Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Een van die primêre voordele van kindskap is; jy kan jou ouers enigiets vra. Alhoewel hulle nie altyd in staat is om jou te help nie, voel jy vrymoedig om hulle enigiets te vra. Niemand staan en pleit by die vrugtebak: “ag mamma, kan ek asseblief tog ‘n vrug kry nie!!?” ‘n mens kan baie vinnig van ‘n persoon se gebed aflei, of die betrokke persoon die geskenk van kindskap en aanvaarding in Christus Jesus alreeds ontvang het, of nog soos ‘n weeskind pleit en smeek, en van buite roep om in te kom. Toe Jesus hierdie volgende beloftes van gebedsverhoring maak, bied Hy baie meer as net antwoord op ons versoeke. Hy bied kindskap! Hy bied ons deelname in die huisgesin van God, om met vrymoedigheid deel te neem, en as God se kinders Sy wil uit te voer. Daarom bid Paulus dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het. (Eph 1:17-18) Mag die Here werklik hierdie geskenk van kindskap in jou hart vir jou oopmaak, en grondves, want dit sal jou hele ingesteldheid teenoor gebed verander! Ons bid nie soos weeskinders nie! Ons vra soos kinders.

Kinders ken die wil van hulle Vader

Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. (John 9:31) As iemand hom doof hou vir die wet van die Here, sal die Here ‘n afsku hê van so ‘n man se gebed. (Prov 28:9)En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. (1 John 5:14)Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” (Joh 14:13-14)“Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk 11:9-13)As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” (Joh 15:7-9)Dit is baie duidelik in elkeen van hierdie pragtige skrif verse van God se belofte van gebedsverhoring is daar ‘n voorwaarde betrokke. Ons moet Sy wil ken en leef. Wanneer ons Sy wil leef, kan ons met baie meer vrymoedigheid vra. Dit werk tog so in enige huis. Wanneer die gesinslede die hart van hulle pa ken, hoef hulle nie te smeek nie. In die Bybel was beroepe, ‘n gesinsbesigheid. As die ouers byvoorbeeld wewers was, dan het almal saam gewerk en hulle deel gedoen in die produksie lyn, om die beste kledingstukke te maak. Vandag nog is die familiebesigheid die sterkste ekonomiese eenheid. Jesus nooi ons om deel te word van Sy gesinsbesigheid, die Koninkryk van GOD! Wanneer ons Sy koninkryk verstaan, kan ons met vrymoedigheid vra! Ons vra nie meer ons eie selfsugtige behoeftes en begeertes nie. Ons bid vir die uitbreiding van Sy koningheerskappy in elke mense se hart.

Geloof

As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.” (Mat 21:22)Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees. (Mar 11:24) Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter. Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook! “Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?” (Luk 18:6-8) Net geloof kan God behaag (Heb 11:6) wat nie uit geloof is nie, is sonde (Rom 14:23). Geloof is gereedheid om te doen. Geloof staan nie passief, en dink vir God werk uit nie. Geloof verstaan alreeds wat God wil doen, en soos ‘n atleet wag ons net vir die wegstrekskoot! Geloofsgebed is praklamasie gebede: Vra vir die Here reën in die tyd wanneer die laat reëns moet kom (Zech 10:1) Elia hoor by die Here wat God wil doen, en spreek ‘n proklamasie gebed soos ‘n ambassadeur die Koning se dekreet uitbasuin. 1 Kings 17:1 & 1 Kings 18:1. Jesus bid so ‘n tipe gebed toe hy Lazarus uit die dood uit opwek! “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” (Joh 11:41-42)

Vergifnis

“En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” (Mar 11:25)Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder. (1 Pet 3:7) Die enkel grootste hindernis tot gebedverhoring is onvergifnis! Enige tipe bitterheid, onvergenoegdheid, ongelukkigheid, hardheid, teenoor enige persoon, blokkeer die vloei van God se genade in jou lewe! Ons word daagliks seergemaak, deur misverstande, valse afleidings, wanopvattings, miskommunikasie en gevolglike gevoelens van verwydering en skeiding. Soos Jesus moet ons leer om vir ons vyande in te tree. (Luk 23:34) julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. (Mat 5:44-45)

Bid in die Gees.

Daar is baie verwarring oor wat presies bid in die Gees is.Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid (Judas 1:20) Want as ek in ’n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar. Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing. (1 Cor 14:14-15) En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree. (Rom 8:26-27) Alhoewel laasgenoemde vers verwys na die versugting van die Heilige Gees wat vir ons intree, verstaan geesvervulde gelowiges wel iets daarvan, want die Gees woon immers mos nou in jou, en daar is dikwels geen onderskeid tussen wat jou gees wil en wat die Heilige Gees wil nie. Daarom ervaar ons dikwels ’n onuitspreeklike versugting in ons Gees wat lei na tye van diep gebed. Die wonder van hierdie taal wat God jou nou gegee het is, dat jy nou kan bid terwyl jy bestuur, skottelgoed was, stryk, en werk. Om so saggies in tale te bid, is ’n kragtige en positiewe ervaring vir elke gelowige omdat jy jouself stig. Veral as ons nie weet wat om te bid met ons verstand nie, bid ons in tale.Iemand wat in Christus gewederbaar en nuut gemaak is, het die Heilige Gees ontvang en strome van lewende water sal uit sy binneste uitvloei. (Joh 7:38-39) By bekering word die fontein van lewende water in jou gees geaktiveer, jy hoor God se stem, en jy begin die skrifte te verstaan. Met die doping in die Heilige Gees word ons bekragtig om dit wat ons ontvang het te deel met ander, hetsy strome. Vandag herdenk ons Pinksterdag, waar die Heilige Gees uitgestort is, en die Here 120 mense bekragtig het om soos Jesus kragtige getuies te wees van God se naby koninkryk!!