Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Preke

Die Krag van die bloed van Jesus

Sedert my eie herstel van Covid 19, het die realiteit van abnormale bloedstolling, en in sommige gevalle ‘n massiewe inflammatoriese reaksie my fokus begin beweeg na die belangrikheid van gesonde bloedsirkulasie, en bloeddruk.  Dit is algemeen bekend hoe ons meer voorkomend ‘n gesonde immuun stelsel moet behou deur ‘n gesonde gebalanseerde dieet te volg. Asook, gereelde oefening, genoeg water hidrasie, detoks, beperk spanning, en stres vrye verhoudings.  

Daar is egter ook ‘n geestelike element van die siekte wat soms misken of vergeet word. Ek kan nie aan ‘n beter plek dink om my geestelike geveg teen hierdie virus te begin as die Bloed van Jesus Christus nie! 

Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel…want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind.(Leviticus 17:11, 14) 

Die bloedplasma is saamgestel uit water, proteïene, anorganiese soute, organiese bestanddele, gasse en sekresies. Die bloedliggame is saamgestel uit rooibloedselle (eritrosiete), witbloedselle (leukosiete) en plaatjies (trombosiete). Die bloed se taak is nie alleen om voedsel en suurstof na alle dele van die liggaam te dra nie, maar ook om die afval produkte te verwyder. 

Hier volg ‘n paar Bybelse ooreenkomste tussen Jesus se verlossingswerk in ons wat glo, en die fisiologie van bloed in ons liggame. 

1.    Lewe is in die bloed. 

Daar is geen lewe sonder bloed nie. Bloed sirkuleer elke 23 sek om en by 5liter bloed deur die liggaam.  Wanneer bloed sirkulasie nie al die dele van die liggaam bereik nie, sterf die selle, en verloor mense daardie liggaamsfunksie, en selfs liggaamsdeel.  

Daar is geen geestelike lewe buite Christus Jesus nie. Elke 23sec moet Jesus se waardes, waarhede, voorbeeld, gewoontes, gesondheid, en waardes ons lewe rig en bepaal! OM Jesus se krag te beleef, moet Jesus geleef word. 

Wanneer mens teen Covid 19 veg, voel mens oorweldig, tam, moeg, lam en amper kragteloos. 

En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. (John 6:53-57) 

in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag. (Acts 17:28) 

Beklee jou met Jesus! 

Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper… Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. (Col 3:9-10, 12) 

2.    Die Bloed voed en verwyder afval 

Rooibloedselle vervoer voedingstowwe, suurstof, nutriënte, hormone na die selle. Dan ter selfde tyd vervoer afvalprodukte, die koolstofdioksied en die afvalstowwe van weefselmetabolisme (selvullis), om dit deur die niere, die vel, die ingewande en die longe uit die liggaam te skei.  

Dit is voor die hand liggend om ten tye van die siekte, skuldig en veroordeel te voel oor sonde, verkeerde dade, tekortkominge en ongehoorsaamheid. Bely nou jou sonde, en sondes, maak reg en indien nodig doen bevryding op jouself. 

Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ’n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.  (Hebrews 9:13-14) 

As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.(1 John 1:9) 

3.    Die Bloed Reinig 

Witbloedselle beskerm die liggaam teen infeksie en siektes. As ‘n infeksie oral in die liggaam voorkom en die liggaam deur ‘n vyandige ‘leër’ van kieme aangeval word, word die nuus oorgedra na die ‘kamp’ waar die wit selle vervaardig word, om ‘n baie groter aantal wit selle te jaag na die punt van infeksie.  Hierdie wit selle omring die punt van infeksie en beleër die bakterieë wat probleme veroorsaak. Miljoene “soldate” sterf en gee hulle lewe wat algemeen bekend staan ​​as “etter”. Die stryd kom nou tot ‘n punt. Die witbloedselle omring die wond en uiteindelik bars die roof en die etter word verdryf. Die etter bestaan ​​uit serum en dooie “soldate”, miljoene witbloedselle wat hul lewe in die stryd gegee het, tesame met talle kieme wat gedeeltelik deur die wit selle verteer is vorm ‘n roof, wat later afval. 

Covid 19 laat mens onvermydelik baie dink aan die dood, en selfs vrees vir die dood. Dis vreemd vir gelowiges om die dood te vrees, want ons leef alreeds in die ewige lewe hier en nou in Christus.  Mens raak ook baie op jouself ingestel. Jesus wys ons deurentyd om van onsself te vergeet, en eerder op die nood om ons. Dit help ons om vinniger ons denke weer reg te belyn. 

Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is,  waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. (Col 3:3-8) 

(Mat 16:24; Rom 6:11; Gal 2:20) 

4.    Die Bloed Beskerm

Bloed vorm ook ‘n linie van verdediging van teenliggame.  Dit is elemente wat infeksie voorkom. Die wit selle beveg infeksie wanneer dit voorkom, teenliggame verhoed dat die infeksie vastrapplek kry. Dit bou ‘n weerstand dat die liggaam nie weer deur die selfde siekte oorkom word nie.  

Almal is vreesbevange om Covid 19 positief te wees. Tog as jy dit met die regte ingesteldheid benader, gaan jy sterker, en met ‘n weermag van teenliggame ‘n sterker kans hê om nie weer siek te word nie.  Spreek positiewe woorde van geloof, en weerstaan die siekte, wetende dat jy eintlik nou besig is om sterker weerstand te bou teen hierdie siekte. 

Toe hoor ek ’n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.  (Revelation 12:10-11) 

Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin. Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die heilige gebod wat aan hulle oorgedra is. Van hulle is die spreekwoorde waar:  “’n Hond gaan terug na sy braaksel toe” en: “’n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die modder.” (2 Pet 2:20-22) 

5.    Die Bloed verenig 

Alle mense is van een bloed, Adam die eerste mens en die stamvader van die hele mensdom.  

Een van die grootste leuens wat mens beleef tydens jou stryd teen Covid 19, is die gevoel van isolasie, distansie en verwydering.  

Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.

En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het. (Acts 17:24-26)