Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Ons hoor so baie wat verkeerd met die kerk is, maar wat is die onwankelbare realiteit van kerk wat nie geskud kan word nie? (Heb 12:21-29) Die mense verwesenlik organisasies, maar die Here belowe: “op hierdie rots sal ek my kerk bou en die hekke van die hel sal nie daarteen kan stuit nie” (Mat 16:18)  Hierdie rots was nie Petrus nie, maar wel die openbaring wat hy gehad het dat Jesus waarlik die messias is. Sedertdien het miljoene mense al tot die openbaring gekom dat Jesus regtig is wie Hy sê Hy is.  

Die gedeelte in Hebreers is die klimaks van die boek. Die hele boek verduidelik dat ons ‘n beter hoop het waardeur ons nader (Heb 7:19) deur ‘n beter verbond (Heb 7:22) deur ‘n beter hoëpriester en middelaar (Heb 8:1) van meer uitnemender beloftes (Heb 8:6) deur beter offers (Heb 9:23) deur ‘n nuwe en lewende weg (Heb 10:19) en dan die absolute hoogtepunt: Maar julle het gekom!!! Julle het dus nie meer nodig om enige offers te bring nie!!! Julle begin nie buite nie, julle begin binne in Christus! 

Sion, die stad, nuwe Jerusalem, die bruid, engele, feestelike vergadering, geeste van volmaakte regverdiges is alles metafore vir julle is in EDEN! Julle is verenig met die geestelike realiteit van die hemel. Jesus het verklaar; “Die koninkryk “God se realiteit” het nou naby gekom! Julle is dus in Christus, op grond van Sy geregtigheid en genade wat julle nie kon verdien nie, naby gebring, binne-in gebring, in die heerlikheid van die Godheid! 

Hier is ook ‘n finale vyfde waarskuwing: 25Pas op dat julle Hom wat met julle praat, nie ignoreer nie. (Heb 21:25) 

  1. Vandag wanneer julle sy stem hoor, 8moet julle nie julle harte verhard nie (Heb 3:7) 
  2. Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. (Heb 3:12)
  3. omdat julle traag geword het om te hoor. (Heb 5:11) 
  4. hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? (Heb 10:29) 

God is ‘n Vader, en enige Vader wil sy kinders onderrig en voorberei om die lewe in oorwinning te leef. Dit impliseer dat Hy ons toets. Uiteindelik is alles wat ons daagliks beleef ‘n toets om te sien of die “container” die gewig van Sy heerlikheid kan dra.  (2 Cor 4:7) Hy wil sonder beperking Sy Gees en volheid deur ons laat werk, soos met Sy dissipels, honger skares, storms op die see, muntstukke in vis se bek, was ‘n toets om hierdie lewe vanuit die HEMELSE REALITEIT IN ONS hart te hanteer! 

In Hom is daar ewige onveranderlike liefde, vrede, heilsaamheid, voorsiening, verbondenheid. In hierdie wêreld is daar tekort, verlies, agteruitgang, verwoesting, teenstand, probleme, verdeeldheid, beperkinge! IN CHRISTUS is ons tot alles in staat! (Phil 4:13) Meer as oorwinnaars, (Rom 8:36) ver bo alles wat ons bid of dink (Eph 3:20) Groter is Hy wat in my is as Hy wat in die wêreld is (1 Joh 4:4) Die vyand kom met die realiteite van hierdie wêreld… het God regtig gesê?? Kinders van God het egter alreeds tot ‘n hemelse realiteit GEKOM!!! 

In hierdie realiteit hou ons alreeds fees! Is ons verenig met alle gelowiges wat geleef het, en nog gaan kom. Ons is vrygemaak van die skaamte, veroordeling en houvas van sonde! Ons kruip nie meer vir God weg nie!! Ons is in Christus Jesus, met God en met die familie van God versoen, saam met die Heilige Engele!! 

God kan nie die volheid van Sy heerlikheid op een slag in ons losmaak nie, ons sou dit nie kon hanteer nie. In ons geloofsreis met die Here, bou Hy ons kapasiteit om vanuit Sy heerlikheid te dink, te praat en te leef!!! MOET NET NIE JOU HART VERHARD NIE, Moenie rebels raak nie! Moenie ongehoorsaam bly nie! Elke keer in elke krisis gaan Hy vir ons ‘n hemelse realiteit uitweg en uitkoms bewerk. Ons moet fyn luister en presies doen wat Hy vra. Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword.  (Heb 5:8) Jesus het net soos ons aardse beperking getrotseer! Tog het Hy gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het Die hemelse realiteit is onderstebo en anders as die wêreld. Jy leer om te gee as Jy wil hê, om jouself te verloën om te lewe, om te rus as jy voel om te baklei, om te dien as jy voel om te lei, om laaste te gaan staan as jy voel om voor te loop, om te vergewe eerder as om te vergeld! Elke keer wanneer ons hierdie toetse slaag deur Sy genade wat Hy in ons werk, bou ons kapasiteit om meer gewig te dra.  

Behou jou vrede! Moenie reageer in die vlees nie! Uiteindelik bou hy in ons onsigbare hemelse realiteite wat nie geskud kan word deur dié wêreld se verganklikheid en wanorde nie.  Kain het Abel se lewe geneem, omdat Hy nie Sy broer se beskermer wou wees nie. Jesus word die beskermheer van die mensdom om almal se sonde op Homself te neem, en ons te versoen met die Vader en met mekaar.  

Die kerk, bruid, liggaam, heilige priesterdom is dus baie meer as net ‘n denominasie, kerkgenootskap of gebou! Dis baie meer as ‘n samekoms, of die te kort aan saamwees. Ons is in Christus Jesus verenig, verbind, saamgevoeg, ingeënt, gegrondves as lewende stene in Sy gebou! Ons is deel van mekaar, die bekendes en die onbekendes! Die wat ons gereeld mee kuier, en die wat ons een keer per jaar sien, die wat ons vooruitgegaan het, en die wat nog gebore gaan word. Ons is die ewige heilige uitverkorenes van God wat Christus Jesus ontvang het, en elke dag soos drankoffers uitgegiet word tot Sy eer!