Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Ons Geskiedenis

Stigting en ontstaan

Harvester Reformerende Gemeente se ontstaan en bedrywighede in die Olifantsriviervallei.

Die ontstaan van Harvester Reformerende Gemeente Olifantsriviervallei is die gevolg van ’n handjie vol gelowiges wat honger was vir geestelike verdieping en hernuwing.

Die gemeente in Citrusdal is gestig op 18 Januarie 1996 op die plaas Grey’s Pass, vandag Hebron, oorkant Piekenierskloof Lodge, deur dr. André Pelser, ʼn hedendaagse apostel en stigter van die Harvester Reformerende Netwerk van Kerke.  In konteks van die menige kerke wat bestaan, vind HRCO hulleself in die middel tussen die Gereformeerde en Charismatiese/Pinkster groepering met ‘n primêre Christosentriese Fokus.

Dr. André Pelser onthou dat die ontstaan van die kerk hoofsaaklik die werk van goddelike ingryping was. Die spesifieke aand toe hy die gemeente gestig het, het hy ’n duursame jas van een van die persone gevat en vir haar gevra of sy vir die jas betaal het. Sy het natuurlik “ja” geantwoord. Daarna het hy ’n uitnodiging gerig aan die toehoorders. Wie sou bereid wees om die jas aan te trek en simbolies die prys te betaal vir ’n vernuwende kerk in die omgewing? Sestien persone het die uitdaging aanvaar, waaronder ’n 12-jarige seun. Sy rede? God het sy vratjies genees toe dr. Pelser tydens ’n vorige besoek vir hom gebid het!

Jaco en Wanita van Staden was die eerste heeltydse geestelike leiers wat na Citrusdal gestuur is. Hulle opleiding het hulle voltooi by die Life of Christ Bible Institute in Milnerton, Kaapstad. Onder Jaco se bediening het die gemeente gou gegroei, en is daar ook 2de gemeente op Porterville geplant.  Na drie jaar het Jaco en Wanita gelei gevoel om na die Oos-Kaap te verhuis. Die tyd was ryp dat die kerk na die volgende fase moes beweeg. Op 1 Junie 2000 het Jan en Chantál die roepstem van die Here na Citrusdal aanvaar en hulle het die nuwe gemeente leiers geword.

Oorsig: Jan & Chantál Oosthuizen[1]

Jan en Chantál gee albei op ’n baie jong ouderdom hulle harte vir die Here – Jan was 13 jaar oud en Chantál 11. Dis ’n wonderlike voorreg om die Here van ’n jong ouderdom te dien en aan Hom toegewyd te wees, want mens word soveel pyn en leed gespaar. Dis net genade en ’n wonderlike voorreg! Om as kind die Here voluit te dien, is verseker die beste manier om te leef. Beide Jan en Chantál ontvang ook tydens hulle grootword jare ’n roeping om vir die Here te werk.

Op ’n gemeentekamp in Pinetown roep pastoor Ben van Wyk vir Jan vorentoe. Hy salf sy hande met olie en profeteer: “Jy sal jou hande op mense lê en hulle sal die Heilige Gees ontvang, soos die apostels van ouds.” Jan was net 13 jaar oud. Toe hy sy hande op die mense teenwoordig lê, het verskillende mense spontaan onder die krag van die Here gekom, geprofeteer en in tale begin praat. Na die afloop van die diens het ’n profeet na Jan toe gekom en gesê: “God roep jou tot voltydse diens, om as prediker sy Wil te verkondig.” Roep uit volle bors, moet niks verswyg nie! Laat jou stem hoor, duidelik soos ’n ramshoring! Wys my volk op hulle oortredinge, die afstammelinge van Jakob op hulle sondes. (Jes. 58:1)

Jan matrikuleer in 1988 in Pinetown waarna hy ’n diensjaar voltooi in Lyndhurst, Johannesburg, by M28:19 Jeugspanne. Hy begin sy studies in Aucklandpark by die AGS Teologiese Kollege. In hierdie tyd is hy as aspirant leraar in Krugersdorp-Oos-gemeente betrokke waar hy dan ook teen die voltooiing van sy studies gelegitimeer word tot die voltydse bediening in die AGS Kerk (1/90 – 5/93). Na sy studies skryf hy in by Rhema Bible Training Centre vir voortgesette studie, maar moet na ses maande sy studies staak toe hy die beroep na Brakpan Betésda-gemeente aanvaar (06/93 – 10/97). In Brakpan het hy verskeie posisies beklee: voorsitter van Brakpan-kindersorg, voorsitter van die plaaslike ontwikkelingsforum en hy begin ook ’n gemeenskapsentrum, P.O.W.E.R. House, vir jongmense. In hierdie tyd raak Jan by Walk Thru the Bible betrokke en word opgelei as instrukteur vir die “Walk thru the OT and NT”-kursusse in Afrikaans en Engels, asook “Leadership, Teambuilding and Sharpening your people skills”-seminare. Jan fokus daarna op die “Portrait of Marriage”-seminaar en het dan ook sedertdien landwyd verskeie kursusse aangebied.

In 1996 – 1997 breek daar herlewing uit in die gemeente in Brakpan. Jan soek leiding en hoor van ’n “Apostolic Breakthrough” konferensie wat deur dr. André Pelser in Kaapstad aangebied word. Die Here toon Jan tydens hierdie konferensie, in ‘n week lange oop visie, van die kerk wat God bou. Tot vandag kan hy nie in woorde verduidelik wat hy gesien het nie, net dat die funksionering van die kerk iets bonatuurlik, goddelik en gans anders is as die organisasies van ’n mens. Hierdie visioen van die kerk wat die Here bou, kan net gebeur waar mense Hom toelaat om Sy kerk te bou deur algehele gehoorsaamheid en bereidwilligheid om deurentyd deur Sy Woord en Heilige Gees hervorm te word. Na die visie het Jan ervaar die Here roep hom om ’n gemeente in Stellenbosch te plant. Die woord is een week later tydens ’n aanddiens deur 12 verskillende mense, wat Jan en Chantál geensins geken het nie, bevestig. Toe Jan terugkeer na die gemeente in Brakpan, het ook die presiderende pastoor gesien dat daar ’n groot verandering in Jan en Chantál plaasgevind het. Hy het ervaar dat die Here hom lei om hulle te laat gaan om die Here se wil in die Kaap te gaan doen.

Die geloof stap was egter nie maklik nie en sou beteken dat hulle nie net die AGS Kerk moes bedank waar hulle grootgeword het nie, maar ook hulle werk moes bedank, huis verkoop, en sonder enige vaste betrekkings Kaap toe trek. Op grond van hierdie duidelike inspraak dat die Here hom roep vanuit die AGS Kerk, gaan sien Jan dr. Isak Burger, president van die AGS Kerk, en ontvang dan ook sy seën en goedkeuring.

In Desember 1997 begin Jan sy bediening by Harvester International Ministries in Milnerton, Kaapstad [2]. Hy word later die dekaan van die Life of Christ Bible Institute (Vandag Miracle Bible Training Centre [3]), asook die administrateur van die kerk. Toe daar ’n vakature in Citrusdal ontstaan en die Here lei dat dit Jan en Chantál moet wees wat moet kom, was hulle aanvanklike reaksie negatief. Maar toe hulle besef dat dit die Here is wat hulle stuur, het hulle onmiddellik alles gelos en gekom. “Want nou sal jy die stad verlaat en op die veld gaan woon; en jy sal in Babel aankom—dáár sal jy gered word, dáár sal die Here jou verlos uit die hand van jou vyande (Miga 4:10).

In Citrusdal het die Here op meer as een manier hierdie skrif vervul en Jan en Chantál se bediening geseën. Jan word in 2002 georden as apostel tot die Weskus met die mandaat om reformasie te bring in die kerk van Jesus Christus. Jan en Chantál spits hulle hoofsaaklik daarop toe om verhoudings te reformeer op grond van die Woord van God. Dit behels ’n wye spektrum van verhoudings, nl. tussen man en vrou; tussen ouer en kind; tussen kulturele groepe; tussen verskillende kerkgroepe; en tussen mens en God. Hulle bied verskeie programme op Radio Namakwaland aan, asook verskeie kampe, seminare en spesiale geleenthede tot hierdie doel van verhouding-reformasie.   

Jan het drie boeke geskryf: “Die persoon en die werk van die Heilige Gees”; “Jesus, die beste lewe ooit geleef” is ook in Engels vertaal. Die nuutste boek “Wat is God se hart vir Sy kerk”, is in 2022 uitgegee.[4] 

In 2008 stig Jan saam met Martine Mouton HUG Help Us Grow in Citrusdal, en kom daar uiteindelik ‘n pragtige Kleuterskool in Stofpad Riverview se informele nedersetting tot stand. Die organisasie beywer hulleself om kwesbare gemeenskappe wat in die mees haglikste omstandighede woon, te help om op te staan en waardige medeburgers te word wat weer ander kan help.[5]

In 2019 word Jan deur Dr Arno van Niekerk genader om ‘n Koninkryk Bloudruk vir die Landbou te formuleer.  Hieruit is daar drie Christusentriese Koninkryk gerigte Grondhervorming Berade gehou in Sandton JHB, Middelburg EC, en Paarl WC.  Vir meer inligting besoek die webblad.[6]

Jan is ook betrokke in die gemeenskap waar hy in 2018 in Citrusdal die sameroeper was van “Voorkomende Oplossings” om deur verskeie brugbou gesprekke vreedsame oplossings te vind vir die gemeenskap.  Jan is tans betrokke by die Gemeenskap Polisiëring Forum, Die Kliniek Komitee, die Sakekamer as brugbouer om die gemeenskap nader aan mekaar te bring en die uiteindelike totstandkoming van ‘n Sosiale Kompak van Samewerking en multisektorale deelname en geïntegreerde gemeenskap opheffing betrokkenheid.[7]

Daar is al sedert die Citrusdal stigting verskeie gemeentes geplant: In 2002 begin Jan & Chantál uitreik na die Op die Berg gemeenskap. Na drie jaar, begin die Shofar Kerk ‘n gemeente op Ceres, en lei die Here dat die Op die Berg gemeente aan Shofar se leierskap oorgegee word. Christoff vd Merwe een vd bekeerlinge van die werk Op die Berg is vandag die Pastoor van Shofar Ceres.

Die werk in Clanwilliam begin in 2004 nadat verskeie individue en ‘n onafhanklike Bybelstudie groep gevra het dat ons in Clanwilliam kom help. Daar was eers begin met Huiskerke, daarna ‘n Bybelskool en op 12 Februarie 2006 hou ons, ons amptelike eerste Aanddiens in Clanwilliam by Augsburg Landbou Gimnasium. Dienste is intussen op verskillende plekke gehou, o.a. die Rolbalsaal, die Landbou Saal maar uiteindelik het ons in 2010 begin om die Blommekerk te gebruik.

In 2006 het ons begin uitreik na Vredendal, eers deur Lig en Lewe gemeente te ondersteun vir 3 jr, en daarna is ‘n amptelike Harvester Gemeente in Vredendal gestig, nou onder leiding van Jan-Hendrik & Monica Kleinhans – KOMPAS Familie Gemeente[8].  In 2022 stig ons ‘n gemeente in Graafwater o.l.v.. Willie & Wena Botha, asook Harvester Victoria Wes o.l.v. Lazarus en Maria Makwena.

Die Harvesters glo dat ‘n gemeente se aktiwiteite nie beperk moet wees tot Sondag byeenkomste nie, mense word deurentyd toegerus vir hulle dienswerk, en gemobiliseer om betrokke te raak in die gemeenskap op elke vlak deur te dien.

Die mens as ’n multi-dimensionele wese verlang om GEESTELIK vervuld, EMOSIONEEL tevrede en gelukkig, INTELLEKTUEL ingelig, SOSIAAL betrokke, FISIES fiks, in IDENTITEIT koersvas, EKONOMIES bemagtig en ‘n goeie rentmeester van ons HULPBRONNE te wees.  Harvester bied ‘n liefdevolle genesende GESIN-EKO-SISTEEM gesentreer rondom die lewe en persoon van Jesus Christus om die LEWE saam in oorvloed te LEEF.

Harvester vervul die GROOT OPDRAG van Jesus om te GAAN, en dissipels te maak van al die nasies (Matt. 28:19) en Sy BEVEL om ons medemens LIEF te hê, te gehoorsaam (Joh. 13: 34-35; Joh. 15: 12-14; Jak. 2:8). Op grond van die ontdekking van Sy liefde vir ons, is ons lief vir die Here met ons hele hart, ons ganse gemoed, ons hele verstand en al ons krag!  (Deut. 10:12; 30:6; Mark. 12:30; Luk. 10:27). Jesus is immers die rede vir ons bestaan, want Hy het ons eerste liefgehad. (1 Joh. 4:19) Sy liefde genees en herstel ons wese, en werk in ons om saam met alle gelowiges mekaar lief te hê soos Hy ons lief het (Lev. 19:18; Ef. 5:2; 1 Tess. 4:9;1 Pet. 1:22; 1 Joh. 2:7). Sy liefde dring ons om te gaan en mense dissipels van God te maak (Matt. 28:19).

Die hartklop en lewe van ons gemeente is Jesus. Hy is ons visie, ons missie en ons algehele fokus en rede vir bestaan. Ons het niks anders om hierdie wêreld te bied as Jesus nie. Hy is ons lewe! Hy is ons roeping en sending – dit is om soos Hy lief te hê en die wêreld navolgers van Jesus te maak. Om soos Jesus te word, is die sleutel tot ’n vervulde en gelukkig lewe. Dit is immers ons skeppingsdoel (Rom. 8:29). Jy sal die beste huweliksmaat wees om mee saam te leef, die beste sakeleier of werker vir enige sakeonderneming, die beste tipe vriend, die beste ouer. Die hoogste ideaal vir elke mens se bestaan is Jesus.

Sedert die eerste dag toe God Sy Seun Jesus in ons wese geaktiveer het, word ons elke dag meer en meer soos Hy. Christus is God se liefdesgeskenk aan ons, maar Sy lewe en handeling in en deur ons is ons liefdesgeskenk aan God.

Mag elke persoon wat God aan ons gegee het, om deel te wees van hierdie deel van die familie van Christus, groei in volwassenheid en Jesus-vrug! Mag ons getuienis onder mense van hierdie omgewing wees dat ons liefdevolle, sagte, spontane mense is. Mense wat geestelike diepte het en standvastig is in hulle geloof. Mense wat jy kan vertrou, en deur wie God se Gees kragtig werk. Betroubare, getroue en opregte mense op wie jy kan staatmaak. Pilare in die gemeenskap wat hulle invloed gebruik ten bate van die wat onderdruk en minderbevoorreg is. Mense wie se karakter, woorde en dade een reguit lyn is, wat jou nie net seën met hulle woorde nie, maar wat jou daadwerklik help en ondersteun totdat jy weer op jou voete is. Mense wie se besigheid en werksaamhede getuig van godsvrug: betyds wees, deugsaamheid, netheid, kreatiwiteit, gehalte werk en akkuraatheid. Mense vol van genade, geloof en vryheid!

In ons omgewing ken mense mos mekaar. Die meeste boorlinge van ons dorp het saam grootgeword, en ken mekaar se nukke en grille. Wanneer iemand wat bekend was vir sy of haar selfsug en eiegeregtigheid skielik nederig, tegemoetkomend en bo alles vrygewig is, dan weet mens dit is Jesus se werk. Soos enige ander gemeente bestaan ons gemeente nie uit perfekte mense nie, maar uit gebroke kruike waardeur God kies om Sy heerlikheid aan die wêreld te toon. Mag God ons saam met al die ander gelowiges in ons gemeenskap steeds bly reformeer om meer gelykvormig te word aan die beeld van Sy Seun, Jesus die Christus.

Vir meer inligting:

www.hrco.co.za

+27 83 230 8804 Selfoon & Whatsapp
ja*@hr**.za

Ons hou tans Sondagdienste in Citrusdal (9:30 – Pomario Privaat Skool) en Clanwilliam (18:00 – Blommekerk) met huiskerke feitlik in al die omliggende dorpe.

Aan Hom alleen kom toe al die lof en eer.  

Die volkome genesing van die totale mens in Christus Jesus ons Here!

[1] https://web.facebook.com/janenchantal.oosthuizen/
https://www.linkedin.com/in/janoosthuizen/

[2] https://harvesterchurch.net

[3] https://miraclebibletc.org

[4] https://a.co/d/aghEBtZ Amazon
https://diebestelewe.co.za
https://bybel-skool.hrco.co.za/wat-is-god-se-hart-vir-sy-kerk/

[5] https://web.facebook.com/groups/ubuntuchilddevelopmentcentre/

[6] https://landsummit.co.za

[7] https://www.changemakershub.org/why-a-social-compact/

[8] https://web.facebook.com/HarvesterVredendal