Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Preke

Groei 2014

Die Here is met ons op pad … reg v.d. begin af, sedert daardie 1ste dag wat Hy ons laat omdraai het om Hom te volg, het alles verander. Ons sien die lewe vanuit ‘n hele nuwe perspektief. Ons lewe het nuwe sin en betekenis gekry. Hy voer ons saam in Sy triomftog totdat ons voluit in Sy volheid lewe en handel.  Die eindbestemming van hierdie pad is om elke dag meer en meer in alles wat ons doen soos Jesus te wees en te lewe. Hy is die somtotaal van ons lewe. En ons hele lewe is opgesluit in Hom. (Kol 3:2) Sy lewe: is nederig, ‘n dienskneg, vol van geloof, sagmoedig, rein, ongeveins, opreg, eerlik, lojaal, met integriteit, gehoorsaam, vrymoedig, gemaklik, ongekunsteld, en vry. Die einddoel van ons lewens is dieselfde vir ons almal: of ons nou ryk is aan aardse goed of nie, of ons die aansien het by baie mense of min, of ons leiers of volgelinge is, jonk of oud.  Die bogenoemde eienskappe is die vrug van intimiteit met God.  Ons is almal afhanklik van die Here om Sy karakter deur ons te laat manifesteer.

In Hom is die oorsprong van ware lewe. (Joh 1:4; 11:25) Deur hom het ons ewige lewe en ware lewe ontvang (1 Joh 5:11) Sy lewe en manier van lewe is die beste manier om te lewe. (Joh 14:6) Ons wil dus aanhou groei, en opgroei in volwassenheid in al hierdie eienskappe in Hom (Gal 4:19; Kol 1:28-29) dis immers ons skeppingsdoel (Rom 8:29). Hierdie groei is nie beperk tot hierdie jaar nie, maar elke jaar werk die Here verdere groei in ons, soos ons hierdie pad met Hom stap.  Uiteindelik moet elke ervaring wat ons met God het, lei tot die bogenoemde karakter eienskappe wat ongeforseerd natuurlik uit ons voortvloei. Dis ons redelike godsdiens, om as lewende en heilige offers Sy wil en lewe te leef hier op aarde. (Rom 12:1-2)

Mense soek met elke nuwe jaar nuwe hoop, nuwe openbarings, en selfs nuwe visie.  Dit is nie verkeerd nie, maar nie ten koste van dit wat God reeds gesê het nie, en wat ons nog nie voltooi het nie.  Ek is dus versigtig vir al die nuut, terwyl ek nog sukkel om dit wat ek wel weet gedoen te kry.  Ek het dus nie ‘n nuwe woord of rigting ontvang nie. My begeerte is bloot om hierdie reis in Hom te voltooi.

2014 is ‘n progressie van 2013 se posisioneer vir groei. God is altyd besig om ons te posisioneer vir groei. (Joh 15:1) Hy buig en snoei die lote om optimale groei in Hom te bewerkstellig. Soms is die skuiwe radikaal, en ander kere gering, maar ons is dankbaar en verwelkom dit wanneer Hy ons ‘strategies posisioneer’ vir Sy doelwitte.  So het die Here Adam en Eva strategies in Eden geplaas.  Dis immers presies wat die frase “and there He put man” in Gen 2:8 beteken.  Hierdie posisie en plek waar God ons plaas is onontbeerlik vir enige verdere groei en Koninkryksinvloed wat Hy ons toelaat om te hê. Die dorp, die mense, die tipe werk, die omgewing, die tyd, alles werk mee in God se voorsiening aan jou, om Sy wil te doen.

In Malcolm Gladwill se boek staaf hy hoe mense se sukses nie soseer afhang van hulle DNA en genetiese samestelling nie, maar van die omgewing, die familie, vriende en ondersteuningsnetwerk wat om hierdie persone is.  Soos met Jesus het God ook vir jou ‘n liggaam voorberei om deel van te wees. (Heb 10:5) Jesus is alreeds in Adam, daarna Abraham, Isak en Jakob, asook Sy hele geslagregister geposisioneer vir Sy aankoms en verskyning aan die mensdom.  So het God ons ook voorberei vir die werk op hande.

2014 is dus die jaar van groei vir ons gemeente. Oor die laaste 14 jaar het die Here ons toegerus, ons kapasiteit vergroot, ons denke vernuwe, en ons lewe gereformeer in lyn met Sy Woord, en sal Hy aanhou om dit te doen. Die Here het in sommige van ons in 2013 groot skuiwe bewerk vir nuwe groei, ander gaan beleef hoe die Here hulle in hierdie nuwe jaar weer skuif en posisioneer vir groei, en sommige moet nog die skuif maak om deel te word.  Hierdie proses hou nooit op nie, maar ek is opgewonde oor hoe die Here my en Chantál nie net fisies geskuif het in die jaar nie, maar ook hoe Hy ons innerlik versterk het, vir ‘n nuwe tydvak in ons lewe en bediening.

Dinge waaraan ons aandag gaan gee in 2014:

  • Die Here het ons geroep vir die Olifantsriviervallei, spesifiek die Afrikaans sprekende. Ons vertrou die Here dat Hy ons gaan help om meer in Afrikaans te doen. Die webtuiste volledig in Afrikaans is gereed en opgegradeer. Ons wil meer Afrikaanse liedjies skryf en sing, en ons het ‘n paar boeke wat ons graag wil voltooi en uitgee. Ons wil ook ons radio bediening verbeter en meer ontwikkel.
  • Ons mense is wonderlik toegerus oor die jare, en nou is dit tyd om te bedien, en uit te gee, dit wat jy geleer het toe te pas en ander te leer wat jy geleer het. Ons gaan nuwe huiskerke plant, en ons opleiding uitbrei sodat diegene wat toegerus is , ook die geleentheid kry om te leer en ander toe te rus.
  • Leon en Liebenette begin ‘n nuwe huiskerk vir jong getroudes of paartjies wat gaan trou.
  • Ons gaan publiek met ons lofprysing en aanbidding. Opelug en straat byeenkomste van tyd tot tyd waar ons aanbid en die Here vertrou vir ‘n kragtige demonstrasie van Sy koninkryk om mense te bevry en te restoureer.
  • Kort seminare oor – huwelike, ouerskap, sakevernuf en die persoon en werk van die Heilige Gees.
  • Ek en Chantál gaan soos ons kan ook tyd afstaan aan ons tieners, een van die eerste fokus areas die jaar, ontdek jou eie Christus identiteit.
  • Boere in God se koninkryk gaan ook ‘n belangrike fokus wees hierdie jaar. Ons bou voort om elke plaas in ons gemeente ‘n ware Jesus plaas te maak, en God se koninkryk te vestig. Goeie werksverhoudinge en optimale produksie deur:  opleiding, leierskap ontwikkeling, huisvesting, waardes en etiek, en ekonomies bemagtiging. Ons vertrou ook die Here om opkomende boere te mentor in Afrika d.m.v. ons Afrika uitreik model.  Ons vlieg al vroeg in die jaar met ‘n paar boere na Uganda, om die hoenderprojek uit te brei, en te gaan kyk na nuwe landbou moontlikhede in hierdie land.
  • In ons eerste kwartaal begin ons met ‘n nuwe Bybelskool kursus nl. “Die Jesus Lewe”. Ons gaan leer hoe om prakties soos Jesus te lewe, in terme van jou tyd, jou gesin, familie en vriende, jou gewoontes, belangrike rituele en jou innerlike welstand.  Die kursus is nie net vir gemeente lede nie, en ons gaan dit in al drie die dorpe aanbied.
  • Ons Mannekamp skuif weer terug na die begin van die jaar, so verwag die datums einde Maart.  Hierdie jaar gaan ons groot!  Plaaswerkers, voormanne, bestuurders en boere moet nie hierdie geleentheid misloop nie!
  • Ons vertrou ook die Here om meer sigbaar te wees in die gemeenskappe waar God ons geplaas het, in ons ouetehuise, hospitale, skole, en die armstes van die armstes. Ons werk in HUG het ‘n reuse hupstoot gekry deur Rob en Jan Mathis se betrokkenheid by Ubuntu Crèche in Riverview informele nedersetting. Die crèche word tans ontwikkel om ‘n volwaardige onderrig sentrum te word, sodat die kinders ‘n beter kans en self ‘n voorsprong sal kan hê wanneer hulle skool toe gaan.  Sodoende kan ons begin om die siklus van armoede te breek in hierdie gemeenskap. Ons beplan ook om van die begin van die nuwe jaar met ‘n Bybelskool in die buurt te begin o.l.v Rob Mathis.  Die doel is om die kerkleiers beter toe te rus, sodat hulle weer hulle mense beter kan lei en help.

Soveel mense se gelukwensinge en woorde van bemoediging vir ons vir 2014, en tydens ons huweliksherdenking en my verjaarsdag het die woord ‘groei’ bevat.  Groei is ‘n teken dat daar lewe is.  Orals waar daar lewe is, is daar groei.  Ons gemeente en bediening lewe, want Jesus is ons lewe.  Hy is die lewe van ons bediening.  Die uitkoms van ons bediening is Jesus. Die metode van verandering, transformasie, en reformasie is Jesus! Die hoof van ons kerk is Jesus en Hy is die middelpunt waarom ons hele sonnestelsel beweeg.  Een van die eerste dinge wat ons mense leer in ons gemeente is om akkuraat God se stem te kan hoor, te onderskei en te toets aan die woord.  Ons ideaal is om mense te bou op Jesus as fondament.  Groei is dus onvermydelik en spontaan, dis normaal en deel van ons DNA.  Ons groei in geestelike volwassenheid in Hom, maar ons groei ook in invloed en gesag soos God Sy grondgebied deur ons vergroot in die Olifantsriviervallei.

Vrede en Genade vir julle elkeen wat deur God saam met ons geroep is tot hierdie pad en reis van die geloof in Christus Jesus ons Here!