Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Preke

Hoe INDIVIDUALISME die KERK Lamlê.

Bloedhonde is van die vroegste tye geleer spesiaal geteel om eerder te rig op die opvang van die eerste reuk, as om hulle natuurlike instink te volg om hulle prooi te jaag of te verorber. Dit is ‘n mooi prentjie hoe die bloedhond met sy of haar poot in die lug staan, stert reguit in die lug!! Geduldig wag die bloedhond op hul eienaar om nader te kom en deel te wees van die jag.

Hierdie spanwerk is ‘n goeie beeld van hoe ons ook in die liggaam van Christus moet leer om op mekaar te wag, fyn ingestel in hoe die Gees van die Here deur mekaar werk. VANDAG se kultuur lê klem op individualisme! Elkeen wil self hoor, en self tot oortuiging kom! Niemand wil meer voorgesê word nie! 

Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers.  Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.  So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee. (Rom 14:7-8)

In die Westerse samelewing word daar ‘n oordrewe klem gelê op persoonlike keuse, en demokratiese reg terwyl in die oosterse samelewing daar weer ‘n oordrewe klem om die kollektief geplaas word.  In die weste regeer die individu, in die ooste regeer die kollektief.  Beide is ekstreme, en is nie die Bybelse Leefwyse nie.  

Die Bybel lê klem dat ons nie vir self of die kollektief leef nie, maar vir HOM!! Ons lewe vir Sy eer! Nie die eer van self of die groepering nie! 

Jan Oosthuizen

Die probleem is egter dat veral in die Westerse Christenbegrip die fokus meer en meer op die self gerig is, elkeen wil self by die Here hoor, elkeen wil self vir ander leer (wat natuurlik ‘n goeie ding is).  Maar Jesus wys vir ons ‘n ander werkswyse: Hy het vir dertig-jaar getrou gebly aan aardse ouers, en hulle gedien alvorens Hy met publieke bediening begin het! 

Jongmense wil leermeesters wees, sonder dat hulle onder iemand se voete sit en eers geleer word.  Ons wil oordele oor mense en sake vel, sonder dat ons behoorlik eerstehandse kennis oor die saak het.  

‘n Waardevolle geestelike sleutel tot verantwoordbare gesag en outoriteit is om gesag te verstaan.  Hierdie samelewing het bitter min respek vir gesag.  Suid-Afrika is nie bekend as een van die mees wetsgehoorsame lande in die wêreld nie. Almal wil oorleef! Almal wil ‘n baas wees van sy eie heil! “elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25). Natuurlik regverdig ons hierdie self-regering deur te wys na die huidige regering se swak prestasie.  

“Ek wil self VOEL dit is wat ek wil doen! Niemand moet my sê nie! Ek het die reg om nee te sê!” – dit is natuurlik waar, maar ‘n halwe waarheid.  Jy bepaal nie jou lewe nie.  “julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.” Jakobus 4:14-15 

Nie al die 3000 mense wat tot inkeer gekom het na Pinksterdag het ‘n “Damaskus ervaring” soos Paulus gehad nie. Engele verskyn nie aan almal nie. Nie almal kry spesiale aandag nie! Dit beteken nie dat God nie vir jou lief is nie.  Sy manier van leef is nog steeds die beste manier van leef! 

Gehoorsaamheid

Blindelingse gehoorsaamheid is ‘n vorm van slawerny. So dit is nie wat God vir ons beplan nie! 

Wat ek wil benadruk is die EER van INGESTEL wees op mekaar.  Intelligente saamwerkende gehoorsaamheid! Dit is wat God verlang! 

‘n Leerling is nie bo die meester nie en ‘n dienskneg ook nie bo sy heer nie. Dit is vir die leerling genoeg dat hy soos sy meester word en die dienskneg soos sy heer. Mat 10:24 

Daar is iets mooi wanneer gelowiges, na mekaar luister, en nederig volg.  

Maar die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.  En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak. (James 3:17-18) 

“Critical attributes of a butler: A butler is: 

  • trustworthy
  • loyal 
  • technically competent
  • in the background;
  • helpful 
  • gracious 
  • discrete
  • professional in appearance and performance 
  • able to anticipate 
  • dignified in manner and personality 
  • flexible
  • considerate of other staff 
  • organized 
  • detail orientated
  • well composed 
  • humble 
  • healthy and energetic. [1]

Jesus die Seun van God, wat enige iets kan doen! Wys ons die beste manier vir ons as mens om te floreer – GEHOORSAAMHEID! 

“Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig.” (Luk. 2:51). 

“Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so.” (Joh. 5:19).

“Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en My oordeel is regverdig, omdat Ek nie My wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.” (Joh. 5:30).

“Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om My wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” (Joh. 6:38).

“En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.” (Joh. 8:28).

“Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek.” (Joh. 12:49).

“Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke.” (Joh. 14:10).

Natuurlik wil enige werkgewer dat ‘n werknemer eie inisiatief neem, die werk verstaan en dink hoe om prosesse te verbeter. Werknemers wil weer hê dat hulle werkgewers nie net besluite neem sonder om met hulle te konsulteer nie.  Hier is dus ‘n positiewe “feedback loop” te sprake.  Beide die werkgewer en werknemer is selfloos in hierdie verband, en wil van mekaar leer en as ‘n span saamwerk.  

Gehoorsaamheid is dus nie om passief te wag vir ‘n opdrag nie, maar om aktief deel te neem wanneer die groter opdrag reg verstaan word. 

Geestelike Leiers luister na die Here in sy mense, en saam luister die mense na hulle geestelike leier. Dit is ‘n sikliese vloei van geloofsenergie wat heilsmaam in almal werk.  

Dit is interessant dat die mees vaardigste briljante musikante gewoonlik baie nederig is.  Vir ‘n orkes om saam te kan speel, moet mens hierdie dans van selflose gehoorsaamheid verstaan.  Niemand oordonder nie, niemand vestig aandag op self nie, totdat die orkes ruimte maak vir ‘n solo. Dit is fyn luister, aandag gee, wakker wees en my talente onderwerp aan die res van die orkes.  

Individualiste wil almal soliste wees!

Ons moet die Here as individue voluit dien! Maar nie in isolasie van ‘n geestelike liggaam nie! Ons dien Hom saam! Ons leer en volg Hom saam.  

Groepsdinamika

Wanneer swaar tye kom, het ons mekaar meer nodig! Ek wil waag dat 70% van ons dag, onbewuste optrede is.  Ons dink nie bewustelik om iets te doen nie, dit kom outomaties.  Deur gereelde groep samekomste, gebeur daar so baie in ons onderbewussyn ons weet nie eers daarvan nie.  

Wetenskaplikes meen dat daar verskeie groeptransformasies plaasvind in ‘n skare wat vir dieselfde doel byeen gekom het, soos ‘n kerkbyeenkoms teenoor ‘n skare mense by ‘n lughawe. Mense hou op om hulle te gedra in terme van hul idiosinkratiese oortuigings en gee voorkeur aan die hand van gedeelde norme, waardes en begrip. Mense prioritiseer wat gesien word as waardevol vanuit die groepsperspektief.  

Verder sien mense ander in die skare as deel van die uitgebreide ‘self’ eerder as ‘n “ander”. Dit lei tot groter intimiteit en baie navorsing toon hoe gedeelde identiteit groter vertroue, respek, samewerking, wedersydse invloed, hulp en verwagtinge van ander se hulp tot gevolg het.  

Mense geniet die hegte en ondersteunende verhoudings van ‘n groep waarmee hulle identifiseer as gevolg van gedeelde identiteit. Meer nog, sulke hegte verhoudings in ‘n groep stel mense in staat om saam te werk en meer doeltreffend te wees om hul gedeelde doelwitte te bereik. [2]

TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.  Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?  (Mat 16:24-26) 

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie.. (Prov 3:5-7) 

OM die Here te eer met my lewe, is om die fyn balans te handhaaf tussen: 1. Verantwoordelikheid vir myself.

2. Om “span” te dink 

Die beste formule vir geestelike groei is “Ek is leier EN Dienskneg!”

Ons as mens is geneig om vas te haak. As jy net altyd leiding neem, weet jy nie meer om te dien nie. As jy net altyd volg en dien, weet jy nie meer om te lei nie.  Ons lei en dien soms ter selfde tyd, en ons vloei soomloos en sonder moeite tussen hierdie twee aspekte van ons menswees.  

Dit is ook hoe ‘n huwelik groei – ‘n soomlose wederkerige dans van Lei en Dien.  Alhoewel daar ruimte is vir individualisme en diversiteit is daar ‘n simbiotiese saamspeel om juis jou maat voorrang te gee!  


[1] http://www.modernbutlers.com/wp-content/uploads/2017/10/Butlers-and-Household-Managers-Booklet.pdf

[2] https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S2210600615000635