Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

DOOP in die Heilige Gees

DOOP in die Heilige Gees - Harvester Gemeente | Olifantsrivier

Die wonderlike natuurlike voorsiening wat God gee word dikwels deur satan verdraai, of vervals sodat ons dit verwerp. Uitgehonger aan God se liefde, koop ons dan makliker in tot die swak  nabootsing wat satan ons aanbied. Ons as mens het almal ‘n geestelike spirituele honger. Hoekom sou so baie Hollywood films ‘n geestelike of bonatuurlike ondertoon hê? Mens kan maar net gaan kyk hoeveel rakspasie new Age, oosterse mistisisme, esoteriese temas in vandag se populêre boekwinkels het. Die doping met die Heilige Gees is wat ons Skepper God ons mee wil seën, sodat ons gevul kan word met die Gees van Christus en die Vader! Hy wil ons vul met Homself! As ons dan geskape is om soos Christus te wees, ons die mooiste mense is wanneer ons soos Hy leef en handel, hoekom dan nie ons vul met Sy Gees, gesindheid, volheid, krag en heerlikheid nie? Tog is die onderwerp vol kontroversie, en is daar so baie stories van mense wat die vervalsing, nabootsing, verdraaiing van die ware beleef het, en aanstoot geneem het! Mag hierdie verduideliking en Bybelstudie jou help om nie net die ware volheid van die Gees self te beleef nie, maar saam met miljoene gelowiges deur die eeue bekragtig te word om ‘n beter getuie van die weg van Christus te wees!

Die doping in die Heilige Gees is problematies want dit skei gelowiges: Die wat in tale praat en die wat nie. Moet almal dan in tale praat? Is tale praat die enigste bewys dat ek gedoop is in die Heilige Gees? As tale dan nie die bewys of teken is dat iemand gedoop is in die Heilige Gees nie, wat is die teken? Diegene wat in tale praat, doen ook sonde. Maar die wat nie in tale praat nie, doen ook tog nog sonde? Hoe weet mens dan of jy gedoop is in die Heilige Gees?  Diegene wat in tale praat, gee voor dat hulle beter gelowiges is, ‘n soort elite groep? Diegene wat nie in tale praat nie, voel dalk hulle mis uit op hierdie ervaring, en dat dit sekerlik nie vir hulle bedoel is nie. Want, as God dit vir hulle sou wou gee, dan het hulle ook tog in tale gepraat.

Kan jy nou sien: hier is baie vrae, baie opinies. Maar wat sê God se Woord? Wat is God se hart en wil vir ons? Hoekom gee Hy dan net sekere spesiale gawes, vir sekere spesiale mense?

Laat die Skrif self die Skrif uitlê

Om verwarring en wanopvattings te voorkom, moet ons eers kyk wat die Bybel bedoel met sekere begrippe  en gebeurtenisse rakende die Heilige Gees.  Daar is verskillende terme in die Bybel wat gebruik word om die gebeurtenis van die doop in die Heilige Gees in ’n gelowige se lewe te beskryf.  Hier volg ’n lys en kort verduideliking van elke begrip.  Wanneer dit by moeilike begrippe kom, is dit altyd ’n goeie Skrifuitleg-beginsel om toe te laat dat die Bybel self die begrip verduidelik en omskryf.  Met ander woorde: Is daar ’n ander gedeelte in die Bybel wat dieselfde uitdrukking gebruik en wat dalk meer lig kan werp op die eerste vers? In plaas daarvan om my opinie of verklaring te probeer soek, slaan ek in die Woord na of die Skrif nie dit dalk self verklaar nie.

“Doop in die Heilige Gees.” Ons lees die eerste keer van hierdie begrip toe Johannes Jesus gedoop het. Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. (Mat 3:11 en Joh 1:32-34) Jesus herhaal hierdie woorde na Sy opstanding, wanneer Hy in die hemel opvaar en hulle beveel om op die Heilige Gees te gaan wag. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”(Acts 1:5) Hierdie Skrif is letterlik vervul ’n paar dae later toe die Heilige Gees wel uitgestort is. (Acts 2:1-13) Die begrip, doop in die Heilige Gees, dui dus baie duidelik op die belewenis en ervaring wat die dissipels op Pinksterdag beleef het.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat ons nie praat van die doop van die Heilige Gees nie, want die Skrif is duidelik dat Jesus die doper is van die Heilige Gees.  Hierdie gebeurtenis is dus nie ‘n afspraak met iets wat gaan gebeur nie, maar ‘n ontmoeting met ‘n persoon, naamlik Jesus.  Jesus self  vul ons en doop ons in die Heilige Gees.

Die woord “doop” in hierdie geval is “Bapto” wat beteken, onderdompel, soos ’n boot wat sink en in die binnekant vol water raak.  Doop is ’n oorvloedsbegrip. Dit dui daarop om ondergedompel in, of oorspoel met iets te word; in hierdie geval met die Heilige Gees.  Om in die Heilige Gees gedoop te word, is om met Hom  oorspoel te word.  Die volgende begrippe kan ook  hierop dui en verduidelik die effek op iemand  wat met die Gees gedoop word.

Mense wat gedoop is met die Heilige Gees vergelyk die ervaring met soos water:“uitgestort” (Acts2:33) is oor iemand; jy iets “ontvang” (Acts 8:15,17) soos ‘n geskenk; die Heilige Gees “oor julle kom”  (Acts 1:8) soos ‘n wolk of bonatuurlike krag; ‘n voorwerp “vol van die Heilige Gees” (Hand 6:3) tot oorlopens toe vol gemaak word; “Heilige Gees op hulle geval” (Acts 11:15) soos ‘n kombers, lap of sagter voorwerp oor jou gegooi word. Hierdie woorde verduidelik baie mooi: dat hier ‘n duidelike ervaring, belewenis met die bonatuurlike gebeur het. Mens gebruik tog nie dié bogenoemde woorde om jou opgewondenheid oor die verstaan van ‘n nuwe skrif begrip te omskryf nie? Die doping met die Heilige Gees is baie duidelike bonatuurlike sintuiglike gebeurtenis in ‘n mens se lewe.

Jesus belowe hierdie oorvloedbegrip vir almal: Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang. Die Gees was nog nie uitgestort nie, omdat Jesus toe nog nie verheerlik was nie. (Joh 7:37-39) Strome is weereens ‘n oorvloedsbegrip! Mens voel oorweldig, ekstaties, eufories, opgewonde, oorstelp van vreugde alleenlik wanneer jy ‘n diep betekenisvolle ervaring met die Heilige Gees gehad het! Alhoewel die intellektuele dimensie van ons spirituele verhouding met God belangrik is, kan dit nie ten koste van ‘n emosionele ervaring wees nie. Die Gees (ervaring) en Woord (kennis) behoort mekaar te komplimenteer.

Onderskeid tussen die fontein in jou binneste en strome van lewende water wat uit jou binneste uitvloei.

Jesus tref ’n onderskeid toe Hy die Samaritaanse vrou antwoord: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water  wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Joh 4:13-14) Hier is die woord “fontein” in die enkelvoud terwyl die woord “strome” in Joh 7 in die meervoud is.

In Johannes 4 verwys Jesus na bekering of dan wedergeboorte, wat soos ’n innerlike fontein van lewe in ’n mens borrel en jou individuele dors behoefte voorsien.  In die verwysing na die huttefees, is daar strome wat uit die persoon vloei tot die voordeel van ander se dors.  Dis ’n mooi onderskeid en verduideliking van hierdie twee gebeurtenisse in ’n gelowige se lewe.  Wedergeboorte les jou persoonlike dors en behoefte na God, terwyl die doop in die Heilige Gees jou laat oorloop om ook ander se dors te les.  Eers kom woon God in jou deur Sy Gees, maar dan kom vul Hy jou en oorspoel jou met Sy krag en heerlikheid om Sy getuie te wees vir die Wêreld.

“Belofte van die Heilige Gees” (Acts 2:33)

“Gawe van die Heilige Gees” (Acts 2:38)

Die “gawe” is nog ’n moeilik term wat ons nie altyd mooi verstaan nie, en  wat is hierdie sogenaamde belofte?  Petrus verduidelik dit self deur middel van die belofte in Joël 2:28-29.  Let op dat die omskrywing van hierdie belofte en gawe in ons lewe nie na ’n innerlike werk van wedergeboorte verwys nie, maar na ’n bonatuurlike gawe om te kan profeteer, visioene te sien en te kan drome droom.  Sommige bepaal dat die doop in die Heilige Gees betrekking het op die verwesenliking van die Nuwe Verbond. Want  hoekom  praat Petrus  nie oor die Skrif in Jer 31:33-34 of enige ander Nuwe Verbond-verwysing nie?  Wanneer die Nuwe Verbond in Hebreërs breedvoerig verduidelik word, word die gawe van die Heilige Gees of die doop in die Heilige Gees nie genoem nie.  Die gawe van die Heilige Gees is dus die openbaring en aktivering van die bonatuurlike gawes van God in ons menswees. maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde. (Acts 1:8)  Sommige teoloë wat glo dat die Heilige Gees se werk, en gepaardgaande wonderwerke opgehou het, suggereer dat die skrif in Handelinge en vroeër kerk vervul is.  Vanuit hierdie perspektief sou Efese dan die Uithoeke van die Wêreld wees.  Dit kan tog nie wees nie, veral nie vanuit ‘n historiese perspektief waar soortgelyke gebeure deur die geskiedenis op verskillende plekke regoor die wêreld gebeur het en nog steeds gebeur nie.

Jerusalem en Judea – (Acts 2:1-13)

Judea – (Acts 9:10-12,17)

Samaria – (Acts 8:14-19)

Uithoeke van die Wêreld – (Acts 10:44-46; 19:1-6)

Met bekering en wedergeboorte ontvang ons die geregtigheid van Christus, om godvrugtig in karakter en leefstyl te leef. Ons ontvang kindskap, ons ontvang ‘n goddelike vermoë om reg en heilige te lewe.

Deur die doop in die Heilige Gees gee God ons die gawes  om bonatuurlike dinge te  doen tot die uitbreiding van die koninkryk en die opbou van die liggaam.  Bekering, wedergeboorte en heiligmaking is dus deel van die Heilige Gees se innerlike werk in ons om te groei in wasdom en die volheid van Christus. Die doping in die Heilige Gees is ‘n bekragtiging in die gereedskap van verlossing om ander mense vry te maak.  Die Doping met die Heilige Gees is dus ‘n uitwaartse werk van die Heilige Gees, van binne na buite.

Vervul” met die Heilige Gees en “Vol” van die Heilige Gees 

Die woord “vervul”, “Pletho” in die Bybel, beteken om soos ’n spons weer en weer gevul te word. Dis soos iemand gevul met iets (soos om ’n glas met water te vul, die water uit te gooi en weer te vul).  Teksverse waar hierdie woord gebruik word, is byvoorbeeld:

Profesieë oor Jesus se lewe – (Luk 1:151:41-421:67-69) en die spesifieke verwysing waar mense gevul is of gedoop is in die Heilige Gees. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. (Acts 2:4) Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel (Acts 4:8) En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek. (Acts 4:31) En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word.  En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop. En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was ’n paar dae saam met die dissipels in Damaskus. En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is. (Acts 9:17-20) Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê: (Acts 13:9)

‘n Ander woord is “Pleroo” of “Plesres” wat die volgende beteken: om te deurdrenk, te vervul, vol te maak, tot volheid te bring, volledig;  letterlik ’n net vol te maak sodat dit span;  versadig te wees, klaar te maak, iets af te handel, perfek en volmaak.

(Luk 4:1; Acts 6:3, 5; 7:55; 11:24; 13:52; Eph 5:18)  Hierdie verwysings dui meer op ’n diep innerlike werk wat aanhoudend duur, en nie bloot ’n eenmalige of selfs meermalige gebeurtenis nie.  Dit dui meer op ’n toestand as ’n spesifieke gebeurtenis. Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel; (Acts 6:3) Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. (Acts 7:55) want hy was ’n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en ’n aansienlike skare is aan die Here toegebring. (Acts 11:24) En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees. (Acts 13:52) Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul. (Eph 5:18)

Om vervul te wees met die Heilige Gees dui op ’n spesifieke gebeurtenis waar die Heilige Gees ’n persoon in staat stel om iets bonatuurlik en buite sy  vermoë  en geaardheid te verrig.  Daarenteen, om  vol te wees met die Heilige Gees, het meer ’n blywende betekenis. Dis iemand wie se lewenswyse en handeling spreek van die volheid en heerlikheid van God in hom.

’n Bybelse dogmatiese begrip en verstaan van die Doop in die Heilige Gees.

Wanneer ons oor die werk van die Heilige Gees praat en spesifiek die vervulling of doop in die Heilige Gees – in besonder die spreek in tale – is daar gelowiges wat voel hulle is minderwaardig of nie heeltemal gered as hulle nie ook in tale praat nie.  Diegene wat in tale praat, word beskuldig van elitisme of eksklusiwiteit. Daar is duidelik heelwat verwarring maar die Heilige Gees sal deur die Woord ons lei om insig te kan hê in die waarheid.  Ons is die enigste geloof in die wêreld wat glo dat jy niks kan doen om  aanneemliker en meer aanvaarbaar  vir  God  te wees nie.  Ons moet dit dus duidelik stel: Dis nie ons kerklidmaatskap, goeie werke en offergawes wat ons regverdig maak nie. aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. (Rom 4:5)

Kom ons verduidelik dit so: Jou een kind wat nog nie kan lees of skryf nie, is nie minder aanvaarbaar as jou ander kind  wat wel kan nie!  God se liefde is nie meer, óf ons is nie beter kinders omdat ons nou sekere dinge kan doen nie.  Die doop in die Heilige Gees rus ons net in die Gees toe vir sekere take, maar ek moet nog steeds d.m.v. my karakter en dade aan God eer bring.  ’n Kind wat kan lees en skryf, is dalk meer ongehoorsaam as die wat nie kan nie.  Wanneer ek sekere gawes ontvang om bonatuurlike dinge te doen, vrywaar dit my nie daarvan om in godsvrug te wandel nie.  Nee, juis te meer moet ek let op my manier van doen, en hoe ek leef en praat.

Bekering, saligheid, redding, verlossing, wedergeboorte is almal wisselterme om te beskryf hoe ons as individue van die koninkryk van die duisternis oorgegaan het na die koninkryk van die lig.  Om hierdie gebeurtenis in een begrip op te som, is nie moontlik nie, want daar is verskillende fasette en prosesse waardeur jy gaan om redding deelagtig te word.  Redding is ‘n goddelike ingryping wat deur  verskillende begrippe en woorde elkeen ’n verskillende aspek van redding verduidelik. Wanneer ons die een begrip teenoor die ander een stel, bedoel ons nie noodwendig dat redding verskillende gebeurtenisse of fases is nie – dis net verskillende perspektiewe op een lewenslange gebeurtenis en reis.    Selfs hoe hierdie reis begin verskil: Op een plek praat die Skrif bloot van die wat tot geloof gekom het.  Op ’n ander plek sê Jesus as jy Hom wil volg, moet jy jouself verloën, jou kruis opneem en Hom dan volg.  Elkeen se bekering ervaring is uniek en God werk in elkeen se hart op Sy spesiale manier.  Sommige word binne ’n paar sekondes radikaal verlos van sekere bindinge, terwyl ander weer oor ’n tydperk bevry word.  Sommige het ’n radikale en duidelike sigbare, belewenis van redding; ander groei weer so stil-stil in dit in.  Elkeen is ’n legitieme werking van God se Gees, en nie belangriker of meer eg as die ander nie – die belangrikheid is per slot van sake die vrug.

Daar is ’n verskil tussen bekering en wedergeboorte!

Bekering is die besluit om Jesus te volg soos die dissipels.  Petrus het Jesus gevolg en selfs wondertekens beleef en ervaar. (Mat 10:1-20) Maar dit was nie voor die opstanding van Jesus dat die Nuwe Verbond in werking getree het nie.  Die Nuwe Verbond is duidelik: Hy verander ons natuur.  (Jer 31:31-33)  Wedergeboorte is ’n gawe wat God gee.  (Joh 1:12; Efe 2:8) Ons kan in die geloof Hom daarvoor vertrou, maar ons het niks daarmee uit te maak nie.  Dis bonatuurlik!  Wedergeboorte verander  jou natuur. (2 Cor 5:17) By bekering lê die onus op ons soeke en geloofsvertroue in Hom, maar by wedergeboorte is die onus op God wat die werk in ons doen deur Sy genade.

In teologiese denke is daar twee strome leerstellings wat ook beide hierdie begrippe  teenoor mekaar stel en nie die twee kan versoen nie.

Die een leer “Onweerstaanbare genade”. Hierdie leerstelling kom ook van Augustinus af. Hoewel hy aanvanklik die vrye wil van die mens verkondig het, asook God se begeerte om alle mense te red, het Augustinus later van standpunt verander. Geloof het vir hom iets geword wat God onweerstaanbaar in die uitverkorenes se harte Homself uitstort sonder dat hulle enigiets glo, enige besluit geneem het of daarvan bewus is dat hulle wedergebore is. Volgens hierdie redenasie is mense van nature só dood in hulle sonde dat hulle nie eers die evangelie kan hoor nie, en nog minder op Christus se pleitende stem kan reageer. Onweerstaanbare genade is volgens die Calvinistiese siening nodig, ten spyte van die Here se roepstem aan almal: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matt. 11:28). “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink” (Joh. 7:37). Almal, selfs dié wat geestelik dood is, kan hierdie roepstem van die Here duidelik hoor.

Indien genade onweerstaanbaar was, is dit volgens Dave Breese (The Five Points of Calvinism) nie duidelik waarom die evangelie hoegenaamd verkondig hoef te word nie. [1] Die vrye genade van God impliseer dat ons, terwyl ons nog goddeloos was, net deur Christus gered is. Christus het immers aan die reg van God voldoen. God sien nie ons sonde lukraak oor die hoof nie. Jesus het die wet in ons plek volbring en in ons plek die skuld 100% betaal. Ons samewerking kan dus nie Christus se werk aanvul nie. Op geen manier nie. Alléénlik Christus se werk het ons gered. Hy het dit nie verrig ómdat ons Hom aangeneem het nie, maar net omdat Hy ons jammer gekry het. [2]

Die Arminianistiese siening is dat God almal wil red (1 Tim. 2:42 Pet. 3:9John. 12:32), maar dat dit net toeganklik is vir die wat dit glo (John. 15:10Joshua. 24:15John. 3:18).  Hierdie leer wat ‘n appèl maak op die wil van die mens om te besluit, kan weer baie mensgerig word, asof redding dan nou van ons afhang.

Albei sieninge het ’n goeie Skrifbasis, en daar is waarheid in albei hierdie sieninge, maar dit alleen is nie die volle waarheid nie.  Ons noem dit ’n antinomie, waar twee teenstrydige waarhede saam, die volle waarheid versinnebeeld.  Dis belangrik om hierdie begrip te verstaan, want eersgenoemde, die Calvinistiese groep, sal passief wag dat iets nou trouens moet gebeur, waar die tweede groep in die geloof dit vir  hulleself sal toe-eien.

Wanneer ons oor die bonatuurlike praat, moet ons gaan kyk na die Skriftelike getuienis en verklaring daarvan.  Nie een van die wonderwerke wat Jesus ooit gedoen het, het bloot net die mense te beurt geval nie.  Hulle moes tog reageer op iets wat Hy vir hulle gevra het om te doen, en dan het die genesing gevolg. Soos byvoorbeeld: Die man met die verdorde hand, moes eers sy  hand wat verdor was en nie kon beweeg nie, uitsteek! Hy kon gesê het: ”Maar Here, genees eers my hand, dan sal ek dit uitsteek.”  Aan die ander kant is dit tog duidelik: Die feit dat hy sy hand uitgesteek het, het hom nie genees  nie  – Jesus het Hom genees!

Met redding is dit tog nie my geloof wat my red nie!  Wanneer ek egter die Woord hoor, deur wie Hy ook al gekies het om te praat, reageer ek op wat Hy vra, en  bonatuurlik gebeur daar iets met my wat ek later kan sien en ervaar.  (Rom 10:14-17) Stephan Joubert verduidelik die leer oor die uitverkiesing mooi in ’n onlangse uitgawe van Leef.[3] Die gedagte van uitverkiesing is ’n na bekering perspektief op God se raadsplan met my lewe.  Die woord “uitverkiesing” word altyd terugskouend in die Nuwe Testament gebruik; met ander woorde, om ons, wat alreeds deur Sy genade redding ontvang het, te verseker dat  wat Hy begin het, ook deur Hom voleindig sal word. Die gedagte van uitverkiesing vrywaar ons nie van ons verantwoordelikheid om te antwoord op Sy roepstem nie.

Wedergeboorte is ’n werk van God, Hy alleen doen dit, Hy alleen kry die eer!

As ek wedergebore is, is ek outomaties vervul met die Heilige Gees?

Daar is nie sprake van wedergeboorte sonder die Heilige Gees nie. nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees. (Tit 3:5)  Dit is baie duidelik dat wedergeboorte ’n werk is van die Heilige Gees.

Die vraag is: Is wedergeboorte en die verwysings in die vorige hoofstuk dan een en dieselfde gebeurtenis? Anders gestel: Is die verwysings in die vroeër in die studie oor terminologie bloot net wisselterme om wedergeboorte te verduidelik?  Nee, daar is tog ’n duidelike onderskeid! Daar is ’n onderskeid tussen bekering, wedergeboorte en doop in die Heilige Gees.  Alhoewel bekering en wedergeboorte een gebeurtenis kan wees met net twee perspektiewe daarop, is doop in die Heilige Gees duidelik iets anders.  Diegene wat die doop in die Heilige Gees ontvang het, was alreeds gelowig of gered.  (Acts 19:2) Die dissipels van Jesus wat in die bovertrek gaan wag het op hierdie gawe, was tog alreeds gered.  So ook Paulus na die ervaring op die pad van Damaskus toe hy deur handoplegging sy sig en die vervulling met die Heilige Gees ontvang het.  (Acts 9:17) Interessant dat die persoon wat hier die hande opgelê het nie een van die twaalf apostels was nie. Daar is ook sommige wat leer dat die gawes van die gees en die oordra daarvan met die dood van die twaalf apostels geëindig het.

Sou wedergeboorte en die doop in die Heilige Gees een gebeurtenis wees, wat stellig ook kan gebeur, dan soek ons die spontane tekens of getuienis in diegene wat sê hulle is vervul met die Heilige Gees.

Wat gebeur wanneer jy gevul word met die Heilige Gees? Wat is dus die bewys teken dat jy wel gedoop is met die Heilige Gees.

Tale spraak is ‘n belangrike sigbare bewys.

(Acts 2:4) – En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.

Die feit dat die heidene ook in tale praat, was beduidende teken vir die gelowiges, dat God dieselfde genade ook nou aan die heidene geskenk het.

(Acts 10:46) – Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie.

(Acts 11:15-18“Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin. Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?”

Die doping in die Heilige Gees is ‘n bekragtiging vir diens en getuie wees. 
(Acts 1:8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees.

Buitestanders kon die gebeurtenis sien, en was verbaas. Daar is dus ‘n uiterlike manifestasie betrokke.

(Acts 2:12) – Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?” Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

Die doping met die Heilige Gees bekragtig jou om die Woord te verstaan, en met gesag te verkondig.

(Acts 4:31) – Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.

Bonatuurlike dade word natuurlik vir mense wat gevul is met die Heilige Gees.

(Acts 2:43) – Die apostels het baie wonders en tekens gedoen.

Hierdie vers som pragtig op hoe ‘n gemeenskap van gelowiges funksioneer nadat hulle gedoop is in die Heilige Gees. Mense is honger vir die woord, is lief vir mekaar, herdenk die versoeningsmaal van Christus, en wil saam bid.

(Acts 2:42) – Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

Die persoon wat gedoop is met die Heilige Gees kry toegang tot God se geestelike gawes gereedskapskis soos Profesie.

(Acts 19:6) – Paulus het hulle ook die hande opgelê. Toe het die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle het ongewone tale of klanke gebruik, en hulle het geprofeteer.

Laastens, doping met die Heilige Gees, is om vol te word met klem op die “heilige” Gees. Jy word gevul met God se heiligheid, Sy teenwoordigheid. Mense wat gedoop is met die Heilige Gees, hou nie aan sonde doen nie.

Sommige bogenoemde eienskappe kom saam met wedergeboorte, maar waar dit die bonatuurlike gawes raak, is dit deur die doop in die Heilige Gees dat hierdie gawes geaktiveer word.  Ons kan dit so opsom: Wedergeboorte is die innerlike werk van die Heilige Gees met ’n innerlike manifestasie in jou karakter, waar doop in die Heilige Gees lei tot uiterlike manifestasies.

Dis tog duidelik wanneer dit by die lysie in 1 Cor 12 kom, dat hierdie gawes wat ook deur die Gees gegee en gewil word in ons lewens, tot die voordeel van ander is terwyl wedergeboorte dui op die transformerende werk van die Heilige Gees in ons harte om ons meer soos Christus te maak.  Wedergeboorte is tot ons eie voordeel, terwyl doping in die Heilige Gees tot ander se voordeel is.

Hierdie innerlike en uiterlike werk is nie in kontras met mekaar nie, en die een is nie  belangriker as die ander nie.  Ons het albei hierdie gebeurtenisse en werkinge van die Heilige Gees in ons nodig om Hom akkuraat te verteenwoordig op die aarde.

Waarom is tale so belangrik?

Paulus verklaar in 1 Cor 14:5: “Ek sou graag wil hê dat julle almal ongewone tale of klanke gebruik” Ons weet dat Paulus nie letterlik bedoel dat almal in tale móét  praat nie, want in 1Cor 7:7 wil hy nie hê dat almal sy voorbeeld, om selibaat te  lewe, letterlik moet navolg  nie.  Hy onderstreep dus net die belangrikheid van tale onder gelowiges.  Tale is belangrik, dis waarop dit neerkom. Paulus onderstreep die gebruik van tale verder deur homself as voorbeeld te gebruik, want hy predik tog nie iets wat hy nie self toepas nie, en hy wil hê dat sy lesers hom moet navolg soos wat hy ’n navolger van Jesus is.  “Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal.” (1 Cor 14:18)

Maar beteken dit dat hy so baie boodskappe in tale gespreek het in Korinte? Nee, inteendeel, net in die volgende vers sê hy: “Maar in die byeenkoms van die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand praat om ook ander te onderrig, as duisend woorde in ongewone tale of klanke.” Hy verwys dus hier na die gebruik van tale as gebed in sy binnekamer.  In vers 15 noem hy dat mens met jou verstand kan bid, maar ook met jou gees.  Waarom word hier ’n onderskeid getref, en presies hoe bid mens nou tog in die Gees?  Paulus maak dit duidelik dat iemand wat in tale spreek, se verstand onvrugbaar is. (1 Cor 14:14)

‘n Persoon kan met sy verstand bid, maar wanneer hy in tale bid, bid hy vanuit sy gees.  Iemand wat in tale bid, stig homself. (1 Cor 14:4) Wanneer ek egter in die gemeente in tale spreek en mense se aandag is daarop gefokus, moet so ’n taal uitgelê word sodat almal kan verstaan wat gesê is.  Die gawes in die gemeente is tot opbou en stigting van die gemeente. (1 Cor 14:12) [4]

Eerwaarde dr. Mark Stibbe verduidelik hierdie konsep baie mooi: Daar is ’n onderskeid  tussen tale as boodskap in die gemeente en ’n gebedstaal na gelang van die baie bekende gedeelte in 1 Cor 13:1: Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al  praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword.  Wat word bedoel met hierdie uitdrukking tale van mense,  en tale van engele?

Volgens hom is daar twee tipes tale (glossalalia): tale van mense (Xenolalia),  en tale van Engele (Angelolalia).

Tale van mense is op Pinksterdag gehoor toe die mense die dissipels in hulle eie taal hoor spreek het sonder dat daar ’n uitleg was. Wanneer tale van engele gebesig word, praat iemand in ’n hemelse taal en niemand kan dit  verstaan nie, behalwe as die interpretasie daarvoor van die Here ontvang word. Let wel: Uitleg van tale is nie ’n tipe vertaling nie.  Nee, jy verstaan of sien in die gees waaroor die persoon gepraat het en interpreteer die boodskap, sodat almal kan verstaan.  Dit is dus nie ’n woord-vir- woord vertaling nie, maar ‘n uitleg interpretasie van wat die persoon wat in tale praat gesê het.

Alle geestelike manifestasie moet  uiteindelik lei tot ’n verbale verduideliking of getuienis van wat innerlik gebeur het.

Smith Wiggelsworth het geleer dat alle geestelike manifestasie uiteindelik moet lei tot ’n verbale verduideliking of getuienis van wat innerlik gebeur het.  Alhoewel ons aanvanklik nie alle geestelike manifestasie verstaan nie, moet dit tog ten slotte verduidelik word en gerugsteun word deur die Woord,  tot opbou van die hele gemeente .  Daarom dat Paulus ook duidelike riglyne neerlê oor die bonatuurlike manifestasie van die Gees m.b.t. ongewone tale of klanke, en die uitlê daarvan sodat mense dit verstaan, daaroor kan getuig, saam bly kan wees en ook die subjektiewe ervaring kan saam beleef.

Wanneer ’n mens in tale praat, is jou verstand onvrugbaar; jy kan nie die woorde met jou intellek probeer saamstel nie.  Sou so ’n persoon, wat nog nie vervul is met die Gees, probeer om klanke te vorm en jy vra hom om sy naam te skryf, sou hy of sy dit nie kan doen nie. Iemand wat wel in tale kan praat, skryf maklik sy naam en adres neer terwyl hy in tale praat, want die tale kom uit sy/haar gees, nie uit die verstand nie.  Die Heilige Gees gee die woorde net soos enigiets wat Hy vir jou sê –  dit kom op dieselfde manier: as the Holy spirit gave them utterance (Acts 2:4) Die woorde wat die Heilige Gees gee, kom in jou gedagtes op en jy moet dit net uitspreek.  Jou gees is mos alreeds nuutgemaak, en Hy woon mos alreeds binne in jou; dis net ‘n kwessie van ‘n fontein wat nou strome van lewende water word.

Verskeie persone sal redeneer dat hulle wel gedoop is in die Heilige Gees, want hulle bid wel vir siekes en profeteer, maar hulle spreek nie in tale nie.  Hulle sal dan verduidelik dat almal nie hierdie gawe ontvang nie.  Die Pinkster Kerk se leer is spesifiek oor hierdie aspek, en is ook so vervat in hulle geloofsbelydenis.  “Talespraak is die inisiële teken van die doop in die Heilige Gees.”

Alhoewel feitlik al die Bybelse getuienis, van mense gevul met die Heilige Gees, gepaard gaan met talespraak, is die eerste Bybelse teken volgens die Woord duidelik: Julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom, om my getuies te wees  (Hand 1:8) Sekere mense kan al genoemde eienskappe ervaar sonder om in tale te praat.  Beteken dit dan dat hulle nie gedoop is met die Gees nie? Nee, sekerlik nie.  Hulle is duidelik gedoop in die Heilige Gees en het nog net nie die geloof om ook in tale te praat nie.  Hulle is dalk verkeerdelik onder die indruk dat talespraak ’n sekere gawe is wat hulle nog nie ontvang het nie. Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitlê? (1 Cor 12:30) Dit is duidelik in hierdie vers dat Paulus hier van die boodskap in tale, en gepaardgaande uitleg praat en nie van bid in tale nie.

Waarom moet ek in tale (gebedstaal) praat?

Om te bid in tale is die enigste bonatuurlik gereedskap wat opbouend tot self is. Al die ander gawes is tot die opbouing en stigting van ander. Iemand wat in tale bid bou en stig jouself – Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid (Jud 20:???) Want hy wat in ’n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede. Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging. Hy wat in ’n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente. (1 Cor 14:2-4) Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek.(1 Cor 14:28) Hierdie laaste vers dui ook duidelik daarop dat Paulus die persoon aanmoedig om in sy binnekamer te gaan bid in tale, maar indien hy in die gemeente in ’n taal profeteer, dan moet dit uitgelê word.

Geesvervulde Lofprysing – Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. (Acts 2:11) Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing. (1 Cor 14:15-17) Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. (Hand 10:46) Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, (Eph 5:19) God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. (Joh 4:24) Deur ervaring is ek bewus daarvan dat daar ’n duidelike onderskeid is in die lofprysing van iemand wat vervul is in die Heilige Gees en die wat nog nie die gawe ontvang het nie.  Saam met die doop in die Heilige Gees kom daar dikwels ’n uitbundigheid, opgewondenheid en opborreling van ekstatiese blydskap.  Iemand wat gevul is met die Heilige Gees is minder geïntimideer deur mense en sal meer sorgeloos die Here aanbid en bid.  Daar is egter altyd uitsonderings, want God werk soos Hy wil.  Dis asof jy saam met die doop in die Heilige Gees beter in die Gees sien en verstaan.  Jy verstaan dikwels nie volkome met jou verstand nie, maar het vrede en ’n bevestiging van waarheid in jou gees. Omdat jy God direk ervaar, is daar spontaan ‘n meer ekspressiewe aanbidding van wie Hy is.

Geesvervulde Gebed – Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. (1 Cor 14:15) Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek. (1 Cor 14:28) En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. (Rom 8:26) Alhoewel laasgenoemde vers verwys na die versugting van die Heilige Gees wat vir ons intree, verstaan geesvervulde gelowiges wel iets daarvan, want die Gees woon immers mos nou in jou, en daar is dikwels geen onderskeid tussen wat jou gees wil en wat die Heilige Gees wil nie.  Daarom ervaar ons dikwels ’n onuitspreeklike versugting in ons Gees wat lei na tye van diep gebed.  Die wonder van hierdie taal wat God jou nou gegee het is, dat jy nou kan bid terwyl jy bestuur, skottelgoed was, stryk, en werk.  Om so saggies in tale te bid, is ’n kragtige en positiewe ervaring vir elke gelowige omdat jy  jouself  stig.  Veral as ons nie weet wat om te bid met ons verstand nie, bid ons in tale.

Geesvervulde Krag – (Acts 1:8) Die woord “Dunamis” in die Grieks is ryk aan betekenis: krag, mag, kragte, kragtige, wonderdade, kragtig, magtig, vermoë, wonders, wonderwerke, almagtige, bekwaamheid, doen, geweld, gloeiende, grenselose, helderste, kragdadig, magsvertoon, magswoord, magtige, magtiger, wonderwerk. Een van die belangrikste bewyse van die doop in die Heilige Gees is dat jy die vermoë ontvang om bonatuurlike dinge te vermag.  Tale is dikwels die begin en intree tot die bonatuurlike krag en vermoë van God.  Dikwels voor ek vir ’n sieke bid, of ’n duiwel uitdryf, bid ek in tale, om net my hele wese te fokus op die geestelike.  Terwyl ek in tale bid kom die leiding en strategie oor wat my nou volgende te doen staan.  Deur in tale te bid, toon ek my afhanklikheid van die Heilige Gees omdat ek juis nie probeer dink of redeneer met my verstand nie.

Jou tong nou onder Gees se beheer – (James 3) Is dit nie interessant dat wanneer die Here beheer oor jou lewe neem, neem Hy ook die “stuur” oor nie!   Die tong word beskryf as die beuel in ’n perd se bek.  Wanneer die Here ons hart kom verander,  word dit ook duidelik gereflekteer in ons woorde. Waarvan die hart vol is loop die mond van oor (Mat 12:34)

Geestelike perspektief – God is Gees en wil in Gees en in waarheid aanbid word.    (Joh 4:23-24) Lees 1 Kor 2:6-16. Watter mens ken die verborge dinge van ‘n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God.In hierdie gedeelte word spesifiek verwys na die natuurlike mens en die geestelike mens.  Ek ervaar duidelik dat mense wat nog nie gedoop is in die Heilige Gees, nie geestelike dinge kan beoordeel nie.  Hulle probeer die werk van die Gees met hulle verstand verklaar en analiseer.  Jesus het nooit op dieselfde manier en metode vir die siekes gebid en hulle genees nie. Hy was deur die Gees gelei om elke keer iets anders te doen – daar is geen patroon nie, geen 1-2-3 stappe nie.  Hy was bloot gehoorsaam aan die Vader: So is dit ook met mense wat hulle deur die Gees laat lei.

Hoe kan ek hierdie tale of enige gawe ontvang?

Ek moet wedergeboorte deelagtig geword het (kan tydens die vervulling gebeur).

  • Jy moet begeer om gedoop te word in die Heilige Gees. Die dissipels moes gaan wag om krag te ontvang. “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” (Acts 1:4-5)
  • Alle hindernisse moet uit die weg geruim wees.
    • Vrees – “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Is daar ’n pa onder julle wat as sy seun vir hom ’n vis vra, vir hom ’n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy ’n eier vra, vir hom ’n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (Luk 11:9-13)
    • Sonde – Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1 Joh 1:9)
  • Verstand – Jakob het met Sy kop op ’n klip gaan lê in Bethel. (Huis van God) en hy het gedroom van ’n oop hemel, en ’n leer waar engele op en af beweeg.  (Gen 28:11-15) So moet ons ook ons kop (verstand) op die  Rots (Jesus) neerlê en oorgee.  Ons kan nie ons gedagtes of intellek afskakel nie, en dit is nie wat hier gesuggereer word nie, bloot dat ons verstand en intellek oorgegee, onderdanig moet wees tot die impulse van die Gees in ons gedagtes.  Al kan ons nie alles verstaan of onmiddellik verduidelik nie, vertrou die Heilige Gees.
  • Jy moet glo – En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, (Mark 16:17)
  • Ek moet dit toe-eien en in die geloof handel – eers in die natuurlike dan in die bonatuurlike (1 Cor 15:46) Soos al die wonderwerke wat Jesus gedoen het, is daar ‘n wisselwerking tussen waar Jesus sê: “neem jou bed op en loop” die persoon die opdrag gehoorsaam, en hul genesing ontvang. Ons moet ook iets doen van ons kant, Hy doen die bekragtiging.
  • Handeoplegging – (Acts 19:6)

Let Wel, dat ons nie praat van die doop ván die Heilige Gees nie, maar van die doop ín die Heilige Gees.  Die doper is Jesus; die een wat die werk doen, is Jesus. (Mat 3:11)  Wanneer ons gedoop word in die Heilige Gees is Jesus ons fokus, nie tale of selfs die Heilige Gees nie.  Hierdie aspek is uiters belangrik wanneer dit kom by die bediening van mense om vervul te word in die Heilige Gees.  Die fokus is Jesus!  Nie gawes en manifestasies nie.  Oor die jare het ek nog nooit dieselfde metode gebruik wanneer ek vir mense bid vir die doop in die Heilige Gees nie, want ek is nie die doper nie. Ek kan beginsels verduidelik en die Woord verklaar, maar daar is nie stappe of voorskrifte nie.  Jesus doen die werk en Hy bepaal hoe Hy dit by elke spesifieke geleentheid gaan doen.

Ek probeer ook nie ’n sekere atmosfeer skep met musiek nie. Meestal, wanneer ek vir mense bid vir die doop in die Heilige Gees, is die atmosfeer nie noodwendig vreeslik gewyd nie.  Ek probeer om alles so natuurlik as moontlik te hou, want Hy alleen doen die bonatuurlike werk.  Ek verduidelik die Skrifte totdat daar genoeg geloof in mense se harte is en al hulle vrae beantwoord is; dan verplaas ek hulle fokus na Jesus toe.  Hy doen die werk verder!  Ek moet net sensitief wees vir en gehoorsaam aan wat Hy my ook al beveel om te doen.

Daar moet ook ’n duidelike oorgang gemaak word van lering as intellektuele oefening na die bediening van die Heilige Gees.  Iewers moet jy verklaar: “Nou gaan ons vir mense bid om ook hierdie gawe te ontvang!”

 

[1] What Love Is This? Calvinism’s Misrepresentation Of God.  Hunt 2002:377-414

[2] Prakties gereformeerd http://www.voxviva.dominee.co.za/Augustusmaand.htm

[3] Finesse, September 2006, Bl 117

[4] Surprised by the power of the Spirit. Dr. Jack Deere Pg 138 – 139. Kingsway Publication 1993. ISBN 0954764941V