Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Ons is almal oorlewendes! Dreigende internasionale kwessies soos die oorlog in die Oekraine, en meer en meer proteste a.g.v. hongersnood vul ons koerante daagliks.  Die verwarring en ontkenning van Bybelse norme wat deur die Liberale “woke” kultuur aangevuur word maak mens bang oor die toekoms vir ons kinders.  Nasionale kwessies soos Covid-19; ekonomiese resessie; staatskaping korrupsie; en Eskom krag tekorte is bitter ontwrigtend. Streek-kwessies soos droogte; hoë insetkoste; swak pryse; resessie en hoë insetkoste bedreig ons bestaan.  Persoonlike kwessies soos siekte; werkloosheid; versorging van bejaarde ouers en uitkom met jou geld aan die einde van die maand vul ons met bekommernis.  

TOG is die waarheid realiteit: Deur die mensdom se geskiedenis sien ons dat ons nog altyd hierdie tipe krisisse oorleef het! Ons lees van diktators, wêreldoorloë en totale ekonomiese insinking en vandag is ons globaal ryker en beter daaraan toe as ooit! Ons het oorleef! 

Alhoewel oorlewing die sterkste drang in die mens is, en ons dankbaar is vir die deursettingsvermoë van die wat ons voorafgegaan het, is daar ‘n gevaar om in ‘n oorlewing modus en mentaliteit vas te haak.  Oorlewing verg soms dat mens die reëls breek en bloot net doen wat nodig is om te doen.  In oorlewing het mens soms nie ‘n keuse as om reëls te breek, mense seer te maak, en alles in jou vermoë te doen om net te oorleef nie!! 

Krisisse vra nie ‘n adres nie:  die skielike dood van ‘n geliefde, of kind; die ontrouheid van ‘n  lewensmaat; die biopsie verslag van kanker; oeste word deur die wind verwoes; terwyl jou buurman se vrugte onaangeraak aan hulle bome hang; die bietjie wat jy gedink het jou gaan deurdra is ook na daarmee heen!

Krisse gebeur en soos ‘n fratsgolf moet mens veg net om kop bo water te hou.  Soms word mens onredelik in die werksplek hanteer, en vir iets beskuldig wat eintlik iemand anders se skuld was.  Die onregverdige uitslag van die regsbank:  ‘n afdankingsbrief.  

Die waarheid is: jy sal OORLEEF! Deur trane, en bloedsweet jy sal oorleef!

Ons kan almal vandag na feitlik enige mens om jou kyk en by hulle ‘n oorlewingstorie uitvis! Ons is almal SURVIVORS! 

Oorlewing kan egter ‘n mentaliteit raak.  Oorlewing is vir sommige ‘n werkswyse ‘n manier van leef.  Uiteindelik weerhou ‘n oorlewingsmentaliteit ons van God se beste.  

Vir oorlewing werk jy deur die nag vir ‘n paar aande, maar nou raak dit ‘n lewenspatroon. Vir oorlewing na trauma hou jy jouself eenkant, nou is jy alleen en het geen meer vriende nie. Vir oorlewing mis jy ‘n paar etes, omdat daar nie tyd is om te eet nie, nou eet jy net een keer per dag heeltemal te veel kos.  Vir oorlewing jaag jy met jou noodligte aan om by hulp te kom, maar nou ry jy gereeld oor die spoedgrens.  Vir oorlewing soek jy jou eie gewin, nou voel jy niks meer vir jou medemens nie.  Vir oorlewing het jy meer tyd in jou bed deurgebring tydens Covid-19, nou kom jy nie aan die gang met niks nie.  Vir oorlewing vat jy maar elke dag op ‘n slag, nou het jy geen toekomsplanne nie, en het ook niks gespaar vir jou oudag nie.  Vir oorlewing het jy nie meer jou kaste reggepak nie, nou sien jy nie kans vir die chaos nie.  

Krisisbestuur is swakbestuur, soms moet jy ‘n krisis hanteer en oplos maak of breek, maar vir volhoubare sukses moet jy begin beplan, en krisisse antisipeer en voorkom. 

In Brian Corbett se boek When Helping Hurts verduidelik hy die belangrike verskil tussen: 

1. Noodverligting

2. Rehabilitasie 

3. Ontwikkeling 

Die meeste noodlenigingagentskappe fokus net op nood verligting, kos, klere en ‘n slaapplek. Maar daarna moet daar rehabilitasie gedoen word, totdat die persoon leer om hulleself verder te ontwikkel.   Suid-Afrika se regeringstelsel het tot dusvêr nog net gefokus op noodverligting.  Mense kry SASSA-geld vir kos en klere, en verblyf.  Maar waar word mense gerehabiliteer om verantwoordelikheid te neem vir hulle eie entrepreneurskap, vennootskappe, samewerking, en gesamentlike ontwikkeling?  

Ons moet verder aanbeweeg as net oorlewing! 

“Oorlewing-Mentaliteit” Teenoor “Slagoffer-Mentaliteit”

  • Word jy weerhou deur vrees om iets nuuts aan te pak, of tot ‘n verhouding te ‘commit’?  Vrees ons die onbekende?
  • Wil nie ‘n posisie of aanstelling hê nie want jy is te bang vir die verantwoordelikheid, jaloesie, teenkanting en risiko om te faal?
  • Jy verwag die ergste?  
  • Jy dink dit is nou maar my lot? Jy laat “God’s water oor Gods akker” loop?
  • Jy blameer gedurig ander vir jou tekortkominge?
  • Mense wat terminale siekte of ‘n ongeluk oorleef het, is geneig om gedurig die storie oor te vertel, soms talle mal vir dieselfde mense!?
  • Jou krisis oorheers die rak spasie in jou gedagtes
  • Seer mense maak ander mense seer. Hulle doen dit deur hul dade, hul woorde en hul onvermoë om te vertrou en hegte verhoudings te vorm?  

Wat Jy Nodig Het Om Te Oorleef

1. Oefen situasionele bewustheid – ken jou omgewing

2. Neem verantwoordelikheid – jy is in beheer van jou situasie

3. Glo in jouself – kanaliseer ‘n onbreekbare geloof

4. Wees beslissend – verbind tot aksie

5. Wees aanpasbaar – soek alternatiewe oplossings

6. Wees veerkragtig – weier om moed op te gee

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Rom 15:13) 

Mefiboset – ‘n Voorbeeld van ‘n “Net-Oorleef” Mentaliteit 

  • Mefiboset is laat val deur sy versorger, en sedertdien kreupel – 2 Sam 4:4. 
  • Dawid ontferm hom oor Jonatan se seun, Mefiboset – 2 Sam 9:1–13. 
  • Siba se valsheid – 2 Sam. 16:1–4.
  • Mefiboset se verduideliking – 2 Sam. 19:24–30. 

Mefiboset se lewe is vir ons ‘n lewensles, dat God ons wil nie laat oorleef nie, HY wil ons in lewensoorvloed uitlei! 

U het ons beproef, o God, ons gelouter soos silwer; U het ons in ‘n net gevang, ‘n swaar las op ons gelê; U het ons deur mense laat vertrap, ons het deur vuur en water gegaan; maar toe het U ons uitgelei na oorvloed toe. Ps 66:10-12 

Paulus – ‘n Voorbeeld van “Oorleef-Maar-Oorwin” Mentaliteit

Deur die Bybel leer ons om nie verskrik te wees wanneer allerhande vervolging, teleurstelling, verlies oor ons pad kom nie.  Dit is deel van die lewe, en ons kan rampe en teëspoed nie vryspring nie! God roep ons tot ‘n lewe van oorvloed en oorwinning

Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend. Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.

Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.  2 Tim 4:1-8

In verse 9-16 lees ons die hartseer van hoeveel mense Paulus verlaat het, en sekerlik diep teleurgestel het. 

MAAR DIE FINALE WOORDE IS: Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor. En ek is uit die bek van die leeu gered. Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.  2 Tim 4:17-18 

Vir verdere inspirasie, sien Bishop TD Jakes se preek oor dieselfde tema: https://youtu.be/AbZ_vYbnD_0

en Kris Valloton se preek oor “Give Him Your Ashes!” https://youtu.be/iEF4QZjjITw