Categories
Preke

Hoe sien ek God reg?

“There are three images in my mind which I must continually forsake and replace by better ones: the false image of God, the false image of my neighbours, and the false image of myself.”

CS Lewis

Sedert die begin van tyd maak mense hulle eie afbeelding van wie hulle dink God is. Ons maak gode na ons beeld en ons eie verbeelding. Daar is al sedert die skepping ‘n stryd tussen afgodery en ware aanbidding. Die eerste sonde van ongehoorsaamheid was inherent die wegdraai van die ware God na ‘n ander god. In plaas daarvan dat ons deur verhouding met God in ‘n wandeling in die tuin sou kom tot volmaakte kennis om net soos God te wees, kies die mens die kort pad en glo die leuen van satan.  Verhouding spreek van dissipelskap, opvoeding, konfrontasie, beperking, tydsame ontwikkeling en groei. Die diepgaande motief agter hoekom Adam en Eva die vrug geneem het is: Dis die kort pad, meer gerieflike opsie. 

“Dis nie waar nie!” sê die slang toe. “Julle sal nie doodgaan nie. God het maar net so gesê, want Hy weet julle oë sal oopgaan die oomblik as julle daardie vrugte eet, en dan sal julle volmaakte kennis hê en net soos God wees!” Die vrou kyk toe weer na die boom se vrugte en sien hoe pragtig hulle Iyk. Hoe lekker sou hulle nie wees om te eet nie! En hoe wonderlik sou dit nie wees om alles te verstaan nie! (Gen 3:4-6) [1] Sedertdien kies die mens oor en oor eerder die natuurlike, sinlike, self-wysbegeerte bo verhouding met God.  Ons wil eerder ons self help, 

“die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.” (Rom 1:18-32) 

Geen mens kan neutraal staan nie, ons is gemaak om te aanbid, om te dien, om na te volg. Jy aanbid of die Ware Skepper God, af afgode. Selfs die ateïs wat selfvoldaan verklaar; “Christenskap is vir mense wat ‘n kruk nodig het” wys op hulle eie self-aanbidding, selfbeskikking, en self-redding.  Self-aanbidding is vandag die afgodery van ons tyd. Selfies, self-beheptheid, self-gerigtheid, en selfhelp godsdiens. Daar is selfs rakspasie onder die titel katogorie: Self-help. “Die Here help die mens wat homself help” is die mantra van die hedendaagse kultuur. Die diepgaande probleem en radikale ontnugtering van die aanbidding van valse gode is: Jy het gegee, gedien, gekoop, geslaaf, geoffer, gewerk en nog steeds vind jy jouself leeg en onvervuld. 

Die werklike kwessie is: Hoe sien jy God? Sien jy Hom van aangesig tot aangesig? Of sien jy ‘n afbeelding, refleksie, oorvertelling, tweede-handse weergawe van wie mense sê God is? Jesus het ook hierdie vraag vir Sy dissipels gevra: “Wie dink die mense is Ek, die Seun van die Mens?” [2] en later “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”[3]

Sommige sien God as die veelvoudige persoonlikheid steurnis God: Allah, Budah, Chrisna, is almal god.[4]  

Sommige glo in die verkeerskonstabel god, wat daarop uit is om jou te vang oortree, en dan vir jou ‘n boete gaan gee. 

Ander sien God as die kosmiese verkoopshandelmasjien, waar jy net die regte gebede bid, en hy dan gee wat jy nodig het. 

Die wysbegeerte sien God as die onbetrokke horlosie-maker god, wat die aarde soos ‘n horlosie in delekate ratte aan die gang gesit het, maar nie betrokke is in ons persoonlike lewens nie. 

Die meeste mense hou van die drinker-vriend-by-die-kroeg god, hy luister altyd, stem altyd saam, en laat jou altyd beter voel God. 

Dan is daar mense wat God soos ‘n teddie-beer sien, hy is altyd daar vir jou, om jou te troos en te laat beter voel. Hy praat nooit terug nie, en hy is bekende staatmaker wat ek kies om te gebruik wanneer ek hom nodig het. 

Die mense wat god as spaarwiel sien is glad nie op God ingestel of gefokus totdat hulle hom nodig het as daar ‘n pap wiel is nie. 

Daar is natuurlik ook mense wat God sien as die bekende ou familielid, ons respekteer hom as hy kom kuier, bloot omdat hy familie is en omdat ons ouers hom ken.  

Sommige teoloë sien god as die poppespelmeester god, wat glo dat hy alles beheer. Ons verstaan nie hoekom hy die wreedheid van moord, rampe en pyn en leed toelaat nie, maar alles is uiteindelik sy wil.  Dit is moeilik om die God lief te kry.  

Baie mense sien God as die pretbederwer god. Hy wil nie hê ons moet die lewe geniet nie, wanneer dit goed gaan is ons eintlik bang vir wanneer hy dit gaan kom bederf.  [5]

“Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie. 18Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots  sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie.[6]

Die ware kerk is gebou op die openbaring wat God van homself gee!! 

Die afgodery oplossing is eintlik eenvoudig: Is jou siening van God ‘n mens se openbaring van God, of het God Homself aan jou bekend gemaak? 

Paulus verklaar: Want ek het dit ook nie van ’n mens ontvang of geleer nie, maar deur ’n openbaring van Jesus Christus.(Gal 1:12) Hy het ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus gehad op die pad na Damaskus. (Hand 9:1-19) 

Paulus leer dat ware gelowiges en kinders van God, leef vanuit ‘n direkte persoonlike openbaring van wie God is. Die voorhangsel is geskeur. Ons het nou vrymoedigheid om in die allerheiligste in te beweeg. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is. (2 Cor 3:18) 

WAT van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe — en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe… (1 John 1:1-2) 

Baie mense het natuurlik Jesus reg voor hulle gesien, en tog nie gesien nie. Hoeveel mense het Jesus nie genees, en nog steeds het hulle nie geglo nie. (Joh 12:37-43) Sy eie familie het ook eers nie gesien wie Hy werklik is nie. (Mat 12:46-50; Mark 3:21,31-35; LK 8: 19-21) 

Ons sien hier op watter verskillende maniere die mense op Jesus gereageer het. Party mense het Hom “’n goeie man” genoem (Joh 7:12); ander weer ’n misleier (Joh 7:12). Ander het gesê dat Hy van die duiwel besete was (Joh 7:20); party dat Hy die Christus was (Joh 7:26); sommige dat Hy “die Profeet” was (Joh 7:40) en sommige dat Hy gearresteer moes word (Joh 7:44). 

Daar kom egter ‘n dag waar ELKE knie sal buig, en ELKE tong sal bely: dat Jesus die Here is!! (Rom 14:11; Phil 2:10) 

Jesus is God: 

Christus Jesus het alle raaisels en afeidings oor God kom regstel en fisies in Sy persoon die Godheid kom bekend maak. “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag”(Heb 1:3) Jesus se eie biografie, of self-verklaring is uiters betekenisvol tot ons geloof. Wat het Hy oor Homself gesê? 

Hy vergewe sonde: (Mark 2:10) 

Hy is alomteenwoordig: “want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle” (Matt. 18:20). 

Hy is ewig: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matt. 28:20).

Hy is almagtig: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” (Matt. 28:18).

Hy is alwetend: “Niemand weet wie die Seun is nie behalwe die Vader, en wie die Vader is nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil bekend maak.” (Luk. 10:22).

“Christus was óf ’n leuenaar óf ’n waansinnige óf die Here.” 

Uiteindelik was dit die hoofrede hoekom die Jode Jesus wou doodmaak: Die feit dat Hy Homself gelykstel met God. (Joh. 5:17-29). “Ek en die Vader is een.” (Joh. 10:30). “Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ’n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ’n mens is, Uself God maak.”  Teenoor die Joodse Raad, die Sanhedrin, maak Jesus dit weer eens duidelik: “Ek stel jou onder ‘n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.” (Matt. 26:63-64). Die feit dat Jesus uiteindelik gekruisig is omdat Hy Homself gelykstel met God, is ‘n verdere bewys van wie Hy werklik is: Hy het dit nie net geglo asof dit iets wat moes verwesenlik word nie. HY IS GOD. Daarom het Hy opgestaan, is die Heilige Gees uitgestort, en elke woord wat Hy gepreek het is besig om in vervulling te kom! 

Hoe ons God vandag sien, is bepalend tot hoe ons die lewe gaan hanteer! Is Hy waaragtig vir jou ‘n eerstehandse werklikheid, of glo jy nog op hoorsê? Mag die Heilige Gees Jesus aan ons elkeen openbaar in krag en majesteit! 


[1] Die Lewende Bybel, (Roodepoort: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1982), Ge 3:4–6.

[2] Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling, (Vereeniging, Suid Afrika: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2006), Mt 16:13.

[3] Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling, (Vereeniging, Suid Afrika: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2006), Mt 16:15.

[4] https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_deities_by_classification

[5] https://www.aggiecatholicblog.org/2014/09/10-defective-images-of-god/

[6] Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling, (Vereeniging, Suid Afrika: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2006), Mt 16:17–18.

Categories
Preke

Hoe sien ek reg?

Gesonde hart – gesonde fokus

Dit is so ‘n voorreg om te kan sien! Die glorie van ‘n pragtige sonopkoms, wanneer die veldblomme blom, die eerste bloeisels bot, of die glimlag van die liefling van jou hart! Maar sig word nie bepaal deur die oog nie. Die brein verwerk die data en interpreteer dit deur die filters van ons ervarings en ‘n paar raaiskote om die ware identiteit van ‘n voorwerp te bepaal.[1] Sommige sien nie die waarde van die pragtige veldblomme raak nie, want hulle is op iets anders gefokus en stel nie belang nie. 

In die Griekse taal word die wyse van sien met verskillende woorde omskryf:

βλέπω blépō – Om in staat te wees om te sien, dit wil sê om die fakulteit van sig te hê, en soos van blindes gesê, om sig te kry.

θεωρέω theōréō – Om mooi na te gaan. Om met belangstelling te kyk en na ‘n doel, dui gewoonlik op die noukeurige waarneming van besonderhede.

εἴδω eídō – Om met begrip te sien, om te weet.

Ons inkeer na die Here het alles met hoe-ons-sien te doen. (Mat 4:17) Daarom die wonderlike ou lied: “I once was blind but now I see.”

Redding is ‘n paradigma skuif, om tot nuwe insigte te kom. CS Lewis, eers ‘n befaamde atheïs word ‘n Bybelse apologeet. Abby Johnson, ‘n aborsie kliniek Direkteur word ‘n anti-aborsie aktivis.[2] Nabeel Qureshi vertel in sy boek hoe hy Islam verlaat het om die Christen geloof aan te neem. [3] 

Die woord bekeer – μετανοέω metanoéō beteken:

  • ‘n verandering van plek of toestand,
  • om die verstand te oefen, te dink, te verstaan.
  • Om tot nuwe insig te kom.
  • Om berou te hê, verander van gedagte, berou.
  • Teologies ‘n ware hartverandering na God.
Samelewing se Persepsies

As individue, maar ook as samelewing vorm mense gedurig stigmas, persepsies, en bou propaganda, as kragtige verdraaiings van die werklikheid. Wanneer mense hierdie verdraaiing begin glo as die waarheid vind die mees ondenkbare afgryslike gruweldade teenoor die mensdom plaas.  Hierdie visuele verdraaiing in ons brein word ‘n sistemiese strukturele sonde – soos rassisme, klassisme.  Die onderbewuste vooroordeel is baie kragtig: ons brein het negatiewe vooropgestelde idees gevorm en filters wat die waarheid verdraai. Ons teorieë is onvolledig, eensydig, ‘n gedeeltelike deel van die waarheid.

Oorloë ontstaan as gevolg van wat ‘n groepering kollektief glo, aldus sien van ‘n ander groepering. Propaganda en die beheer van inligting is die hoofinstrument om die ‘n oorlog sentiment aan die gang te hou.  Die bekende filosoof Jordan Peterson: verklaar “wit minderheidskapitaal is ondenkbaar en misplaaste rasionaal.  Die idee dat ‘n etniese groep met ‘n kollektiewe sonde vereenselfwig word is blatant rassisties, gevaarlik en het al tot verskeie etniese suiwering gruweldade gelei. Bv. Die boere werkersklas Hootsies teenoor die elite leiersklas Tootsies (Kenya), die sosialistiese uitwissing van Russiese vooraanstaande boere die Kulaks[4], die Duitse uitwissing van die Jode. Apartheid was ‘n miskenning van nie-wit mense se menswees en etikettering as arm, swak, dom, vuil, ‘n minderwaardige klas en ras. 

Te midde van ‘n globale pandemie sien ons meer en meer protesoptogte wêreldwyd, die “black-lives-matter” beweging kry internasionale steun met optogte in 4044 stede regoor die wêreld.[5] NP van Wyk Louw het gesê, “jy wen nie jou reg tot selfbeskikking deur ‘n ander af te breek nie” #ALL LIVES MATTER. Daar is ‘n baie dieper grondmotief agter al heirdie proteste: Mense wil elkeen waardevol voel. Niemand verdien disrespek, minagting, weersin, aversie, aanstoot of afkerigheid nie.  Selfs nie die sondaar nie!

‘Ek weet nie met watter wapens die 3rde Wêreld oorlog beveg gaan word nie, maar met die 4de wêreld oorlog sal daar met stokke en klippe gestry word.’ Albert Einstein 1949

Die Nuwe Normaal

Ons almal begeer na die grendel tyd, dat alles sal terugkeer na normaal. Maar die normaal waarna ons soek was nie gesond of reg nie. Dit was juis die wanbalans van kapitalistiese materialisme wat ons in hierdie pandemie gedompel het. Die arm – ryk polarisasie is wyer as ooit. Die GINI Indeks staan op 67 ongelyke samelewing. Die salaris wat ‘n fabriekwerker verdien teenoor dit wat die bestuurder verdien is te ongelyk. Dit het gelei tot ‘n dualistiese ekonomie en samelewing. 

James (“Jim”) Coulter is die mede-uitvoerende hoof en ‘n stigtersvennoot van TPG en die mede-besturende vennoot van The Rise Fund. TPG, wat in 1992 gestig is, is ‘n toonaangewende private beleggingsfirma wat meer as $ 88 miljard se bates bestuur. Hy bied jaarliks ‘n projeksie vir die bekende Bloomberg Platvorm aan: Hy som ons situasie op dat ons al die simptome beleef van ‘n Oorlog-ekonomie. [6]

  1. Herbenutting van vervaardigings lyne
  2. Gratis konserte en internasionale solidariteit
  3. Groot kollektiewe besteding

Wat leer ons uit oorlogstyd-ekonomieë?

  1. Dit gaan gewoonlik langer aan as wat verwag is
  2. Groot wenners en groot verloorders
  3. Die regering word ‘n groot speler
  4. Mense mobiliseer
  5. Resessie volg
  6. Groot samelewingsveranderings – Industriële ondernemerskap.

In enige krisis gaan mens deur 6 stadiums:

  1. Ontkenning
  2. Ons het ‘n probleem
  3. Ons het ‘n plan
  4. Plan misluk
  5. Onsekerheid en paniek
  6. Werklikheid
WAT IS GOD SE NORMAAL?

Dus nou die vraag? Hoe sien die kerk hierdie krisis? Hoe kan ons seker maak dat ons regsien? Dat ons nie mislei word deur sosiale media nie? Dat ons die realiteit reg gaan benader?  Hoe sien ons hierdie wêreld? Wat is God se normaal?

The light of the body is the eye: if therefore thine eye be single, thy whole body shall be full of light. But if thine eye be evil, thy whole body shall be full of darkness. If therefore the light that is in thee be darkness, how great is that darkness! (Mat 6:21-22)

“Jou oog is ’n lamp vir jou liggaam. ’n Suiwer oog laat die lig na binne stroom sodat jy daarbinne geheel en al lig word. 23Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker. As die lig wat jy gedink het jy het, in werklikheid donkerte is, hoe pikswart is jou donker dan nie! (Mat 6:21-22)

Die woord lig in die vers beteken olie-lamp. Wat veral betekenisvol is mbt. die gelykenis van die 5 dwase maagde. Ons lewe is ‘n lamp. (Matt. 5:15) Ons kan nie ons lewenslig wegsteek nie. Die kort verduideliking van hierdie vers is dat die gefokusde oog wat innerlik in denke gesond is sien wat werklik mooi en waardevol is. ‘n Siek oog misreken die ware identiteit en waarde van ‘n voorwerp en behandel dit met minagting as waardeloos.  Kinders verstaan nie sentiment nie of die waarde van dinge nie.  Daarom gee jy nie ‘n kind ‘n duur erfstuk wanneer hulle nog kind is nie, want hulle besef nog nie die waarde nie.  

Waarom word hierdie vreemde stelling tussenin vasgedruk tussen, “waar jou skat is daar sal jou hart wees” (Mat. 6: 19-21) en “jy kan nie God en mammon dien nie” en die sorge van hierdie lewe dien nie. (Mat. 6:24)?  Jesus vertel later van die vrygewige meester wat werkers die hele dag gewerk het dieselfde loon gegee het as die wat gewerk het vir uur. “Of is u oog sleg omdat ek is ek goed?” Mat 20:15 Hier verwys hy na die jaloesie, en afgunstige gedagtes van die mense teenoor mekaar.

WAT JY WAARDE AG

Die hele ekonomie sentreer rondom die vraag en aanbod en waarde van ‘n sekere produk. Oornag het die waarde van winkelsentrums afgeneem, en die waarde van DIY huis, tuin, broodbak, en kosmaak produkte het toegeneem.  Maar die ware probleem van regsien, is die waarde wat ons aan mense toeskryf.  Iemand met ‘n graad, en wat ‘n noodsaaklike diens lewer soos ‘n mediese dokter word as ‘n persoon van hoë waarde beskou.  Ons behandel die mense met respek, hulle het ‘n sekere aansien in die gemeenskap en hulle woorde en opinies het waarde.

Daarenteen word mense wat algemene werk verrig soos die van ‘n bediende of skoonmaker as minder belangrik beskou. Verder: 

  • ‘n pa sien sy dogter as ‘n seksuele objek en misreken geheel en al haar waarde, haar persoon, haar toekoms, haar toekomstige man en kinders, deur net sy eie seksuele behoefte te bevredig.
  • ‘n sakeeienaar sien sy werksmense net as ‘n robot en masjien wat hy kan gebruik om meer geld te maak, en dryf hulle genadeloos sonder om hulle te vergoed vir wat hulle waarde werklik is.
  • ‘n vrou en haar kinders sien hulle man en pa net as die broodwinner, voorsiener wat moet sorg dat daar genoeg geld is.
  • ‘n man sien sy vrou net as ‘n bediende wat moet sorg dat daar kos op die tafels is, klere gewas is, en die huis aan die kant is.
  • Die meeste mense sien nie eers die waarde in hulleself nie! Hulle voel self nie waardevol nie. Integriteit, werk-trots is gevolge van ‘n gesonde self-waarde.

Wanneer jy iemand van waarde ag, behandel jy mos die persoon anders. Jy is respekvol, eerbiedig en liefdevol. Ons beloon graag die mense van waarde in ons lewe met geskenke.

Jesus het die sondige mensdom genoeg van waarde geag, dat Hy Sy lewe vir ons gegee het. (Joh 3:16)

Jou hart is oop teenoor dit wat jy van waarde ag. Jy spandeer tyd, aan dit wat jy van waarde ag. Jy offer op vir dit wat jy van waarde ag. 

Mag die Here ons harte kom genees, ons vooropgestelde idees, ons persepsies, ons misrekende gevolgtrekkings wat ons oor mense maak. Sodat ons mense sal sien soos God hulle sien.

Kom ons begin by ons naaste: Die wat God oor ons pad stuur. (Luk 10:25) Die Barmhartige Samaritaan.

 

 

[1] Gregory R.L. 1966. Eye and Brain: the psychology of seeing. London: Weidenfeld & Nicolson; 5th edition 1997, Oxford University Press/Princeton University Press. ISBN 0-691-04837-1

[2] https://en.wikipedia.org/wiki/Unplanned

[3]  Qureshi, Nabeel; Strobel, Lee (2014-02-11). Seeking Allah, Finding Jesus: A Devout Muslim Encounters Christianity. Place of publication not identified: Zondervan. ISBN 9780310515029.

[4] https://en.wikipedia.org/wiki/Dekulakization

[5] https://www.creosotemaps.com/blm2020/

[6] https://onlinexperiences.com/scripts/Server.nxp?LASCmd=AI:4;F:QS!10100&ShowUUID=27E22C9C-7E82-44A7-B177-9D97502A6526&LangLocaleID=1033&AffiliateData=tyemail