Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

DOOP in Water - Harvester Gemeente | Olifantsriviervallei

DOOP in Water

Doop versinnebeeld die aflegging van die ou mens en die opstaan van ’n nuwe skepsel met ’n nuwe natuur in Christus.

Doop is ’n baie kontroversiële onderwerp tussen Christene.  Die een ding waaroor  almal egter ooreenstem is die feit dat elke gelowige gedoop moet word, want daaroor is die Bybel baie duidelik.  Die probleem is hoe en wanneer?  Alvorens ons hierdie vrae gaan beantwoord; kom ons probeer eers verstaan waaroor die doop regtig gaan en hoekom elke kind van God gedoop moet wees.

Die begrip van die doop moet mens verstaan binne die Joodse konteks en veral omdat die Jode anders as die Grieke baie staat gemaak het op seremonie en simboliese handelinge om ’n spesifieke boodskap oor te dra van die een generasie na die volgende.  Die Grieke het ’n meer analitiese en literêre stelsel gehad en selfs in hulle geboue inligting oorgedra.  Maar die Jode is anders, hulle het staat gemaak op simboliese en rituele handeling binne die gesins- en volksverband, wat noukeurig nagevolg moes word.

Wat die doop betref word daar alreeds in die OT verwys na sekere reinigings wette wat doop versinnebeeld.  Die woord “was” in die konteks is “Rahas” wat bad, was afwas beteken. – En Moses het Aäron en sy seuns laat nader kom en hulle met water gewas. (Lev 8:6) Maar as sy van haar vloeiing rein geword het, moet sy sewe dae tel, en daarna sal sy rein wees. (Lev 15:28) Hy moet ’n heilige linnerok aantrek en ’n linnebroek moet oor sy vlees wees en met ’n linnegordel moet hy hom gord en ’n linnetulband moet op sy hoof wees. Dit is heilige klere; en hy moet sy liggaam in die water bad en dit aantrek.  (Lev 16:4) Om meer te verstaan presies hoe gebad of gewas is, moet na die Joodse interne geskiedenis gekyk word.  Die Talmut, wat die Jode se grootste bron is van geskrifte geskryf deur Rabbi’s en Geestelikes oor die eeue heen gee ons baie meer lig oor presies hoe hierdie reiniging plaasgevind het.

Die enigste verwysing in hierdie geskrifte oor reiniging en afwassing rituele is die Mikvah.  Oor generasies het die Mikvah verskillende vorme aangeneem, en het uit die aard van die saak eers in riviere plaasgevind, later is daar in stede spesiale baddens opgerig.  Vandag nog is die gebruik van die Mikvah ’n belangrike deel van die Jood se spiritualiteit.  Die enigste skrifbewys van so ’n mikvah is: Hy het ook die gegote waterbak gemaak, heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en ’n half meter hoog, en met ’n omtrek van vyftien meter.  (1 Kings 7:23)

Daar is vir verskillende redes gebruik gemaak van die Mikvah om sekere dooprituele uit te voer.

  • Reiniging van die mans voor groot spirituele dae soos Yom Kippur (die Groot versoendag) en Sabbat.
  • Wanneer ’n heiden ’n Jood wil word.
  • Die bruid voor haar troudag
  • Vrouens 7 dae na menstruasie

Die betekenis van Mikveh vir die Jood:

Volgens die Jode sien hulle water in die volgende lig: Kan nie sonder dit lewe nie, en kan nie in dit lewe nie.  Wanneer jy onder die water is, verkeer jy in ’n staat van nie-realiteit; Jy is niks, jou belangrikheid en prestasies gaan jou nie nou kan help nie, jy kan nie onder water asem haal nie.  Jy verloor jou ego.  Jy word gereduseer tot ’n afhanklike en eenvoudige mens.

Wanneer jy uit die water opkom is jy ’n nuwe mens.  Die mikvah dui op die terugkeer na jou innerlike reinheid en onskuld van die self.  ’n Bevrydende restourasie van jou spirituele toestand en posisie, ’n soort weergeboorte.  In terme van die vrouens wat na menstruasie die mikvah gebruik is dit ook belangrik om die saad te reinig en hulleself te reinig vir seksuele intimiteit.  Sodoende word die huweliksbande verdiep en versterk nadat hulle hulleself vir 12 dae van mekaar seksueel onthou het om weer bymekaar te kom. (1 Cor 7:5)

Spesifikasies en Mikvah proses:

Die water moet vanuit ’n natuurlike bron wees, soos ’n fontein, reën, of ys wat gesmelt het. “Lewende Water” Moet te minste dubbel die hoeveelheid massa wees van wat gemiddeld die swaarste persoon sal weeg, om sodoende die vlees uit te kanselleer.  Die Mikvah is nie ’n bad nie.  Jy reinig jouself voor jy in die Mikvah ingaan.  Alle juwele word afgehaal.  Naels word kort geknip, hare gewas en liggaam word behoorlik gewas en gereinig.  Dan word daar in die Mikvah afgeklim, en die persoon gaan drie keer onder die water in, die hele liggaam en hare, alles moet ondergaan.  “Ek sal hoor en ek sal doen” en “Wat is ek?” word geprewel tydens die doop.  Geen persoon of klere mag aan die persoon raak nie, sodat daar geen kontak met dit wat onrein is nie.  Die handeling word dus sonder klere gedoen.  ’n Persoon buig letterlik sy of haar knie en hurk onder die water om dan regop te kom in ’n staan posisie na die doop. ’n Rabbi of spirituele gids sal byderhand wees om seën en reinigingsgebede te bid tydens die onderdompelingsproses en tree op as getuie.  Die persoon wat deur die Mikvah gegaan het word as ’n nuwe persoon gesien, nuwe mens, ’n kind van die 1ste dag.

Daar was verskeie baddens in die tempel, vir die priester asook die mense, naby die poorte en ingange.  Want die gebruik van die mikvah was en is nog steeds algemeen.  Elke toegewyde Jood maak vandag nog gebruik van die Mikveh om hulle toewyding aan God en hulle tradisies te versinnebeeld.  

Die ooreenkomste met die Christen doop is baie duidelik.  Uit argeologiese opgrawings uit die tydperk van die vroëer kerk is dit duidelik dat daar verskeie diep baddens in gebruik was en ook in van die eerste kerk geboue was daar diep baddens gevind.  Die doop debat is dan ook nie of doop deur onderdompeling onbybels is nie, inteendeel dis baie duidelik Bybels en selfs die kerke wat kinders besprinkel is nie teen die onderdompelingsdoop nie.  Hulle is teen die gebruik dat mense wat as kinders besprinkel is, hulle laat oordoop.  Volgens hierdie kerke glo hulle ook in die onderdompelingsdoop veral wanneer dit kom by die doop van volwassenes, wie se ouers ongelowig is, en wat nou tot inkeer kom en nog nooit gedoop is nie.  Dis net interessant dat wanneer volwassenes wel gedoop word in hierdie kerke, hulle besprinkel word?

So nou is die vraag; wat simboliseer die doop? Vanuit ’n Joodse perspektief weet ons dat daar nie onduidelikheid of verskillende metodes was nie, die Jode is veral ingestel op die presiese uitvoering van rituele omdat elke handeling iets geestelik versinnebeeld.  Die betekenis dui op die Jood se soeke na volkome reiniging, gees siel en liggaam, dis egter nie te vind in die hou van wette en reëls nie, dis alleen Jesus Christus wat deur Sy dood en opstanding die mag het en die reg verkry het om ons nuwe mense in Hom te maak as ons in Hom glo.

Dis nie ons geloof in akkurate rituele wat ons regverdig maak voor God nie, maar ons geloof in die volmaakte werk wat Jesus vir ons gedoen het.

Ons weet dat die kern van die evangelie handel oor die aflê van die ou mens, en die opneem in die geloof van jou nuwe Christus natuur.  TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  (Mat 16:24-25; Gal 2:20; Phil 3:18) Dit is weliswaar waaroor die hele evangelie gaan dat ons deur Sy dood, nuwe skepsels geword het. (2 Cor 5:17) Dit is ook duidelik dat die doop in die naam van Jesus, verskil het van Johannes se doop wat oor sondeafwassing (Bekering) gehandel het.  Want waarom moes die dissipels wat Paulus in Efese gekry het hulle laat oordoop in die doop van Christus. (Acts 19:2-5) In Romeine 6 verduidelik Paulus die doop baie duidelik; Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; (Rom 6:3-5) Dit is ook duidelik dat Johannes nie mense se sonde permanent kon afwas nie, want hy het nie deur sy lewe vir ons die prys betaal nie.  Daarom sien ons later dat diegene wat met die doop van Johannes gedoop is, weer gedoop moes word in die naam van Jesus.

Die doop is dus simbolies van die dood van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens in Christus Jesus.  En watter uistekende beeld is dit nie.  Die onder-die water-ingaan en daaruit opstaan is simbolies van begrafnis.  Kom ons gaan kyk na nog skrifte in die Woord van God wat handel oor die doop, sodat ons hierdie onderwerp korrek kan verstaan.

Wat Simboliseer die doop?

Lees die betrokke verse, en dan antwoord jy self die vraag. 

(Rom 6:3-5)

(1 Pet 3:21)

(Col 2:11-14)

Hoekom moet ek my laat doop.

Lees die betrokke verse, en dan antwoord jy self die vraag. 
 

(Acts 2:37,38,41; Mat 28:19; Mark 16:16)

(1 Pet 3:18,21)

(1 John 5:8)

Wat moet ek doen om gedoop te word?

(Acts 2:38 & 41) Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes …” “Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop..

(Acts 8:12)  Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue.

(Acts 8:36–38) Daar is water, wat verhinder my om gedoop te word?” Daarop het hy geantwoord: “Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?” Op hierdie vereiste het die hofdienaar so gereageer: “Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. Daarna het hulle albei in die water afgeklim waar Filippus die hofdienaar gedoop het.

(Acts 9:3–18) Eers toe hy gevra het: “Here, wat wil U hê, moet ek doen?” …. v18 “en en hy het opgestaan en is gedoop“. 

(Acts 22:16) waar hy Ananias se woorde aanhaal: “En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.

(Acts 10:44-48)En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.  En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is.  Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek:  Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie?  En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog ’n paar dae te bly.

(Acts 16:13-15) En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ’n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het. En ’n vrou met die naam van Lídia, ’n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ’n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.  En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing. 

Wat is die opsomming van al hierdie bogenoemde verse?  Dat die doop saam met ’n goddelike ingryping gepaard gaan.  Dat diegene wat gedoop is eers tot geloof gekom het, óf Hom aangeneem het, en gereageer het op Sy roeping.  Dat God ’n realiteit in hierdie mense se lewens geword het.   Dat iewers in hierdie proses hierdie mense tot wedergeboorte gekom het.   Dit is die krag van die evangelie: Jesus Red! (Rom 1:16) LET WEL: dat die doop geen magiese krag besit nie, dis nie die doop wat ons red nie.  Jesus Christus red ons en verander ons innerlike DNA om nou Sy kinders te kan wees.  As besnydenis die teken was van die ou verbond en die doop die teken van die nuwe verbond, dan gebeur hierdie nuwe tipe besnydenis in ons hart, (Jer 31:31-34; Col 2:11-14) nie in die doop nie.   Wedergeboorte en bekering is tussen jou en God, en doop is ’n getuienis en verkondiging aan mense.  Nou in terme van die verdere betekenis van die doop, wat jou deel maak van die hele liggaam en kerk (1 Cor 12:13) , is dit tog duidelik dat geen mens deel kan wees van die liggaam van Jesus Christus as hy of sy nie tot wedergeboorte gekom het nie, doop is ’n uiterlike handeling en is nie in staat om jou as mens in te lyf tot die geestelike liggaam van Christus nie.  Niemand kan vir jou instaan en dit namens jou doen nie.  Net Jesus alleen kan ons red.  Daarom verkondig ons ook nie die doop nie, maar die heerlike evangelie van Jesus Christus!  (1 Cor 1:17) en verklaar ons net soos Paulus; “want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. (1 Cor 2:2)

Hoe moet jy gedoop word?

Die Bybel gee ons geen ABC oor presies hoe gedoop is nie.  Ons weet daar was water beskikbaar, die Etiopiese Hofdienaar is in die rivier gedoop “Hier is water, wat verhinder my om gedoop te word.” (Acts 8:26) by die tempel was daar toegang tot baddens en sommige sinagoges en huise sou Mikvahs gehad het.  Johannes die Doper het in Aenon naby Salem gedoop “Omdat daar baie water was” (John 3:23) .  Jesus het in die water afgegaan om gedoop te word. (Mat 3:16) Sommige skildery wys hoe die water oor iemand uitgegiet is, en die Didache 110 – 120 nC. maak ruimte dat as daar nie genoeg water was nie, hulle water oor iemand kon uitgiet, maar dit moet die uitsondering wees. As ons na die huidige gebruik van die Mikvah vandag nog kyk dan help dit ons om beter te verstaan presies hoe iemand gedoop is en die diepe betekenis daaragter.

Argumente teen onderdompeling as eksklusiewe metode wys weer daarop dat; is dit moontlik dat Johannes en later die dissipels duisende mense alleen sou kon gedoop het by wyse van onderdompeling? Die Tronkbewaarder is gedoop, moes hy eers die tronk verlaat om gedoop te word?  En het hulle water na Cornelius se huis gebring sodat sy hele huis en gesin gedoop kon word?  Die feit is dit is alles bespiegelinge want ons weet regtig nie.

Die woord doop (Grieks baptizô), beteken letterlik: indompel, insteek, of geheel-en-al insluit. Skrifgedeeltes soos Mat 3:16, 17; Joh 3:23; Acts 8:38; Rom 6:4 dui op indompeling. Die preposisie of voorsetsel “éis” saam met die akkusatief soos wat ons dit in Mat 28:19 het, dui daarop dat doop ’n handeling in iets in of tot iets is. Dit wys ook op dit wat deur die doop nagejaag of verkry wil word. So word daar gepraat van die doop tot bekering (Mat 3:11), tot vergewing van sondes (Acts 2:38) en tot een liggaam. (1 Cor 12:13).

Die meeste kerke stem saam dat die doop nie een of ander magiese krag besit nie, ‘n mens word immers nie deur die doop gered nie.  Die metode is dus onderhewig aan die betekenis en boodskap wat verkondig word deur die doop.  Op die huidige oomblik verkondig die kerk ’n boodskap van verdeeldheid oor die wyse van die doop.  Terwyl die skrif verklaar daar is net een doop.  (Eph 4:5) As die kinderdoop dan reg is, hoekom laat soveel mense hulle oordoop?  Jy kan die skuld pak op die prediking van die Pinkster kerke en hulle verkeerde metodes van oorreding, maar as ons mense tog in die waarheid geanker is, dan behoort hulle mos nie so gou oorreed te word nie.  Die feit is, dit erken elke predikant wat kinderdoop leer, daar is geen direkte skrif bewys dat kinders gedoop moet word nie.  Daar is geen direkte skrifbewys wat mense beveel om besprinkel te word nie.  As ons dan terugkeer na die fondasie van die Protestante kerk naamlik; Die Woord alleen, Christus Alleen, Geloof alleen, Sy eer alleen dan sê ons die kerk kan jou nie red nie, jou ouers kan jou nie red nie, doop kan jou nie red nie, alleenlik jou geloof in die Seun van God kan ons red en verander in Sy gelykenis.

Wat van die kinders?

Argumente vir die Kinderdoop spruit uit die gedagte dat kinders ingesluit was in die Verbond wat God met Abraham gesluit het. (Gen 17:7) Kinders was ingesluit toe die verbond hernu is (Deuteronomium 29:10-13; Josua 8:35) hulle was deel van spirituele gebeurtenisse in Israel. (Joël 2:16) en die nuwe verbond is met kinders sowel as volwassenes. (Isa 54:13; Jer 31:34) Die teken van die ou verbond is besnydenis en die teken van die nuwe verbond is die doop, dus is dit reg dat kinders gedoop word.  Sekere kerke vat die punt nog verder en sê dat as kinders nie gedoop is nie, hulle verlore is.  Bevestiging van geloof vind dan later plaas wanneer die kinders aangeneem en voorgestel word in die gemeente en vir die eerste keer nagmaal kan gebruik.  Soos wat die man deur die regverdige vrou heilig gemaak word, geld vir die hele gesin.  Dus word kinders deur hulle regverdige ouers geheilig.  (1 Cor 7:14)

Die vraag is hoekom moet klein kinders (babas) gedoop word?  Hoekom? As ons hulle nie doop nie, gaan hulle hel toe? Dis hoe ons voorgeslagte dit nog altyd gedoen het.  Dis wat God verwag.  Op die eerste stelling is die antwoord duidelik, nee ons klein kinders gaan nie hel toe nie, want “aan hulle behoort die koninkryk” (Mark 10:14) Wat die tweede stelling betref: Fundamentele aspekte van ons geloof is nie gebasseer op die oorleweringe van mense en tradisies nie maar op gehoorsaamheid aan die Woord.  En dit beantwoord die derde stelling daar is geen direkte skrif verwysing dat kinders of dan babas gedoop moet word nie.  As dit dan so fundamenteel tot ons geloof staan, en die moontlikheid sou ontstaan dat die kerk verdeel kan wees, sou daar mos genoeg skrifgetuienis gewees het om die stelling en handeling te regverdig.

Dit bring ons by die praktyk van kinders doop.  Ja, ons kan kinders doop, maar slegs wanneer hulle aan dieselfde vereistes as die volwassenes voldoen het, naamlik om tot inkeer te kom en te glo in die Here Jesus Christus.

Die kwessie van wederdoop of oordoop.

Geen evangeliese kerk sal wederdoop of oordoop voorstaan nie, want as doop jou nie red nie, dan is die akkuraatheid van jou doop nie so belangrik in terme van regverdigmaking nie.  Die doop is verkondiging, en ons moet seker maak wat verkondig ons deur ons doop?  OM-jou-weer-te-laat-doop verkondig dat ek nie die eerste keer seker was nie en dit nou reg wil doen, anders is ek verlore.  As dit die rede is, verkondig jy nie die regte boodskap nie.  Want ons geloof in Christus alleen is dit wat ons red.

Tog is daar in die Bybel oorgedoop. Apollos – Acts 18:24-26 Dissipels in EfeseActs 19:3-5 Indien ons kinderdoop as Bybels korrek sien, sou mens kan praat van oordoop.  Ons glo egter nie per definiesie, dat besprinkeling doop is nie.   Die kinderbesprinkeling hoogstens is ’n getuienis van viering en seën, moontlik self afsondering, maar spreek hoegenaamd nie van bekering, wedergeboorte, dood en opstanding nie.

Wie mag my doop?

Paulus het nie al sy dissipels gedoop nie, inteendeel. (1 Cor 1:13-17) Sodat die mense nie een of ander magiese krag in die doop sou sien in die persoon wie hulle gedoop het nie.  As ons kyk na die natuurlike orde soos in die vorige skrifte in die begin van die hoofstuk, dan is die mense gedoop deur die persoon wat hulle na die waarheid gelei het.  Maar die persoon wie die doop toepas is nie so belangrik as in wié se Naam jy gedoop is nie.

Werk dit uit

  • Die doop van gelowiges het so ’n ryke betekenis en waarde vir die gelowige en dui op God se oneindige liefde en genade vir ons.
  • Die doop is ’n geestelike monument en punt van verwysing tov. van ons daaglikse sterfproses in Christus.Dis waar ek die eerste keer my lewe verloën het en myself aan God oorgegee het.
  • Soos wat bloedhonde hulle spoor verloor as die dier of mens wat hulle agtervolg deur water gaan, so het jy in Christus ’n nuwe mens geword en versinnebeeld die doop jou vrymaking van die mag van sonde sowel as die gevolg van sonde.
  • Nadat Jesus gedoop is, het die hemele bo Hom oopgegaan en het God gesê; Dit is my geliefde Seun in wie ek ’n welbehae het.Jou wedergeboorte en nuwe lewe in God, beteken God se Gees kom woon in jou, en word die hemele vir jou geopen, om nou vrylik van God te ontvang sowel as om vrylik met Hom te kan praat.  (Heb 10:19) Jy lewe dus voortaan vanuit ’n oop hemel.
  • Die doop is wonderlike oproep tot vriende en familie wat die doop bywoon, om ook hulle lewens volkome aan God te wy, die ou mens oor te gee, en in die geloof ’n nuwe mens op te staan in Christus.Dis ’n wonderlike uiterlike teken en profetiese handeling wat getuig van die interne krag en heerlikheid van saligheid.
  • Die doop vorm ’n skeidslyn vir jou en jou vriende en familie tussen jou ou selfgerigte lewe en jou lewe wat nou aan God toegewy is.
  • Die woord sê dat nadat sommige gedoop is het hulle die gawe van die Heilige Gees ontvang, alhoewel dit nie altyd die reël is nie en sommige mense vervul is met die Heilige Gees voordat hulle gedoop is. Is dit die volgende aspek van die reddingsproses waarvoor die gelowige die Here kan vertrou, en omdat jy gehoorsaam was aan die Here deur jou te laat doop, het jy soveel meer vrymoedigheid om hom te vertrou vir die volle gawe en seën van die Heilige Gees.Ons praat in die volgende afdeling oor hierdie aspek.
  • Die nagmaal spreek van sy lewe wat afgelê is vir ons sonde. Doop spreek van ons lewe wat afgelê is in Christus.