eertyds beveel het. Wanneer Jesus ons fokus is, sal Hy ons lei en bekragtig om te weet watter metode nou relevant is. Geloof is om ’n nou-woord van die Here te ontvang. Jesus is die Bron van ons geloof. Ons tyd met Hom, in sy Woord, anker ons bestaan! Ons kyk letterlik na Hom deur die Woord, en die Heilige Gees help ons om Hom te sien. Soos Johannes op Patmos Jesus gesien en die boek Openbaring geskryf het. Ons het nodig om in elke krisis wat ons in die gesig mag staar, Jesus te sien! Jesus te aanbid! Jesus te hoor! Jesus te leef! Jesus is nie die ontsnappingswaarborg om al die gevare van die lewe te mis nie, maar die Wysheid om te groei en sterker te word om die hindernisbaan klaar te maak!

Gebed is ‘n noodsaaklike deel van elke gelowige se geestelike groei. Alleenlik deur meer tyd met die Here in gebed te spandeer, kan ons Hom meer intiem leer ken en nader aan Hom groei.

Nuusbrief / Newsletter

Loading