Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Hartklop

Hoekom Trou?

Hoekom moet ons trou? 

‘n Bybelse fundering

In die lig van al hoe meer huwelike wat eindig in die skeihof, al hoe meer jongmense wat saambly, huwelik seremonies wat te duur geraak het, en tans te midde van Covid 19 nie kan plaasvind nie, is die onwillekeurige vraag: Hoekom moet ons trou? Dis tog net ‘n papier. Is ons nie voor die Here getroud as ons alreeds saam geslaap het nie? 

Alvorens ons hierdie vraag kan beantwoord: Hoe seker is jy dat jy die res van jou lewe verbind wil wees aan een persoon? Hoe weet ek dit is my lewensmaat? Dis ‘n bespreking vir ‘n ander tyd. 

Die bevel om te trou:

Die bevel om dat persone moet trou, ‘n huwelikverbond kontrak maak word in die skrif bepaal vir: 

Om saam kinders te verwek en groot te maak. (Gen 2:21-24) 

Om ‘n vredeskontrak tussen nasie te beslis. (Deut 21:10-14) 

Die verkragter moes met slagoffer trou. (Deut 22:28-29) 

Die naaste familielid moes met die weduwee en kinderlose vrou van sy broer trou, om sy natalingskap te verseker. (Deut 25:5-6) 

Dis interessant dat romantiese liefde nie ‘n rede volgens die skrif is vir huwelikbevestiging nie. In Bybelse tye, was huwelike deur die onderskei gesinne gereël.  Die naaste wat ons kom aan romantiese liefde is die boek Hooglied.  

Die fokus dus van die skrif is die kinders: Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees

wat Hom eer. (Mal 2:15) Sielkundiges, beraders en maatskaplike werker is dit eens: vir kinders om as gesonde gebalanseerde volwassenes op te groei het hulle ‘n standvastige, stabiele huisgesin nodig, wat voortbou van generasie tot generasie.  ‘n Gesin waar beide die ouers ‘n betrokke is aan die opvoedkundige proses van die kind se opvoeding, veral ten opsigte van waardes. Waardes word deur modellering en voorbeeld oorgedra.  

Drie fases van die huwelikverbond: 

Die Bybel verduidelik drie fases and aspekte van die huweliksverbondsluiting: 

  1. Kontrak (Contract) 
  2. Voltrekking (Consummate) 
  3. Feesviering (Celebration) 

Isak en Rebekka: 

  1. Kontrak (Gen 24:33; 51-53; 57-58) 
  2. Voltrekking (Gen 24:64-67) 

Jakob & Leah 

  1. Kontrak (Gen 29:15-20
  2. Voltrekking (Gen 29:21-26) 
  3. Feesviering (Gen 29:27-28) 

Jakob & Ragel 

  1. Kontrak (Gen 29:27) 
  2. Voltrekking (Gen 29:30) 
  3. Feesviering (Gen 29:27-28) [1]

Kontrak:

In Bybelse tye is die kontrak deur die ouers onderhandel, die bruidsprys is bepaal en aan die ouers betaal soos, nog regoor Afrika en die ooste die norm is.  Die kontrak was veral bepalend om toe te sien, dat die paartjie self-versorgend is, en dat daar voorsiening gemaak is vir hoe hulle gaan leef.  Kwessies soos huisvesting en toekomstige voorsieninge vir die gesin is vasgestel. 

Voltrekking: 

Die OT huweliksverbond is voltrek in die Chuppa Tent,[2] waarna die bloedbevlekte doek uitgebring is om maagdelikheid te bewys.  D.W.S die verbondsdaad het tydens die seksdaad gebeur. Bloed: ons kan nie skei nie.  Ons kan nie na ons dood, ons testament verander nie. Daarom word daar in die Bybelse verbondsluiting ‘n dier doodgemaak in 2 gedeel, en die 2 persone stap ‘n syfer 8 roete tussen die stukke vleis. Dit simboliseer dat ons ook nie die kontrak sal KAN verbreek nie. Na verbondsluiting KAN ons nie skei nie.  Die syfer 8 simboliseer ewigheid. Daar ‘n ring aan ‘n vinger, ‘n ewigheid simbool.  Sommige maak dan derhalwe die afleiding dat dit dan nie nodig is vir paartjies om wettiglik te trou nie. Hulle is voor die Here getroud. Waarom het Jesus dan nie die vrou wat by ‘n man gebly het, se verbintenis bekragtig nie? “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ‘n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.” (Joh 4:17) Dit beteken dat daar tog ‘n publieke seremonie moet plaasvind, waarby getuies betrek word, om jou eenheid en eenwording te verkondig. 

Feesviering:

Omdat daar nie baie melding gemaak word van die program van die huwelikseremonie in die Bybel nie, en dit ook deur die eeue verkillende vorms aangeneem het, word die afleiding gemaak dat dit nie belangrik is nie. Tog is dit duidelik dat in Bybelse tye, daar ‘n baie noue band was tussen die paartjie en die uitgebreide gesin en gemeenskap. Die hele gemeenskap is genooi.  (Joh 2) Huwelike is nie gesien as ‘n romantiese ontvlugting van 2 persone teenoor die res van die familie nie. Hierdie neiging is deur Hollywood populêr gemaak, dat 2 verliefde persone teenoor die hele gemeenskap en familie staan.  Hierdie konsep is vreemd tot die Bybel; jou lewe, werk, voorsiening, en oorlewing was afhanklik van die gemeenskap.  Isolasie was bloot nie moontlik nie.  Die uitgebreide familie het gehelp kinders grootmaak, versorg, kinders geleer en mekaar beskerm. Die wettige publieke seremonie was dus onombeerlik en belangrik. Dis hier waar die hele gemeenskap hulle goedkeuring, maar ook hulle ondersteuning aan die jong paartjie aanbied.  

Die mees belangrikste deel van die publieke verbintenis en beloftes wat gemaak word, is die spreekwoordelike streep wat getrek word: Ek belowe my trou nou aan een persoon. 

Die verbreking van hierdie trou en beloftes word ten sterkte deur die Bybel veroordeel as egbreek! (Exo 20:14; Deut 5:18; Mat 5:27; 19:18; Rom 7:3; 13:9) Die huweliksverbond word gesien as heilig, met die oog op die heiligmaking van die man en vrou, om die ideale omstandighede te skep vir kinders om in die wee van die Here groot te word.  

Die straf wanneer iemand die eg breek

Egbrekers sal gestraf word: Dood (Gen 20:7; Lev 20:10) Verskriklike oordeel (Eze 16:35-41); hulle het bloed op hulle hande (Eze 23:45; Mal 2:10-17) Sal nie die koninkryk of hemel sien nie (Rev 22:14-15).  

Hoekom is al hierdie inligting vandag nog relevant? 

  1. Romantiese liefde is nie genoeg om ‘n leeftyd te hou, tot op jou oudag wanneer mens meer afhanklik van mekaar raak nie en meer opofferings moet maak nie.  
  2. Nie die huwelikseremonie of die amptelike dokumente verseker getrouheid aan mekaar nie. Dit kos harde werk van verhoudingsbou, en saamgroei om enduit getrou aan mekaar te bly.  Beide partye moet opgroei in volwassenheid van selfopoffering, lojaliteit, respek en wederkerige samewerking. Die huwelik is ‘n reis in selfverloëning, waarby albei partye groei in die gestalte van Jesus vir mekaar. 
  3. Die einddoel is eenwording, dieselfde eenwording wat in die Godheid bestaan. Uiteindelik is die drie-eenheid vir ons ‘n voorbeeld van hoe die hele gesin eerbied, respek en enkelvoudig fokus leef. 
  4. Die huwelik word die fondament, vastegrond, veilige plek, waar kinders op groei, en kleinkinders en uiteindelik agterkleinkinders floreer.  
  5. Daar is veiligheid in huwelik ten opsigte van afsterwe, testament, nalatenskap vir kinders, en uitgebreide gesin wat kan help.  Hospitale vra, wie is die naasbestaandes.  
  6. Huwelik is die ultimate liefdesverklaring. Ek wil laat die son, maan en sterre, regerings en mense, bure en familie weet aan wie ek trou belowe.  Ek belowe die trou van my hart aan een persoon. Die trou van my seksualiteit. Die trou van my fokus en werk om saam ‘n lewe te bou, vir ons kinders, en hulle kinders. 

[1] https://www.bible.ca/marriage/ancient-jewish-three-stage-weddings-and-marriage-customs-ceremony-in-the-bible.htm

[2] https://en.wikipedia.org/wiki/Chuppah

Categories
Preke

Hoe bly mens vir ‘n leeftyd getrou aan jou huweliksmaat?

Dit is die belofte wat feitlik elke man en vrou aan mekaar sweer voor die Here en getuies op hulle troudag. “Ek belowe ek sal getrou aan jou wees… tot die dood ons skei.” Tog breek ons hierdie belofte so gou vir byna elke rede onder die son. “Ek is nie meer lief vir jou nie” of “ek voel eensaam” of “my maat verstaan my nie, ek voel nie meer in voeling met my maat nie.” of “My maat doen dit… of dat…” Die feit is ons regverdig ons ontrouheid. Ons bou innerlik ʼn regsaak op om ons optrede te regverdig.

Die verdere hartseer is dat die party wat ontrou is dikwels meer woede toon en meer verontreg voorkom as die maat teenoor wie oortree is, selfs nadat hulle oortreding ontbloot is. Hoe is dit moontlik? Die onskuldige party wat meestal ook al hierdie emosies en bogenoemde dinge en redes ervaar het, was nie ontrou nie, het nie losmaking gesoek nie, en kom op ʼn dag met ʼn skok agter dat die ander party al vir ʼn geruime tyd ontrou is! Die onreg in egbreuk is: Die getroue party het ook al die negatiewe elemente van die verhouding beleef, en het nietemin getrou gebly. Jy leef in ʼn illusie as jy dink, net jý beleef alleenheid, onvervuldheid, tekort aan erkenning, onbevredigde behoeftes en begeertes, en onregverdigheid. In honderde berading sessies het ek dit feitlik elke keer eerstehands beleef, dat beide partye meestal dieselfde negatiewe dinamika in die verhouding ervaar. Die misleiding en sluier word vinnig gelig wanneer die rolle omgeruil word. Wat sal jy doen as jou maat ontrou is?

Egbreuk begin as ‘n misleiding van die hart. Ons beleef ‘n negatief, en in plaas daarvan om direk met dit te deel totdat oplossings verkry word gooi ons die handdoek in, en begin inwaarts skei, onttrek, terugtrek, wegdraai, ontknoop.

Die dialoog en redes hoekom mense ontrou was, dui ook verder op die misleiding: Want as mens sal ons altyd ons verkeerd regverdig.

“Kan ʼn mens nie maar twee mense dieselfde tyd liefhê nie?” Dit is ʼn fantasie uit die put van die hel!! Want ons almal weet jou hart kan nie op twee persone fokus nie: Jy sal of die een haat en die ander een liefhê; die een aanhang en die ander verag. (Mat 6:24) Tydens die tydperk van ontrouheid, het jy nog liewer vir jou maat geword, meer geduldig, sagter, meer ingestel op sy/haar gevoelens? Nee die waarheid is, terwyl jy jou hart vir iemand anders oop gemaak het, het jy begin om jou maat te verag, te haat en het jy stadig maar seker al hoe verder weg begin beweeg. Dit is hoe mens agterkom hier is fout, want op intieme vlak verloor maats selfs hulle behoefte vir seksuele bevrediging by hulle maats, want hulle word nou êrens anders gevoed.

“Ons het dit nie gesoek nie” is die ander verduideliking wat mens telkens hoor by getroudes wat ontrou was. Dit is ook nie die waarheid nie. Elke huwelik gaan deur moeilike tye, mens verander, ons liggame verander, ons behoeftes verander. Jou maat verander nie sy of haar slegte gewoontes nie. Ons stry oor dieselfde goed oor en oor. Daar is dae wat ons werklik nie lief voel vir mekaar nie. Ons stry en bereik nie ʼn ooreenkoms nie. My maat gee nie in nie en is onverbiddelik. Ons maak mekaar seer, en voel alleen, onvervuld, en gekrenk. DAN DRAAI MY HART. In plaas daarvan dat ek aanhou “engage” aanhou praat, dinge deurwerk, met my maat ‘stoei’ totdat ons ʼn deurbraak kry… gee ek op, en stilweg begin my hart draai. Ek skei lank alreeds in my hart. God se antwoord teen huweliksontrou is: ‘n Gelukkige en vervulde (gees, siel en liggaam) verhouding met jou maat. (1 Kor 7:1-5) Die waarheid is; jy is nie gelukkig nie maar het nie die moed om met jou ongelukkigheid te deel nie. Jy het al probeer, maar jou maat… Sy/hy sal nooit verander nie… Ons het al gegaan vir hulp maar dit het nie gehelp nie… Die “maars” is ʼn baie lang lys. Die waarheid is, jy het nie hard genoeg probeer nie, as die een oplossing nie werk nie, dan probeer jy iets anders. Die verhouding is dit werd! Die mens het al baie moeiliker goed reg gekry. Ons het ʼn ruimtetuig geland op Mars! Daar is so baie onmoontlikheid wat oorwinnings geword het omdat iemand dit regtig WOU doen.

Die vraag bly dus: Hoe bly ek vir ʼn leeftyd aan my maat getrou? Is liefde genoeg? Ja liefde is genoeg, maar saam met liefde kom karakter. Liefde is ʼn emosie, liefde is ʼn uitvloeisel van die keuse en die fokus van my hart. Maar liefde is onvoorspelbaar. Liefde is met tye eenvoudig nie genoeg nie. Wat doen jy wanneer jou maat jou nie meer kan terug liefhê nie, soos wanneer jou maat siek word en dalk Altzeimers kry. Wat doen jy wanneer jou maat te siek raak om vir jou te sorg, en jy moet jou maat versorg? Dis tog dit wat ons belowe het. “In siekte of gesondheid”.

Karakter: Integriteit, Respek, Eerbied, en Lojaliteit!

Karakter: dit is wat my getrou hou aan my maat aan die einde van die dag. Om die regte ding te doen, aan te hou doen, al voel ek wat! Om ontrou te wees is ʼn skending van my eie karakter en waardes. Ek is ʼn persoon van my woord, my ja is my ja. Ek is eerbaar en lewe met eerbied en lojaliteit! Ons leer nie ons kinders hoe om lief te hê nie, want dit gebeur vanself. Ons leer ons kinders hierdie waardes, omdat hierdie waardes nie vanself kom nie. Dis ʼn keuse elke dag, om deur temptasie my hart gefokus te hou. Die huweliksverbond gaan oor baie meer as net liefdesgeluk! Dis ʼn verbond van trou, eerlikheid, deursigtigheid en vennootskap. Dis die boustene van ʼn gesonde samelewing. Wanneer ons as samelewing ons waardes verloor begin ons op ʼn afdraande die afgrond binne jaag! Ons is nie meer vir ons kinders en kleinkinders rolmodelle nie. Wanneer ons ingee tot ontrouheid, assosieer ek myself met leuens, ek word ʼn leuenaar. Ek lieg vir myself, my maat, my kinders en familie. Om uiteindelik in skaamte te moet erken, ek is vals, wat julle gesien het was ʼn leuen. Ons huwelik, die liefde, die mooi saam, die vakansies, die neseier opbou, die veiligheid van huis; alles ʼn leuen!

Temptasies kom, daar is niemand wat nie al versoek is en voor temptasies te staan gekom het nie. Die skrif sê egter ons moet temptasie “endure” verdra . (Jak 1:12) Ons gee nie in nie, ons karakter word getoets. Ons kies om aanhoudend en voortdurend ons hart te bly draai na mekaar. Partykeer met moeite! Maar ons doen dit, omdat dit is wie ek is! Wanneer ek ingee, verraai ek nie net my maat nie, maar myself! Seksuele sonde is eerstens primêr teen myself. (1 Kor 6:18) Want ons is tempels van die Heilige Gees. Ons is God se verteenwoordigers op aarde. Uiteindelik staan elkeen wat gesondig het en in gegee het vir die temptasie, in skaamte. Kinders van die Here is NIE ontrou nie Ongelukkig moet ons deesdae sê: “veronderstel om ontrou te wees nie)!

Ons het ons identiteit in God verraai vir die luste van die vlees. (Rom 6:12) Soos Esau ons geboortereg verkoop vir ʼn pot lensiesop. (Heb 12:16) Die bietjie kos maak nie op vir die geweldige prys wat ons op die ou einde moet betaal nie.

Hoe bly ek dus getrou aan my maat oor ʼn leeftyd? Omdat ek my woord gegee het, veg ek om te alle tye in eerbied, integriteit, lojaliteit en respek te leef met my maat elke dag ten spyte van enigiets wat my maat doen of nie doen nie. Dit is wie ek is! Ek kies om te veg vir ons verhouding, want ons huwelik is ʼn monument van bogenoemde waardes. Omdat hierdie waardes die boustene is van ʼn gesonde samelewing veg ek met alles in my vir dit! Dis tog die waardes waarop ons volhoubare besighede bou. Dis is ook die waardes waarop ons ons gesinne bou. Liefde vloei spontaan en natuurlik uit hierdie waardes wanneer ons dit leef en doen. Liefde maak dit lekker, maar is nie my vertrek plek nie. Omdat ek kies om aanhoudend my hart te draai, groei liefde in vlakke en in diepte tot die punt waar ek soos God begin liefhê, en ek en my maat een word soos God een is. Dit is wat ons almal soek, maar nie altyd bereid is om die prys voor te betaal nie. Dit kos harde werk, karakter! Soos God se karakter ook in my groei, en ek al hoe meer transformeer na Sy beeld, word eerbied, lojaliteit, integriteit en respek nie goed wat ek doen nie maar die persoon wie ek is!

Eerbied:
Die Bybel sê dat ons, ons ouers moet eer. (Mar 7:10) Maar hoe eer ʼn mens iemand? “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.”
As jy iemand eer is jy gehoorsaam:
Jesus maak dit duidelik in hierdie gedeelte, dit help nie julle eer my met julle lippe, maar julle doen nie wat ek sê nie. (Mat 15:6-8) As jy werklik iemand eer, doen jy wat die persoon van hou, en wil gedoen hê.

Eerbied is ʼn lewenswyse: Ons word deur Paulus verder vermaan om “die een moet die ander voorgaan in eerbetoning” Petrus sê dat ons “almal moet eer” (1 Pet 2:17) Eer is dus ook ʼn ingesteldheid ʼn manier hoe ek optree teenoor iemand vir wie ek baie agting het. Ons eer hooggeplaastes, en eregaste, die Bybel leer ons leer met hierdie eerbied met alle mense, jou broers en susters in die Kerk, en jou vrou! Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, EER BEWYS, omdat julle ook mede- erfgename van die genade van die lewe is — sodat julle gebede nie verhinder mag word nie. (1 Pet 3:7) Ons word te familiêr met die mense in ons huis, ons sal vir hulle enigiets sê, dinge wat ons nooit in die openbaar sal sê nie. Wanneer ons dit doen dan eer ons nie ons maat nie.

As jy iemand eer, hou jy daardie persoon die heel tyd ingelig: Dit is hoe Jesus die Vader geëer het. Joh 15:19; 5:20, 30; 6:38; 8:28; 12:49; 14:10, 24, 31; 15:5; 16:13 Ek eer nie my maat as ek vir my maat geheime het, of hom of haar nie ingelig hou van my besluite, waar ek gaan, en wat ek mee besig is nie. Wanneer ek nie my maat inlig nie wys ek deur my dade, dat my maat nie vir my belangrik is nie, dat ek nie haar of sy insette nodig het nie, en dat ek nie eintlik glo hy of is deel van die span nie.

As jy iemand eer is jou ja, ja en jou nee, nee!: Maar kyk, in hierdie stad is ‘n man van God, en die man is geëerd: alles wat hy spreek, kom sekerlik uit; laat ons nou daarheen gaan; miskien kan hy ons inlig oor die tog wat ons onderneem het. (1 Sam 9:6) Iemand wat ʼn persoon van sy of haar woord is, leef eerbaar. Wanneer jy ontrou is, verloor jy hierdie vertroue wat iemand in jou woord het. Skielik word alles wat jy sê in twyfel getrek.

Lojaliteit:

Lojaliteit is ʼn kwessie van die hart. Ontrouheid vind lankal reeds in die hart plaas voordat dit in die openbaar bekend word. Daarom sê Jesus dat iemand wat self net na ʼn vrou kyk en haar begeer, het alreeds in sy hart met haar egbreek gepleeg. (Mat 5:27-29) ʼn opregte hart is ʼn onverdeelde hart. IN Psalm 101:2b word ons op geroep om: “In my huis wil ek lewe met ‘n opregte hart.”

Die hart is baie bedrieglik (Jer 17:9) en dit is in die hart waar ontrouheid begin (Mat 15:19). For as he thinks in his heart, so is he. “Eat and drink!” he says to you, But his heart is not with you. Ons kan die leuens van ons hart vir mense wegsteek maar nie vir God nie. (1 Sam 16:7b) Daarom moet ons bo alles altyd sorg dat ons, ons hart bewaar. Guard your heart above all else, for it determines the course of your life. (Spr 4:23)

Lojaliteit teenoor my maat, beteken om my maat in my hart eerste te stel. God is altyd heel eerste in ons harte, maar daarna is dit ons eggenoot, dan ons kinders, werk, kerk en familie. Wanneer ons hierdie orde verbreek, is ons dislojaal. Wanneer ek my ma of pa, bo my maat stel, of eerder hulle guns wil behou as my maat sin is ek dislojaal. Wanneer ek enigiemand se belang bo my maat sin stel, is ek ontrou aan my maat.

In die huwelik verloor ons iets van ons individualiteit, om dit uiteindelik juis terug te wen. Hoe gesonder die verhouding is, hoe meer ruimte is daar vir gesonde individualiteit. ʼn Goue reël in hoe jy te werk gaan met die teenoorgestelde geslag is: om nooit jouself te bemark as enkel nie. Ek is getroud, ek dra ʼn ring sodat almal dit kan sien. Ek gebruik gereeld die woord “ons”. Ek stel nie net myself voor nie, maar ook my maat al is sy nie by nie. Ek wys ʼn foto van my maat, en stel hom of haar altyd in die heel beste lig. Ek is een van die mees gelukkigste mense op aarde om met “Eggenoot se Naam” getroud te wees. As ek stories vertel sluit ek my eggenoot in die verhaal in. “ONS was daarheen op pad en toe het…” Ons Praat nooit negatief of sleg van ons maat teenoor ʼn ander persoon nie. Ek is versigtig hoe ek my maat aanspreek en hanteer wanneer my maat ʼn fout in die publiek maak. Liefde maak toe! (1 Kor 13) Ek praat nooit neerhalend met my maat nie, en soveel te meer voor ander mense. Ek spot nie met my maat nie. Ek is nie sarkasties of afbrekend nie.

Respek:

Respek is die “awe” (ontsag) wat ek vir my maat het. Ek kyk op na my maat. Respek moet verdien word, maar al hoewel my maat dalk my respek verdien omdat hy ʼn goeie atleet is, is hy nie so netjies nie, en het hy irriterende gewoontes. Ons respekteer mense gewoonlik in een area, maar dit is nie so maklik wanneer ons met die mens getroud is nie. Mense het almal foute. Nou hoe nou gemaak? Bybelse respek is in die geloof. Omdat ek my maat in die Gees sien. Ek respekteer byvoorbeeld my vrou omdat sy ‘n goeie ma is, my man omdat hy ʼn getroue voorsiener is, maar ek moet meer in my maat raaksien om die hele persoon te respekteer. Sien ek Christus in my maat? Sien ek my maat se roeping in die Here, en waarheen God met my maat op pad is? As ek hierdie dieper en meer permanente geestelike eienskappe begin raaksien, sien ek my maat in heeltemal ‘n ander lig.

Respek het ook met gesag te doen. In ʼn huwelik is die man dalk meer gesaghebbend wat rekenaars betref, dan onderwerp die vrou haar in respek in daardie area aan die man. Die vrou is dalk goed met finansies, en die man onderwerp hom weer in daardie area aan die vrou. Wanneer ons dit regkry word huwelik ʼn wonderlike vennootskap.

Integriteit:

Integriteit gebeur in jou private lewe. Die dinge wat jy doen wat niemand sien nie. Die gedagtes wat jy nooit uiter nie. Integriteit word veral toegepas in die deel van jou lewe wat niemand sien nie. Dis die kern van die ware jy. Dis die besluite wat jy neem waarvan niemand ooit sal weet nie, of waarvoor jy nooit erkenning sal kry nie. Baie mense kan self-opofferend dienskneg wees, en heiligheid regkry voor mense, maar dis wanneer niemand sien nie waar dit regtig tel. Geestelike volwassenheid is wanneer ons publieke lewe en private lewe in sinergie met mekaar is. Daar is dus geen tweeledigheid (dualiteit) in my optredes privaat en publiek nie.

Why is it that so few men finish well? “They learn the possibility of breing fruitful without being pure… they begin to believe that purity does not matter. Eventually they become like trees rotting inside that are eventually toppled by the storm. Jim Downing

Integriteit het te doen met innerlike waarheid. Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers. Die valsheid van onbetroubare mense bring hulle ondergang. (Spr 11:3) Integriteit is ʼn basiese bestanddeel van leierskap. Moses moes manne van integriteit (waarheid) aanstel. (Eks 18:21) Die integriteit van ʼn kleipot in die ooste is bepaal deur dit in die son te laat staan vir ʼn tyd, sodoende sou enige krake wat met was of vet toegesmeer is maklik wys. Ongeveins, onbesproke, deursigtig, onomkoopbaar, onkreukbaarheid. Dit het ook te doen met eerlikheid. Daar is nie boekgehou van die geld wat aan die opsieners van die bouery gegee is nie, want hulle was eerlik en getrou. (2 Kon 12:15) Getrouheid is die mees basiese bousteen en onderbou van ʼn gesonde samelewing. Ons as ouers leer integriteit in ons kinders, sodat hulle suksesvol kan wees. Daarom moet ons ook in integriteit, getrouheid, eerbaarheid, lojaliteit, respek met ons maat saamleef. Wees getrou in die kleine en jy sal getrou wees ook in die groter dinge. (Luk 16:10)

Ontrouheid verbrokkel hierdie waardes se krag in ons lewe. Een keer se ontrouheid, en jy sukkel die res van jou lewe om gesig te gee aan hierdie waardes. Soos ʼn goeie naam, kry jy dit net een keer in jou lewe. Daarna moet jy maar toesmeer, stilbly, en jou skaamheid probeer toemaak, soos Adam en Eva. Klink dit asof mense wat getrou in huwelike bly dan glad nie sondig nie? Is hulle maar nie ook met geheime dinge besig nie? Wel as hulle is, gaan die son van die lewe die krake uitwys op een of ander tyd! Daarom moet ons almal, let wel ALMAL! Die wat in huwelike staan en die wat ʼn misstap begaan het onsself opbou in Goddelike Karakter! Hoe meer SY karakter deel word van ons lewe en bestaan hoe kleiner die mag van die duiwel om ons te versoek. Die volheid van goddelike karakter is die teenmiddel teen ontrouheid. Hoe meer ons ontwikkel en groei in ons karakter, hoe beter kans het ons om temptasies te weerstaan.

Versoekings sal nooit ophou nie, maar as ek en my maat beide as dissipels en leerlinge van Christus SY pad begin stap, wys Hy die onreinheid en valsheid in ons harte uit, en ons groei, bly groei om meer soos Hy te word. Die perfekte huwelik is wanneer beide persone só in Christus gegroei het en bly groei. Ek deel met die foute van ons verhouding deur self meer soos Jesus te word. Wanneer my maat dieselfde doen, begin ons verhouding in eenheid en sinergie in Hom te groei. Dan word die huwelik wat God bestem het dit moet wees. ʼn Heilige Goddelike eenwording! In stede van na my maat se foute te kyk, staan ek deursigtig voor God en laat Hom die donker in my hart wys. Uiteindelik besef ek dat ek méér foute het as my maat. Dat ék tekort skiet om my maat se behoeftes te vervul. In Sy teenwoordigheid word ek sag en soos klei in Sy hande, Hy vorm my en maak my soos Hy wil! Wie wil nie getroud wees met so ʼn maat nie? Iemand wat sag is, nederig, liefdevol, vol van passie, vredemakers, ongeveins, eerlik, standvastig, gehoorsaam, regverdig, wys, onselfsugtig, gemaklik. Die foute wat ons oënskynlik in die begin weggedryf het van mekaar is op die ou einde deel van die mens wat God nog moet verander. Dis die eienskappe van ons menswees wat nog nie onder Jesus se heerskappy is nie.

My gevolgtrekking is dus: Die enigste manier om vir ewig getrou te wees aan my maat is om elke dag meer en meer te word soos Jesus, in karakter, lewenstyl en gesindheid! As beide partye tot hierdie proses verbind is… het ons hemel op aarde!