Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Die gevaar om die waarheid te ken en dit nie toe te pas nie!

Hoofteks: (James 2:14-26) 

Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red? Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs. Jou dwaas, wil jy ‘n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaardgegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is ‘n vriend van God genoem. Julle sien dus dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ‘n ander pad laat ontkom het nie? ‘n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

Die Bybel is nie ‘n versameling akademiese teoretiese kennis nie. Die Bybel is ‘n versameling geloofstories van mense wat hulle kennis van die waarheid toegepas het.  Daar is ‘n wesenlike verskil tussen “beliefs” geloofsoortuigings en “faith” geloof. Die duiwels glo ook, hulle het dadelik erken dat Jesus Here is. Een van die grootste misleidings van die inligting revolusie is dat ons onmoontlik al die kennis wat ons weet en lees, kan toepas in ‘n leeftyd.  

 Knowledge without experience is useless.                                                              Experience without Knowledge is ignorance. 

“Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal ‘n swaar straf kry. Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal ‘n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.” (Luk 12:47-48) 

Wat help die kennis van gebed, as jy nooit bid nie? 

Wat help aanbiddingsmusiek as jy self nooit die Here aanbid nie? 

Wat help dit dat jy geestelik ontvang maar nooit iemand dissipel of na die Here toe lei nie? 

Wat help Bybelskool as jy nie dit wat jy geleer het toepas en weer ander leer nie? 

Wat help dit dat jy deel is van ‘n gemeente maar nooit ‘n bydrae maak nie? 

Wat help dit dat jy gered en nuutgemaak is, maar nie jou bediening uitleef nie? 

Wat help dit ons bid vir Vrede in SA maar leef nie reg nie? 

Wat help dit dat ons sê ons is Christene maar ons dink, leef en doen nie soos Jesus nie? 

Jesus se vleeswording is net so belangrik as sy kruisdood en opstanding. Deurdat Hy tussen mense geleef en gewerk het vir 30 jaar, wys Hy ons hoe om te leef. Jesus is nie ‘n filosoof wat net mooi idees verkondig het nie. Hy het hierdie idees geleef. Byvoorbeeld: Moenie jou teen ‘n kwaadwillige mens verset nie… julle moet julle vyande liefhê… bid vir die wat julle vervolg…(Mat 5:38-46) is letterlik deur Jesus vervul. 

Geestelike gewig en outoriteit kom nie deur die waarheid te weet nie, dit kom deur die waarheid te doen! Daar is ‘n wesenlike gevaar en misleiding, om die waarheid te ken en dit nie toe te pas nie.  Kennis van die waarheid sonder toepassing, maak ons slim sondaars. 

Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.” (Mat 7:21) Hierdie tema van DOEN, was Jesus hoog op Jesus se preek tema lys: 

Die Gelykenis van die Saaier: En wat in die goeie grond val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ’n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra. (Luk 8:15) Die gelykenis verduidelik hoe die sorge van die lewe, versoekings, vervolging ons meebring dat ons nie daders is van die Woord nie> 

Bou jou huis op die rots: Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. (Mat 7:24) 

Die profetiese Rede, ewige lewe en ewige straf, die skape en die bokke. (Mat 25:31-46)