Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Preke

Hoe sien ek myself reg?

Van waardeloos tot meesterstuk. 

 

Wat is ek werd? Wat is die waarde van ‘n mens? Sommige mense voel minderwaardig, en ander dink hulleself meerwaardig, hoe kan ek reg dink oor myself? Hoe voel jy oor jouself? Voel jy goed? Of voel jy soos ‘n mislukking? Ons lewe in ‘n era van selfies, selfbeheptheid, self-aktualisering en self-beskikking, het ons nou werklik nog ‘n preek nodig oor selfwaarde? Dink die mense hoeka nie te veel van hulleself nie?

Jesus se eerste boodskap handel oor die oog as die lamp van die liggaam, (Mat 6:21-22) die gefokusde oog wat innerlik in denke gesond is, sien wat werklik mooi en waardevol is. ‘n Siek oog en denke misreken die ware identiteit en waarde van ‘n voorwerp en behandel dit met minagting as waardeloos.  Byvoorbeeld in die saligsprekinge wys Jesus ons die ware waarde en rykdom van mense wat arm van gees is, die wat treur, die sagmoediges, die wat honger en dors na Sy geregtigheid, die wat barmhartig is, wat rein van hart is, en die vredemakers! Dit het alles te doen met hoe mense dink, en dan gevolglik regsien. Sagmoedigheid veronderstel ‘n gesonde hart, ingesteldheid, en denke wat lei tot die hele aarde as erflating! Die wat honger en dors na geregtigheid spreek van ‘n gesonde gerigte hart, wat versadig word. 

Die wêreld jaag die waarde van geld, mag, aansien, en populariteit na, en is inderwaarheid innerlik arm en onvervuld. Jesus leer verder die waarde van die huweliksverbond, en die waarde van jou eed, en woorde en die grootste openbaring! Die waarde van jou vyande, die wat jou misbruik, en die wie jou vervolg. Dis ‘n algehele nuwe manier van sien! Here open ons oë! Help ons om reg te kyk, en die regte waardebepalings te maak oor wat belangrik is in die lewe. As jy net vir ‘n vrou kyk en haar begeer het jy owerspel gepleeg en verkeerd gekyk! In die huweliksverbond het jy trou belowe om deur niemand anders seksueel bevredig te word as jy eie vrou nie! Jou begeerte en seksualiteit is gefokus rondom een persoon. Om enige ander vrou in ‘n seksuele lig te sien, is ‘n misrekende sien, en verkeerde waardebepaling.  

Uiteindelik is ‘n ons misrekende sien, ‘n hartsverduistering. Omdat ons brein die data van wat ons sien verwerk, en filter deur ons eie ervarings en belewenisse, maak ons gevolgtrekkings, vorm ons opinies en geloofsoortuigings oor die lewe wat nie gegrondves is in die woord of waarheid nie. Ons hele uitkyk oor die lewe word bepaal deur watter filter ons die wêreld sien. Die grootste misleiding is, die filters waardeur ons onsself verkeerd sien. As jy jouself nie reg na waarde ag nie, lei dit tot minderwaardigheid of meerderwaardigheid wat ‘n bepaalde uitwerking het op ons gedrag, hoe en met wie ons sosialiseer, waarmee ons onsself besig hou. 

Die meeste mense sien nie hulleself volgens regte waarde nie, en kan dus ook derhalwe nie die mense om hulle reg sien nie.  

 

Die probleem met selfwaarde, is dat ons gewoonlik selfwaarde hiërargies bepaal. Ons bepaal ons selfwaarde in verhouding met ons naaste, en die mense om ons. Ons is nie so sleg soos daai mense nie, maar ons is ook nie so begaafd soos daardie mense nie. Die probleem met hierdie tipe menslike selfwaarde, is dat dit gewoonlik nie ‘n ware refleksie is van wie jy is nie.  “ons moet ons naaste liefhê soos onsself” (Matt. 5:43; 19:19; Mark 12:31; Luke 10:27; Rom. 13:9; Gal. 5:14; James 2:8) Die woorde “soos” kan ook vertaal word met “dieselfde” of “net soos”! Die idee is dus dat gesonde self-liefde bepaal word deur gesonde naaste liefde. Wanneer jy dus jou naaste met liefde, deernis, eerbied, respek, sorg behandel sal jy jouself ook reg na waarde ag.  Ons gaan meer hieroor praat volgende week in die reeks, oor gesonde waardebepaling.  

Wanneer iemand ‘n kar, ‘n huis, ‘n diamant, ‘n erfstuk waardeer, word dit aan die hand van sekere kriteria bepaal. Duursaamheid word bepaal deur aspekte soos, gesogtheid, behoudendheid, detail van die handgemaakte vervaardiging proses, netheid, toestand, oudheid, oorspronklikheid en uniekheid.  Ons as gelowiges glo dat elke mens is in die beeld van God geskape, en alle lewe is waardevol.  Die kreteria waarmee ons onsself en ander se waarde bepaal is uiterlike dinge soos: taalgebruik en dialek, kleredrag, ras en kleur, ekonomiese klas, vermoëns, tande, gelaatstrekke, lengte, postuur, en gesindheid.  Ons lees hierdie data baie vinnig en maak ‘n bepaalde gevolgtrekking oor iemand se waarde, wat bepalend is oor hoe ons die persoon gaan hanteer. Ons doen dit ook met onsself: jy maak gedurig vergelykings, en kompeteer in jou kop met iemand. Jy voel goed as jy wen, en sleg as jy verloor. 

#EveryLifeMatter

Bybels is elke lewe waardevol!! 

Ons is in God se beeld geskape (Gen 1:27) 

Wie die bloed van ‘n mens vergiet, deur ‘n mens sal sy bloed vergiet word. God het die mens gemaak as sy verteenwoordiger. (Gen 9:6) 

Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie? Het Hy ons nie almal gevorm nie? (Job 31:15) 

“Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” (Luk 12:6-7) 

Een mens kan tog nie ‘n ander loskoop van die dood en aan God ‘n losprys vir hom betaal nie? Die prys vir ‘n mens se lewe is te hoog. Wat hy kan betaal, sal nooit genoeg wees

dat hy vir altyd sal lewe en die dood nooit sal smaak nie. (Ps 49:8-10) 

Vir gelowiges is die lewe van elke mens waardevol, van die fetus, die baba, die ouers, die gesin, tot ons bejaardes! Almal se lewe is waardevol!! Die realiteit egter is dat ons tog mense verskillend behandel. Ons sien sekere mense as meer belangrik, en behandel hulle met meer respek as ander.  Verder sukkel ons om ons eie waarde reg te bepaal, ons meet gedurig ons lewe, en voel ons doen nie genoeg iets van waarde nie! Dit is veral iets waarmee vandag se jongmense worstel: hulle wil graag iets beteken, iets belangrik doen.  

#HoeBepaalGodOnsWaarde

Ons het alreeds gesien uit die bergpredikasie, dat God na jou hart kyk, jou ingesteldheid en manier oor hoe jy oor die wêreld dink. 

Elke weg van ’n mens is reg in sy oë, maar die Here toets die harte. Proverbs 21:2

As jy sou sê: “Ons weet daar niks van af nie”, sal God wat die gedagtes toets, weet wat die waarheid is. Hy wat oor jou wag hou, Hy weet en Hy vergeld ‘n mens vir wat hy gedoen het. Spr. 24:12; 

“Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is ‘n gruwel voor God. Luk. 16:15

Mense maak deesdae geld deur ou seldsame motors te restoureer.  Hulle koop ‘n ou eertydse duursame motor, en restoureer dit met sorg. Die gerestoureerde motor is dikwels 100 keer meer werd as wat die oorspronklike motor gekos het.  So kry ons, ons goddelike waarde terug, wanneer die Here deur Sy Woord en Gees ons restoureer, en vorm aan die hand van die oorspronklike bloudruk, naamlik Jesus!  Ons waarde lê in die volheid van Christus wat in ons gestalte vind. Ons uiterlike mens vergaan, maar ons innerlike mens bepaal ons waarde.  Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde (1 Pet 3:4) Omdat ons geskape is in God se beeld, soek Hy Sy beeld in ons! Hoe meer ons gelykvormig word aan Sy beeld, hoe meer waardevol en volhoubaar word ons lewe. Kom ons toets hierdie hipotese en gevolgtrekking: Die mooiste mense is barmhartige, liefdevolle, egolose, hartlike, vrygewige, nederige mense! 

#ElkeDagMeerSoosJesus

Christus vorm in ons deur: 

1) Wedergeboorte – 2 Cor 5:17; 1 Pet 1:23; Joh 3:3-8

2) Deur die geloof beklee ons, onsself met Jesus se gesondheid, leefwyse, en dade. Col 3:10 “Put on” His image 1 Cor 15:49 “bear” His image – soos klere dra. 

3) Ons soek Sy geregtigheid en fokus op Hom, ons sien Hom! Wat Jy sien, en op fokus word jy.  2 Cor 3:18 Ons lewe is weggesteek in Christus.  Hoe meer Jesus vir ons ‘n werklikheid word, hoe meer ontdek ons ons eie lewe. Col 3:3 Jou persoonlike openbaring van Jesus bepaal jou sien en fokus. 

4) As volgelinge van Jesus, gee ons daaglikse treë van gehoorsaamheid, waar Hy ons lei om ons kruis op te neem en stelselmatig word ons ons meer en meer soos Hy. Acts 17:26. Continual obedience is the key – else you forget the image. Jam 1:24 

5) Ons roeping is om volgens Sy beeld, gesindheid, denke, ingesteldheid te leef. 2 Pet 1:10 Elkeen van ons het ‘n stukkie van die Jesus legkaart wat ons moet vervul. Col 1:24 

Soos Jesus in ons gestalte vind, en ons daagliks hervorm word en gelykvorming word aan die beeld van Sy Seun, verander ons waarde van waardeloos tot Meesterstuk! Ons hele lewe word waardevol vir die mense om ons, ons geloof is goud (1 Pet 1:7; Rev 3:18) 

Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. (1 Cor 3:11-15) 

Maar in ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer. As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ’n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk. (2 Tim 2:20-21)