Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Preke

Sien die geveg op tuisfront en raak betrokke ons het jou nodig

Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. (Eph 4:3).

Die eenheid wat God gee is ‘n bonatuurlike eenheid van diversiteit. Eenheid wat deur ‘n mens bereik word is die eenheid van konformiteit. Die eenheid van ‘n mens is ‘n piramiede waar een mens bo op die mensgeboude berg verheerlik word. Dit is Aardse Babelgeboue om die vermoë van die mens te bewys.  Die eenheid wat God gee is Christus. Daar is nie eenheid as Hy nie in die middel staan nie. Soos die sonnestelsel (waar planete om die son sentreer) beweeg ons elkeen in ons wentelbane om Christus, Hy is ons fokus. Dit is Sy swaartekrag wat ons aangetrek het, en ons in ons wentelbane hou.  Ons kyk nie na ‘n mens nie, ons kyk na Jesus.  Heb 12:2

Ons kan dus nie eenheid bewerk nie, ons kan net die eenheid wat God gee, handhaaf, in stand hou en beskerm. Dis ook ‘n voldonge feit dat die krag van die Kerk ons eenheid in Christus is! Al die deurbrake en kragtige uitstortings van die Heilige Gees in die handelinge van die Apostels en eerste kerk het gebeur waar daar eenheid is.  Rom 7:4; Rom 9:1; 1 Cor 15:22; Eph 3:6, 12, 21; Col 2:6, 10, 11-1; Rev 1:9

Een van die gevare van Sosiale Media, Facebook en die internet is: Ons word bewus gemaak van uitdagings en probleme, ook wêreld gebeure waaraan ons nie eintlik iets kan doen nie, buiten ons gebede.  Ons gedagtes en onderbewussyn word dan geheel en al geokkupeer deur probleme wat ons verhoed om nie teenwoordig te wees in die lokale krisisse naby ons huis nie. In ‘n oorlog is daar verskillende gevegsfronte wat terselfdertyd verdedig moet word.  Die lokaliteit waar jy gestasioneer is bepaal die oorlog waarin jy betrokke is.  Jy beteken niks vir jou lokale kompanjie as jy nie wesenlik teenwoordig is nie.  Ons gedagtes kan nie opgeneem word in ’n skyngeveg nie. Moenie toelaat dat daar ‘n geveg in jou gedagtes ontstaan nie. Die vyand wil ons uithaal, besig hou, en dan is ons uiteindelik nutteloos vir ons vriende, familie en medestryders.

Natuurlik wil niemand van  ons nutteloos wees nie! Ons hart is om te help, maar die vyand het ons in sy strik gevang, deur nie teenwoordig te wees in die hier en nou nie. Elkeen in Sy liggaam is toegerus met wonderlike gawes (funkies) en daar is ‘n spesifieke funksie en rol wat net jy kan verrig.

Ek wil graag vandag ‘n beroep doen op  al die medestryders in die geloof in die Olifantsriviervallei, meld aan by die geveg hier op die tuisfront!

Die Here is die Generaal van die Weermag, en Hy stuur arbeiders vir elke gevegsfront regoor die Wêreld. “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, 10want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.” (Ac 18:9–10) Al wat God van elkeen van ons vra is om gehoorsaam te wees. As die Here ons wel na ’n sekere gevegsfront oor ons grense stuur, stuur Hy ons nie alleen nie, Hy stuur ons met die beskerming en hulp van die lokale Kompanjie. Die sinergie en samewerking van die hele liggaam betrokke maak ons soveel meer effektief as ‘n solo-aanval.

As Geestelike Leier en Apostel geroep en aangestel nie deur my eie wil of ambisie nie, maar deur die genade van  God wat ryklik in ons wil en werk, wil ek jou wys op die geveg hier op tuisfront.  Mag die Heilige Gees ons oë oopmaak vir liggaam waarvan God jou deel gemaak het. Visualiseer net vir oomblik hierdie omgewing sonder ons kerk… Dank die Here dat HY ons gestuur het, en bekwaam gemaak het, gevul het met Sy Heilige Gees om Sy heerlikheid te mag dra (Host) in die Olifantsriviervallei!

Mag ons die geveg sien waarby ons betrokke is.

Dankie Here vir die oorlog veterane wat hulle lewens neergelê het vir die saak van Christus.  Wat met hulle hele hart, hul hele lewe, tyd en geld betrokke is. Om in gehoorsaamheid duisternis terug te stoot in Jesus se naam! Ek dank God elke dag vir hierdie vegters, getroue  soldate in die geloof.  Saam (deur Jesus Christus as ons Hoof) is ons besig om geskiedenis te maak, en van ‘n woestyn ‘n geestelike oase te maak, soos Hy beloof het. Eden, My delight!

  • Ons is al ‘n geruime tyd besig met die gemeente planting in Vredendal. Ons wil ‘n veilige tuiste vir Geesvervulde gelowiges wees. Hier was nog nooit in die geskiedenis van hierdie gebied ‘n kragtige Herlewing en uitstorting van die Heilige Gees nie. Ons begin nou iets daarvan beleef. God het ons hier geposisioneer om ‘n Goddelike Vesting op te rig rondom gesonde Leer en Waarheid, waarvan Christus die Hoeksteen is. ‘n Gemeente wat soos ‘n liggaam funksioneer, nie ‘n organisasie nie. ‘n Gemeente wat Sy Koninkryksgesag demonstreer in Woord en Daad. ‘n Akkurate Gemeente waarvan Christus die hoof is wat die donker en duistere magte in die gebied ontwapen en oneffektief maak. Wees deel van die gemeente, help bou, leef jou roeping uit.  Moenie net kom om te ontvang nie, maar kom om te gee. Elkeen het so baie om te gee.  Sien die geveg in die Gees, bid saam, stry saam in die  geloof, help en ondersteun Jan-Hendrik en Monica Kleynhans. Bid vir hulle as leiers. Wees getrou in jou finansiële bydrae. Wees asseblief teenwoordig.
  • Die Here bou Sy kerk, en ons roeping tot die armes is ‘n geestelike mandaat en verantwoordelikheid. Daarom is ons in elke dorp op een of ander manier betrokke om aan die armes die koninkryk te verkondig. HP  Momsen is besig in Riverview Citrusdal om die jongmense en pastore te bedien met weeklikse Bybelstudie,  die een  week in Afrikaans, die daaropvolgende week in Engels.  Ilse Rontgen, Hanneke  Ferreira, Jean janse van Rensburg en HP Momsen bedien en beraad weekliks mense op afspraak vir bevryding en genesing.  Ons bedien tans 82 kinders  in ons kleuterskool  Ubuntu in Riverview  Eersdaags gaan ons moet skuif na ‘n nuwe terrein, en nuwe geboue moet opgerig word.  Ons gee ook kos vir bykans 60 kinders drie keer per week. Hierdie kinders moet bedien word, met liefde, omgee en belangstelling. Jolanda Basson & Juan-dré bedien die kinders, bou verhoudings en herstel sodoende die ondersteuning netwerk om die kind. Jan-Hendrik bedien weer die jongmense van Vredendal deur Identity 129 op Vrydagaande.  Elna Pretorius leer ons kinders deur die Bybelskool materiaal op Vrydagaande te behandel in Citrusdal. Elkeen van die  bedienings geleenthede is ‘n geveg teen duisternis. Bid vir hulle, raak betrokke, dien en help hulle om selfs meer effektief te wees. Ons dank die Here ook vir WP en Karien van der Merwe wat ons Apostoliese leiers in Citrusdal is. Dankie dat julle die mense liefhet en besoek.
  • Ons huiskerke is die eerste linie van die gevegsfront, dis hier waar jy in aanraking kom met die daaglikse “battles” van jou geestelike familie en vriende. Wees daar vir mekaar, help, luister, ondersteun, hou kontak, bid mekaar. Onthou ons leuse: “Jy is welkom om enigiets te vra, as jy ook sal bereid wees om ’n ‘nee, ek kan nie’ te verwelkom.  Sodoende hou ons die verhoudinge heilig.
  • Willie en Wena is besig om werkloses en plaaswerkers op te lei, en hulle te leer oor Werksetiek en Werk is heilig, dit is goddelik om te kan werk. Dit is goddelik om jou roeping en skeppingsdoel te vind en te leef.  Indien God in jou hart werk om ‘n sekere behoefte te vervul, rapporteer gerus aan my en dat ons jou help, om die geestelike Net van die Here nog verder te verbreed.
  • Neil & Olivia Hall besig met Hebron Community Projects, om die mens in die Paleisheuwel omgewing te bedien, deur hulle gemeenskap Sentrum, en sportveld. Hulle bied allerhande lewensverandering programme aan vir mans, vrouens en kinders.  Verskeie Boere in ons gemeente is besig om beter na hulle mense te kyk, deur Infrastruktuur ontwikkeling en opleiding.
  • Indien jy ‘n boer is of eienaar van ‘n besigheid kan jy al die mense wat vir jou werk befonds om die Work-4-a-Living kursus te voltooi. Verskeie plase bied ook nou kleuterskole vir hulle mense.  Jeanie Stander bied ‘n Naskoolsentrum aan vir Plaaskinders op Tweeriviere, befonds deur Namakwaland Sitrus en Capespan boerderye. Jeannie het hulp nodig, vrywilligers wat teenwoordig sal wees by tye om haar te help.
  • Ons is betrokke  op Radio Namakwaland met  drie verskillende  programme,  Maandae  Middae 15:00  met Chantál op Barshou. Dinsdae Oggende saam met Jan op onder Konstruksie 7:15, en Woensdae bied  ons tafelgesprekke aan om 11:00. Bid vir hierdie programme, dat ons “boldness” sal hê om vreesloos die waarheid te verkondig.
  • Desmond Booysen en HP Momsen is betrokke op van ons plase om verhoudinge te restoreer op alle vlakke. Ons bly veg teen alle vorme van rassisme in ons gemeenskap, deur vredemakers te wees op alle vlakke waar God ons guns gee.
  • Jan is betrokke by die munisipaliteit en Provinsiale Regering rakende die Khayelitsia Influx krisis in    Deur gesonde verhoudinge te bou, is ons instrumenteel om beter skakeling tussen rolspelers te bekom.
  • Ons Bybelskool is nie net daar om mense geestelik toe te rus nie, maar is ook ‘n geveg vir Waarheid. Ons het Bybelskool op Maandae (Clanwiliam), Dinsdae in Citrusdal, en Donderdae in Vredendal. Deur die verkondiging van God se Woord, word mense se denke vernuwe om akkurate lewens te leef volgens ons skeppingsdoel – Christus!  Die kerk se beste aanvalswapen is ‘n akkurate lewenstyl gebaseer op die lewe van Christus.
  • Jan en Chantal is direk en indirek betrokke by elke inisiatief. Ons help, ons bid en ons dra finansieël by. Ons help die gemeenskap waar ons kan. Jan dien op Bosassa se bestuur. Ons is betrokke met gebed en berading by die Polisie in Clanwilliam. Jan bedien tans by die Augsberg skool, die graad 8 en 9’s, hy werk saam met ds. Jacques Greyling. Ons dank die Here vir ge-opende deure in ons skole, in ons gemeenskap. Jan is ook Voorsitter van die HUG projek, wat ons kleuterskool (Ubuntu) insluit, asook ons ouetehuis Heuwelrus. Chantal is tans besig om jongmense en vroue te beraad en te bedien, ons dank die Here vir die Heilige Gees wat ons helper is. Alles neem egter tyd. Die werk is geweldig, en die arbeiders is min. Ons vertrou en dank die Here voortdurend vir gewillige en gehoorsame harte.
  • Die Here het ‘n reuse deur in Uganda oopgemaak, Apostels Tobias en Ansofie Basson, saam met ons as kerk loop in gehoorsaamheid hierdie pad uit. Ons gaan deur Sy krag hierdie nasie dissipel om Christus te volg en nie dieselfde foute maak as wat ons in Suid-Afrika gemaak het nie. Tobias en sy span gaan ook ‘n reuse rol speel in die Landbou in Afrika. Hy gaan die voedseltekort in Uganda en moontlik ander Afrika lande aanspreek deur boere gemeenskappe te leer hoe om ook akkuraat te doen wat hy doen.
  • Ons harte is ook verbind met Herman en Charmain Grundlingh in Thailand. Herman vra gereeld apostoliese raad/bediening. Ons het gereeld kontak via skype, Ons bedien hul apostolies, en help van tyd tot tyd met hul worship span (deur skype).
  • Ons is ook nog verbind met FCE, ons bid gereeld vir hulle. Dankie vir Nico en Beatrix se betrokkenheid by hulle, en die deurgee van belangrike inligting.
  • Jan dien nog op Amos se bedieningspan, en het kontak met Hennie Viljoen. Ons bedien daar soos benodig deur hulle.

DANKIE geliefde gemeente, ons is as gemeente betrokke in ons gemeenskappe. Dankie vir elkeen se betrokkenheid, elkeen se teenwoordigheid. Julle maak ons sterk in ons geveg teen godsdienspleging, wetteloosheid, en goddeloosheid in hierdie gebied.

Ons het onlangs ons webtuiste herskep, om die rykdom van Christus se oorwinning in ons lewens ook vir ander  beskikbaar te maak. Om jou op hoogte te hou van alles wat hier op die  tuisfront gebeur het ons ook ‘n app geskep  waar jy op jou selfoon kan skakel met medestryders, mekaar kan bemoedig, vir mekaar kan bid, betrokke kan raak en nog baie meer!  Gaan besoek gerus Webwerf www.hrco.co.za en gaan soek die applikasie “HRCO” in jou slimfoon se  applikasiewinkel  (appstore). 

Ons sal altyd ander gemeentes in ons area help en ondersteun omdat ons hulle as vennote sien in die Koninkryk, in die stryd om God se Koninkryk te laat kom in die Olifantsriviervallei.  Ons veg nie met oogklappe aan nie, ons hou ons oë gevestig op Jesus Christus die voleinder van ons geloof.

Terwyl jy hier lees, mag die Here jou deur Sy gees opwek om vir ons in te tree, om asseblief gereeld vir ons te bid. Hy sal jou wys hoe om te help en betrokke te raak. Ons is nie toeskouers nie, ons is deelnemers totdat die werk klaar is! Tydens Ps Duncan Curry (Halifax Engeland) se onlangse preek het hy dit baie mooi gestel: ‘You cannot have the Mind of Christ without His Body” Dit is Sy liggaam wat uitdrukking moet gee aan Sy instruksies. Ons kan nie die oorlog wen op ons eie nie. Hollywood probeer die teenstelling bewys, hulle het gereeld ‘n nuwe Super-Hero film. In realiteit weet ons egter dit is ‘n spanpoging wat ons sterk maak.

Baie dankie vir elke lid van die Liggaam. Dankie vir elkeen wat vir ons bid, wat so mooi saamwerk. Dankie vir elke  huiskerk leier, elkeen wat dien, wat kerk oopsluit, wat bid, bemoedig en wat aanhou goed doen. Dankie aan elkeen wat Sy roeping in jou gemeenskap uitleef.

Mag die Here ons verlos van individualisme, en “my ministry” mentaliteit. Kom ons Sien die ONS! Sien die mannemoed van die ‘gewone’ vegters hier om jou. Die Here bind ons nog nader vas aan mekaar deur Sy Liefde.