’n Kerk waar die Heilige Gees die Here is, funksioneer heeltemal anders en is ook heeltemal anders. Die teenwoordigheid van die Here en Sy heerskappy kan nie net gesien word in spesifieke wonders, tekens en manifestasies nie, maar in die manier hoe die kerk funksioneer.

Die werking van die Heilige Gees in die kerk vandag is met die doel om God se skeppingsdoel te verwesenlik met die kerk. Dat die kerk tot volle wasdom sal kom as bruid van Christus.

Dan sal die kerk en die Gees uitroep; “Kom Here Jesus kom!”.

Die werk van die Heilige Gees is belangrik om te verstaan met betrekking tot ons persoonlike roeping en lewe as individue, maar meer nog moet ons tot begrip en kennis kom van die werk van die Heilige Gees in Sy Kerk.

Wat Maak Harvester Reformational Church Olifantsriviervallei Anders?

Van passasierskip mentaliteit tot vliegdekskip funksionaliteit.

Kerke bestaan nie meer vir die gerief van die lidmaat nie, maar vir die opleiding, toerusting, opvoeding en geestelike fiksheid en uitstuur van elke gelowige.

Van piramiede strukture tot planetêre stelsels waarin elkeen weet hoe om in sy wentelbaan te bly.

Kerkstrukture is dikwels saamgestel uit mense wat geen belang het by ’n gegewe saak nie. Hierdie vergaderings belemmer dikwels groei in die gemeente. In reformerende kerke word ’n meer funksionele model gebruik; leiers word geïdentifiseer op grond van ’n persoonlike roeping wat hulle beleef en nie volgens aanstelling of verkiesings nie. Vergaderings is kort en prakties van aard. Die behoefte om te beheer en te kontroleer deur ’n hoër raad, word as oorbodig beskou.

Van humanisme tot godsvrug. 

Godsvrug gebeur spontaan in mense se hart omdat hulle God ontmoet en ’n begeerte het om reg te leef. Stand- houdende verandering in mense gebeur nie deur motiverings en selfhelp tegnieke te preek nie, dit is die akkurate prediking van die Woord van God gelei deur die Heilige Gees wat die transformasie werk in ons doen. Ons preek geloof en nie om mense skuldig te laat voel nie. Ons preek nie die wysheid van mense nie, maar Christus Jesus se manier van lewe.

Van mensgerigte aktiwiteite tot Godgerigte fokus. 

Kerk kan soms baie mensgerig raak en sekere kerke word selfs geskoei op die sekere soeker sensitiewe model. Met die oogmerk om mense te bereik en die evangelie meer toeganklik te maak, kan ons in die gevaar beland dat ons nie mense wil afskrik nie en nie die volle evangelie verkondig nie. Kerk is nie vir ons gerief nie, maar vir God s’n!

Van selfgesentreerdheid tot bereidheid om te ly en op te offer. 

Soms kan ons so besig raak met mense se behoeftes en nood, dat die boodskap wat ons verkondig net gerig is op wat God vir ons kan doen, in stede van die fokus op wat ons vir God moet doen, en dan sal Hy in elk geval na ons behoeftes omsien.

Van konsentrasie op geboue en vaste bates tot die bemagtiging van die lidmaat. 

Party kerke se jaarboeke gaan oor die instandhouding van geboue en strukture, in stede daarvan dat God se Koninkryk uitgebrei word. Ons eerste verantwoordelikheid is die mens as kerk en nie geboue nie. Geboue moet die kerk dien, en nie ons geboue nie.

Van ’n ontsnappings tot voleindiger mentaliteit.

Sommige teoloë se fokus is om uit die Woord aan te dui hoe God ons gaan laat ontsnap van verdrukking en vervolging, terwyl God ons oproep om dit wat Hy ons beveel het klaar te maak! God se genade is vir ons genoeg, of Hy nou ons laat ontsnap of nie, daar is werk om te doen. Dit beteken raak betrokke, maak jou hande vuil, betaal die prys en wees gehoorsaam.

Van lokale tot globale perspektief. 

Ons kan partykeer so besig raak om skape in die kraal bymekaar te maak en te versorg, dat ons Sy roeping aan ons almal vergeet naamlik om te gaan. Gaan, waarheen? Nasies! Dis ’n apostoliese mandaat! Daar gebeur iets wonderlik in ’n mens wanneer jy buite jou wêreld na ’n ander nasie of kultuur uitreik.

Van selfgesentreerde lofprysing tot lofprysing wat God behaag. 

So baie lofprysingsliedere het heeltemaal te veel “my” woorde in die lirieke. Ons sing ook nie net van God nie, maar direk sing ons tot Hom. Van “die Here is lief vir my” na “ek is lief vir u” liede. Lofprysing in die Bybel gaan gepaard met ’n spontane emosionele en fisiese reaksie omdat ons ’n lewende God aanbid, en Hy nou hier by ons is! Wanneer God waarlik in die gees vir jou ’n realiteit en werklikheid word, sal jy hom anders aanbid. Dit is in wese wat Jesus bedoel het met die skrif: Ons moet Hom in Gees en Waarheid aanbid. (Joh 4:24)

Van onkunde tot volwassenheid in die geloof. 

My volk gaan ten gronde aan ’n gebrek aan kennis. Paulus spreek die gemeente aan omdat hulle nog deur iemand geleer wil word in stede daarvan om ander te kan leer. In reformerende gemeentes is daar ’n geweldige groot klem op opleiding en toerusting van die lidmaat, met die doel om elkeen ’n medewerker te maak en nie net ’n naam op die gemeente register nie.

Van wettisisme tot vryheid in die Gees. 

Die reëls en kode waar- volgens ons leef is die openbaring van Christus se bedryfstelsel en lewe in ons hart, nie die oorgedraagde wette van mense nie. Vryheid en vreugde is van die eienskappe van ware Christenskap en geloof in Christus. Alles wat ons doen is deur die geloof wat Hy in ons hart werk en waarin Hy ons dan die krag gee om opdragte uit te voer. Ons is dus vry van die val en opstaan bestaan van selfopgelegde godsdiens wat nie vrug dra nie.

Van statiese tot organiese groei. 

Die groei in ’n gesonde gemeente is beide kwaliteit en kwantiteit groei, en nie die een ten koste van die ander nie. Sommige gemeentes groei so vinnig dat Godsvrug en geestelike groei in die slag bly, ander groei weer net in kennis maar geen nuwe mense kom tot die geloof nie. Ware godsvrug sal altyd lei tot getalle groei.

Van leë toekomsbeloftes tot “dit is wat.” 

Mense is moeg om te hoor dat hulle moet bid, en hulle moet dit of dat. Mense wil leer hoe om dit te doen. Sommige kerke laat mens voel asof jy nooit godsvrug en geestelike karakter sal kan bereik nie, dit voel eenvoudig te ver en onmoontlik. Terwyl waar die evangelie van die koninkryk verkondig word, ervaar mense dat God naby gekom het. Ons prediking is nie net in woord nie, maar ook in daad.

Van Charismaties en gereformeerd tot reformerend. 

God se werk in ons hou nooit op nie, die hart van die eerste reformasie deur Luther was dan ook “Ekklesia reformans semper reformata”, die kerk moet aanhoudend reformeer. Ons dank God vir die kennis en begrip wat ons alreeds ontvang het, maar ons bly ingestel op wat God nou besig is om vir die kerk te sê.

Van sigbare manifestasies tot inwaartse hartsverandering. Sommige gelowiges is vasgevang in hul fokus op uiterlike sigbare manifestasies, as hierdie manifestasies nie gebeur nie, dan voel hulle verwyder van God en teneergedruk. Ons bediening is net in gehoorsaamheid aan God, en daarop rus Sy guns outomaties. Daarom hoef daar nie inisiële manifestasies te gebeur nie, wanneer Sy woord aangeneem word en toegepas word, sal daar vrug wees wat Hom eer bring en nie ’n mens nie.

Van vals tot eg. 

Omdat ons nie meer langer van die boom van kennis se vrugte eet nie, beskou ons nie ons foute en swakhede as negatief nie. God gebruik ons ten spyte van ons swakhede. In ’n atmosfeer van egtheid en eerlikheid is dit baie moeilik om vals te wees, inteendeel dit wys te maklik. Saam leer ons uit ons foute, en prys God vir Sy genade!

’n Nuwe perspektief op gebed:

Gebed moet beantwoord word met inspraak van God, anders het jy nog net met jouself gepraat.

Gebed is meer as rympies opsê aan tafel en snags voor ons gaan slaap. Gebed is nie ’n lys van behoeftes wat aan God deurgegee word vir Sy aandag nie.

Gebed is nie om God in te lig van jou probleme asof Hy dit nie weet nie. Gebed is om Sy wil te verstaan en daarvolgens te bid.
Gebed is om deur te dring in die geestelike dimensie en dinge vanuit Sy perspektief te sien.

Gebed is nie ’n program wat die kerk aanbied nie, maar die rede hoekom die kerk bestaan.
Gebed in al sy aspekte is die belangrikste oefening vir enige gelowige se strewe na godsvrug.

Ons hele lewe is ’n gebed, en elke asemteug ’n uitreiking van ons gees om kontak te maak en te bly met Syne.
Gebed is bloot die vorm van kommunikasie en verhouding in al sy fasette met ’n lewende nabye God.

Vas en gebed, en die vurige gebed van die regverdige, meditasie, intersessie, waak en wag is verskeie vorme van gebed om dieper met God in verhouding te staan. Elke gelowige behoort geoefen te wees in al hierdie aspekte van gebed.

Chuck D. Pierce in sy boek, The future war of the Church, beklemtoon die volgende verskille tussen die tradisionele kerke se perspektief op gebed en die nuwe apostoliese reformerings gemeentes se perspektief.

In tradisionele gemeentes is gebed ’n bykomstige omstandigheid, terwyl in apostoliese gemeentes gebed sentraal staan.
In tradisionele gemeentes is gebed ’n roetine, terwyl in apostoliese gemeentes is dit spontaan. Menigte kere sal jy hoor; “Kom ons stop en bid” gevolg deur ’n onbeplande en ernstige gebedsessie.

In tradisionele gemeentes is gebed nou en dan, terwyl in apostoliese gemeentes is dit dikwels, tydens die aanbidding, tydens prediking, te midde van geselskap.

In tradisionele gemeentes is gebed passief, terwyl in apostoliese gemeentes aggressief en onbeskroomd. Daar word werklik ’n antwoord op gebed verwag.
In tradisionele gemeentes is gebed stemmig en stil, terwyl in apostoliese gemeentes is gebed uitbundig. Die hele gemeente sal sommer by tye in gesamentlike luide gebed ingaan waar almal tegelykertyd saam bid.

In tradisionele gemeentes is gebed eerbiedig, terwyl in apostoliese gemeentes gebed uitdruklik en ekspressief is. Mense bid met hulle oë oop, sommige kniel of loop.

In tradisionele gemeentes is gebed emosieloos, terwyl in apostoliese gemeentes gebed baie emosievol is. Wanneer daar vir ’n saak ingetree word kan trane en weeklaag verwag word.

’n Nuwe perspektief op aanbidding:

Die herbou van die tabernakel van Dawid is ’n model van lofprysing vandag. Nuwe liede en sang geïnspireer deur die Gees, dans, hande klap en juig, bewegings gefokus om Hom in Gees en in waarheid te aanbid. Aanbidding gefokus op die realiteit van Sy teenwoordigheid hier en nou. Aanbidding wat wag en reageer op Sy inisiatief en liefdesteenwoordigheid. Aanbidding waar die hele gemeente jonk en oud saam beweeg en reageer op profetiese inspraak.

Aanbidding wat ’n lewenstyl word en in alles wat ek doen Hom verheerlik. Akkurate en seker bewegings in die geloof, nie los betekenislose rituele nie.

In ons lofprysing word daar nie ’n onderskeid getref tussen ou en nuwe liede nie, ook nie ’n voorkeur van ’n spesifieke styl nie. Musiek moet die hart van God op daardie spesifieke oomblik reflekteer. Ware lofprysing is nie ’n spesifieke styl of noodwendig sang nie, dis ’n hart wat uitroep na God.

’n Nuwe perspektief op Kerkstruktuur:

Die erkenning en aanvaarding van die vyf genadegawes wat deur Christus gegee is om die kerk toe te rus vir hulle dienswerk: Apostels, Profete, Evangelis, Herder, Leraar.
Gemeenskap van gelowiges waar elke lid sy bediening ken, verstaan en uitleef.

Fokus om elkeen se funksie te verstaan en te erken sonder dat enigiemand hom/haarself ’n posisie toe-eien. Geen struktuur waar enige iemand bo (meer belangrik) die ander verhef is nie. (Piramides)
Strukture is daar om funksioneel te wees en nie struktureel te beheer nie. (Planetêre stelsels)

Kerk is die gimnasium waar elke gelowige hom/haarself in die godsvrug kan beoefen terwyl hy of sy uitgaan en dissipels gaan maak.

’n Nuwe perspektief op Bediening:

Elke gelowige het ’n roeping en bediening om te vervul in samewerking met die gemeente.
Dit is die kerk se verantwoordelikheid om die hele gemeenskap te bedien en te versorg, armes te voed, dié wat siek is gesond te maak, dié wat vasgevang is te bevry, dié wat moed verloor het te bemoedig en te versterk, en dié wat rigting verloor het perspektief te gee.

Die kerk se verantwoordelikheid lê verder daarin om die gemeenskap op te voed, te leer en te rig in godsvrug, en mense te help om geestelik te groei deur voorbeeld en geïnspireerde Woord verkondiging.

’n Kerk is ’n liggaam waar elke deel van die liggaam bydra tot die versorging en versterking van die ander. Daar is geeneen wat enigiets kortkom nie, nie fisies, emosioneel of geestelik nie. Elke behoefte word deur die liggaam gediagnoseer, behandel en opgelos.

Mens gaan nie kerk toe nie, jy is kerk en het elkeen dus ’n funksie om te vervul in terme van woordverkondiging, getuie wees en bediening.

’n Nuwe perspektief op Leierskap:

Leierskap is nie posisie nie maar ’n funksie. Dis deur God gegee as gestuurde om ’n sekere taak te vervul.

Die leier dien die gemeente deur die mense hoër te ag as hom/haarself en sy/haar lewe vir die gemeente te gee.

Die gemeente dien die leierskap deur te doen wat hulle sê, opdragte uit te voer en sodoende die werke van God te vervul.

’n Nuwe perspektief op Christen karakter en leefstyl:

Die Bybel moet ’n realiteit word in ons lewe, deurdat ons deur die Gees gelei, die Woord toepas en leef in elke faset van ons lewe.
Self verloëning is die begin en einde van hierdie proses, deurdat self sterf en die individu deur die opstandingskrag van God begin om te leef in die volle karakter van Jesus Christus. Hierdie is ’n daaglikse proses waarin self sterf en die persoon elke dag meer en meer verander word om soos Jesus te wees.

Egtheid, eerlikheid, integriteit en waarheid word die basis waarop alle ander godsvrug geopenbaar word. Om jouself te wees, natuurlik te wees, eg te wees, is die voedingsaar van heilig wees.

Die vrug van die Gees en goddelike karakter word dan deel van jou natuur en menswees wat natuurlik na vore kom alvorens die self verdwyn. Volwassenheid in die Here beteken dan ook verder dat ek in terme van God se natuur soos ’n kind word en die goddelike eienskappe van kindwees beleef as deel van my identiteit en menswees.

Om gevul te wees met Sy Woord en Sy Gees daagliks en sodoende in die Gees te wandel, te dink en op te tree is my fokus elke dag, want hier lê ware vrede en blydskap.

’n Nuwe perspektief op ons mandaat en die Groot opdrag:

Ons is almal geroep om dissipels te maak en die woord te verkondig, aan alle nasies, hulle te doop en te leer aangaande die leer van die koninkryk. Elke gelowige het dus ’n rol om te vervul in terme van uitreiking en bediening, om ’n voorbeeld te wees in Godsvrug om sodoende dissipels te kan maak.

Bediening is vanuit die uitgangspunt dat Jesus alreeds in mense is, Hy stuur, ons preek, Hy roep, iemand glo en roep uit na redding. Ons werk is dus om saam met God te werk, en dié wie se hart hy alreeds voorberei het te help om tot die volle lig te kom.

Prediking, verkondiging, proklamering, lering, teregwysing, redenering is die gereedskap wat God gebruik om mense tot inkeer te bring. Ons verkondig net die goeie nuus dat die koninkryk van God naby gekom het.

’n Nuwe perspektief oor ons finansies:

Elke gelowige wat ’n inkomste verdien is geseën om te kan gee. As God se rentmeesters behoort niks aan ons nie, ons is bloot die instrumente waardeur Hy kies om te werk.

Maar dit wat geld vir die individu geld ook vir die kerk, wat moet gee en help om eerstens die evangelie te verkondig, dan die weduwee en die wees te versorg, die arme te voed en die lyding van die medemens te verlig.

Wanneer die kerk dus sy funksie vervul, kan die rentmeesters en regeer- ders ook hulle taak vervul deur die kerk te help om dié taak uit te voer. Die kerk en die besigheidslui is dus in vennootskap tot die uitvoering van bogenoemde behoefte.

Die gee van finansies in die kerk is nie bloot om ’n predikant se salaris te betaal en sodoende alle geestelike verantwoordelikheid op sy skouers te plaas nie. Maar die kerk in sy totaliteit word bloot die agent van hulpver- lening en uitreiking na die gemeenskap, waarin elke lidmaat ’n funksie vervul in terme van bydraes in persoon of in finansies.