Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Preke

Hoe sien ek reg?

Gesonde hart – gesonde fokus

Dit is so ‘n voorreg om te kan sien! Die glorie van ‘n pragtige sonopkoms, wanneer die veldblomme blom, die eerste bloeisels bot, of die glimlag van die liefling van jou hart! Maar sig word nie bepaal deur die oog nie. Die brein verwerk die data en interpreteer dit deur die filters van ons ervarings en ‘n paar raaiskote om die ware identiteit van ‘n voorwerp te bepaal.[1] Sommige sien nie die waarde van die pragtige veldblomme raak nie, want hulle is op iets anders gefokus en stel nie belang nie. 

In die Griekse taal word die wyse van sien met verskillende woorde omskryf:

βλέπω blépō – Om in staat te wees om te sien, dit wil sê om die fakulteit van sig te hê, en soos van blindes gesê, om sig te kry.

θεωρέω theōréō – Om mooi na te gaan. Om met belangstelling te kyk en na ‘n doel, dui gewoonlik op die noukeurige waarneming van besonderhede.

εἴδω eídō – Om met begrip te sien, om te weet.

Ons inkeer na die Here het alles met hoe-ons-sien te doen. (Mat 4:17) Daarom die wonderlike ou lied: “I once was blind but now I see.”

Redding is ‘n paradigma skuif, om tot nuwe insigte te kom. CS Lewis, eers ‘n befaamde atheïs word ‘n Bybelse apologeet. Abby Johnson, ‘n aborsie kliniek Direkteur word ‘n anti-aborsie aktivis.[2] Nabeel Qureshi vertel in sy boek hoe hy Islam verlaat het om die Christen geloof aan te neem. [3] 

Die woord bekeer – μετανοέω metanoéō beteken:

  • ‘n verandering van plek of toestand,
  • om die verstand te oefen, te dink, te verstaan.
  • Om tot nuwe insig te kom.
  • Om berou te hê, verander van gedagte, berou.
  • Teologies ‘n ware hartverandering na God.
Samelewing se Persepsies

As individue, maar ook as samelewing vorm mense gedurig stigmas, persepsies, en bou propaganda, as kragtige verdraaiings van die werklikheid. Wanneer mense hierdie verdraaiing begin glo as die waarheid vind die mees ondenkbare afgryslike gruweldade teenoor die mensdom plaas.  Hierdie visuele verdraaiing in ons brein word ‘n sistemiese strukturele sonde – soos rassisme, klassisme.  Die onderbewuste vooroordeel is baie kragtig: ons brein het negatiewe vooropgestelde idees gevorm en filters wat die waarheid verdraai. Ons teorieë is onvolledig, eensydig, ‘n gedeeltelike deel van die waarheid.

Oorloë ontstaan as gevolg van wat ‘n groepering kollektief glo, aldus sien van ‘n ander groepering. Propaganda en die beheer van inligting is die hoofinstrument om die ‘n oorlog sentiment aan die gang te hou.  Die bekende filosoof Jordan Peterson: verklaar “wit minderheidskapitaal is ondenkbaar en misplaaste rasionaal.  Die idee dat ‘n etniese groep met ‘n kollektiewe sonde vereenselfwig word is blatant rassisties, gevaarlik en het al tot verskeie etniese suiwering gruweldade gelei. Bv. Die boere werkersklas Hootsies teenoor die elite leiersklas Tootsies (Kenya), die sosialistiese uitwissing van Russiese vooraanstaande boere die Kulaks[4], die Duitse uitwissing van die Jode. Apartheid was ‘n miskenning van nie-wit mense se menswees en etikettering as arm, swak, dom, vuil, ‘n minderwaardige klas en ras. 

Te midde van ‘n globale pandemie sien ons meer en meer protesoptogte wêreldwyd, die “black-lives-matter” beweging kry internasionale steun met optogte in 4044 stede regoor die wêreld.[5] NP van Wyk Louw het gesê, “jy wen nie jou reg tot selfbeskikking deur ‘n ander af te breek nie” #ALL LIVES MATTER. Daar is ‘n baie dieper grondmotief agter al heirdie proteste: Mense wil elkeen waardevol voel. Niemand verdien disrespek, minagting, weersin, aversie, aanstoot of afkerigheid nie.  Selfs nie die sondaar nie!

‘Ek weet nie met watter wapens die 3rde Wêreld oorlog beveg gaan word nie, maar met die 4de wêreld oorlog sal daar met stokke en klippe gestry word.’ Albert Einstein 1949

Die Nuwe Normaal

Ons almal begeer na die grendel tyd, dat alles sal terugkeer na normaal. Maar die normaal waarna ons soek was nie gesond of reg nie. Dit was juis die wanbalans van kapitalistiese materialisme wat ons in hierdie pandemie gedompel het. Die arm – ryk polarisasie is wyer as ooit. Die GINI Indeks staan op 67 ongelyke samelewing. Die salaris wat ‘n fabriekwerker verdien teenoor dit wat die bestuurder verdien is te ongelyk. Dit het gelei tot ‘n dualistiese ekonomie en samelewing. 

James (“Jim”) Coulter is die mede-uitvoerende hoof en ‘n stigtersvennoot van TPG en die mede-besturende vennoot van The Rise Fund. TPG, wat in 1992 gestig is, is ‘n toonaangewende private beleggingsfirma wat meer as $ 88 miljard se bates bestuur. Hy bied jaarliks ‘n projeksie vir die bekende Bloomberg Platvorm aan: Hy som ons situasie op dat ons al die simptome beleef van ‘n Oorlog-ekonomie. [6]

  1. Herbenutting van vervaardigings lyne
  2. Gratis konserte en internasionale solidariteit
  3. Groot kollektiewe besteding

Wat leer ons uit oorlogstyd-ekonomieë?

  1. Dit gaan gewoonlik langer aan as wat verwag is
  2. Groot wenners en groot verloorders
  3. Die regering word ‘n groot speler
  4. Mense mobiliseer
  5. Resessie volg
  6. Groot samelewingsveranderings – Industriële ondernemerskap.

In enige krisis gaan mens deur 6 stadiums:

  1. Ontkenning
  2. Ons het ‘n probleem
  3. Ons het ‘n plan
  4. Plan misluk
  5. Onsekerheid en paniek
  6. Werklikheid
WAT IS GOD SE NORMAAL?

Dus nou die vraag? Hoe sien die kerk hierdie krisis? Hoe kan ons seker maak dat ons regsien? Dat ons nie mislei word deur sosiale media nie? Dat ons die realiteit reg gaan benader?  Hoe sien ons hierdie wêreld? Wat is God se normaal?

The light of the body is the eye: if therefore thine eye be single, thy whole body shall be full of light. But if thine eye be evil, thy whole body shall be full of darkness. If therefore the light that is in thee be darkness, how great is that darkness! (Mat 6:21-22)

“Jou oog is ’n lamp vir jou liggaam. ’n Suiwer oog laat die lig na binne stroom sodat jy daarbinne geheel en al lig word. 23Maar as jou oog vuil en sleg is, versper dit die lig en jou binneste bly geheel en al donker. As die lig wat jy gedink het jy het, in werklikheid donkerte is, hoe pikswart is jou donker dan nie! (Mat 6:21-22)

Die woord lig in die vers beteken olie-lamp. Wat veral betekenisvol is mbt. die gelykenis van die 5 dwase maagde. Ons lewe is ‘n lamp. (Matt. 5:15) Ons kan nie ons lewenslig wegsteek nie. Die kort verduideliking van hierdie vers is dat die gefokusde oog wat innerlik in denke gesond is sien wat werklik mooi en waardevol is. ‘n Siek oog misreken die ware identiteit en waarde van ‘n voorwerp en behandel dit met minagting as waardeloos.  Kinders verstaan nie sentiment nie of die waarde van dinge nie.  Daarom gee jy nie ‘n kind ‘n duur erfstuk wanneer hulle nog kind is nie, want hulle besef nog nie die waarde nie.  

Waarom word hierdie vreemde stelling tussenin vasgedruk tussen, “waar jou skat is daar sal jou hart wees” (Mat. 6: 19-21) en “jy kan nie God en mammon dien nie” en die sorge van hierdie lewe dien nie. (Mat. 6:24)?  Jesus vertel later van die vrygewige meester wat werkers die hele dag gewerk het dieselfde loon gegee het as die wat gewerk het vir uur. “Of is u oog sleg omdat ek is ek goed?” Mat 20:15 Hier verwys hy na die jaloesie, en afgunstige gedagtes van die mense teenoor mekaar.

WAT JY WAARDE AG

Die hele ekonomie sentreer rondom die vraag en aanbod en waarde van ‘n sekere produk. Oornag het die waarde van winkelsentrums afgeneem, en die waarde van DIY huis, tuin, broodbak, en kosmaak produkte het toegeneem.  Maar die ware probleem van regsien, is die waarde wat ons aan mense toeskryf.  Iemand met ‘n graad, en wat ‘n noodsaaklike diens lewer soos ‘n mediese dokter word as ‘n persoon van hoë waarde beskou.  Ons behandel die mense met respek, hulle het ‘n sekere aansien in die gemeenskap en hulle woorde en opinies het waarde.

Daarenteen word mense wat algemene werk verrig soos die van ‘n bediende of skoonmaker as minder belangrik beskou. Verder: 

  • ‘n pa sien sy dogter as ‘n seksuele objek en misreken geheel en al haar waarde, haar persoon, haar toekoms, haar toekomstige man en kinders, deur net sy eie seksuele behoefte te bevredig.
  • ‘n sakeeienaar sien sy werksmense net as ‘n robot en masjien wat hy kan gebruik om meer geld te maak, en dryf hulle genadeloos sonder om hulle te vergoed vir wat hulle waarde werklik is.
  • ‘n vrou en haar kinders sien hulle man en pa net as die broodwinner, voorsiener wat moet sorg dat daar genoeg geld is.
  • ‘n man sien sy vrou net as ‘n bediende wat moet sorg dat daar kos op die tafels is, klere gewas is, en die huis aan die kant is.
  • Die meeste mense sien nie eers die waarde in hulleself nie! Hulle voel self nie waardevol nie. Integriteit, werk-trots is gevolge van ‘n gesonde self-waarde.

Wanneer jy iemand van waarde ag, behandel jy mos die persoon anders. Jy is respekvol, eerbiedig en liefdevol. Ons beloon graag die mense van waarde in ons lewe met geskenke.

Jesus het die sondige mensdom genoeg van waarde geag, dat Hy Sy lewe vir ons gegee het. (Joh 3:16)

Jou hart is oop teenoor dit wat jy van waarde ag. Jy spandeer tyd, aan dit wat jy van waarde ag. Jy offer op vir dit wat jy van waarde ag. 

Mag die Here ons harte kom genees, ons vooropgestelde idees, ons persepsies, ons misrekende gevolgtrekkings wat ons oor mense maak. Sodat ons mense sal sien soos God hulle sien.

Kom ons begin by ons naaste: Die wat God oor ons pad stuur. (Luk 10:25) Die Barmhartige Samaritaan.

 

 

[1] Gregory R.L. 1966. Eye and Brain: the psychology of seeing. London: Weidenfeld & Nicolson; 5th edition 1997, Oxford University Press/Princeton University Press. ISBN 0-691-04837-1

[2] https://en.wikipedia.org/wiki/Unplanned

[3]  Qureshi, Nabeel; Strobel, Lee (2014-02-11). Seeking Allah, Finding Jesus: A Devout Muslim Encounters Christianity. Place of publication not identified: Zondervan. ISBN 9780310515029.

[4] https://en.wikipedia.org/wiki/Dekulakization

[5] https://www.creosotemaps.com/blm2020/

[6] https://onlinexperiences.com/scripts/Server.nxp?LASCmd=AI:4;F:QS!10100&ShowUUID=27E22C9C-7E82-44A7-B177-9D97502A6526&LangLocaleID=1033&AffiliateData=tyemail