Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Preke

Hoekom Is Die Mensdom So Aggressief?

Misplaasde Aggressie 

My sakeonderneming Prosphero Media Consulting was betrokke by die onlangse Cederberg Eerste se verkiesing wedloop.  Wat vir my as pastoor uitstaan uit hierdie ervaring, is die woedende aggressie tydens politieke vergaderings, asook die persoonlike rassistiese aanvalle teen groeperings of selfs individue by name! Is dit maar deel van politiek? Die stemtoon van voorgangers en deelnemers tydens vergaderings is nie positief en opbouend nie, dis gevul met aggressie, agterdog, en verdagmakery! Wilde aantygings en beskuldigings word bloot sommer in die openbaar teen mense of groeperinge gemaak! Moenie praat van die boodskappe op Sosiale Media nie, vuil taal, en woedende veralgemenings word lukraak gemaak sonder om te dink aan die konsekwensies.  

Die aggressie statistieke is egter nie beperk tot politieke veldtogte nie:  hospitale berig al hoe meer aanrandings met die doel om ernstig te beseer;  wetstoepassers vertel ook dat daar beduidend meer gevalle van padwoede aangemeld word en  maatskaplike werkers is oorlaai met meer en meer gevalle van gesinsgeweld.  

Die wêreld is vol van verkeerde woede. Verbale aggressie met afbrekende en neerhalende woorde het al menige lewens verwoes. Gesinsgeweld, aanranding en gereelde woedeuitbarstings verander die huis wat bedoel is as ʼn plek van veiligheid in ʼn oorlogsveld. Ons is meestal negatief ingestel teenoor enige vorm van woede. As iemand sy of haar stem verhef, begin ons dadelik om onsself te verdedig of in ons dop te kruip.  Die wêreld se stoompot van woede bly aan die oorkook en ons lees al meer van geweldsmisdaad, padwoede, passiemoord en geweld teen kinders. [1]

MENSE WEET NIE MEER OM EMPATIE MET MEKAAR TE HÊ NIE!

Die samelewing netwerk is uitgemekaar geskeur en gefragmenteer.

Die Kerk Se Reaksie

Die kerk se reaksie teenoor die woede-epidemie is meestal ʼn onrealistiese miskenning van woede.

Die meeste Christene:

  • probeer hulle woede binnehou, wegredeneer of opkrop met net sulke verwoestende resultate.  
  • ons raak vir die verkeerde onskuldige mense kwaad! 

Van tyd-tot-tyd beleef ons almal hoe ma of pa, sonder rede hul kinders skel, of sommer die hond wat dit glad nie verdien nie.  ‘n Nommer 10 graad van woede, teenoor ‘n vlak 1 oortreding.  Ouers straf hulle kinders op ‘n onredelike manier, en skel en skree sonder om te dink. 

Hierdie misplaasde aggressie is verstaanbaar (steeds onregverdigbaar) tans in Suid-Afrika, omdat ons magteloos voel teenoor, byvoorbeeld, die Eskom/beurtkrag krisis, die verbrokkeling van infrastruktuur reg om ons, en direkte verlies van inkomste.  Vir wie kan ons kwaad wees? Wie kan ons gaan aankla? Wie moet boet vir hierdie situasie?  Dan hoor ek die aanklagte van plaasuitsettings, mense wat nie menswaardig behandel word in die werksplek nie.  Verder is daar honderde gevalle van jongmense wat hulle bes doen om ‘n beter werk te bekom, of strewe vir ‘n promosie tot ‘n bestuurspos, wat net nooit die merk haal nie. 

Die lys van dinge wat ons kwaad maak is legio, en onreg bestaan alreeds van die begin van die eerste gemeenskappe!  

Die Bybel oor Misplaasde Woede

Misplaaste woede bestaan al van die vroegste tye: Lees die skeppingsverhaal toe Kain vir Abel vermoor! (Gen 4). Abel was heeltemal onskuldig.  God het Kain se offer nie aanvaar nie.  Hoekom het Kain nie met God gepraat oor hoekom sy offer nie aanvaar is nie? In jaloesie maak hy eerder sy broer dood!  Die kwessie wat hier te sprake kom is hoe baie mense vir Here kwaad is! Want die toorn van ’n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie. (Jak 1:20).

Die Bybel is vol voorbeelde van besluite wat God neem, wat vir mens onregverdig en verkeerd voel:

  • Moses word nie toegelaat om die beloofde land in te gaan nie (Num 20).
  • Job verloor alles. Hier is ‘n wonderlike geloofstorie van hoe hy met die Here EERLIK is oor sy perspektief, maar nie teen die Here draai nie ~ Hy is SOEKEND om God se perspektief te verstaan.  Uiteindelik gebeur dit, en sien Hy God se soewereiniteit, almag en ewige liefde! Ons hoef dus nie van God af weg te hardloop as ons voel iets het nie reg verloop nie.  Ons bly draai na die Here toe, todat Sy teenwoordigheid ons oplig en ‘n hemelse ewige perspektief gee (Rom 8:28). 
  • In 2 Sam 6 verloor Uzzia sy lewe omdat hy sy hand uitsteek om te keer dat die ark op die grond val.  
  • Jona is diep ongelukkig omdat die Here genade betoon teenoor sy aardsvyande, die bloeddorstige, sedelose Assiriërs!  Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword  (Jonah 4:1). Volgens hom het hulle die oordeel van God verdien, nou wys die Here hulle genade!  

Misplaasde Aggressie

Sielkundiges definieer dit as ‘vergeldingsaggressie‘ ~ wanneer woede en agressie gerig op aanvanklike bron van provokasie maar dan eerder op ‘n onskuldige ander gedraai word’.  

Hierdie tipe aggressie en woede ontstaan wanneer daar direk teenoor my of my geliefde oortree is, maar die oortreder is nie meer daar om die saak te besleg nie.  

Die regte optrede is as iemand teenoor jou oortree:

  • KONFRONTEER die oortreder direk, en
  • VERSOEN die ongelukkigheid  (Mat 18:15-17; Luk 17:3).
  • Moenie die situasie vermy maar gebruik direkte konfrontasie met ‘n kalm gemoed in liefde anders internaliseer die konflik.
  • Vermei om in die nag op jou bed “hofsake” in jou kop te hou!  Lees en bestudeer dat Jesus ‘n regverdige woede getoon het teenoor:
    • verkeerd
    • onreg
    • valsheid
    • misbruik (abuse)
    • boosheid!  [2] 
  • Die probleem is dus nie dat ons kwaad word nie. Ons raak vir die verkeerde mense kwaad! 

Jesus wys ons egter dat daar ʼn plek is vir regverdige GODDELIKE WOEDE. Ons weet dat Jesus nooit gesondig het nie, maar tog kwaad geword het.

  • Jesus toon Sy liefde vir die Vader en Sy Vader se huis deur ʼn sweep te maak en al die geldwisselaars uit te jaag. Die liefde vir U huis verteer my (Joh 2:13-22). Is liefde tog nie ook soms ʼn passievolle oomblik van woede oor die onreg van verkeerd nie?
  • Wanneer ek my vrou verdedig en vir haar in die bresse tree, is dit nie juis ʼn bekentenis van my liefde nie?
  • Ware liefde is tog nie lamsakkig nie?

Waar Kom Woede Vandaan?

Volgens Marshall Rosenberg is die kern van alle woede ‘n BEHOEFDE wat nie VERVUL word nie:  

  • Ek het nie iets gekry wat ek glo ek verdien nie, daarom is ek kwaad soos ‘n kind wat nie kry wat hy of sy wil hê nie, en ‘n “tantrum” gooi.  
  • Dit dui dus op ‘n onvolwassenheid, en ‘n bepaalde denkpatroon.  
  • Omdat ek die behoefte het, moet ek besef, woede gaan nie die persoon oorreed om my te help nie.  Ek sal moet mooi vra, en dalk self iets mooi moet doen om te kry wat ek nodig het.  

Tweedens, glo Marshall dat woede en aggressie nie ontstaan oor wat ‘n ander persoon noodwendig verkeerd doen nie, maar eerder my beelde en interpretasies van oordeel in my eie kop wat my woede veroorsaak.  Voorbeelde: “Ryk mense leef net vir hulleself”; “Boere behandel hulle mense sleg”;  “Bruin mense is onnosel”. Alle geweld is dus die gevolg van mense wat verkeerdelik glo dat hul pyn van ander mense afkomstig is en dat daardie mense gevolglik verdien om gestraf te word.[3]

Die Waarheid Oor Woede

  • Niemand kan jou kwaad maak nie. Jy kies om ‘n woede reaksie te hê, jy het die woede roete gekies toe jy die persoon verkeerdelik geoordeel het.  
  • Dit is waarvan Jesus praat in Mat 7: Jy fokus op “die splinter in jou buurman se oog, maar sien nie die “balk in jou eie oog raak nie”.  Dit is hoekom mense hulle gesigte verf en misvorm tydens oorlog, en selfs maskers dra, om moord te regverdig. Moord is onmenslik!! Diere maak mekaar dood!
  • Woede en aggressie eskaleer omdat ons al hoe meer blootgestel word aan:
    • aannames
    • skinderstories
    • tweedehandse aanstoot wat iemand geneem het teenoor ‘n sogenaamde oortreder.  
  • Ons gemeenskap is gefragmenteer, ons kuier nie meer bymekaar nie, ons ken nie mekaar nie, ons konfronteer nie die van aangesig tot aangesig uit nie.  

Al hierdie woede wat ons dus voel is meestal die gevolg van ons aannames van ‘n groepering, bv:  

  • Eskom is pateties en onbevoeg, tog het ons burgemeester se besoeke direk by die probleem area, bewys hierdie mense werk deur die nag om die probleem op te los, maar dit is nie maklik nie.  
  • Hoekom word toeskouers so kwaad tydens ‘n Rugby wedstryd? Ons maak deurentyd oordele, oor ‘n speler se optrede en vernuf, en kort voor lank raak ons buite beheer kwaad. “Jou onnosel, hoe kan jy die bal so laat val!!”  

Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg.

Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur. (Mat 5:21-23)

Hoe kan ons woede uitbarstings voorkom?

  1. Bepaal en verduidelik liefdevol wat ek nodig het. (Neem verandwoordelikheid vir jou eie behoeftes)
  2. Moenie enige oordele oor mense maak nie. (Geen morele persoonlike oordele, berispe ‘n daad en beriek resolusie)
  3. Wees en bly Dankbaar. (Dankbaarheid is ‘n leefstyl)

Jesus het in mense se beoefte voorsien, nog voor hulle gevra het. Hy genees elkeen om ‘n unieke manier, Hy dryf duiwels uit.


[1] Angry like Jesus. Using His example to spark your courage. Sarah Summer by Amazon  Digital Services  LLC Learn more: https://www.amazon.com/dp/B0177187XQ/ref=cm_sw_em_r_mt_dp_U_W3EkDbXCM1026

[2] https://diebestelewe.co.za/afrikaanse-blogs/jesus-se-gesonde-humeur/

[3] Nie-gewelddadige kommunikasie.