Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

LEI iemand om volgeling van Jesus te wees

VERSPREI DIE WOORD

Hoe is dit moontlik dat een man, met 12 vriende, en later net 120 mense wat in ‘n bovertrek saam was die hele wêreld verander het? Dis natuurlik nie ‘n alledaagse gebeurtenis dat iemand uit die dood opgestaan nie! So ook nie die Hemelvaart nie. Die uitstorting van die Heilige Gees was so betekenisvol en kragtig, niemand kon dit vir hulleself hou nie! Daar het al verskeie mense uit die dood, weer lewendig geword. Daar was al verskeie ghoeroe predikers, filosowe en mistiese leiers maar niemand het al ‘n groter volhoubare impak op die wêreld gemaak vir twee duisend jaar as Jesus nie!

Alhoewel sommige mense al ‘n beweging mag begin het, het niemand dit al ooit reggekry dat ‘n beweging vir nou alreeds bykans 2000 jaar momentum hou, en nog steeds groei nie.  Deur die eeue het die realiteit van die persoon Jesus Christus, Sy opstanding en Hemelvaart, en die uitstorting van die Heilige Gees mense aan die praat, mense se lewens verander, groeperinge vorm, want Hy is ‘n werklikheid!

Volgens kenners ontketen ‘n storie wat viral gaan die volgende emosies: Geluk, verassing, admirasie, tevredenheid, hoop, liefde, konsentrasie, trots en dankbaarheid. Die uitdaging is dat elke boodskap, video, artikel wat wel viral gaan, nie volhoubaar is nie. Dit trek aandag vir ‘n oomblik, tot die volgende viral boodskap die massas se aandag trek. 

God soek nie jou aandag vir ‘n oomblik nie, Hy soek jou lewe!

Hy soek nie jou admirasie vir ‘n paar minute nie, Hy soek jou oorgawe!

Jou betrokkenheid en interaksie met Jesus, spoor voortdurend bogenoemde emosies aan. Hy is die objek van ons liefde, aspirasie, geluk, tevredenheid en fokus. 

Om vir Christus te volg is nie sommer vir almal nie. Dis nie ‘n populêre tipe voel-goed-oor-jouself godsdiens nie. Dis nie ‘n I’m OK, you’re OK dingetjie nie. Dis nie ‘n resep vir sukses- en welvaart nie. Dit bied geen kitsoplossings nie. Dis die moeilike weg. Dit daag ons uit om meer as net mensekinders te wees, om meer te doen as wat mense maar doen. Dit daag ons uit om kinders van God te wees. Hy wys ons wie ons Skepper bedoel het ons moet wees!

JESUS was die perfekte mens! Sy spiritualiteit, denke en nugterheid, emosionele intelligensie, leefstyl en gewoontes, verhoudingeweredigheid en identiteit is die praktiese beste ideaal vir ‘n gesonde lewe. 

Jesus is nie ‘n mode gier nie.

Jesus is die antwoord vir elke menslike nood.

Dis soos ‘n perfekte resep, as jy Hom probeer, Hy kan nie flop nie. Jy moet Hom net probeer. Mense beleef dus vandag nog steeds dieselfde resultate as 2000 jaar gelede, as hulle kies om Jesus te volg met hulle hele hart. 

Jesus leer ons om te vergewe, om selfloos te word, om dankbaar en vervuld te bly, om ons besig te hou met dinge wat werklik ewigheidswaarde het. Hy heilig ons van die blindekolle van skadelike gedrag en motiewe. Hy fokus ons bestaan, om ligter te lewe. Hy anker ons identiteit en gee ons ‘n dieper rede vir bestaan. 

dit is nou tyd om die woord te versprei. Ons moet nou nie terughou nie! Ons moet elke geleentheid gebruik om die Woord en ons getuienis te laat WEERGALM!

Versprei die eer van Sy naam! 

(Mat 9:31) But when they had departed, they spread the news (Literally made Him known) about Him in all that country. (Land) Ten spyte daarvan het hulle weggegaan en oral gaan vertel hoe wonderlik Jesus is.

En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ’n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.” (Acts 6:7, DIE BYBEL: Afrikaans 1933/1953-vertaling)

Maar die woord van God het gegroei en toegeneem.” (Acts 12:24, DIE BYBEL: Afrikaans 1933/1953-vertaling)

FURTHERMORE, BRETHREN, do pray for us, that the Word of the Lord may speed on (spread rapidly and run its course) and be glorified (extolled) and triumph, even as [it has done] with you, (2 Thes 3:1) (Amplified)

Maak dissipels 

Commanded to Love Commissioned to Go is die leuse en primêre fokus van alles wat ons doen in Harvester.  Die kerk het een primêre opdrag gekry, Gaan maak dissipels. (Mat 28:19) Die kerk se onvermoë om dissipels te maak lei daartoe dat ons nie meer relevant is nie, en ook nie meer ʼn volhoubare verskil in die samelewing maak nie.  Harvester is ʼn gemeente van ‘harvesters’! Dis hoekom die Here ons almal in die eerste plek geroep het, om soos Sy dissipels “vissers van mense te word.” (Mat 4:19) Die viswaters waar God ons na toe geroep het om vis te vang is nie maklik nie.  Die vis byt nie maklik nie. Hulle is té versadig met die dosis van Godsdiens wat hulle elke dag gevoer word.  God is Here van Sy kerk, en Hy bou, en voeg by soos Hy wil.  Ons moet net gereed wees om te doen soos Hy sê. As Hy ons vra om die net aan die ander kant in te gooi doen ons dit gewillig.  Ons het net soos die dissipels heel nag probeer, maar niks gevang nie.  Die Here roep ons gemeente om dinge anders te doen!

Wat is die karakter eienskappe van ʼn dissipel?

Die woord ‘dissipel’ in die Grieks – mathetes beteken leerder, student, leerling, volgeling.  Jy word ʼn dissipel van Jesus wanneer die Here dit in jou werk om jou lewe neer te lê, verloën en oor te gee aan Jesus. Verloëning = (Nederigheid soos ‘n perd) , jy jou kruis opneem = (Gehoorsaamheid soos ‘n hond) en Hom volg = (Waarheid soos ‘n arend).  Mat 16:24 Soos wat ons Jesus volg, lei en help ons ander om Hom ook te volg. Dit is so eenvoudig soos dit!  Jesus se dissipels het Hom gevolg.  Ons wil nie hê mense moet ons volg nie.  Hulle moet soos ons, Jesus volg. Ons almal volg Hom saam, en leer nog elke dag om self oor te gee, en Hom nog meer te volg in alles wat ons doen

 

 

 

 


Hoe maak ons dissipels?

Die Here werk al hierdie bogenoemde eienskappe in ʼn mens, ons werk is om uit te reik, en brûe te bou, sodat die mense wat God alreeds in hulle harte voorberei het, net kan oorkom na Hom toe.  Ons moet bloot só leef, dat mense ons sal wil volg, van ons sal wil leer, en van ons sal wil ontvang.  Die res is God se werk! Die Bybel gebruik verskillende terme om na hierdie potensiële dissipels te verwys. 

“Man van vrede” is iemand wat alreeds God se vrede ontvang het, maar nog nie ingeskakel is by God se familie nie.  Indien die persoon nie meer ontvanklik is nie, gaan na die volgende huis, dorp.  Dit is belangrik om in die gees die man/vrou/skoolmaat as die persoon van vrede te kan identifiseer.  Soos wat jy in die winkel ʼn vrug toets om te bepaal of dit ryp is.  Moet ons die kuns aanleer om mense te kan “lees” in die gees, of hulle ryp is. 

“volg my” (Mat 4:19; 16:24) Dis belangrik om op te let dat die dissipels nie vir Jesus uitgekies het nie, maar HY het hulle geroep en genooi.  Ons wag soms totdat mense eers reageer, Jesus het sy dissipels in die Gees geïdentifiseer en hulle genooi om hom te volg.  Ek glo hierin lê ʼn sleutel vir ons.  Vra die Here om jou te wys, wie die dissipels is wat Hy voorberei het, om jou te volg. Wanneer jy hulle ontmoet, nooi hulle! Vra hulle direk.  Kom volg my, kom gaan saam met my na die diens/bybelskool/huiskerk toe.  Kom ons bid saam elke week. Kom doen wat ek doen!

“instruksies” Jesus het gedurig spesifieke en meetbare opdragte aan sy dissipels gegee.  Vakleerlingskap impliseer dat ek leer deur te doen, en nie deur in ʼn klas te sit nie.  (Mat 16:20; 17:9; 21:6; Mar 6:8; Joh 14:21) Ons stap met mense ʼn pad deur hulle te help en te begelei op hulle geloofsreis, met maklike uitvoerbare instruksies.  Gaan maak jy nou só!

“leer” Jesus het gedurig momente geskep om Sy dissipels te leer.  Hy het dan voorbeelde uit die natuur en omgewing gebruik om hulle belangrike lesse te leer. (Mat 5:1) Dit is belangrik dat ons die Woord sal ken, en dat ons onderleg is met betrekking tot die fondasie leerstellings van ons geloof.  Nuwe dissipels is honger vir die woord. Leer hulle, gee hulle materiaal om deur te werk. Elkeen absorbeer die Woord in hulle eie tyd en kapasiteit.  Ons assisteer net deur hulle in die regte rigting te wys. 

“wys en stuur” Nadat Jesus hulle vir ʼn tyd lank gewys het hoe, en ook geleer het, het Hy hulle uiteindelik uitgestuur.  (Mat 10:1; 5-8; 16) Toe gaan doen jy dit ook nou! Deur dit self te doen, en sodoende jou dissipel te wys hoe dit gedoen word, kom jy by ʼn plek waar jy hulle stuur om dit ook nou self op hulle eie te gaan doen. 

“korrigeer” Niemand hou van korreksie nie, maar dis integraal deel van die afrigting proses.   Die vyf vlakke en instrumente van korreksie is: Aanmoediging, korreksie, teregwysing, vermaning, straf.  (Mat 16:23; Heb 12:4-12). Sommige se lewe is so deurmekaar en verwoes deur die vyand, dat die dissipelskap proses ʼn langer tyd vat, soms wissels ons mekaar af met sulke moeilike gevalle, maar ons gooi nooit tou op nie, behalwe as die persoon kies om terug te keer na hulle ou weë.  Onthou die gelykenis van die saaier, die potensiaal van die saad en die groei daarvan, het van die kwaliteit van die grond af gehang.  Sommige mense sukkel om oor te gee, gehoorsaam te wees, en in waarheid te loop en dan neem die proses baie langer. 

“restourasie” Toe Petrus Jesus verloën, het Jesus hom gerestoureer en gehelp om weer sy posisie en roeping as apostel op te neem.  (Joh 21:15-19) Soms is dit nodig om mense wat geval het weer op te help.  Ons is nie verwaant en arrogant nie.  Ons almal kan struikel en val, ons help mekaar op.  Al struikel ek 7 keer, ek staan weer op! 

Wat is die fokus van dissipelskap?

Wanneer Jesus vir sy dissipels nooi om sy volgelinge te word, meld hy ook die rede hoekom hulle Hom moet volg en wat hy hulle gaan leer: “EK gaan van julle vissers van mense maak” Dissipelskap is dus gefokus tot ongeredde mense en ongelowiges.  Dissipelskap is nie gefokus om van ons beter Christene te maak nie! Jesus se oogmerk om hulle te leer, te onderrig was nie met die oog daarop om hulle in die hemel te kry nie, maar om die wêreld deur hulle by die Hemel te kry. Ons volwassenheid in Christus is nie met die oog op die hemel nie, maar met die oog op sondaars.  Hulle moet Jesus in ons sien.  Ons lewe moet by hulle die begeerte skep om Jesus ook na te volg.  Ons doen nie ons naam gestand as ons nie nuwe mense bereik nie. Dis immers wat die woord ‘harvester’ per definisie beteken. Ons kan tog nie dieselfde mense oor en oor “harvest” nie. 

Dit is ook hoekom die groot kommissie of opdrag sê: Gaan maak dissipels van ALLE NASIES! Dit beteken die mense wat nie soos jy is nie. GAAN oorkant die draad en bereik die mense daar ver.  Dit is sekerlik ook die rede hoekom dit soms só moeilik is om die mense naby jou te bereik.  Ons moet nooit opgee om ons eie familie te bereik nie, dit neem soms net langer.  Ons kan egter vandag begin om te gaan en die mense wat ANDERS as ons is te bereik. Dit kos ʼn prys, en moeite en jy moet jou posisie opgee en na hulle toe beweeg.  Indien jy al na ander lande toe gereis het, weet jy hoe moeilik dit soms is. Dit kos jou, jy voel nie veilig nie, hulle praat soms ʼn ander taal, en doen dinge anders.  Dit kos dieselfde prys om ongelowiges te bereik.  Maar ons kan eenvoudig nie langer die veiligheid van ons eie huise en vriende opsoek nie.  Ons is nou groot genoeg om die wêreld aan te pak en elke mens met God se liefde aan te raak.  Ons is nie geroep om eksklusief te wees nie.  Die krag van ons heiligmaking is nie om ons eenkant te hou nie, maar om meer en meer tyd met die Here te spandeer.  Wanneer ons naby die Here leef, werk Hy in ons om ʼn verskil te maak in die wêreld. 

Hoe begin ek?

Begin deur die Here te vra: “Here na wie toe moet ek gaan?” Wie wil u hê moet ek vandag bedien. Maak jouself bereidwillig om vandag iemand te bedien.  Vra die Here dat hy jou sal lei na ʼn persoon van vrede, iemand wie se hart die Heilige Gees al sag gemaak het.  Maak dit jou fokus. Vra die Here alreeds vir ʼn woord vir iemand, al weet jy nie wie nie.  Onthou die Here wag al lankal vir ons om die werk te doen, Hy wil baie meer as ons die wêreld bereik met sy liefde, hy soek net ʼn liggaam om dit deur te doen.  

Die maklikste manier is: maak vriende daar waar jy is, en begin uit te reik na mense. Hoor hulle nood. Bid vir hulle pyn. Gee om, en help waar jy kan.  Maak jouself deel. Dissipelskap gaan oor verhoudingbou.  Jy kan nie iemand dissipel oor ʼn afstand nie wat jy nie gereeld sien nie.  Digitale media maak kontak oor ʼn afstand makliker, gereelde kontak is egter onontbeerlik.  Jesus se dissipels het saam met hom geleef, gewerk, geëet!

Wie is jy besig om te dissipel? Soek een persoon met wie jy verhouding bou, wat nie tans in ons gemeente is, of regtig deel is nie. 

Wanneer dissipel jy hierdie persoon? Enige gereelde weeklikse afspraak.

Waar ontmoet julle, en hoe gereeld? Enige plek, so gereeld as moontlik.

Wat behandel jy met hierdie persoon?  Ons fokus op die wat die Here tans besig is om vir die gemeente sê gedurende die week. Of die Fondasie reeks.

Konnekteer en verbind jou dissipel met die res van die liggaam.

Mense word ons navolgers in ʼn sin, maar hulle moet soos ons Jesus volg. Dit beteken jy moet die persoon help om deel te word van God se familie.  AS jy jou skaam vir jou familie, gaan jy nooit iemand na jou huis toe nooi nie.  Ons wêreld is gans anders as hierdie wêreld, en ons leef vanuit ʼn hemelse perspektief.  Ons is dus bewus van hoe vreemd sekere dinge vir die nuweling gaan wees. Ons is amper bang vir hulle onthalwe dat jou familie die nuweling gaan afskrik.  Jesus is ook hierin vir ons ʼn voorbeeld, alhoewel hy volkome mens was, was hy ook volkome God. Tog was hy ʼn vriend van sondaars. Sondaars was aangetrek deur sy lewe, alhoewel hy nooit gesondig het nie.  Mag die egtheid van ons geloof, en ons eerlikheid oor die lewe en ons eie foute, sondaar aantrek om God se genade te ontvang.  Ons het niks waaroor ons kan spog nie, alles wat ons het, het ons uit Sy hand ontvang.  Ons vriendskapsband is wat die nuweling anker om in die ‘vreemde’ in te waag en ons wêreld te ontdek.

Die verskillende Fases van dissipelskap groei.

Dissipelskap beteken egter nie net dat ons iemand kry om Jesus te volg en dan los ons hulle nie.  Ons het ook ʼn verantwoordelikeheid om mense te help en te lei op hulle geestelike geloofsreis.  Harvester is ʼn “combine harvester”! Dit beteken ons oes nie een-een nie, ons oes saam. Die een saai, die ander gee water en die ander oes.  Ons werk as ʼn liggaam. Dit beteken dat ʼn dissipel nie net aan een persoon gekoppel word nie, maar aan ʼn liggaam, ʼn familie van gelowiges wat elkeen ook op ʼn verskillende fase van hulle eie geestelike groei is.  In die liggaam is daar veiligheid vir almal, en ontvang die nuweling optimale insette van meer as een persoon, en alles is in eenheid.  Dis die genialiteit van God, wanneer Hy SY kerk bou.  Nuwe dissipels word deel van ʼn liggaam. Hulle ontvang ook groei, ondersteuning, van die hele liggaam.

Die Baba Fase: Tydens die baba Fase ontdek die jong gelowige God se nuwe wêreld. Alles is nuut, en hulle wil alles so vinnig moontlik absorbeer, aan alles raak, en alles eet.  Dit is ontsettend belangrik om babas soos babas te hanteer en nie soos volgroeide volwassenes nie. Hulle kan dit eenvoudig nog nie alles absorbeer of verstaan nie, en kan gou moedeloos word. Die fokus is nie kennis nie, maar gehoorsaamheid.  Leer hoe om God se stem te hoor, en te doen wat Hy sê.  Babas is baie emosioneel en beleef alles nog deur hulle sintuie, omdat hulle geestelike sintuie nou vir die eerste keer ontwaak, het hulle nog nie die vermoë om tussen waarheid en die vals te onderskei nie.  Tog het hulle ʼn innerlike sintuiglike aanvoeling vir die waarheid en wat reg is.  Babas kan baie selfgesentreerd voorkom, omdat hulle so afhanklik is, en dis nie verkeerd nie.  Babas moet met baie liefde vertroetel word, en soveel moontlik blootgestel word aan ervarings met die Here.  (Encounters)

Fokus: Fokus op ervarings met die Here

Bemeester: Hoe om God se stem te hoor

Die Kind fase: is die leer ken fase.  Hulle vra gewoonlik honderde vrae en is honger vir die Woord.  Hulle kan maklik ontspoor word, en gou fokus verloor. Begin die Bybel lees, en skrif verse memoriseer. Bou verhouding met die wyer liggaam van Christus, en begin deelneem aan aktiwiteite.   Geestelike kinders werk deur vergifnis van hulle eie sonde, en leer om almal wat teen hulle gesondig het te vergewe.  Kinders moet fokus op hulle verhouding met die Vader, wie is God regtig?, vernuwe en herstel hulle beeld van God.  Maak seker dat jy moeilike vrae Bybels akkuraat beantwoord.  Kinders is baie ontvanklik vir valse lering.  Bly dus by die basiese fondasie stene van ons geloof, en sake van ewigheidsbelang.  Ignoreer vrae en leringe wat nie van ewigheidsbelang is nie.  Oppas om kinders in oorsaak en gevolg leerstellings te verstrengel.  Terwyl God sekere oorsake van siekte, en gebrokenheid herstel is ons fokus nie hierdie oorsake nie.  Te alle tye fokus ons op wat die Heilige Gees op fokus.  Hy veroordeel nie, maar bemagtig ons om dinge te oorwin. 

Fokus: Bevryding en Genesing

Bemeester: Die Fondasie Leerstellings

Die Jongmens fase: Is die ontwikkeling Fase.  Gewoontes, praktyke, karakter, denkpatrone wat nie in lyn is met die Woord van God nie, word gekorrigeer en blootgestel.  Jongmense in die gees moet leer hom om die vyand te identifiseer en hom te oorwin op hulle eie. Hulle word sterk in die gees, en leer ken die Woord.  Hulle woordeskat kom in lyn met die Woord, en hulle moet leer om Woord te dink.  Konsentreer om die Woord te leer ken, deur Bybelstudie, Bybelskool, en Bid die Woord.  Jongmense dien al die Here vir ‘n tydjie, en kom vrymoedig en volwasse voor, maar moet voortdurend gekorrigeer (Coaching) word. Terwyl hulle doen, korrigeer jy.  Deur die toepassing van die Woord in hulle lewe, behaal hulle oorwinning op oorwinning in hulle lewe.  Jongmense moet binne die beskerming van die liggaam bly en nie hulleself te vinnig van die liggaam en familie los maak nie. 

Fokus: Dissipline

Bemeester: Oorwin satan in eie lewe

Die Ouer Fase: Voortplanting Fase. Ons word ouers die oomblik as hulle kinders het.  Ouers maak dissipels en leer en onderrig hulle in die wee van die Here. In die ouer Fase, is goddelike karakter bestendig en natuurlik.  Ouers verstaan wie hulle in die Here is, hulle weet wat hulle roeping is, hulle neem hulle erfporsie in Christus in en is besig om uit die  krag van God te lewe. (Efe 1:17-21) Geestelike ouers is in bediening, en leef in gehoorsaamheid dit wat hulle geleer het oor tyd.  Hulle ken en verstaan God se hart, en leef as Koninkryksburgers volgens God se manier.  Hulle dissipel nou al ʼn paar mense in Christus. 

Fokus: Bediening

Bemeester: Goddelike Karakter en vrug

Die vyfvoud Bediening:

Die Here het ryklik voorsiening gemaak vir optimale groei in die Kerk.  Ons sien hoe mense in so min as 30maande geestelike volwassenheid kan bereik omdat hulle blootstelling gekry het aan die Vyf gawes van Christus.  In elkeen van hierdie gawes is daar ʼn sekere Goddelike genade en vermoë opgesluit wat nodig is vir optimale geestelike volwassenheid in Christus.  Nuwelinge in God se familie ontvang die krag van hierdie gawes op twee maniere.  1) Deurdat hulle direk blootgestel word aan mense wat in elkeen van hierdie gawes opereer.  2) Wanneer hulle die aktiwiteite wat gegrond is op elkeen van hierdie gawes bywoon en deelneem.  Jy maak dus vriende met byvoorbeeld ʼn apostel, en word direk onderrig, of jy woon aktiwiteite by wat apostolies van aard is.  In ons gemeente gebeur beide spontaan.  Ons aktiwiteite is daarop gerig dat jy die input van al hierdie vyf gawes gaan ontvang, en jy gaan op jou beurt van tyd tot tyd deur een van hierdie mense gedissipel word.  Soos wat ʼn atleet se afrigter ʼn gebalanseerde en gediversifiseerde oefen program vir sy leerling uitwerk, is ons aktiwiteite daarop gerig om jou maksimum blootstelling te gee. Laat die Gees jou lei, en volg die volledige oefenprogram om al die seën beskikbaar te geniet.  Soos wat meer en meer mense hulle bediening ondek en uitleef, sien ons ook hoe die Here mense in Sy liggaam gebruik.  Sommige is evangeliste en bereik baie meer ongelowiges as ander. Maar elkeen se lewe is gerig om siele te wen, maak nie saak in watter amp jy opereer nie. 

Die Werk van die Heilige Gees

Die Heilige Gees is die krag en energie van enige dissipelskap program.  Hy is die program! Soos wat ons meer en meer gevul raak met die Heilige Gees, werk Hy in ons. Stuur Hy ons. Gee Hy vir ons Sy gawes om mense aan te raak met God se liefde. Daarom raak ons ook nooit moeg nie, want Hy vuur die passie in ons hart.  Wanneer ons getuies raak van hoe God mense se lewens deur ons transformeer raak ons so opgewonde en gemotiveerd dat ons nie kan wag om te sien hoe God dit met die volgende en die volgende persoon gaan doen nie. 

Hoor wat die Heilige Gees vir Sy kerk sê. 

Fokus op die oes. Visvang “tips”

Dis baie moeilik om families as ʼn eenheid te dissipel.  Maar jy en jou vrou en kinders kan onderskeidelik die familie as individue bedien. Man bedien man, vrou die vrou, en kinders die kinders. 

Sommige mense wil nie na ons kerk toe kom nie, want iemand in Harvester het hom/haar af gesit.  Ons is almal navolgers van die Here, elkeen is besig met sy eie reis, en val soms en struikel. Maar kom volg jy my! (Joh 21…)

Sommige mense volg alreeds die Here maar is nie iewers ingeskakel nie.  Begin deur die persoon gereeld te bedien, en nooi na kleiner geleenthede, selfs ook eers ʼn Harvester Social.  Laat hulle welkom voel in ons familie. 

Besoekers tydens dienste: Maak moeite om mense tuis en gemaklik te laat voel.  Maak gebruik van die geleentheid om so ʼn persoon te nooi vir koffie.  Moenie aarsel of terughou nie, soms dink ons iemand anders gaan die persoon nooi en dan doen niemand dit nie.  Eerder 3 of vier uitnodigings van die hand wys, as geen kry nie.  Moenie net met Harvester familie gesels nie, stel jouself voor en maak kennis. 

Dissipelskap is een tot een tyd met iemand.  Ons lewe in ʼn era, waar daar al hoe minder tyd is vir een tot een diep gesprekke.  Hoe meer ons tyd gaan maak en uitreik, hoe meer gaan ons uitvind hoe honger mense vir hierdie tipe aandag is. 

Indien jy nie weet wie jy moet dissipel nie, en ook nog nie deur iemand gedissipel word nie, raadpleeg ons. Ons sal jou help om met die regte persoon vir ʼn tyd te “connect”.