Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Sermons

‘n Oproep tot VREDE in Suid Afrika

Die Here is besig om ‘grond’ te gebruik om ons oë oop te maak in SA.[1] Nog nooit het ons oor enige saak so baie gepraat en geredeneer, as tans oor die Grond Kwessie nie.

“Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg ‘n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë en sê vir hom: “Gaan was jou in die Siloambad.” Siloam beteken die een wat gestuur is.” (Joh 9:4-21)

Ons verlossing gaan daarin lê dat ons nie onsself as grondeienaars sien nie, maar gestuurdes. President Cyril Ramaphosa se woorde “stuur my” is dalk meer profeties en rigtinggewend as wat ons dink.[2]

Daar is ’n spreekwoord in Swahili wat sê: “Wanneer twee bulle baklei, is dit die gras wat daaronder ly.” Dit is algemeen bekend dat Sosialiste/Kommuniste nie werklik omgee vir arm mense nie, hulle is net in wese woedend teenoor rykes.[3]Suiwer Kapitalisme verryk die individu ten koste van die geheel.[4]  Ons land is verdeeld tussen die wat veg om hulle rykdom te behou, die ekonomie in stand te hou, terwyl ander uitroep vir verlossing van ‘n geskiedenis van uitsluiting, marginalisering en die sinkgat van armoede.[5]

Die beste oplossing vir grondhervorming is nie “die beste plan” nie, maar is een waar swart en wit bymekaar kan kom met vergifnis en dienende harte om saam die oplossings te vind.[6]

Wanneer ons hande vat, kan niemand vingers wys nie. Ons verskeie kulture is baie meer geïntegreerd as wat ons dink. Swart en bruin ma’s het baie wit kinders help grootmaak. Ons genetiese poel is so vermeng dat baie min Suid-Afrikaners daarop kan aanspraak maak dat hulle ‘n suiwer wit of swart ras is. Ons tale is deurweef met stukkies en brokkies van die ander.[7]Ons oorspronklike inheemse kulture is verlore en word nog net in museums bewaar. Ons almal gaan elke dag winkel toe en ons koop dieselfde produkte. Ons is almal Suid-Afrikaners, inheems, uniek, ’n diverse Nasie met ’n spesiale boodskap van vrede en harmonie.

Ons almal soek mens-waardigheid, sosiale regverdigheid en waarheid. Ons land gaan gebuk en is besig om te sneuwel onder landswye korrupsie, leuens en bedrog van beide die regering en privaat-sektor leierskap. Ons verklaar dit is genoeg![8]

’n Nuwe maatskaplike verbintenis (Social Covenant) moet gesluit word tussen die mense, die privaat en die staatsektor sodat die lewensomstandighede van alle Suid-Afrikaners verbeter kan word.[9] Hierdie verbond kan net in die lokale gemeenskap op grondvlak geskep word waar leiers en mense nie meer oor mekaar praat nie maar met mekaar.[10]  Om die Konstitusie te verander of nie, beleide te skryf, en druk op die regering toe te pas gaan nie harte verander nie. Ons benodig ‘n wesenlike harts-verandering waar boere en werkers, en gemeenskappe hulle harte na mekaar draai, en saam begin oplossings soek.  Hou op protesteer en baklei, en begin innoveer, skep en bou aan ‘n nuwe toekoms, waar armoede aangespreek word, en burgers in vrede met mekaar saamwoon.[11]

Die enigste manier waarop hierdie LAND gaan oorleef, is om inklusief te dink, te praat, en te doen, om nie meer van hulle te praat nie, maar van ons.

Ons almal hunker na waardigheid, regverdigheid en vrede. Daar is geen waardigheid in korrupsie, bedrog, diefstal, leuens en oneerlikheid nie. Ware waardigheid is wanneer ons bou aan ’n beter toekoms vir almal, ook ons kinders. Daar is geen regverdigheid as net een groepering wen nie, en daar is geen vrede as ons nie almal deel is van die oplossing nie.

Ons kan ’n nuwe nasie word deur saam te werk, saam te bou en saam te regeer. As Rwanda na die ergste volksmoord in menseheugenis as ’n nasie kan opstaan deur saam te werk, hande te vat, korrupsie uit te wis en geregtigheid na te streef, kan ons verseker ook.[12]

Ons demokrasie is in sy onstuimige tienerjare. As ons egter by die waardes hou wat ons voorgeslagte en verskeie leiers, asook Madiba nagestreef het, sal ons ontwikkel tot ’n volwasse, jong verenigde nasie wat die wêreld in die oë kan kyk.

Mag die leuse “Eendrag Maak Mag”[13] nuwe definisie kry vir alle Suid Afrikaners.

Vrede gaan egter nie maklik kom nie! Ons sal almal moet hard werk en bid daarvoor, met alle erns, geduld en deursettingsvermoë.”Ek het een groot vrees in my hart, die dag wanneer witmense hulle tot liefde gewend het, sal uitvind dat swartmense hulle gedraai het om te haat.”[14]

Here stuur my! ‘n kampvegter vir Vrede!

 

[1]Gideon Basson, tydens ‘n mannegebed byeenkoms in Citrusdal, 25 Julie 2018.

[2]https://www.thesouthafrican.com/sona2018-read-the-full-text-of-cyril-ramaphosas-address-here/

[3]George Orwell, The road to wigan pier, 1937 (Chap 11) Mentioned in chapter 1 of Jordon P Peterson, Maps of meaning, the architecture of believe

[4]Thomas Piketty, Capital in the Twenty-First Century, Harvard University Press, 2013

[5]https://www.news24.com/Columnists/Jan_Gerber/what-white-people-need-to-understand-about-the-land-20180727

[6]Dr Arno van Niekerk, Facebook Post. Facebook post. 4 Julie 2018

[7]Elizabeth A Eldredge, Fred Mouton. Slavery in South Africa captive Labor on the Dutch Frontier, Pg 141994.

[8]Arno van Niekerk. Genoeg. Hoekom is ons hier. 2015

[9]http://www3.weforum.org/docs/WEF_GAC_NewSocialCovenant_Report_2014.pdf

[10]New Nation, Landbou Thinktank Consensus. 21 Julie 2018, Bloemfontein

[11]Read Full Transcript of Barack Obama’s South Africa Speech | Time.pdf Madiba’s 100 year Celebrations July 17, 2018

[12]Stephen Kinzer, A Thousand Hills: Rwanda’s Rebirth and the Man Who Dreamed It

[13]http://www.dievryburger.co.za/2014/03/oorsprong-van-eendrag-maak-mag/

[14]Alan PatonCry, The Beloved Country