Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

ONTWAAK tot Jesus Christus - Harvester Gemeente | Olifantsrivier

Jesus die Lewensredder

Bid hierdie gebed nou!

Here ek glo. Hier is ek, ek buig my knie, ek bely my sondes, ek gee oor, ek kies om myself te vergeet, en my kruis van gehoorsaamheid op te neem. Ek wil U volg met my hele hart, siel, krag en verstand.  Maak my vandag U kind! Dankie Here Jesus, ek ontvang in die geloof U geregtigheid.

Het Die Moderne Mens Redding Nodig? 

Redding van wat? ʼn Slegte verhouding? ʼn Skadelike gewoonte? ʼn Siektetoestand? Te min geld? Te veel geld? Redding van skuldgevoelens?

As mens na die mensdom kyk, dan lyk dit nie asof die mensdom besef hulle moet van iets gered word nie. Welvaart en lewensverwagting is hoër as ooit in die geskiedenis. Mense wat niks het nie soek ʼn redder. Mense wat versadig is met aardse gerief, dink nie eers daaraan nie. Die kerk probeer die wêreld oortuig hulle het redding nodig van ʼn maalkolk van immoraliteit, van humanistiese en sekulêre wêreldbeskouings. Die post-moderne millennium generasie wil sosiale geregtigheid sien wat die fokus plaas op aardse, fisiese versorging – dikwels sonder om geestelike versorging in ag te neem. Daarenteen kan geestelik-gerigte saamtrekke en byeenkomste nie in mense se fisiese behoeftes voorsien nie. Volgens die Barna-instituut is dit ook duidelik dat wanneer mense ryker word, daar ʼn duidelike afname is in kerkbywoning, evangelisasie en ʼn leefstyl van toewyding. Skuldgevoel-preke is ook nie meer die doeltreffendste manier om mense tot die geloof te keer nie. Mense se lewens is vol, daar is nie nog ruimte vir godsdiens nie. Daar is ook ʼn duidelike wegval en wegkeer van enige formele godsdienstige instellings en magsbeheer.

Het die moderne mens redding nodig? Verseker ja, is die onomwonde antwoord! Maar die kerk sal moet herbesin hoe ons en wat ons as redding verkondig! 

Beter gestel: Wie verkondig ons as redding?

Vanuit ʼn suiwer skriftuurlike perspektief: Het Jesus ooit ‘n appèl gemaak dat mense Hom moet aanbid? Nee, Hy het nie. Sy appèl oor en oor was: “Volg my.” (Mat 4:19; 8:22; 9:9; 10:38; 16:24; 19:21). Jesus soek dus nie ons admirasie nie, Hy soek ons gehoorsaamheid. Natuurlik is aanbidding ‘n belangrike deel van my geestelike lewe en groei, maar lofprysing is nie wat ons red nie. Lofprysing, aanbidding, godsdiens beoefening is nie ons middelaar nie, Jesus is. 

Verder, het verskeie persone redding ontvang sonder om te bid of hulle sonde te bely – soos die vrou wat in owerspel uitgevang is en die sondaar aan die kruis. Verseker is belydenis belangrik, maar God soek iets dieper as net jou sondebelydenis. Baie mense sê daagliks jammer vir dieselfde sonde en verkeerde dade, sonder om te verander. Die Bybel praat die meeste van: “Hulle het tot geloof gekom.” ‘n beter belydenis gebed is om om jammer te sê, maar dan met oortuiging te glo dat jy die oortreding nooit weer gaan doen nie! 

Die terme “neem Jesus aan” of “neem Jesus in jou hart” kom nie in die Bybel voor nie.  Wat is dus die regte BYBELSE benadering to hierdie belangrike vraagstuk?

Laat Ons Nou Die Saak Uitmaak – Jesus Is Redding! 

Sien: Matthew 1:21; Luke 1:69-75; 2:11, 28-30; Luke 19:10;  Acts 13:23; 1 Timothy 1:15; 2 Peter 1:1; 3:2, 18; Titus 1:4; 3:6.

“Ek het vooraf besluit dat ek met julle net oor een saak wou praat—oor Jesus Christus wat vir ons op die kruis gesterf het.” (1Corinthians 2:2).

Redding en saligheid is nie ʼn leerstelling- of ʼn versameling formules nie. Die uiteindelike diagnostiese vraag is: Het jy Jesus? Volg jy Hom? Is jy ʼn kind van God? Is jy wedergebore? Is Jesus Here van jou hart, wil, denke, gedagtes, gesindheid en gewoontes? Het jy waarlik innerlike vrede en vreugde in die Heilige Gees? Is jy sielsgelukkig en tevrede, vergenoegd? 

Dis kwalifiserende vrae! Mense se antwoorde op hierdie vrae is meestal vaag, en mens sien die onsekerheid in hulle oë.

Want redding en saligheid is ʼn Persoon – JESUS CHRISTUS die HERE!

Net die persoon van Jesus Christus, kan blywende vrede, vreugde, vergenoegdheid en tevredenheid gee.  

Die kerk kan jou nie red nie, ook nie jou goeie werke nie! Jy kan ook nie jouself red nie! Jy kan al die selfhelpboeke lees en nog verlore voel. Om Jesus te ken, is redding! 

Die onwillekeurige vraag van baie ongelowiges is egter: As byna die helfte van die wêreld se bevolking sogenaamde Christene is, hoekom is daar so ʼn groot verdeeldheid in die kerkewêreld? Almal sê tog hulle glo in Jesus? So baie sogenaamde Christene se lewenstyl dra geen getuienis van die persoon van Jesus nie.

Hoe jy Jesus sien, is die lakmoestoets van ons geloof.

DIE LAKMOESTOETS is ʼn baie ou maar bekende toets om vas te stel wat die alkaliese gehalte van ʼn stof is sodat jy ook die teenwoordigheid van suur, al dan nie, kan vasstel. Die lakmoestoets van ons geloof is: Sien jy Jesus? 

“Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.”  (John 3:13). Soos met die slang wat Moses opgelig het (Numbers 21:8), moes die mense net na die slang kyk om genesing te ontvang. Ons redding word bepaal deur die geskenk van sien. Maar net soos met die slang, het mense later van God se voorsiening, wat uit ʼn verhouding gebore is, ʼn godsdienstige ritueel gemaak. “Hiskia het die hoogtes laat verwoes, die klippilare laat stukkend slaan en die gewyde pale laat afkap. Hy het ook die koperslang wat destyds deur Moses gemaak is, laat stukkend slaan, want tot nou toe het die Israeliete die koperslang met offers vereer. Die slang is Negustan genome.” (2 Kings 18:4).

Petrus sien: “En wat van julle, wie sê julle is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.” Jesus antwoord hom en sê: “Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie” (Matthew 16:15-17).

Die sondaar aan die kruis: “Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: “Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? . . . ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.” En hy sê vir Jesus: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” En Jesus antwoord hom: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Luke 23:40-43).

Paulus het gedink hy doen reg. Hy het opreg geglo hy is besig om die sekte uit te roei en God daardeur te verheerlik. Paulus sien: “Wie is U, Here?” het hy toe gevra. “Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dis vir Mý wat jy vervolg!” (Acts 9:5).

Die Samaritaanse vrou by die graf het Jesus nie herken nie. Die vrou het vir Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” Toe sê Jesus vir haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” (John 4:25-26).

Daarom bid Paulus vir die gemeente: “Ek dink aan julle in my gebede en vra dat die God van ons Here Jesus Christus – die Vader aan wie al die heerlikheid behoort –aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken.” (Ephesians 1:17).

Niemand kan Jesus namens jou sien nie. Jy moet self sien, en oorweldig word deur Sy wonder. 

Wat Moet Ek Doen Om Gered Te Word?

Die eerste skare mense wat na Petrus geluister het nadat die Heilige Gees uitgestort is, het dieselfde vraag gevra: “Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Broers, wat moet ons doen?” Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang. Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.” Petrus het nog lank aanhou preek en ’n ernstige beroep op sy hoorders gedoen: “Laat julle red uit hierdie afgedwaalde geslag!” (Acts 2:37-40) 

Kom tot inkeer – Die bekende Griekse woord wat hier gebruik word is “μετανοέω” metanoéō. Dit beteken om jou posisie/uitkyk/denke te verander. ʼn Ander rigting inslaan. Soos die bekende CS Lewis eers ʼn befaamde ateïs was, het hy sy uitkyk en siening verander, en een van die mees gesogte Christen-apologete geword. Om tot inkeer te kom, veronderstel omdraai en algehele omkeer. Om tot ʼn nuwe insig te kom. Jy sien ʼn nuwe realiteit wat jou huidige sienswyse totaal verander. Hierdie tot-inkeer-kom is eenmalig in terme van kind van God word, maar dit is ook ʼn reis saam met Jesus waar Hy ons weer en weer tot nuwe insigte bring soos wat ons saam met Hom die pad stap.

Maak reg met God – Sedert ʼn mens se kinderdae beweeg die meeste mense weg van God af. Ons raak van Hom vervreemd (Colossians 1:12). Ons het geen vrymoedigheid om te bid of tot God te nader nie. Soos met enige vervreemding in ʼn verhouding begin mens allerhande aannames maak, en maak valse veronderstellings oor die ander persoon omdat ons nie die persoon werklik ken of kontak het nie.

Later gaan sommige mense so ver dat hulle God se vyand raak. Hulle leefstyl en dade druis lynreg in teen Sy wil en plan vir hulle lewens. Hierdie selfverwoestende lewenstyl en rigting van mens se lewe eindig uiteindelik op die plek van die dood, sonder God, sonder vrede, sonder ware blywende innerlike geluk.

Die lewe is vol lewensroetes: Sommige vertrou hulle intellek en rede, ander hulle geld en posisie, ander hulle fisiese krag en vermoëns. Om met God reg te maak, is om soos die verlore seun terug te stap na die Vader se huis en jou aan Hom oor te gee. Die verlore seun het vir homself gesê: “Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge” (Luke 15:17-19).

Glo in Jesus – Die term dat iemand tot geloof kom, word die meeste in die NT gebruik om te verduidelik hoe mense gered is (Mark 16:16; John 2:23; 4:39, 41; 8:30; 11:45; 12:42; Acts 9:42; 11:21; 18:8). Hulle het eenvoudig begin glo toe hulle die prediking en getuienis van die Waarheid gehoor het. “Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons gered. Soos die Skrif sê: Wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” (Romans 10:9-11). “Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?” Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.” Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en in u kan glo? Wat besonders doen u vir ons?” (John 6:28-30, Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling)

ʼn Professor het my op ʼn tyd besoek. Hy was in sy middeljare en het volgens hom sy intellek totaal uitgeput maar kon steeds nie vrede vind nie. Ek vra hom toe: “Glo jy dat Jesus ’n werklikheid is? ʼn Eenvoudige ja- of nee-antwoord, nie ʼn diskussie van ‘hoekom’ en ‘maars’ nie.” Hy het my stip aangekyk, sy oë het tranerig geword en hy het afgemete geantwoord: “Ja, ek glo Jesus is ʼn werklikheid.” Op daardie oomblik het redding vir die man gekom. Later sou hy my vertel dat dit op daardie oomblik rustig in hom geword het. Hy glo! “Hulle het toe vir Hom gesê: “Wat moet ons doen om God se wil uit te voer?” Jesus het hulle geantwoord: “Dít is God se opdrag aan julle: Glo in Hom wat die Vader gestuur het.” Hulle sê vir Hom: “Watter wonderteken doen u dan sodat ons kan sien en in u kan glo? Wat besonders doen u vir ons?” (John 6:28-30)

Dié geloof moet egter later in werke oorgaan wanneer ons doen wat Hy ons beveel. Dink aan die vrou wat pas op heterdaad betrap is in die daad van owerspel. Sekerlik kan mens hulle dadelik veroordeel! Jesus skryf op die grond dat die een wat sonder sonde is, die eerste klip moet gooi. Uiteindelik, toe almal weg is, sê Hy vir die vrou: “Ek veroordeel jou ook nie, gaan heen en sondig nie meer nie!” Haar redding begin die oomblik as sy hierdie genadewoord gehoorsaam en gaan uitvoer.  (John 8:3-11).

Wedergeboorte: is ʼn teologiese verduideliking van die redding wat God in ons bewerk. By bekering rus die onus op ons om te reageer op die verkondiging van die Woord. Wedergeboorte is ʼn bonatuurlike werking wat God in ons bewerk wanneer Hy ons Sy kinders maak (John 3:5; 1 Peter 1:21; 2Corinthians 5:17). Hy doen die werk (Phillipians 1:12) en produseer die vrug van die Heilige Gees as ons nuwe karakter (Galatians 5:21-22). Vir redding om vol sirkel te voltooi, moet ons die redding, verandering, weergeboorte, nuwe lewe wat God in ons werk ontvang!  Dit is presies wat die Jesus vir Nikodemus die skrifgeleerde wou verduidelik: nikodemus was tog godsdienstig, en probeer om te wet getrou na te volg? Tog het hy meer as selfregverdiging en dooie werk nodig gehad – Hy moes Jesus se geskenk van geregtigheid ontvang! (Mat 6:33; 2 Cor 5:21; Rom 5:21) 

Hoe weet mens of jy wedergeboorte deelagtig geword het?

Spurgeon verduidelik dit mooi aan die hand van ʼn vark-en-katstorie. Die vark kan nie ʼn kat wees nie. Dit is in sy natuur om vuil te wees. Die kat daarenteen hou nie van vuil word nie. Net God kan ons natuur verander. Een van die eerste tekens dat ek ʼn kind van God geword het, is dat ek nie meer wil vuil wees en vuil dinge doen nie. My ingesteldheid oor kleredrag, taalgebruik, rassisme en begeertes verander radikaal. Ek sien die wêreld in ʼn heel ander lig. Sy liefde oorweldig my met ʼn nuwe vrymoedigheid, vrygewigheid en omgee vir mense.

So baie mense wil eers reg wees en ophou met verkeerde dade, wat hulle weet dat God nie daarvan hou nie, voordat hulle kom en regmaak. So stel hulle uit en kom nooit tot oorgawe nie.

Ander mense werk hard om reg te lewe en reg te doen sodat hulle werke vir God aanneemlik sal wees. Hulle vergelyk hulleself met ander sogenaamde gelowiges en oordeel dat hulle ook nie altyd reg doen nie. Op die ou einde kan hulle nooit sê en erken “ek is ʼn kind van God” nie. Hulle voel nie waardig nie! Hulle doen nog te veel sonde. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthew 6:33).

Ons is almal soekers: soekers na vrede en geluk, en innerlike tevredenheid. Ons soek ook na wat reg is. Wat is die regte ding om te doen of te sê. Ons wil tog hê dat daar aan ons reg gedoen word in besigheid en dienslewering.

Die geregtigheid van die mens staan egter in kontras teenoor God se geregtigheid. Die grootste misdadiger regverdig sy of haar optrede op die een of ander manier. Die egbreker regverdig die verraad deur die skuld op sy of haar huweliksmaat te pak. 

Die feit dat jy vandag soekend is, dat jy tyd maak om hierdie dokument te lees. Die feit dat jy waarheid soek, beteken jy is op die regte pad. Jou reis het begin! Jesus vertel verskeie stories van mense wat gesoek het: die man wat die pêrel van groot waarde gekry het (Matthew 13:45-46); die vrou wat die verlore muntstuk gesoek het (Luke 15:8); die man wat ʼn groot skat op ʼn land gekry het (Matthew 13:44). “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” (Matthew 5:6). Om die koninkryk te vind is soos om ʼn groot skat te ontdek. Hierdie skat is ewig, onwankelbaar en onverganklik (Hebrews 12:28).  WAT JY BO ALLES MOET SOEK EN VIND IS: SY GEREGTIGHEID! Die meeste mense wil weet wat hulle moet doen om reg te wees… Jesus sê: “Soek my geregtigheid” 

Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. (Matthew 6:33) Sy geregtigheid is ‘n geskenk!! ‘n Pêrel van groot waarde! ‘n Skat! 

Wat is die Koninkryk van God?

Jesus begin Sy prediking met hierdie boodskap: “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Matthew 4:17).

Die koninkryk van God spreek van Sy heerskappy, Sy wil, Sy orde en Sy wêreld. Is dit nie die uitroep van so baie mense in hierdie tye van onheil nie? Ons verlang en hunker na God se wêreld! Sommige oorweeg selfmoord net omdat hierdie wêreld so donker en onmoontlik vir hulle geword het. Wat wel alle verstand te bowe gaan, is hoe soveel oënskynlik suksesvolle, bekende en selfs bekroonde mense selfmoord pleeg. Dit is dus duidelik dat die geveg nie noodwendig fisies is nie, maar in mens se gedagtewêreld.

Sommige mense kry dit reg om tevrede en gelukkig te wees. Ander kry nooit genoeg nie en soek gedurig na nog meer. “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.”  (Romans 14:17).

Hier is die koninkryk nou mooi verduidelik: Die koninkryk is nie wat jy van buite af in die liggaam sit nie, maar wat van binne uit jou kom. Geregtigheid – om met God reg te wees. Vrede – nie die afwesigheid van konflik nie, maar die vermoë om te midde van konflik rustig en tevrede te wees. Vreugde in die Heilige Gees – hierdie vreugde is aansteeklik! Dit is ʼn borrelende fontein van deurentyd bewus wees van God se teenwoordigheid.

Die geheim is die geskenk van geregtigheid! “Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra.” (Isaiah 53:11). Dis ʼn skat wat ontdek is! Soos iemand wat die lotto gewen het, of ʼn stuk goud opgetel het. Dis verniet! Jy het nie daarvoor gewerk nie. “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”  (Romans 3:23-25).

Geregtigheid is die geskenk van kindskap om weer soos Adam en Eva in ʼn volle verhouding, sonder sonde, met God te wandel. Geregtigheid wys ook na God se geregtigheid – Hy is die Ewige en absolute standaard van reg. Sy Woord is reg en waar. Sy karakter is onbesproke en regverdig. Sonde is in wese ongeregtigheid, om Sy standaard te mis.

Toe die jongman by Jesus kom, het hy die wet volledig nagekom en kon nie aan iets dink waaraan hy nog kortkom nie. Hy wou volmaak wees. “Jesus antwoord hom: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.” Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad. En Jesus sê vir sy dissipels: “Voorwaar Ek sê vir julle dat ’n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan.” (Matthew 19:21-23). Dit som die tema van geregtigheid presies op: Ons beste geregtigheid is nog steeds nie genoeg nie, want ons kan nie onsself red nie. As ons sou kon, hoekom het ons dan ʼn redder nodig? “Toe sy dissipels dit hoor, was hulle baie verslae en sê: “Wie kan dan gered word?” Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.” (Matthew 19:25-27).

Ons het dus geen ander keuse as om Sy geregtigheid as geskenk te ontvang nie. “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. DAAROM, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word.” (Ephesians 2:8-11).

Ons is geskape om in Sy beeld en volgens Sy wil en geregtigheid te leef, maar die eie-ek en eie-wil het gekies om ons eie ding te doen. Mat 6:33 sê dit is van wesenlike belang om op Sy geregtigheid te fokus. Ons vertroue is nie in ons geregtigheid nie, maar in Sy geregtigheid. “Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus.”  (Romans 5:17).

Sy geskenk van geregtigheid stel ons in staat om weer te heers soos Adam, en die mens se skeppingsdoel te vervul (Gen 1:28 en Rom 8:29).  “In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.”  (Jeremiah 23:6).

Ons lewe dus elke dag met hierdie woorde op ons lippe: “Die Here ons geregtigheid”; “Jesus is my geregtigheid!” Die feit dat ons allereers hier begin, is ook belangrik. As ons in enige godsdiensoefening of praktyk begin, is die fokus weer op ons geregtigheid en dan word dit dooie werke (Hebrews 6:1). Maar ons begin altyd eerstens, bowenal, deur Sy geregtigheid te soek en vanuit Sy volmaakte offer te leef.

Dis vanuit Sy geregtigheid dat ons:

  • nou vrymoedigheid het om God te nader. (Hebrews 10:19; Hebrews 4:16)
  • in staat is om alles te doen. (Phillipians 4:13)
  • meer as oorwinnaars is. (Romans 8:37)
  • Satan oorwin het. (1 John 2:13; 4:4; 5:4-5)
  • aan die slawerny van sonde ontsnap het. (John 8:34-36)
  • elke geestelike gawe in die hemel ontvang het. (Ephesians 1:3)
  • saam met Jesus in hemelse plekke sit. (Ephesians 2:6)

Hierdie geskenk van geregtigheid maak ons ons eie!  Ons eien dit vir onsself toe, en Hy werk Sy krag in ons om Sy kinders te wees. Dis die krag van die Evangelie! Jesus beveel ons nie net om reg te leef nie, Hy werk die vermoë en krag in ons om Sy wil te doen (John 1:12; Phillipians 2:13; Hebrews 13:21). “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.”  (John 1:12).

Dit is God se genade aan die mens, dat Hy nie net vir ons gesê het hoe om te lewe nie, Hy het ons kom wys!! Jesus is net soos ons versoek en is waarlik mens. “TERWYL ons dan ’n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”  (Hebrews 4:14-16).

Opsomming

Hoe word ek gered? Glo in Jesus en ontvang Sy geregtigheid, en krag om reg te lewe.  

Bid hierdie gebed nou!

Here ek glo. Hier is ek, ek buig my knie, ek bely my sondes, ek gee oor, ek kies om myself te vergeet, en my kruis van gehoorsaamheid op te neem. Ek wil U volg met my hele hart, siel, krag en verstand.  Maak my vandag U kind! Dankie Here Jesus, ek ontvang in die geloof U geregtigheid.