Citrusdal | Clanwilliam | Graafwater | Kompas Gemeente Vredendal | Somerset-Wes

Categories
Preke

Hoe sien ek God reg?

“There are three images in my mind which I must continually forsake and replace by better ones: the false image of God, the false image of my neighbours, and the false image of myself.”

CS Lewis

Sedert die begin van tyd maak mense hulle eie afbeelding van wie hulle dink God is. Ons maak gode na ons beeld en ons eie verbeelding. Daar is al sedert die skepping ‘n stryd tussen afgodery en ware aanbidding. Die eerste sonde van ongehoorsaamheid was inherent die wegdraai van die ware God na ‘n ander god. In plaas daarvan dat ons deur verhouding met God in ‘n wandeling in die tuin sou kom tot volmaakte kennis om net soos God te wees, kies die mens die kort pad en glo die leuen van satan.  Verhouding spreek van dissipelskap, opvoeding, konfrontasie, beperking, tydsame ontwikkeling en groei. Die diepgaande motief agter hoekom Adam en Eva die vrug geneem het is: Dis die kort pad, meer gerieflike opsie. 

“Dis nie waar nie!” sê die slang toe. “Julle sal nie doodgaan nie. God het maar net so gesê, want Hy weet julle oë sal oopgaan die oomblik as julle daardie vrugte eet, en dan sal julle volmaakte kennis hê en net soos God wees!” Die vrou kyk toe weer na die boom se vrugte en sien hoe pragtig hulle Iyk. Hoe lekker sou hulle nie wees om te eet nie! En hoe wonderlik sou dit nie wees om alles te verstaan nie! (Gen 3:4-6) [1] Sedertdien kies die mens oor en oor eerder die natuurlike, sinlike, self-wysbegeerte bo verhouding met God.  Ons wil eerder ons self help, 

“die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.” (Rom 1:18-32) 

Geen mens kan neutraal staan nie, ons is gemaak om te aanbid, om te dien, om na te volg. Jy aanbid of die Ware Skepper God, af afgode. Selfs die ateïs wat selfvoldaan verklaar; “Christenskap is vir mense wat ‘n kruk nodig het” wys op hulle eie self-aanbidding, selfbeskikking, en self-redding.  Self-aanbidding is vandag die afgodery van ons tyd. Selfies, self-beheptheid, self-gerigtheid, en selfhelp godsdiens. Daar is selfs rakspasie onder die titel katogorie: Self-help. “Die Here help die mens wat homself help” is die mantra van die hedendaagse kultuur. Die diepgaande probleem en radikale ontnugtering van die aanbidding van valse gode is: Jy het gegee, gedien, gekoop, geslaaf, geoffer, gewerk en nog steeds vind jy jouself leeg en onvervuld. 

Die werklike kwessie is: Hoe sien jy God? Sien jy Hom van aangesig tot aangesig? Of sien jy ‘n afbeelding, refleksie, oorvertelling, tweede-handse weergawe van wie mense sê God is? Jesus het ook hierdie vraag vir Sy dissipels gevra: “Wie dink die mense is Ek, die Seun van die Mens?” [2] en later “En wat van julle, wie sê julle is Ek?”[3]

Sommige sien God as die veelvoudige persoonlikheid steurnis God: Allah, Budah, Chrisna, is almal god.[4]  

Sommige glo in die verkeerskonstabel god, wat daarop uit is om jou te vang oortree, en dan vir jou ‘n boete gaan gee. 

Ander sien God as die kosmiese verkoopshandelmasjien, waar jy net die regte gebede bid, en hy dan gee wat jy nodig het. 

Die wysbegeerte sien God as die onbetrokke horlosie-maker god, wat die aarde soos ‘n horlosie in delekate ratte aan die gang gesit het, maar nie betrokke is in ons persoonlike lewens nie. 

Die meeste mense hou van die drinker-vriend-by-die-kroeg god, hy luister altyd, stem altyd saam, en laat jou altyd beter voel God. 

Dan is daar mense wat God soos ‘n teddie-beer sien, hy is altyd daar vir jou, om jou te troos en te laat beter voel. Hy praat nooit terug nie, en hy is bekende staatmaker wat ek kies om te gebruik wanneer ek hom nodig het. 

Die mense wat god as spaarwiel sien is glad nie op God ingestel of gefokus totdat hulle hom nodig het as daar ‘n pap wiel is nie. 

Daar is natuurlik ook mense wat God sien as die bekende ou familielid, ons respekteer hom as hy kom kuier, bloot omdat hy familie is en omdat ons ouers hom ken.  

Sommige teoloë sien god as die poppespelmeester god, wat glo dat hy alles beheer. Ons verstaan nie hoekom hy die wreedheid van moord, rampe en pyn en leed toelaat nie, maar alles is uiteindelik sy wil.  Dit is moeilik om die God lief te kry.  

Baie mense sien God as die pretbederwer god. Hy wil nie hê ons moet die lewe geniet nie, wanneer dit goed gaan is ons eintlik bang vir wanneer hy dit gaan kom bederf.  [5]

“Gelukkig is jy, Simon seun van Jona, want my hemelse Vader het dit aan jou bekendgemaak. Hierdie wete het jy nie van enige mens ontvang nie. 18Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots  sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie.[6]

Die ware kerk is gebou op die openbaring wat God van homself gee!! 

Die afgodery oplossing is eintlik eenvoudig: Is jou siening van God ‘n mens se openbaring van God, of het God Homself aan jou bekend gemaak? 

Paulus verklaar: Want ek het dit ook nie van ’n mens ontvang of geleer nie, maar deur ’n openbaring van Jesus Christus.(Gal 1:12) Hy het ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus gehad op die pad na Damaskus. (Hand 9:1-19) 

Paulus leer dat ware gelowiges en kinders van God, leef vanuit ‘n direkte persoonlike openbaring van wie God is. Die voorhangsel is geskeur. Ons het nou vrymoedigheid om in die allerheiligste in te beweeg. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is. (2 Cor 3:18) 

WAT van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe — en die lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe… (1 John 1:1-2) 

Baie mense het natuurlik Jesus reg voor hulle gesien, en tog nie gesien nie. Hoeveel mense het Jesus nie genees, en nog steeds het hulle nie geglo nie. (Joh 12:37-43) Sy eie familie het ook eers nie gesien wie Hy werklik is nie. (Mat 12:46-50; Mark 3:21,31-35; LK 8: 19-21) 

Ons sien hier op watter verskillende maniere die mense op Jesus gereageer het. Party mense het Hom “’n goeie man” genoem (Joh 7:12); ander weer ’n misleier (Joh 7:12). Ander het gesê dat Hy van die duiwel besete was (Joh 7:20); party dat Hy die Christus was (Joh 7:26); sommige dat Hy “die Profeet” was (Joh 7:40) en sommige dat Hy gearresteer moes word (Joh 7:44). 

Daar kom egter ‘n dag waar ELKE knie sal buig, en ELKE tong sal bely: dat Jesus die Here is!! (Rom 14:11; Phil 2:10) 

Jesus is God: 

Christus Jesus het alle raaisels en afeidings oor God kom regstel en fisies in Sy persoon die Godheid kom bekend maak. “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag”(Heb 1:3) Jesus se eie biografie, of self-verklaring is uiters betekenisvol tot ons geloof. Wat het Hy oor Homself gesê? 

Hy vergewe sonde: (Mark 2:10) 

Hy is alomteenwoordig: “want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle” (Matt. 18:20). 

Hy is ewig: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matt. 28:20).

Hy is almagtig: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” (Matt. 28:18).

Hy is alwetend: “Niemand weet wie die Seun is nie behalwe die Vader, en wie die Vader is nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil bekend maak.” (Luk. 10:22).

“Christus was óf ’n leuenaar óf ’n waansinnige óf die Here.” 

Uiteindelik was dit die hoofrede hoekom die Jode Jesus wou doodmaak: Die feit dat Hy Homself gelykstel met God. (Joh. 5:17-29). “Ek en die Vader is een.” (Joh. 10:30). “Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ’n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ’n mens is, Uself God maak.”  Teenoor die Joodse Raad, die Sanhedrin, maak Jesus dit weer eens duidelik: “Ek stel jou onder ‘n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel.” (Matt. 26:63-64). Die feit dat Jesus uiteindelik gekruisig is omdat Hy Homself gelykstel met God, is ‘n verdere bewys van wie Hy werklik is: Hy het dit nie net geglo asof dit iets wat moes verwesenlik word nie. HY IS GOD. Daarom het Hy opgestaan, is die Heilige Gees uitgestort, en elke woord wat Hy gepreek het is besig om in vervulling te kom! 

Hoe ons God vandag sien, is bepalend tot hoe ons die lewe gaan hanteer! Is Hy waaragtig vir jou ‘n eerstehandse werklikheid, of glo jy nog op hoorsê? Mag die Heilige Gees Jesus aan ons elkeen openbaar in krag en majesteit! 


[1] Die Lewende Bybel, (Roodepoort: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1982), Ge 3:4–6.

[2] Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling, (Vereeniging, Suid Afrika: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2006), Mt 16:13.

[3] Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling, (Vereeniging, Suid Afrika: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2006), Mt 16:15.

[4] https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_deities_by_classification

[5] https://www.aggiecatholicblog.org/2014/09/10-defective-images-of-god/

[6] Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling, (Vereeniging, Suid Afrika: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2006), Mt 16:17–18.

Categories
Hartklop

Bou en Handhaaf Gesonde Grense in Verhoudings

En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, (Acts 17:26) 

Vanaf die vroegste tye af, leef groeperinge van mense binne bepaalde grense. Ons lees van nasies se bepaalde grense alreeds in Gen 10:19, en spesifiek Nimrod se ryk.  Vandag leef ons in ‘n meer pluralistiese samelewing waar mense probeer om grense te vervaag, of te verwyder. Verwydering van grense het bepaalde voordele maar ook verseker nadele. Ek staan verstom in ons werk in plakkerskampe, om te sien hoe vinnig ‘n nuwe plakker ‘n heining oprig nadat hy die slaapstruktuur opgerig het. Die mense hou dan ook gewoonlik dit baie netjies en skoon binne hulle bepaalde heining. Ons as mens weet inherent om onsself te beveilig met heinings, ons merk te maak, territoriaal ons area en eienaarskap af te baken. Die probleem is ons sukkel om grense te stel teenoor mense!

Jy het net mag en gesag binne jou bepaalde grens. Die teendeel sal dan ook waar wees, waar jy nie jou grense ooreengekom het nie, is daar dus chaos, twis en stryery.  Iemand wat weet hoe om duidelike grense te stel ten opsigte van hulle tyd, geld en betrokkenheid spreek van emosionele volwassenheid. 

Boundaries define us. They define what is me and what is not me. A boundary shows me where I end and someone else begins, leading me to a sense of ownership. Knowing what I am to own and take responsibility for gives me freedom.” 

Henry Cloud 

Die probleem is, dat nie almal daarvan hou dat daar grense gestel word nie. Sommige mense voel dit perk hulle vryheid in. Die persoon wat die grense stel word gesien as onbeskof, self-geldend en selfsugtig. Ons wil nie aanstoot gee nie, daarom stel ons nie grense nie. Die gevolg is egter dat baie meer mense aanstoot neem as gevolg van die gebrek van grense, omdat almal nie dieselfde waardes, gedrag of werkwyses het nie. Omdat ons nooit grense gestel het nie, voel ons misbruik, oorwerk, en oorrompel deur ongevraagde inmenging, hulpverlening en opinies.  

Buskruit wat aangesteek word ontplof met baie rook en ‘n groot slag, maar kruit wat beperk en begrens word binne in ‘n koeël kan ‘n baie verder afstand teen hoë spoed beweeg.  In antieke tye  is riviere as grens gebruik, later paaie, later kartering met merkers. Wanneer ons ‘n pad bou, moet jy randstene invoeg, anders spoel die pad weg. As hierdie grense noodsaaklik is vir hoe ons grond en eienaarskap bestuur, dan is dit ook netso wesenlik belangrik vir hoe ons verhoudinge bestuur.  

Wanneer ons trou, bou ons ‘n baie definitiewe grens teenoor alle vorige verhoudings, vriendskappe en familie se betrokkenheid in ons lewens. “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (Gen 2:24). Dit beteken na jou huwelikseremonie en bevestiging van julle verbond voor God en getuies, moet daar nou grense gestel word. Ouers het nie meer dieselfde rol en invloed in hulle kinders se lewe nie. Die man word die nuwe hoof van die gesin, en alhoewel hy in nederigheid vir advies of hulp kan vra, moet hy nou sy eie besluite neem. Die ouers is nie meer verantwoordelik vir die kinders se versorging nie. Daarom was daar tydens die kontrak fase, sekere praktiese aspekte van werk, verblyf en inkomste onderhandel.  Die man en vrou moet aanmekaar kleef, dit impliseer ‘n skeiding van die ouers.  (LEAVING and CLEAVING) [1] Die kinders moet emosioneel, finansieel en fisies losmaak van die ouers, om in besonder mekaar volkome te kan aankleef. Wanneer een van die kinders nog hulle ouers aankleef, kan die huwelik nie verdiep in hulle eie verbondenheid nie.  Natuurlik is daar respek en eerbied vir die rol van die ouers, maar binne bepaalde grense. 

Daar behoort ook duidelik grense te wees tussen die ouers se tyd, besittings, rolle en die kinders in die huis. Almal kan nie net kom en gaan, en maak soos hulle wil nie, iemand in die gesin gaan daaronder ly.  

  1. Onderhandel en bespreek die daarstelling van grense saam, sonder emosie. Wees prakties, en spesifiek. Noem bedrae, ure en plekname. Stel fisiese bakens. Hierdie kamer is buite perke tussen hierdie bepaalde ure. Wat is die uitsonderings? 
  2. Onderskei wanneer skuldgevoelens, manipulasie en dreigemente gebruik word om grondgebied te verower. Oorloë gebeur wanneer ‘n sterker nasie die swakker nasie se grond wil bekom. Daar behoort vreedsaam onderhandel te word, om ‘n wen-wen oplossing te kry, waarby alle party te vrede is.  
  3. Weet wat is jou grense: Ons kan nie alles doen vir almal nie. Ons het almal verskeie beperkinge en grense met betrekking tot ons energie, tyd, en geld. Ons het emosionele en intellektuele, vaardigheid beperkinge. Ek is vir my self verantwoordelik, en moet daarom onderhandel met die mense om my, wat elkeen se bepaalde grense is om ‘n wederkerige kompromie te eerbiedig. Dit beteken ek moet ook die mense om my se beperking ken. 
  4. Ons hoef nie te verbintenisse te maak met mense wat nie dieselfde waardes as ons het nie. Ons behandel alle mense met respek, en eerbied, maar nie almal is ons hartsvriende nie.  Indringers met verskuilde selfsugtige agendas, versteur die vrede. Ons moet veg om almal in die gesin se keuse van verbintenisse sorgvuldig te kies volgens die waardes van die bepaalde gesin. Behou die eenheid van die gesin.  
  5. Ons het altyd ‘n keuse. Ons is verplig om niks te doen, waartoe ons nie instem nie.  Jy kan kies, en vir ‘n persoon dit reguit stel hoe die persoon met jou moet handel. Dis soos ‘n sake kontrak, vir ons om met mekaar saam te werk stem ons in tot hierdie bepaalde betalings terme en dienslewering standaarde. Indien dit nie nagekom word nie. Kan ons nie voortaan besigheid doen nie. 

Vir meer inligting oor grense sien Henry Cloud se boek, en webtuiste. [2]


[1] Walk through the Bible Biblical portrait of Marriage https://www.youtube.com/watch?v=Cs4D8h-kFGY

[2] https://www.boundaries.me 
Boundaries Updated and Expanded Edition: When to Say Yes, How to Say No To Take Control of Your Life
by HarperCollins Publishing
Learn more: https://www.amazon.com/dp/B06XFKNB2Y/ref=cm_sw_em_r_mt_dp_U_MP9fFb470PTXS

Categories
Preke

Hoe sien ek probleme reg?

Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom. Ps 34:20 In die tye waaroin ons nou leef is dit van wesenlike belang, dat ons ‘n positiewe ingesteldheid behou. Die Christen geloof bied ‘n daadwerklike praktiese oplossing om te alle tye met geloofsoë na jou krisisse en probleme te kyk.

Volgens die nuutste Covid syfers is, het daar al amper 14mil mense die virus gehad, en 604 963 mense het al aan die virus gesterf. Tog sterf bykans 7mil mense per jaar van hart-siekte, en bykans 6 miljoen aan beroerte! Sekerlik is Covid 19 ‘n ernstige siekte mbt die gevaar van aansteeklikheid en die risiko van lewensgevaar onder mense wat alreeds ander onderliggende siekte toestande het. 

Tog is dit van wesenlike belang, dat ons ‘n positiewe ingesteldheid behou, indien ons die pandemie wil oorkom. Die Christen geloof bied ‘n daadwerklike praktiese oplossing om te alle tye met geloofsoë na jou krisisse en probleme te kyk. 

Die ware Christen geloof het dit nog nooit maklik gehad nie

Die Bybel is inderwaarheid ‘n versameling van stories van mense se oorwinning te midde van vervolging, hongersnood, versoekings, beproewings, lyding, smart, verlies, ongeregtigheid, honger, gevangenisskap en teenstand.  Ons Westerse materiële gerieflikheid, plesier gedrewe wêreldbeskouing saam met die Welvaart teologie het by ons die valse verwagting geskep oor sukses: Ons sien sukses as genoeg hê, geen probleme, aftrede, droom vakansies en oorvloed. Die Bybelse definisie van sukses is om welgeluksalig, vergenoegd, vreugdevol, met vrede in jou hart te leef te midde van al die negatief in die wêreld. 

Die gaan met die mensdom in die algemeen beter.

Volgens die nuutste data armoede, honger, kinderslawerny/sterftes, oorloë, dramaties afgeneem. Lewensverwagting het gestyg, inkomstes het gegroei, meer mense het toegang tot elektrisiteit, selfone, en die internet.[1] Dit gaan dus in die algemeen baie beter met die mensdom oor die laaste 20jaar! 

Maar ons kla in die algemeen meer

Maar volgens stemlyste voel die meeste mense nie so optimisties nie, ons kla oor swak dienste, infrastruktuur, te mins inkomste, hoë belastings, kos wat te duur raak. Inteendeel agentskappe soos die verbruikersraad, ombudsman, koerant skrywes, en sosiale media se syfers van klagtes het in die algemeen gestyg.  Ons kla in die algemeen meer, al gaan dit in die algemeen met ons beter. Sielkundiges koppel klagtes, murmurering aan die mens se behoefte om hom/haarself te laat geld, aandag op hulleself te vestig, bejammer te word, aandag te trek en in die geval van nuusmedia lesers en kykers te trek.[2]  

Covid 19 en die Corona Virus het ons nou amptelik ‘n rede gegee om te kla, want dit is uiteraard ‘n wêreldwye gesondheid pandemie, en ekonomiese katastrofe! Ons moet egter let op hoe ons na die lewe kyk, en hoe ons na al hierdie krisisse en probleme om ons kyk! Ons perspektief bepaal ons gedrag en emosionele energie.  

‘n Nuwe perspektief 

Volgens Dr Andre Pelser se gesprekke met Dr Sacks, eertydse Joodse mediese dokter en wedergebore geesvervulde jood, het die Jode ‘n manier om altyd te kla oor die lewe en besigheid. Volgens dr. Sacks, kla hulle nie eintlik nie, hulle spog. Hulle sien probleme as welvaart! Hoe meer probleme jy het, hoe ryker is jy. Ryk mense het inderdaad baie meer probleme. Dit is ‘n sinsbedrog, dat sake-eienaars net hulle welvaart sit en geniet elke dag. Die vlak van kompleksiteit, verantwoordelikheid, risiko, en druk raak al hoe moeiliker hoe hoër jy op beweeg om die inkomste leer, en vlakke van bestuur.  Dit is hoekom baie mense nie ‘n bevordering sal neem nie, want die kom teen ‘n bepaalde emosionele prys, wat hulle nie bereid is om te betaal nie.  

Verwag probleme

10’n Ongelowige mens het eindeloos baie probleme, maar iemand wat op die Here vertrou word deur sy getroue liefde omring.  11Julle moet bly wees omdat Hy die Here is. Wees vol vreugde, julle wat aan Hom gehoorsaam is. Julle wie se hart opreg is teenoor Hom moet juig.[3] (Ps 32:10–11.)

Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die Here hom.[4] (Ps 34:20)

En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.[5] (2 Tim 3:12)

Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.[6] (John 16:33)

Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.[7]  (Mat 24:9

Wees in alles dankbaar

En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.[8] (Col 3:15) 

MAAR God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei.[9] (2 Cor 2:14) 

Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.[10] (Phip 4:6) 

Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.[11] (1 Thes 5:18) 

Deur ons ingesteldheid positief te hou, ons harte te vul met Sy geregtigheid en teenwoordigheid, kyk ons anders na die wêreld! Ons kyk met oë gevul met verwagting, en kinderlike geloof in ‘n almagtige teenwoordige God, wat ons nog nooit begewe en verlaat het nie. Ons kyk terug na al die kosbare seën, verlossing, genesing, en bevryding wat Hy in die onmoontlikste tye in ons lewe bewerk het! Ons sien Hom in ons probleme, en uitdagings! Sodoende raak ons agente en verteenwoordigers van die Koninkryk van God (WE THE KINGDOM) orals waar ons gaan. Ons bring hoop en lewe, in elke situasie. Ons is SOUT en ons is LIG! Ons lewe met die oorwinnaarsmedalje in ons sak.  

Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.[12] (Ro 8:36–37)


[1] https://www.vox.com/2014/11/24/7272929/global-poverty-health-crime-literacy-good-news

[2] https://link.springer.com/article/10.1007/s12115-019-00398-x

[3] Die Lewende Bybel, (Roodepoort: Christelike Uitgewersmaatskappy, 1982), Ps 32:10–11.

[4] Die Bybel: Ou Vertaling, (Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1996), Ps 34:20.

[5] Die Bybel: Ou Vertaling, (Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1996), 2 Ti 3:12.

[6] Die Bybel: Ou Vertaling, (Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1996), Jn 16:33.

[7] Die Bybel: Ou Vertaling, (Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1996), Mt 24:9.

[8] Die Bybel: Ou Vertaling, (Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1996), Col 3:15.

[9] Die Bybel: Ou Vertaling, (Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1996), 2 Co 2:14.

[10] Die Bybel: Ou Vertaling, (Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1996), Php 4:6.

[11] Die Bybel: Ou Vertaling, (Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1996), 1 Th 5:18.

[12] Die Bybel: Ou Vertaling, (Suffolk, England: Bybelgenootskap van Suid-Afrika, 1996), Ro 8:36–37.

Categories
Preke

Hoe sien ek my naaste reg?

Hoe kyk ek reg na mense en hanteer elkeen menswaardig? 

Jesus

Seer, trauma, teleurstelling, pyn, verdriet is meestal deur mense se toedoen.  Sommige mense dink: Die lewe is perfek totdat ek met mense te doen het. Ander dink: Die lewe is perfek juis as gevolg van die spesiale mense in my lewe. Die punt is: ‘n groot deel van ons geluk of pyn het met mense verhoudinge te doen.  Hoe ons mense sien, en hoe mense ons sien bepaal hoe ons mekaar gaan hanteer. Agterdog, negatiwiteit, onsekerheid, minderwaardigheid, bitterheid is van die donker filters waardeur ons mense evalueer.  

Uit Mat 6:21-22 het ons geleer dat ons eintlik met ons hart kyk. Ons hart bepaal die filter waarmee ons kyk.  As jy aanstoot geneem het teenoor iemand, sien jy hom of haar in ‘n negatiewe lig, en verwag die ergste. As jou hart liefdevol is teenoor iemand, is jy genadig en geduldig met daardie persoon. (1 Cor 13:4) Daarom moet mens altyd eers bepaal waarvan is jou hart vol voor jy self bedien. Voel jy verontreg, kwaad en teleurgestel oor wat mense doen of nie doen nie? Dit besoedel die water wat uit jou voortkom.   

Ons het verder geleer dat jou gedrag teenoor ‘n persoon bepaal word deur hoe jy daardie persoon na waarde ag.  Jy sal nie laat wees vir afspraak van iemand van belang nie. Jy sal nie direk teenoor iemand wat jy respekteer, sleg behandel, afpraat, ‘n afbrekende woord spreek, en vloek nie. 

Selftrots en selfwaarde is bepalend van hoe jy mense behandel. Mense wat geen trots of selfwaarde het nie, gee nie om wat hulle voor enigiemand sê nie.  

Die meeste mense wil nie verneder word voor mense nie. Sommige mense gee glad nie om wat mense dink nie, en floreer op die negatiewe publisiteit. Ander mense voel dit vinnig aan as jy hulle nie reg na waarde ag nie: Nie luister en aandag gee nie; nie vir hulle tyd het nie; hulle onderbreek; hulle doodpraat. Hulle verneder voor hulle maats.  Hulle voel aan dat jy hulle nie liefhet nie, en nie na waarde ag nie.  

Verder leer die skrif: 

Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?

Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, Ek laat die mens kry wat hy verdien,

wat hom toekom vir wat hy doen. (Jer 17:9) Wat impliseer dat ons meermale nie onsself of enige mens in die regte lig sien nie.  As ons hart ons dan so bedrieg oor hoe ons onsself sien, is ons opinie en waardebepaling van mense heel dikwels dan ook nie reg nie.  Daarom wil die Here ons harte wen, sodat Hy ons kan genees, en ons dan vanuit Sy heerlike lig mense reg van waarde kan sien.  

Ons het verlede week geleer dat ons Self-waarde in Christus is, nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. (Gal 2:20) Ons selfwaarde is gegrondves op die genadewerk wat Hy in ons oprig. (Philemon 1:6) 

Jesus die perfekte mens – Hoe het Hy na mense gekyk?

Jesus is die praktiese nugter idealis: Terwyl die paasfees in Jerusalem aan die gang was, het baie mense die wonderwerke gesien wat Jesus gedoen het en geglo dat Hy die Redder is. 24Maar Hy het hulle nie vertrou nie, want Hy het hulle almal geken. 25Dit was nie nodig dat iemand Hom iets van mense sou vertel nie want Hy het mense deur en deur geken. (John 2:23–25) Jesus is nugter oor mense se wispelturigheid, selfsug, en sondigheid. 

Tog gee Hy Homself in liefdesdiens: Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak. (Matt. 14: 14) 

Jesus is duidelik ingestel om mense se harte te weeg. Dit is asof Hy gedurig deur mense se uiterlike kyk, na wat in die hart aangaan. Jesus het altyd eerste na mense se harte gekyk.  Hy was glad nie ingestel op kleredrag, status, posisie, ras, geslag, of beroep nie. 

Jesus behandel almal dieselfde:  Hy behandel vrouens met dieselfde respek en gelykheid as die mans. Die Samaritaanse vrou by die put (Joh. 4); die vrou wat aan bloedvloeiing gely het (Matt. 9:18-22, 32-33); die Griekse vrou wat van Siro-Fenisië afkomstig was (Mark. 7:24-30). Die plek en rol van die vrou word herstel: Maria salf Sy voete (Joh. 12:1-8); ʼn vrou salf Jesus se voete (Matt. 26:6-13; Mark. 14:3).  Geen onderskeid tussen die werkgewer en werknemer nie: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ’n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ’n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.” (Joh. 13:16). Selfs toe partyskappe voor Hom gebring word, maak Hy die veld oop: “Die wat nie teen ons is nie is vir ons.” (Mark. 9:38-40).  Die NT-kerk bestaan uit Jode en nie-Jode, Grieke en Barbariërs, vry en slaaf; ryk en arm. Die boodskap van Paulus is baie duidelik: daar is nie meer verdeeldheid en skeiding van ras in Christus nie (Gal. 3:27; Ef. 2:15). 

Ons behandel die binne en buite mense dieselfde: “En wie is my naaste?” (Luk 10:29) Die storie van die Barmhartige Samaritaan wat liefde bewys het aan ‘n Jood. (Luk 10:30-37) 

Jesus is ingestel op mense se harte 

Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. (Mat 5:28) 

En toe Jesus merk wat hulle gedagtes was, sê Hy: Waarom bedink julle slegte dinge in julle harte? (Mat 9:4) 

want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. (Mat 6:21) 

Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond. (Mat 12:34) 

Die afleiding wat ons hieroor kan maak is: Jesus maak dit duidelik dat alhoewel elke mens na Sy beeld geskape is, en na waarde geag behoort te word, mense wat Sy beeld uitleef van meer waarde is.  Ons kry as te ware ons ware waarde terug wanneer ons, in gehoorsaamheid aan Sy wil lewe.  Indien ons alle mense bloot van gelyke waarde ag, sonder dat hulle na die beeld van God lewe lei tot Humanisme en mensgerigte selfverheerliking. Ons verloor ons waarde deur sonde en ongehoorsaamheid, maar Hy maak van ons elkeen Sy meesterstuk, soos wat Christus in ons gestalte vind.  

Jesus waarsku van ‘n komende oordeel

Nie alle mense gaan die koninkryk van God sien, of binne nie. Wat is jou lewe dan werd, as jy nie die ewigheid saam met God gaan spandeer nie. Mense leef asof daar nie ‘n oordeel is nie. Mense leef asof goeie werke hulle gaan red. Hulle harte is roekeloos, en in vyandskap teenoor God. 

Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ‘n onblusbare vuur verbrand.” (Mat 3:12) 

en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur. (Mat 5:22)

Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. (Mat 7:13) 

“Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.” (Mat 12:36-37)

Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’ ” (Mat 13:30)  

‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ “Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.” (Mat 22:13-14) 

Die gelykenis van die maagde, talente, en die skape en bokke eindig in oordeel. (Matt. 25:11-13; En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ ”

Matt. 25:30; En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe.”Matt. 25:46).  

Net Jesus kan ons harte genees, en ons help om weer reg te sien! Met Jesus wat in jou hart regeer begin jy regkyk. Sy liefde vul jou hart, en skielik sien jy die wêreld in heeltemal ‘n ander lig.  Jy sien mense met ander oë! 

Gebed was en reinig jou filters

‘n wonderlike wyse hoe ons bedrieërs, en valse Christene in ons midde kan onderskei, is om hulle te vra om te bid. Mens kan gou hoor of die persoon ‘n intieme verhouding met die Here het of nie. Is daar krag in hulle gebed, bid hulle geloof. Ons is so geneig om oor mense te praat en mense te bespreek.  ‘n praktiese manier hoe ons kan leer om soos Jesus na mense te kyk, is deur vir hulle in te tree.  Jesus bid vir Sy moordenaars: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk. 23:34). 

Jesus leer ons om vir ons vyande lief te wees, en te bid vir die wat ons misbruik: en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. (Mat 5:44-45) 

Bid en bely julle sondes eerlik teenoor mekaar sodat julle gesond kan wees.  Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. (Jam 5:16) 

Sien mekaar in die Gees: 

Ken mekaar na die Gees: Jesus sien Nataniël (Joh. 1:47); Ananias profeteer wat Paulus gaan ly (Hand. 9:10-15). 

Goddelike verbintenisse (Petrus en Kornelius, Hand. 10; Ananias en Paulus, Hand. 9:10-12; Filippus en die hofdienaar van Ethiopië, Hand. 8:26). 

Categories
Hartklop

Hoekom Trou?

Hoekom moet ons trou? 

‘n Bybelse fundering

In die lig van al hoe meer huwelike wat eindig in die skeihof, al hoe meer jongmense wat saambly, huwelik seremonies wat te duur geraak het, en tans te midde van Covid 19 nie kan plaasvind nie, is die onwillekeurige vraag: Hoekom moet ons trou? Dis tog net ‘n papier. Is ons nie voor die Here getroud as ons alreeds saam geslaap het nie? 

Alvorens ons hierdie vraag kan beantwoord: Hoe seker is jy dat jy die res van jou lewe verbind wil wees aan een persoon? Hoe weet ek dit is my lewensmaat? Dis ‘n bespreking vir ‘n ander tyd. 

Die bevel om te trou:

Die bevel om dat persone moet trou, ‘n huwelikverbond kontrak maak word in die skrif bepaal vir: 

Om saam kinders te verwek en groot te maak. (Gen 2:21-24) 

Om ‘n vredeskontrak tussen nasie te beslis. (Deut 21:10-14) 

Die verkragter moes met slagoffer trou. (Deut 22:28-29) 

Die naaste familielid moes met die weduwee en kinderlose vrou van sy broer trou, om sy natalingskap te verseker. (Deut 25:5-6) 

Dis interessant dat romantiese liefde nie ‘n rede volgens die skrif is vir huwelikbevestiging nie. In Bybelse tye, was huwelike deur die onderskei gesinne gereël.  Die naaste wat ons kom aan romantiese liefde is die boek Hooglied.  

Die fokus dus van die skrif is die kinders: Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees

wat Hom eer. (Mal 2:15) Sielkundiges, beraders en maatskaplike werker is dit eens: vir kinders om as gesonde gebalanseerde volwassenes op te groei het hulle ‘n standvastige, stabiele huisgesin nodig, wat voortbou van generasie tot generasie.  ‘n Gesin waar beide die ouers ‘n betrokke is aan die opvoedkundige proses van die kind se opvoeding, veral ten opsigte van waardes. Waardes word deur modellering en voorbeeld oorgedra.  

Drie fases van die huwelikverbond: 

Die Bybel verduidelik drie fases and aspekte van die huweliksverbondsluiting: 

  1. Kontrak (Contract) 
  2. Voltrekking (Consummate) 
  3. Feesviering (Celebration) 

Isak en Rebekka: 

  1. Kontrak (Gen 24:33; 51-53; 57-58) 
  2. Voltrekking (Gen 24:64-67) 

Jakob & Leah 

  1. Kontrak (Gen 29:15-20
  2. Voltrekking (Gen 29:21-26) 
  3. Feesviering (Gen 29:27-28) 

Jakob & Ragel 

  1. Kontrak (Gen 29:27) 
  2. Voltrekking (Gen 29:30) 
  3. Feesviering (Gen 29:27-28) [1]

Kontrak:

In Bybelse tye is die kontrak deur die ouers onderhandel, die bruidsprys is bepaal en aan die ouers betaal soos, nog regoor Afrika en die ooste die norm is.  Die kontrak was veral bepalend om toe te sien, dat die paartjie self-versorgend is, en dat daar voorsiening gemaak is vir hoe hulle gaan leef.  Kwessies soos huisvesting en toekomstige voorsieninge vir die gesin is vasgestel. 

Voltrekking: 

Die OT huweliksverbond is voltrek in die Chuppa Tent,[2] waarna die bloedbevlekte doek uitgebring is om maagdelikheid te bewys.  D.W.S die verbondsdaad het tydens die seksdaad gebeur. Bloed: ons kan nie skei nie.  Ons kan nie na ons dood, ons testament verander nie. Daarom word daar in die Bybelse verbondsluiting ‘n dier doodgemaak in 2 gedeel, en die 2 persone stap ‘n syfer 8 roete tussen die stukke vleis. Dit simboliseer dat ons ook nie die kontrak sal KAN verbreek nie. Na verbondsluiting KAN ons nie skei nie.  Die syfer 8 simboliseer ewigheid. Daar ‘n ring aan ‘n vinger, ‘n ewigheid simbool.  Sommige maak dan derhalwe die afleiding dat dit dan nie nodig is vir paartjies om wettiglik te trou nie. Hulle is voor die Here getroud. Waarom het Jesus dan nie die vrou wat by ‘n man gebly het, se verbintenis bekragtig nie? “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ‘n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.” (Joh 4:17) Dit beteken dat daar tog ‘n publieke seremonie moet plaasvind, waarby getuies betrek word, om jou eenheid en eenwording te verkondig. 

Feesviering:

Omdat daar nie baie melding gemaak word van die program van die huwelikseremonie in die Bybel nie, en dit ook deur die eeue verkillende vorms aangeneem het, word die afleiding gemaak dat dit nie belangrik is nie. Tog is dit duidelik dat in Bybelse tye, daar ‘n baie noue band was tussen die paartjie en die uitgebreide gesin en gemeenskap. Die hele gemeenskap is genooi.  (Joh 2) Huwelike is nie gesien as ‘n romantiese ontvlugting van 2 persone teenoor die res van die familie nie. Hierdie neiging is deur Hollywood populêr gemaak, dat 2 verliefde persone teenoor die hele gemeenskap en familie staan.  Hierdie konsep is vreemd tot die Bybel; jou lewe, werk, voorsiening, en oorlewing was afhanklik van die gemeenskap.  Isolasie was bloot nie moontlik nie.  Die uitgebreide familie het gehelp kinders grootmaak, versorg, kinders geleer en mekaar beskerm. Die wettige publieke seremonie was dus onombeerlik en belangrik. Dis hier waar die hele gemeenskap hulle goedkeuring, maar ook hulle ondersteuning aan die jong paartjie aanbied.  

Die mees belangrikste deel van die publieke verbintenis en beloftes wat gemaak word, is die spreekwoordelike streep wat getrek word: Ek belowe my trou nou aan een persoon. 

Die verbreking van hierdie trou en beloftes word ten sterkte deur die Bybel veroordeel as egbreek! (Exo 20:14; Deut 5:18; Mat 5:27; 19:18; Rom 7:3; 13:9) Die huweliksverbond word gesien as heilig, met die oog op die heiligmaking van die man en vrou, om die ideale omstandighede te skep vir kinders om in die wee van die Here groot te word.  

Die straf wanneer iemand die eg breek

Egbrekers sal gestraf word: Dood (Gen 20:7; Lev 20:10) Verskriklike oordeel (Eze 16:35-41); hulle het bloed op hulle hande (Eze 23:45; Mal 2:10-17) Sal nie die koninkryk of hemel sien nie (Rev 22:14-15).  

Hoekom is al hierdie inligting vandag nog relevant? 

  1. Romantiese liefde is nie genoeg om ‘n leeftyd te hou, tot op jou oudag wanneer mens meer afhanklik van mekaar raak nie en meer opofferings moet maak nie.  
  2. Nie die huwelikseremonie of die amptelike dokumente verseker getrouheid aan mekaar nie. Dit kos harde werk van verhoudingsbou, en saamgroei om enduit getrou aan mekaar te bly.  Beide partye moet opgroei in volwassenheid van selfopoffering, lojaliteit, respek en wederkerige samewerking. Die huwelik is ‘n reis in selfverloëning, waarby albei partye groei in die gestalte van Jesus vir mekaar. 
  3. Die einddoel is eenwording, dieselfde eenwording wat in die Godheid bestaan. Uiteindelik is die drie-eenheid vir ons ‘n voorbeeld van hoe die hele gesin eerbied, respek en enkelvoudig fokus leef. 
  4. Die huwelik word die fondament, vastegrond, veilige plek, waar kinders op groei, en kleinkinders en uiteindelik agterkleinkinders floreer.  
  5. Daar is veiligheid in huwelik ten opsigte van afsterwe, testament, nalatenskap vir kinders, en uitgebreide gesin wat kan help.  Hospitale vra, wie is die naasbestaandes.  
  6. Huwelik is die ultimate liefdesverklaring. Ek wil laat die son, maan en sterre, regerings en mense, bure en familie weet aan wie ek trou belowe.  Ek belowe die trou van my hart aan een persoon. Die trou van my seksualiteit. Die trou van my fokus en werk om saam ‘n lewe te bou, vir ons kinders, en hulle kinders. 

[1] https://www.bible.ca/marriage/ancient-jewish-three-stage-weddings-and-marriage-customs-ceremony-in-the-bible.htm

[2] https://en.wikipedia.org/wiki/Chuppah

Categories
Preke

Hoe sien ek myself reg?

Van waardeloos tot meesterstuk. 

 

Wat is ek werd? Wat is die waarde van ‘n mens? Sommige mense voel minderwaardig, en ander dink hulleself meerwaardig, hoe kan ek reg dink oor myself? Hoe voel jy oor jouself? Voel jy goed? Of voel jy soos ‘n mislukking? Ons lewe in ‘n era van selfies, selfbeheptheid, self-aktualisering en self-beskikking, het ons nou werklik nog ‘n preek nodig oor selfwaarde? Dink die mense hoeka nie te veel van hulleself nie?

Jesus se eerste boodskap handel oor die oog as die lamp van die liggaam, (Mat 6:21-22) die gefokusde oog wat innerlik in denke gesond is, sien wat werklik mooi en waardevol is. ‘n Siek oog en denke misreken die ware identiteit en waarde van ‘n voorwerp en behandel dit met minagting as waardeloos.  Byvoorbeeld in die saligsprekinge wys Jesus ons die ware waarde en rykdom van mense wat arm van gees is, die wat treur, die sagmoediges, die wat honger en dors na Sy geregtigheid, die wat barmhartig is, wat rein van hart is, en die vredemakers! Dit het alles te doen met hoe mense dink, en dan gevolglik regsien. Sagmoedigheid veronderstel ‘n gesonde hart, ingesteldheid, en denke wat lei tot die hele aarde as erflating! Die wat honger en dors na geregtigheid spreek van ‘n gesonde gerigte hart, wat versadig word. 

Die wêreld jaag die waarde van geld, mag, aansien, en populariteit na, en is inderwaarheid innerlik arm en onvervuld. Jesus leer verder die waarde van die huweliksverbond, en die waarde van jou eed, en woorde en die grootste openbaring! Die waarde van jou vyande, die wat jou misbruik, en die wie jou vervolg. Dis ‘n algehele nuwe manier van sien! Here open ons oë! Help ons om reg te kyk, en die regte waardebepalings te maak oor wat belangrik is in die lewe. As jy net vir ‘n vrou kyk en haar begeer het jy owerspel gepleeg en verkeerd gekyk! In die huweliksverbond het jy trou belowe om deur niemand anders seksueel bevredig te word as jy eie vrou nie! Jou begeerte en seksualiteit is gefokus rondom een persoon. Om enige ander vrou in ‘n seksuele lig te sien, is ‘n misrekende sien, en verkeerde waardebepaling.  

Uiteindelik is ‘n ons misrekende sien, ‘n hartsverduistering. Omdat ons brein die data van wat ons sien verwerk, en filter deur ons eie ervarings en belewenisse, maak ons gevolgtrekkings, vorm ons opinies en geloofsoortuigings oor die lewe wat nie gegrondves is in die woord of waarheid nie. Ons hele uitkyk oor die lewe word bepaal deur watter filter ons die wêreld sien. Die grootste misleiding is, die filters waardeur ons onsself verkeerd sien. As jy jouself nie reg na waarde ag nie, lei dit tot minderwaardigheid of meerderwaardigheid wat ‘n bepaalde uitwerking het op ons gedrag, hoe en met wie ons sosialiseer, waarmee ons onsself besig hou. 

Die meeste mense sien nie hulleself volgens regte waarde nie, en kan dus ook derhalwe nie die mense om hulle reg sien nie.  

 

Die probleem met selfwaarde, is dat ons gewoonlik selfwaarde hiërargies bepaal. Ons bepaal ons selfwaarde in verhouding met ons naaste, en die mense om ons. Ons is nie so sleg soos daai mense nie, maar ons is ook nie so begaafd soos daardie mense nie. Die probleem met hierdie tipe menslike selfwaarde, is dat dit gewoonlik nie ‘n ware refleksie is van wie jy is nie.  “ons moet ons naaste liefhê soos onsself” (Matt. 5:43; 19:19; Mark 12:31; Luke 10:27; Rom. 13:9; Gal. 5:14; James 2:8) Die woorde “soos” kan ook vertaal word met “dieselfde” of “net soos”! Die idee is dus dat gesonde self-liefde bepaal word deur gesonde naaste liefde. Wanneer jy dus jou naaste met liefde, deernis, eerbied, respek, sorg behandel sal jy jouself ook reg na waarde ag.  Ons gaan meer hieroor praat volgende week in die reeks, oor gesonde waardebepaling.  

Wanneer iemand ‘n kar, ‘n huis, ‘n diamant, ‘n erfstuk waardeer, word dit aan die hand van sekere kriteria bepaal. Duursaamheid word bepaal deur aspekte soos, gesogtheid, behoudendheid, detail van die handgemaakte vervaardiging proses, netheid, toestand, oudheid, oorspronklikheid en uniekheid.  Ons as gelowiges glo dat elke mens is in die beeld van God geskape, en alle lewe is waardevol.  Die kreteria waarmee ons onsself en ander se waarde bepaal is uiterlike dinge soos: taalgebruik en dialek, kleredrag, ras en kleur, ekonomiese klas, vermoëns, tande, gelaatstrekke, lengte, postuur, en gesindheid.  Ons lees hierdie data baie vinnig en maak ‘n bepaalde gevolgtrekking oor iemand se waarde, wat bepalend is oor hoe ons die persoon gaan hanteer. Ons doen dit ook met onsself: jy maak gedurig vergelykings, en kompeteer in jou kop met iemand. Jy voel goed as jy wen, en sleg as jy verloor. 

#EveryLifeMatter

Bybels is elke lewe waardevol!! 

Ons is in God se beeld geskape (Gen 1:27) 

Wie die bloed van ‘n mens vergiet, deur ‘n mens sal sy bloed vergiet word. God het die mens gemaak as sy verteenwoordiger. (Gen 9:6) 

Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hulle nie ook gemaak nie? Het Hy ons nie almal gevorm nie? (Job 31:15) 

“Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” (Luk 12:6-7) 

Een mens kan tog nie ‘n ander loskoop van die dood en aan God ‘n losprys vir hom betaal nie? Die prys vir ‘n mens se lewe is te hoog. Wat hy kan betaal, sal nooit genoeg wees

dat hy vir altyd sal lewe en die dood nooit sal smaak nie. (Ps 49:8-10) 

Vir gelowiges is die lewe van elke mens waardevol, van die fetus, die baba, die ouers, die gesin, tot ons bejaardes! Almal se lewe is waardevol!! Die realiteit egter is dat ons tog mense verskillend behandel. Ons sien sekere mense as meer belangrik, en behandel hulle met meer respek as ander.  Verder sukkel ons om ons eie waarde reg te bepaal, ons meet gedurig ons lewe, en voel ons doen nie genoeg iets van waarde nie! Dit is veral iets waarmee vandag se jongmense worstel: hulle wil graag iets beteken, iets belangrik doen.  

#HoeBepaalGodOnsWaarde

Ons het alreeds gesien uit die bergpredikasie, dat God na jou hart kyk, jou ingesteldheid en manier oor hoe jy oor die wêreld dink. 

Elke weg van ’n mens is reg in sy oë, maar die Here toets die harte. Proverbs 21:2

As jy sou sê: “Ons weet daar niks van af nie”, sal God wat die gedagtes toets, weet wat die waarheid is. Hy wat oor jou wag hou, Hy weet en Hy vergeld ‘n mens vir wat hy gedoen het. Spr. 24:12; 

“Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is ‘n gruwel voor God. Luk. 16:15

Mense maak deesdae geld deur ou seldsame motors te restoureer.  Hulle koop ‘n ou eertydse duursame motor, en restoureer dit met sorg. Die gerestoureerde motor is dikwels 100 keer meer werd as wat die oorspronklike motor gekos het.  So kry ons, ons goddelike waarde terug, wanneer die Here deur Sy Woord en Gees ons restoureer, en vorm aan die hand van die oorspronklike bloudruk, naamlik Jesus!  Ons waarde lê in die volheid van Christus wat in ons gestalte vind. Ons uiterlike mens vergaan, maar ons innerlike mens bepaal ons waarde.  Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde (1 Pet 3:4) Omdat ons geskape is in God se beeld, soek Hy Sy beeld in ons! Hoe meer ons gelykvormig word aan Sy beeld, hoe meer waardevol en volhoubaar word ons lewe. Kom ons toets hierdie hipotese en gevolgtrekking: Die mooiste mense is barmhartige, liefdevolle, egolose, hartlike, vrygewige, nederige mense! 

#ElkeDagMeerSoosJesus

Christus vorm in ons deur: 

1) Wedergeboorte – 2 Cor 5:17; 1 Pet 1:23; Joh 3:3-8

2) Deur die geloof beklee ons, onsself met Jesus se gesondheid, leefwyse, en dade. Col 3:10 “Put on” His image 1 Cor 15:49 “bear” His image – soos klere dra. 

3) Ons soek Sy geregtigheid en fokus op Hom, ons sien Hom! Wat Jy sien, en op fokus word jy.  2 Cor 3:18 Ons lewe is weggesteek in Christus.  Hoe meer Jesus vir ons ‘n werklikheid word, hoe meer ontdek ons ons eie lewe. Col 3:3 Jou persoonlike openbaring van Jesus bepaal jou sien en fokus. 

4) As volgelinge van Jesus, gee ons daaglikse treë van gehoorsaamheid, waar Hy ons lei om ons kruis op te neem en stelselmatig word ons ons meer en meer soos Hy. Acts 17:26. Continual obedience is the key – else you forget the image. Jam 1:24 

5) Ons roeping is om volgens Sy beeld, gesindheid, denke, ingesteldheid te leef. 2 Pet 1:10 Elkeen van ons het ‘n stukkie van die Jesus legkaart wat ons moet vervul. Col 1:24 

Soos Jesus in ons gestalte vind, en ons daagliks hervorm word en gelykvorming word aan die beeld van Sy Seun, verander ons waarde van waardeloos tot Meesterstuk! Ons hele lewe word waardevol vir die mense om ons, ons geloof is goud (1 Pet 1:7; Rev 3:18) 

Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. (1 Cor 3:11-15) 

Maar in ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer. As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ’n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk. (2 Tim 2:20-21)