Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Preke

#2 Toegang tot God se Familie

Nuwe Toegangsreg 

Sondag oggend – Citrusdal

Luk 4:14-32 

Een van die sterkste drange en behoeftes van ‘n mens is aanvaarding.  Van jongs af worstel ons almal met deel wees.  Daar is altyd ‘n binnekring groepie van die mooiste, rykste en mees populêre kinders iewers daar ver, en die res van ons wat maar net ‘n bestaan voer, of ‘n opposisie groep begin.  Ons is groep mense, en ons groepeer gewoonlik rondom mense wat soos ons is, dieselfde taal praat en dieselfde waardes, geloofsoortuiging en lewenstyl handhaaf.  ‘n Baie dieper kwessie is – toegang en deelname.  Oorloë is al geveg oor toegang tot hulpbronne soos water, handelsroetes en algehele beheer.  Ook op geestelike gebied, gaan alles oor toegang tot ‘n godheid.  Dis immers wat ‘n bepaalde godsdiens oortuiging ‘n bestaansreg gee – toegangsrites tot God.  As kinders word ons van jongs af gekonfronteer met insluiting, toegang en dan verwerping; “ek is nie gekies vir die 1 ste span nie, ek is nie in die top tien nie… ens” Soos ons ouer raak maak dit nie meer saak wie my aanvaar of nie, maar daar is wel sommige wat sukkel met aanvaarding.  Kinders leef vir die aanvaarding van hulle ouers.  Ons trou gewoonlik die persoon wat ons onvoorwaardelik aanvaar. 

Die wese van die goeie nuus boodskap is dat Jesus ‘n algehele nuwe toegangsroete verkondig! Hy is die deur! Hy is die Tempel! Hy is die Hoë-priester! Hy is die offer! Hy is die toegang! Hy is God! Hy maak ons aanvaarbaar voor die Vader!  Wil jy God behaag? Jesus is die perfekte wil en wet van God.  Hy is die perfekte maatstaf van geregtigheid.  

Jesus verpersoonlik al die wette, rituele, en metodiek om by God uit te kom, deur na ons toe te kom. Wanneer ons voor God staan, verval al die distansie, verwydering, skaamte, veroordeling en skuldgevoelens.  In Sy teenwoordigheid word ons verenig met ons skeppingsdoel. Ons vind ons inpasplek van behoort in Sy hart! Omdat hy LIEFDE is, word alle soeke na liefde versadig. Omdat hy ware VREDE is, vind ons rus en kalmte in ons gemoed. 

Geen wonder die fariseërs, skrifgeleerdes en priesters het Jesus as ‘n bedreiging gesien nie!

Jesus is nie nog ‘n godsdiens nie

Jesus transendeer alle godsdiens deurdat in Hom het God na ons toe gekom.  Dit is nie ons wat Hom soek nie, Hy soek ons, Hy kies ons!  

Jesus se hele boodskap is gegrond op insluiting! Hy verwelkoming almal om deel van God se direkte familie te word! Jesus se luisteraars het net toegang deur bloedverwante oorlewering geken!  Geboorte reg het jou lewe bepaal, punt! Jesus kuier en eet saam met almal! Hy hou fees, en almal word uit genooi! 

Die aanspreek vorm Vader, verwys per definisie na ‘n gesin.  God se koninkryk is in wese ‘n familie koninkryk.  Die Vader se hart is ‘n familiehart.  Die onse Vader gebed leer ons om die woord ‘ons’ te gebruik in stede van ‘my’ vader.  Die hart van die evangelie is ‘n ons boodskap en lewe teenoor ‘n ek en myself fokus.   

Die drie-eenheid is ‘n familie.  Vader, Seun en Heilige Gees. 

‘n Geestelike Toegangsrite 

Insluiting in ‘n ryk familie is die grootste voorreg ooit.  ‘n Ryk invloedryke familie bepaal jou status en invloed.  Daar is beskerming en magtige alliansies vir die dag as jy in die moeilikheid is. Jou kinders en selfs kleinkinders is versorg, en het ‘n kans tot ‘n beter lewe! 

As Jesus dus verkondig dat net deur in Hom te glo, Hy ons deelmaak van God se direkte familie, is ‘n sprong so groot dat die meeste mense dit nie eens kan insien nie! 

Nie een van die Patriarge se eerste seuns het ooit die seën en belofte ontvang nie.  Abraham se eerste seun Ismael, Isak se Essau en Jakob se Ruben was eerstelinge deur bloed maar nie deur die belofte nie.  Dit is interessant om op te merk dat nie een van die aartsvaders se oudste seuns ooit hulle eersgebore reg verkry het nie.  Maar die tweede seun.  

  • Abraham se eersgeborene Ismael teenoor Isak (Lag)
  • Isak se eersgeborene Esau teenoor Jakob later Israel (Stry teen God)  
  • Jakob se eersgeborene Reuben teenoor Josef (Die Here het my skande weggevat) 
  • Josef se eersgeborene Manasse teenoor Efraim (Dubbel porsie van voorspoed)

Elkeen van hierdie geboortes met uitsondering van Efraim was deur bonatuurlike ingryping want al hierdie moeders was onvrugbaar.  Hulle was dus almal wel biologiese erfgename maar het die eersgeboorte reg verkry deur bonatuurlike aanneming en verkiesing.  

Ons is nou mede-erfgename saam met Christus.  (Rom 8:17) Christus se erfporsie is die feit dat hy die posisie bo alles en bo almal verkry het.  As ons Sy mede-erfgename is, dan regeer ons mos saam met Hom in hemelse plekke.  (Eph 2:6)  Hierdie kindskap in God is al voorspel deur die profete!  Aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ’n teken gee, ’n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ’n naam gee wat nie uitgewis sal word nie. (Isa 56:5)

Daar is veelvoudige groeperinge en tipes families, wat maak die Geloofgemeenskap en Liggaam van Christus uniek? 

Geesverwantskap 

Daar is een voorwaarde om die seën en posisie van kindskap te behou.  Ons wat deur die Gees van God gelei word is die seuns van God. (Rom 8:14) 

Die NT Liggaam van Jesus is GEESVERWANT – Teenoor OT Bloedverwant. 

Wanneer mens in die verkeerde gees optree, verloor ons hierdie posisie. Bitterheid, onvergenoegdheid, op eie regte staan, selfregverdiging, hardekwas wees, rebellie, ongehoorsaamheid, trots, arrogansie, onvergewensgesindheid bring mee dat ons weer in verwydering God staan.  

Uiteindelik wil God ons nie net verenig deur bloed nie, maar dat ons een van harte en gees te wees. Die familie word uiteindelik gevorm uit Jood en nie-Jood deur die geloof in Jesus Christus.  

Saggéüs word onmiddellik familie omdat hy bely en regdoen. 

Die owerspelige vrou – gaan en sondig nie meer nie. 

Die NT insluiting is nie gegrond om uitwendige kleur, taal, voorkoms of ekonomiese status nie, maar ‘n sekere bedryfstelsel – ‘n manier van glo!  

Die sap wat die boom lewe gee – Joh 15.  

‘n Jesus Lewe waarde sisteem

Uiteindelik is die Jesus lewe, ons insluiting en eenwording met God en met ons medemens.  Hierdie eenwording met God, en deelwees van Sy familie, kindwees soos Jesus gee ons ‘n nuwe rede vir bestaan.  

IN die liggaam van Christus, het ek ‘n vorm van deelwees, en behoort begin beleef wat my eie weeskind hart kom genees het.  Hoe meer ons soos Jesus praat, dink, en leef hoe meer raak ons een, hoe nader groei ons aan mekaar.  Hoe verder ons van die gees van Christus wegbeweeg hoe verder beweeg ons van mekaar.  

Die Jesus lewe is die gom, die aantrekkingskrag wat ons in God en in mekaar verenig.  

Dis die enigste manier hoe   mense, van verskillende kulturele agtergronde, sosiale stand kan een familie word.  Hy wat Jesus volg, in leefstyl, in waardes, denke en karakter is die kern energie van die liggaam van Christus.  Ons besig ons met dieselfde stryd, ons stories van selfverloëning en opoffering is dieselfde en word die simbole, monumente en kentekens van die hemelse familie.  

Beide swak en sterk is nodig. 

In a Christian community, everything depends upon whether each individual is an indispensable link in a chain. Only when even the smallest link is securely interlocked is the chain unbreakable. … Every Christian community must realize that not only do the weak need the strong, but also that the strong cannot exist without the weak. The elimination of the weak is the death of the fellowship. [1]

Beide alleen en saam. 

What community offers is the gift of discovery about the self, about others and about God. If you can’t be with yourself, being with others isn’t going to help you. There’s no getting away from the dimension of faith that has to be faced alone: ‘Alone you stood before God when he called you; alone you had to answer that call; alone you had to struggle and pray; and alone you will die and give an account to God’ (p. 57)

Verstrooid tussen ons vyande 

Martin Luther insisted that the kingdom of God meant being in the midst of your enemies; so the opportunity to be in community with other Christians, occasionally or permanently, is ‘grace upon grace’ – the ‘roses and lilies of the Christian life’ (p. 10).


[1] Dietrich Boenhoeffer. Life together. 

Categories
Preke

#1 Almal Wen 

Herondek die Goeie Nuus van die Evangelie

Sondagoggend Citrusdal

8Daardie nag was daar skaapwagters wat in die veld buite die dorpie hulle skape opgepas het. 9Skielik het ’n engel van die Here tussen hulle verskyn en die glans van die Here se majesteit het om hulle geskyn. Hulle het vreeslik bang geword, 10maar die engel het hulle gerusgestel: “Moenie bang wees nie!” het hy gesê. “Ek bring vir julle goeie nuus wat groot blydskap vir almal inhou! 11Die Verlosser – ja, die Messias, die Here – is vannag in Betlehem, die tuisdorp van Dawid, gebore! 12En dit is hoe julle Hom sal herken: Julle sal ’n Kindjie vind wat in ’n krip lê en in doeke toegedraai is!” 13Skielik was daar saam met die engel ’n groot menigte ander engele, ’n leërskare uit die hemel, wat God prys: 

14“Eer aan God in die hoogste hemel, 

en vrede op aarde vir almal

in wie Hy ’n welbehae het” (Luk 2:10-14) 

Het julle al telefoontjie gespeel? Iemand begin ‘n boodskap, dan word die sinnetjie van een persoon na die volgende oorvertel, sonder terugvoering of herhaling.  ‘n Geheel ander boodskap kom gewoonlik op die einde uit.  Dis nogal ‘n snaaks om toeskouer te wees, van presies hoe verkeerd die storie loop!  Die boodskap van Jesus is in die selfde gevaar, as ons nie ons weergawe meet aan die oorspronklike uitsending nie.  Baie mense het al baie seer gekry in die kerk, en wil niks met die kerk te doen hê nie. Ander bevraagteken openlik die sinlikheid van kerk wees? Is kerk ooit goed vir ‘n mens? 

Dit lei ons na die mees belangrikste vraag: Wat was Jesus se eerste boodskap?  

Die antwoord is eenvoudig: “Jesus se boodskap was Goeie Nuus” As Jesus ‘n nuwe politieke party sou stig sou Hy dit die “Goeie Nuus Party” genoem het. Inteendeel dit is presies die naam wat Jesus, en sy volgelinge gebruik het vir die Jesus beweging. 

23Jesus het nou deur die hele Galilea rondgegaan en die Goeie Nuus van die koninkryk aangekondig deur die mense in hulle sinagoges te onderrig en elkeen onder die volk wat ’n siekte of kwaal gehad het, gesond te maak. Matthew 4:23

35Jesus het deur al die dorpe en kleiner plekkies rondbeweeg en die Goeie Nuus van die koninkryk verkondig deur die mense in hulle sinagoges te onderrig en elkeen met ’n siekte of kwaal gesond te maak. Matthew 9:35

5blindes sien en verlamdes loop, melaatses word gesond en dowes hoor, dooies word opgewek en armes hoor die Goeie Nuus. Matthew 11:5

14Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom. Matthew 24:14

13Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!” Matthew 26:13

Vir iets om goeie nuus te wees, moet die storie voldoen aan die volgende kriteria van nuuswaardigheid: 

  1. Impak – Hoeveel mense het hierdie storie ‘n impak op gehad? Hoe meer mense hoe beter.  Presies hoe het dit hulle lewe verbeter? Jesus het 5000 mense gevoed, en toe weer 4000.  Skares is gesond gemaak.  Jesus doen hierdie dade sonder om offerhandes op te neem, en munt te slaan uit die mense. Net oordadige mildelike goedheid!  
  2. Tydloosheid – Gaan dit ‘n langdurige effek hê op mense? Jesus se lewe en boodskap is vandag 2000 jaar later nog steeds goeie nuus. Sy invalshoek en wysheid is vandag nog die beste manier om te leef. ‘n Lewe van vergifnis, selflose liefdediens en omgee vir jou naaste is die hoogste ideaal wat betekenis en sin gee aan jou lewe.  
  3. Prominensie – Is daar iemand prominent betrokke? Of gaan dit ‘n impak om iemand prominent hê? Van die begin af hoor ons van engele, wyse manne van veraf lande, ‘n aanspraak op die troon, ‘n nuwe koning! Herodus is so bang toe hy die storie hoor, hy maak honderde babas dood.  
  4. Nabyheid – Wie is die naby gehoor wat direk belang het by hierdie storie, hoe meer mense direkte belang het, hoe meer word die storie herhaal.  Die feit dat die storie in ‘n betreklike klein geografiese area plaasvind, “Galilea, al die dorpe en kleiner plekkies “ maak dit juis te meer legitiem.  Want daar is nabyheid.  Die storie sou maklik kon verifieer word in ‘n klein gemeenskap, het jy gehoor, ja ek was daar, ek het self gesien… soort stories.
  5. Uniek – Wat is anders, trek aandag, is dit revolusionêr? Jesus was radikaal: Hy sê die tempel gaan afgebreek word, en dat Hy in drie dae ‘n nuwe een gaan bou! Hy verdoem die valsheid van die geestelike leiers van die dag openlik en direk.  Hy is dus nie bang vir vervolging nie! Hy stap bloot deur ‘n skare wat Hom van ‘n berg wou afgooi, Hy verskyn in Jerusalem teen almal se advies van moontlike arrestasie.  Sy boodskap en idees was uniek, nuut en ‘n vars benadering.  
  6. Konflik – Watter konflik veroorsaak die storie? Wie gaan benadeel raak? Wat is die spanning? Goeie nuus sonder ‘n stukkie konflik hou ook nie. Die sensasie van moontlik konflik, gee die storie vuur.  Jesus se openlike verdoemenis van die uitbuiting, misbruik, valsheid van die geestelike struktuur van daardie tyd was revolusionêr.  
  7. Relevansie – Die tydsberekening van wat op daardie oomblik die relevante neiging van die tyd is.  Die politieke klimaat was gevul met ‘n verwagting van ‘n messias.  Daar was inteendeel verskeie messias aanspraakmakers in daardie tyd.  Die Joodse Makkabeers revolusie teen Antiogus die groter 203vC was nog vars in mense se geheue.  Die selote was juis radikale ver regses, wat nie bang was om hulle lewe te gee, of ‘n lewe te neem nie.  Selfs die Romeine het na Ceasar 44vC se vergrepe na wêreldoorheersing, twis en onmin beleef soos verskillende leiers beding het vir die mag.   
  8. Menslikheid faktor – Persoonlike stories van mense se leed en verlossing. Die storie van die arm weduwee, die opstanding van Lazarus, die verlore seun, die vrou wat op heterdaad betrap is in owerspel is almal persoonlike stories van verlossing en genesing! Die mense se vriende en familie sou die storie bevestig en oordra.  Vandag nog kan ons ook onsself met hulle identifiseer.

Die feit dat so baie verskillende tipe mense, van verskillende kulture en klasse, aanklank by Jesus se boodskap gekry het, en dat die nuus so gou versprei het, versterk die geloofwaardig van die nuus.  Fop nuus verloor gou sy aantrekkingskrag.  

Is Jesus nog goeie nuus vandag? 

Hoekom is die nuus juis goed vir armes? Hoekom is Jesus uiteindelik vermoor deur die teenstanders van hierdie goeie nuus. Wat het hulle gestaan om te verloor? Revolusionêre Goeie Nuus is gewoonlik ten koste van die algemene status quo.  Vir sommige is dit goeie nuus, vir ander is dit slegte nuus.  Jesus se lewe verloop soos ‘n reeks ‘viral’ stories, elkeen sou die voorblad van die Judea Nuus Koerant gehaal het.  Jesus se goedheid, regverdigheid, idees, en nederige lewenstyl het alles in ‘n reguit lyn Sy goeie nuus boodskap onderskryf.  Sy dade, woorde en denke het dus oortuigend op gelyn! Soms praat ons nederigheid, maar soek die eer van mense.  Soms doen ons goed, maar begeer om die eer te kry en gesien te word.  Eer-toets: Wat is jou gesindheid as jy nie die eer kry van jou aandeel in iets belangrik en noemenswaardig nie? Jesus doen van Sy grootste wonderwerke in die geheim, en vra meestal dat mense dit nie sal oorvertel nie.  

5 Aspekte van Jesus se Goeie Nuus Boodskap. 

Oor die volgende weke gaan ons 5 aspekte van Jesus se Goeie Nuus Boodskap Bespreek. 

‘n WEN VIR ALMAL

#1 “Wat groot blydskap VIR ALMAL inhou.” (Luk 10:2)

In Jesus se tyd was hierdie belofte baie betekenisvol. Hoe sou die Romeine dan bly wees oor Jesus? Of die 10 stede van Gadara? Of die Samaritane? Of die sondaars en belastinggaarders? Jesus se boodskap en lewe het uiteindelik mense van al hierdie groeperinge bly gemaak.  Hierdie woord is letterlik vervul vir elke groepering wat Jesus aanvaar het – dink aan die Romeinse Ryk wat eksponensieel gegroei het en uit gebrei het juis agv sy noue band met die kerk. Maar beide die kerk en die Romeinse staat het Jesus se boodskap verloor deur die eeue en uiteindelike baie skade aangerig in die naam van Christendom.  

Elke nuwe revolusionêre ideologiese beweging soek sy eie belang ten koste van die huidige regime. Godsdienstige bewegings regverdig hulle eie reg en moraliseer ander as verkeerd.  Groep identiteit revolusies, vergoddelik ‘n sekere groepering deur ‘n ander groepering te demoniseer.  Jesus doen die teenoorgestelde! Sy beweging is tot voordeel van ALMAL. Al die nasies is ingesluit! Hy spreek hom direk uit teen die fariseërs en skrifgeleerdes se bepaalde denkwyse maar nooi hulle uit om deel te word.  Hulle hoef nie hulle posisie op te gee of van werk verander nie, hulle moet net hulle denke verander. Dink aan Jesus se gesprek met Nicodemus. (Joh 3) 

Jesus se WEN – WEN denke is GOED vir die wêreld! Dink net as almal in die hele wêreld transaksies doen waar daar geen verloorders is nie, almal wen! Dis presies Jesus se boodskap, ek wil hê julle moet so leef dat julle ‘n seën vir almal is! Vergewe almal! Doen niks uit selfsugtige selfbevoordeling ten koste van ‘n ander nie, is die wese van Jesus se boodskap! Dink aan die gelykenis van die loon bedrag wat vir almal gegee word, al het die laastes net ‘n uur gewerk. (Mat 20:1-16) Dit maak nie sin vir die mense nie! Maar as God goed is, en vir iemand wil seën wat dit nie verdien nie, hoekom kla jy! As almal dan hard werk vir ‘n oes, hoekom nie almal in die seën van die oes laat deel nie.  As jy ‘n winskoop sien, hoekom nie vir iemand anders ook koop nie. Jesus se volgelinge het hierdie boodskap te harte geneem, en eiendomme wat in oordaad was verkoop, en gedeel.  Hierdie DEEL tot almal se voordeel is die hart van Jesus se goeie nuus boodskap! 

Dr Deon Pretorius kan in diepte verduidelik dat hierdie beginsel die hoeksteen is van gesonde gemeenskappe.  As maatskappye net vir hulle eie gewin begin veg, word hulle later as boos gesien, en begin ander teen hulle werk.  Wanneer maatskappye insien dat die hulpverlening aan die gemeenskaplike goed is uit eindelik goed vir hulle eie voortbestaan, dan vind beter samewerking plaas, guns en omgee word ontsluit, en eksponensieel groei almal saam.[1]

Die Pareto doeltreffendheid beginsel leer dieselfde.[2]  As een groepering se doeltreffendheid ‘n ander groepering negatief begin raak, sal die negatiewe groepering uiteindelik die heersende groep ondermyn, en later teëgaan en probeer verwoes.  

Die bome wat saam in ‘n woud staan, help mekaar, en sal ‘n boom wat op ‘n swakker plek staan met minder toegang tot water, help en ondersteun, omdat die swak boom ‘n gaping in die woud los wat almal negatief kan benadeel.[3]  

Jesus se volgelinge het hierdie idee te harte geneem, en begin uitleef. Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte. (Acts 4:32-35) Dit was ook hierdie een eienskap wat die “goeie nuus beweging” laat veld wen veral onder heidennasies. Wat meegebring het dat die Jesus beweging vryheid ontvang het onder Konstantyn 280-337nC. Die gelowiges se leefstyl was moeilik en opofferend, maar aantreklik omdat hulle hulle kos met almal gedeel het, vir mekaar omgegee het, liefdes diens aan almal gegee het, alle weggooi kinders aangeneem het.[4]  

Selfs die sekulêre skrywers begin die waarde van Jesus se ““Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” Mat 5:43-48) [5]

Mag ons as Sy liggaam hierdie “Wen vir Almal” beginsel uitleef in alles wat ons doen! 

#2 ONMIDDELLIKE deurbraak verligting, genesing en vrylating. 

Soos met enige politieke party moet jy kan wys wat jy sê! Wat is die onmiddellike voordeel vir my om vir jou te stem? Gewoonlik is dit valse beloftes en toebroodjies.  Jesus demonstreer Sy boodskap met Woord en Daad, Hy voed die skare, hy maak siekes onmiddellik gesond. 

#3 Nuwe ORDE van gesag en insluiting rites – God se koningsheerskappy 

Jesus vestig ‘n nuwe gesag struktuur.  Nie ‘n mense orde nie, maar mense wat eers onder God se orde reggestel word.  Nuwe vorm van leierskap. Nuwe vorm van toerekeningbaarheid. Nuwe toegang rites, om in die middelkring te kom.  Nuwe vorm van deelname.  

#4 Nuwe DENKE, wêreldbeskouing en bedryfstelsel. 

Jesus verkondig ‘n hele nuwe manier om te dink oor die lewe. Nuwe waardes. Nuwe manier om boosdoeners te hanteer.  Jesus kyk na die hart nie na die labels. 

#5 Nuwe VOORDELE en handelswyse – handelsroetes 

Uiteindelik gaan die lewe oor wie beheer die geld.  Jesus soek ingang tot die hoofbelastinggaarder, hy dryf die geldwissellaars uit die tempel.  Hy veroordeel Herodus se valsheid.  Tog moet sy volgelinge belasting betaal aan die heidense Romeine, asook Tempel belasting.  


[1] https://www.mistraurbanfutures.org/en/publication/morphogenetic-approach-social-development

[2] https://en.wikipedia.org/wiki/Pareto_efficiency

[3] Peter Wohlleben. The Hidden Life of Trees: What They Feel, How They Communicate – Discoveries from a Secret World, Hoofstuk 3, Bl 24. 

[4] Wim a. Dreyer. Praktiese ekklesiologie – Kerkwees in die 21ste eeu

[5] Adam Kahane. Collaborating with the enemy, How to work with people you don’t agree with or like or trust.