Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Social Relevance

Herbesin die gesondheidswaarde van fisiese samekomste v gelowiges

Is die dae van groot groepe mense wat fisies byeenkom finaal getel? Daar word gewaarsku dat COVID 19, maar die 1ste van nog baie virusse is wat die bestaan van die mensdom bedreig. Daarbenewens is daar nog die werklike gerief van dienste aanlyn kyk, sonder die geskarrel en worstelings om die hele gesin reg en bymekaar te kry vir kerk. Mense kan kies en keur watter boodskap vir hulle die meeste relevant is.  Die meeste mense getuig dat hulle geestelike lewe verdiep het tydens die sosiale distansie grendel tyd. Families wat saam aanlyn dienste gekyk het, getuig van groter eenheid en interaksie rondom geestelike aspekte. 

Paulus het ook van tegnologie gebruik om die gemeentes te bereik met die waarheid toe hy nie hulle kon besoek nie. Die NT is opgeteken en geskryf vir geslagte wat sou kom, as ‘n oplossing van beperkte reistoegang. Ons is dus dankbaar vir die menige vorme van kommunikasie waarby ons die boodskap van die Evangelie van die koninkryk aan die mensdom kan uitdra.  

Watter rol speel die fisiese samekoms egter dan tot ons volgehoue gesondheid, geestelike welstand en weerstandbiedende immuniteit? 

In Afrika en Asia waar fisiese distansie met mense baie nader en korter is, het die gevreesde pandemie toe nie so ‘n groot effek gehad soos voorspel is nie. In informele nedersettings waar daar feitlik geen sosiale distansiëring plaasgevind het nie, was COVID 19 getalle merkwaardig laag!

Die skrywe vra nie dat ons alle rede en veilige maatreëls oorboord gooi nie. Ons het egter nodig om denkend die voordele van die fisiese samekoms te herbesin.  Paulus het nieteenstaande die feit dat mense sy briewe sou kan lees, verkies en verlang om fisies by die gemeentes besoek te kon aflê.  (Rom 15:22-25; 1 Cor 16:5-7; 2 Cor 1:15-16) 

Wat is dus die geestelike, psigiese en liggaamlike gesondheidsvoordele van die fisiese samekoms van gelowiges? 

IMPARTATION: 


Want ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word; dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my (Rom 1:11). Hier is duidelik ‘n geestelike genadegawe ter sprake, wat net deur fisiese aanraking en kontak oorgedra kan word. God het nie in die hemel gebly en met ons uit die hemele gekommunikeer nie. Hy het vlees geword en onder ons kom woon. Jesus se vleeswording impliseer die sintuiglike ontmoeting en aanraking tussen God en mens.  Dit is die nommer een manier om ‘n belangrike boodskap oor te dra.  Selfs aanlyn bemarkers verstaan dat ketting eposse nie regtig werk sonder die fisiese kontak tussen agente en mense nie, juis te meer as die konneksie deur ‘n vriend plaasgevind het.  Paulus verwys hier egter na ‘n geestelike geskenk, versterking en aanmoediging wat in die geestesrealm gebeur wanneer ons fisies byeenkom as gelowiges. Die wederkerige opbouing en aanmoediging is ook kenmerkend hier, dat beide die spreker en ontvanger seën uit die ontmoeting geput het.  Natuurlik impliseer die fisiese ontmoeting ook ware omgee. Mense gee spontaan tot ‘n nood wat hulle kan sien. Wanneer ons nie meer mekaar sien nie, is dit moeiliker om deernis te hê.  Die fisiese besoeke van Paulus was dan ook om gewoonlik offerandes wat bymekaar gemaak is op te tel, geskenke en pakkies uit te ruil.  

GROEPSDINAMIKA 

Wetenskaplikes is dit eens dat daar verskeie groep transformasies plaasvind in ‘n skare wat vir dieselfde doel byeen gekom het, soos ‘n kerkbyeenkoms teenoor ‘n skare mense by ‘n lughawe. Mense hou op om hulle te gedra in terme van hul idiosinkratiese oortuigings en gee voorkeur aan die hand van gedeelde norme, waardes en begrip. Mense prioritiseer wat gesien word as waardevol vanuit die groepsperspektief.  Verder sien mense ander in die skare as deel van die uitgebreide ‘self’ eerder as ‘n “ander”. Dit lei tot groter intimiteit en baie navorsing toon hoe gedeelde identiteit groter vertroue, respek, samewerking, wedersydse invloed, hulp en verwagtinge van ander se hulp tot gevolg het.  

Mense geniet die hegte en ondersteunende verhoudings van ‘n groep waarmee hulle identifiseer as gevolg van gedeelde identiteit. Meer nog, sulke hegte verhoudings in ‘n groep stel mense in staat om saam te werk en meer doeltreffend te wees om hul gedeelde doelwitte te bereik. [1]

GERIEF BRING NIE NOODWENDIG GROEI NIE

Dawid verklaar na die sonde oor die sensus: “Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.” (2 Sam 24:16-25) Felix wys die boodskap van Paulus van die hand, omdat dit nie nou gerieflik is nie, en mis die ewigheid. (Acts 24:24-25) Ons almal hou van gerief, niemand wil meer wasgoed was met ‘n skrobplank nie! Daar is egter ook ‘n gevaar dat gerief ‘n afgod kan raak. Fisiese oefening, regte kos keuses, leer om nee te sê, is onombeerlik tot liggaamlike gesondheid en gewigsverlies. Jy kan nie video’s van ander mense se fiksheid kyk en dink jy gaan gewig verloor en fiks word nie.  Mens ontdek die waarde van lofprysing, wanneer jy opstaan en met jou hele hart, siel en liggaam die Here begin loof!  Lofprysing is nie vir toeskouers nie.  Netso al die ander geestelike pligte: Gebed en intersessie, Bybelstudie, Dissipelskap, besoek die wees en die weduwee, lê jou hande op die siekes, en funksioneer in die gawes van die gees moet fisies uitgevoer word.  Hierdie take is natuurlik ook baie makliker wanneer ons dit saam verrig.  Die geestelike reis van die gelowige is gekenmerk deur self verloëning en gehoorsaamheid. (Mat 16:24) Daarom kan ons nie net bestaan rondom dit wat gerieflik is nie, gehoorsaamheid vra by implikasie iets van jou.  Alles wat ons saam deurgaan is beter, makliker en meer behoudend – gedeelde smart – gedeelde lag.  

ONS KOM NIE BYMEKAAR OM NET TE ONTVANG NIE MAAR OM TE GEE

Julle het verniet ontvang, gee dit ook verniet. (Mat 10:8) Niemand kan stry hoe lekker dit is om te kan gee nie! Geestelike groei is ‘n wederkerige wisselwerking van ontvang en gee, soos asemhaal.  Hoe moet dit dan wees, broers? Elke keer as julle bymekaarkom, het elkeen gewoonlik ‘n bydrae om te lewer: ‘n psalm, ‘n onderwysing, ‘n openbaring, ‘n ongewone taal of klank, ‘n uitleg daarvan. Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop. (1 Cor 14:26) Hierdie vers verduidelik NT liturgie. Elkeen bring iets om te gee! Dis die grootste onderskeid tussen aanlyn byeenkomste en fisiese samekomste. D.m.v. die aanlyn materiaal ontvang ons, maar by die fisiese samekoms kom ons om te gee.  Die grote van die samekoms speel natuurlik ook ‘n rol, hoe meer mense, hoe minder kan almal deel. Daar is waarde in die huiskerk en ook die groter samekoms. Elke gelowige moet deel wees van ‘n geestelike gesin! Hier bedoel ek ‘n huiskerk.  Want ‘n huiskerk is jou geestelike gesin, waar jy verantwoordbaar gebou word, en waar verhoudinge en omgee vir mekaar kan verdiep. Die Jesus beweging was in die eerste 200 jaar uitsluitlik ‘n huis-gesentreerde beweging. (Acts 2:2, 46; 5:42) Die gesamentlike liefdesmaaltyd was wesenlik tot die eerste gelowiges se oorlewing. Saameet en vir mekaar sorg was hoe hulle vervolging kon weerstaan.  Geen mens weet hoe nodig hulle ‘n geestelike gesin het, totdat hulle en nodig het nie. TV en aanlyn bedieninge is waardevol maar die predikers kan jou nie in die hospitaal besoek, vir jou kos bring, of hulle motor vir jou leen nie.  Ons het mekaar nodig. Lojaliteit aan ‘n klein groep van mense raak die opvoedingsplek tot gebalanseerde geestelike volwassenheid.  

ONDERSTEUNENDE TOEWYDING 

Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg. (Acts 2:46-47) Almal weet hoe moeilik dit is om te gereeld te oefen. Daarom is saam oefen net soveel meer doeltreffend! Gelowiges wat gereeld saamkom, vorm ‘n band van omgee, aanspreeklikheid, verantwoordbaarheid, liefde en heiligmaking wat nie moontlik is op jou eie nie.    

GEESTELIKE AUTORITEIT EN GESAG 

Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring.(Eph 3:10) en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. (Mat 16:18) Ons elkeen het geestelike gesag ontvang om ons persoonlike demone te verslaan. (2 Joh 2:14) Daar is egter sekere geestelike magte in die geesteswêreld wat net gesamentlik deur ‘n groep gelowiges wat gehoorsaam is in ‘n lokaliteit verslaan kan word.  Dit impliseer die gemeentes wat saamwerk in ‘n gemeenskap onder die hoofskap van Christus. (Eph 1:22-23) Die kerk verstaan nog nie die heerlikheid en krag van God wat deur ‘n groepering in ‘n lokaliteit kan werk nie. Die solidariteit, wisselwerking, diversiteit wat net moontlik is deur die Heilige Gees verander gemeenskappe. Dink net aan die uitstorting van die Heilige Gees op die 120 in die bo-vertrek: het ‘n massiewe sosio-ekonomiese impak gemaak. Jubeljaar het in die hart begin! 

ONS ONTHOU ERVARINGS BETER AS INLIGTING

Die Bybel is ‘n versameling van mense se ervarings met die Godheid. Niemand het soos ‘n joernalis hierdie ervarings gedokumenteer nie.  ‘n Mens vergeet nie sommer wat jy self beleef het nie. Aanlyn inligting is nie genoegsaam om hierdie tipe impak te maak nie. Ons moet dit wat ons gehoor het, gaan toepas en uitleef.  Die samekoms van gelowiges is die lanseer platvorm van groot dade van geloof en sending. Dink maar aan die uitstorting van die Heilige Gees, by 2 geleenthede. Die uitstuur van Paulus en Barnabas. Die gelowiges wat saam gebid het vir Petrus in aanhouding.  Die samekoms is ‘n sensoriese gebeurtenis, en het daarom meer ‘n blywende impak om ons menswees.  

Daar is navorsing gedoen oor die effek van oogkontak. Ons verhoudinge verdiep, en ons verbintenis met mekaar deur mekaar in die oë te kyk. Kommunikasie is ook baie meer effektief a.g.v. oogkontak, gesigsuitdrukkings en stemtoon. [2]Aanlyn kommunikasie is kragtig, maar beperkend. 

Aanraking is seker die mees onder ontwikkelende aspek van ons geloof. Aanraking word as die diepste sintuig beskryf.  Ons vel is ook die grootste sintuiglike orgaan. Natuurlik is aanraking nou bemoeilik met die vrees vir virusinfeksie oordraging.  Aanraking het ook ‘n baie lang geskiedenis in verskeie kulture.[3] Ons gaan nie gesond bly sonder aanraking nie, ons moet net nuwe gesonde manier vind om wel aan mekaar te raak. Soos om jou hand op iemand se skouer of rug te hou.  Die vyand het aanraking verdraai deur seksuele ondertone, en nou ook die gevaar vir infeksie. Tog is aanraking deel van die evangelie van Jesus, wat melaatses, dooies en siekes gesond gemaak het deur aanraking. 

DIE BALANS TUSSEN INDIVIDU EN LIGGAAM.

Die boodskap en demonstrasie van die koninkryk van God bestaan om die realiteit van God se wêreld sigbaar te maak in hierdie wêreld. Hierdie demonstrasie van goddelike heerlikheid gebeur gelyktydig tussen die wisselwerking van die inspraak in die individu as tempel van die Heilige Gees, en dit wat hierdie tempels saam verwesenlik.  Die een kan nie sonder die ander nie. Mens raak nie deel van die liggaam deur aan ‘n gemeente te behoort nie, maar deur wedergeboorte en die aanneming en lewe vanuit Christus se geregtigheid.  Ons kan derhalwe ook nie as eilande funksioneer nie.  Die individuele ontmoeting met God, raak uiteindelik ‘n kollektiewe ontmoeting.  Soos selle in ‘n liggaam die liggaam laat leef, is die twee realiteite van sel en liggaam albei dié Liggaam. Selle wat hulleself van die liggaam afskei, is ‘n vorm van kanker, wat teen die liggaam begin veg.  Maar die liggaam kan nie sonder die selle nie.  

Sien en ontwaak tot die belangrikheid van die kollektiewe bymekaarkoms, plek van ontmoeting! Die samekoms van gelowiges is meer as net een persoon wat ‘n preek. Dit is meer as net ‘n paar liedjies saamsing as toeskouers! Dit is God se mense wat met hul God ontmoet!! Dit is ‘n geestelike ontmoeting, want God is GEES wat ‘n behae het daarin om tussen Sy kinders te wees. Dit is Christus in en onder ons die hoop op heerlikheid. Dit is ‘n genesende, herstellende, regeneratiewe, versoenende ruimte van bevryding en vryheid! Dit is ‘n plek waar die HEILIGHEID van God die oorhand kry en alles in almal vul! Dit is ‘n plek van LIG! Dit is ‘n plek van samesyn, verbondenheid en eenheid! Dit is die hemel op aarde!


[1] https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S2210600615000635

[2] Manusov, Valerie. “Effects of Gaze on Hiring, Credibility, Attraction and Relational Message Interpretation.” Journal of Nonverbal Behavior (1985): n. pag. Print.

[3] Classen, C., 2012. Back In Touch The Deepest Sense. A Cultural History Of Touch. Urbana, Chicago, and Springfield, IL: University of Illinois Press.