Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Play Video

Gelowiges, kinders van God, en volgelinge van Jesus leef die wil van God. Want elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder. (Mark 3:35). Dit is immers wat ons onderskei van hulle wat nie die Here dien nie. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is(Rom 12:2) 

Die hartseer is dat daar nie onder ons eenstemmigheid is oor wat die Wil van God nie.  Voorbeelde: die een groepering is vir die entstof, die ander is daar teen; sommige bybelondersoekende christene sien homoseksualiteit as sonde, die ander nie; die een sien egskeiding as sonde die ander nie; sommige teoloë verkondig dat daar ‘n hel is en ‘n goddelike finale oordeel; ander leer dat ‘n liefdevolle God nooit mense so sal verdoem nie. Wat is die wil van God, as die kerk dan nie seker is nie?

Die Geheimenis Van God Se Wil

Moet egter nie te hard op die geloofsgemeenskap wees nie, want God se wil is ‘n geheimenis, ‘n skat wat mens moet soek. Jesus verwys telkens na ‘n soektog: Verder is die koninkryk van die hemele soos ’n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit. (Mat 13:45-46). Jesus vermaan hoe die skrifgeleerdes die skrifte ondersoek en nog steeds nie glo nie (Joh 5:39).

Die wil van God is van lewensbelang m.b.t. toegang tot die ewige lewe: Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is… Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk! (Mat 7:21, 23). 

God Se Algemene en Spesifieke Wil

Sy algemene Wil is bekend: Hy wil dat almal gered word! Hy wil dat almal die Woord van God – Jesus Christus sal leef.  Die doel van alle bediening is om Christus verwesenlik in elke lewe te sien. (Gal. 4:19, Col 1:28-29; 2 Cor 11:2; 1 Cor 2:2; 2 Pet 1:8; Eph 4:13)

Sy spesifieke Wil kan ons nie inisieer nie: Dit is waar die Here vir sekere mense, spesifieke opdragte gee, soos Paulus se Demaskus ervaring. Paulus word soms deur die Heilige Gees verhoed om na ‘n plek te gaan, en ander kere gedring om na bv. na Rome te gaan. 

Die Geheimenis Is Nou Geopenbaar

Die wil van God is nie langer ‘n geheim nie: Jesus Christus is die perfekte wil van God. deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig (Eph 1:9). 

NOU verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is; waarvan ek ’n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul,  naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag. (Col 1:24-29) 

Die slotsom is: Wat is die wil van God?  Om in Christus Jesus volwasse en volkome te wees! 

‘n Jesus-Litmus-Toets 

Kom ons doen ‘n eenvoudige leef-soos-Jesus toets: 

  1. Geïrriteerd en gefrustreerd
  2. Hipersensitief en vinnig-op-jou-perdjie
  3. Rusteloos
  4. Werk sonder rus
  5. Emosioneel afgestomp
  6. Prioriteite van wat werklik van belang is, kom laaste 
  7. Verwaarloos jou liggaam
  8. Ontsnapping verslawings 
  9. Verwaarloos geestelike dissiplines 
  10. Isolasie en afskeiding 

Met hoeveel van hierdie punte kan jy identifiseer? Vra sommer die mense naaste aan jou, om jou te gradeer.  Is dit die wil van God vir jou lewe? Stellig nie! 

Jesus Se Lewe Is: 

  • Stadig teenoor haastig 
  • Nederig teenoor trots
  • Genadig teenoor hard 
  • Eenvoudig teenoor oordadig 
  • Gefokus en beperk teenoor alles-vir-almal 
  • Kreatief teenoor rigied 
  • Liefdevol teenoor ongenaakbaar
  • Heilig en onberispelik teenoor losbandig en argeloos
  • Stil teenoor luidrugtig 
  • Nugter teenoor onseker 

‘n Gans Anderse Lewenstyl 

Die Jesus Lewe is nie ‘n waarheid wat jy glo nie, maar ‘n leefstyl wat jy elke dag leef! 

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig. (Mat 11:28-30) Die woord ‘juk’ in die antieke Joodse konteks van Jesus se tyd beteken nie net die inspan instrument vir osse nie, maar ook die Rabbi se interpretasie van die skrif, en derhalwe die wil van God.  

Jesus spreek Homself uit teen die skrifgeleerdes van Sy tyd: Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie. (Mat 23:4). Sy interpretasie van die Wil van God gee lewe; is maklik, en sielsbehaaglik! “sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” 

Hoekom Jesus juis die ‘ploeg-juk’ metafoor gebruik is interessant, want dit is fisies harde werk. As jy dan vir mense rus wil gee, praat van vakansie, langs die water lê, ontspanning! Jesus maak nie leë filosofiese beloftes wat nie in die realiteit van die lewe werk nie. Die lewe is hard, en ongenaakbaar! Die lewe is gekompliseerd en ingewikkeld, en die wat die probeer ontsnap, word onredelik iemand anders se verantwoordelikheid! Mens het tog elkeen ‘n verantwoordelikheid om ‘n inkomste te voorsien, en vir jou gesin te sorg. Ons het dóén lysies wat gedoen moet word! Niemand gaan dit vir jou doen nie! 

Wanneer Jesus dus sê: neem my ‘juk’ want ek is sagmoedig en nederig van hart praat hy van ‘n bepaalde lewenstyl. 

If you want to experience the life of Jesus, you have to adopt the lifestyle of Jesus. [1]

‘n Lewenstyl behels ‘n oefenprogram, ‘n ingesteldheid, ‘n fokus, ‘n waardesisteem, en ‘n gesindheid.  Alleen iemand wat gereeld oefen het die kapasiteit om gereeld in wedlope deel te neem. Jy kan hierdie fiks gesonde mense se liggame admireer, en nog steeds oorgewig en onfiks in jou bank sit en lê. Iewers moet jy opstaan en begin oefen, reg eet, en uiteindelik sal jy dieselfde uitkom hê! Jesus is voorskriftelik wat ons moet soek: Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. (Mat 6:33) Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. (Rom 14:17). Weereens is dit duidelik dat Koninkryk verwys na God se manier van leef, Sy waardesisteem, sy wêreldbeskouing, sy uitkyk op die lewe, sy manier van hoe om jou tyd en geld te orden! Die koninkryk is nie net ‘n eindbestemming nie, maar ‘n bepaalde leefstyl! 

Ons is Beperk, Ons is Nie God Nie. 

Die ander werklikheid is: Ons is beperk! 

  1. Liggaamlik
  2. Intellektueel
  3. Ons talente en gawes
  4. Ons persoonlikhede
  5. Ons familie stamboom
  6. Ons sosio-ekonomiese oorsprong
  7. Ons beroep 
  8. Die seisoene van ons lewe
  9. Ons jare 
  10. Ons roepingsopdrag.  

Ons is nie geroep om alles vir almal te wees, en alles te doen nie! 

Ons het grense en beperkinge.  

Daar is nie geestelike vervulling en sielsrus sonder Jesus nie!

God is alomteenwoordig, Hy is altyd daar, en die voorhangsel is geskeur sodat elke mens Hom kan ken.  Tog is daar miljoene mense wat God nie ken nie!  Dit blyk dat dit ons is wat weggeraak het, en verlore is!

Ons het dus HULP nodig! Ons kan nie die JESUS lewe op ons eie regkry nie! Ons het ‘n naby en intieme verhouding met die Here nodig, gevul met die Heilige Gees, en tyd in Sy Woord, saam met ‘n geloofsgemeenskap van mede-reisigers wat mekaar aanmoedig, stig en opbou. 

Jesus se Wil is Baie Duidelik: 

Die volkome genesing van die totale mens

Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is. (Mat 18:11) Die Griekse Woord vir Red is σώζω sozo:gered, red, gesond, behou, verlos, oorleef, redding, behoue, genees, genesing.  Jesus se leefstyl is dus genesend! Jesus se hele bediening was om die hindernisse van boosheid, siekte, sonde en gebroke verhoudinge te verwyder en ons te lei na ryke vervulling (Joh 10:10) 

My Roeping 

Herhaaldelik verwys Paulus by die aanhef van sy briewe “PAULUS, ’n geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God”.  Iemand wie se roeping en beroep in die Wil van God geanker is, hoef met niemand te wedywer of bekommerd te wees of hulle ‘n werk gaan hê nie.  (Rom 15:32; 1 Cor 1:1; 2 Cor 1:2; Col 1:1; 2 Tim 1:1)

Word Met die Gees Vervul

Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul. (Eph 5:17-18) 

Wees Heilig  

Want dit is die wil van God: julle heiligmaking (1 Thes 4:3) 


Wees dankbaar 

Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle (1 Thes 5:18)


Volhard 

Want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry (Heb 10:36-38)

Doen Goed aan alle mense 

Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring (1 Pet 2:15) 

Verduur vervolging 

So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade. (1 Pet 4:19)

Volhoubare ewige belofte 

En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig (1 Joh 2:17) 

Slotsom: 

  • Die wil van God is nie of jy ryk of arm is nie maar of jy vergenoegd is met wat jy het. 
  • Die wil van God is die volkome genesing van die totale mens. 
  • Die wil van God is Geloof wat deur die Liefde werk. 
  • Die wil van God is dat ons die Here dien en liefhê met ons hele hart, siel krag en verstand. 
  • Die Wil van God is dat ons Jesus se voorbeeld leef. 

Die Vraagstukke?

Oor die vraagstukke oor die oorsprong van pandemies en siekte, entstowwe, seksuele oriëntasie, hemel en hel, voorspoed?  Hierdie sake raak nou skielik van minder belang.  Want wanneer ons almal ons eie lewe neergelê het, ons eie agendas, trots, luste en begeertes staan Christus se LEWE van GESOND wees na Gees, siel en liggaam in ons op tot God se eer!!

  • Of ons het of nie het nie, ons lewe is ‘n getuienis tot Sy eer!
  • Of ons trou of nie trou nie, ons lewe getuig van Sy heerlikheid, liefde, deernis en omgee!
  • Of ons die entstof gebruik of nie, ons lewe en gesindheid maak mense gesond orals waar ons gaan.  
  • Of ons glo in die hemel of hel, ons het ons vrees vir oordeel verloor, omdat hemel in ons harte geopenbaar is, en ons dit hemels maak orals waar ons is.

Ons hoef nie meer argumente te wen nie, ons wil net sien dat elke mense Jesus vind en gehoorsaam.  


[1] John-Mark Gomer. The ruthless elimination of hurry, how to stay emotionally healthy.